Hoofstuk twintig
Jehovah is koning
1, 2. (a) Wie sal Jehovah se toorn ondervind? (b) Sal Juda sy straf vryspring, en hoe weet ons dit?
BABILON, Filistea, Moab, Sirië, Etiopië, Egipte, Edom, Tirus, Assirië—hulle sal almal Jehovah se toorn ondervind. Jesaja het voorspel watter onheil oor hierdie vyandige nasies en stede sal kom. Maar wat van Juda? Sal die inwoners van Juda dan die straf vir hulle sondige weë vryspring? Die geskiedenisverslag antwoord met ’n duidelike nee!
2 Dink byvoorbeeld aan wat met Samaria, die hoofstad van die tienstammeryk van Israel gebeur het. Daardie nasie het nie sy verbond met God gehou nie. Hulle het nie afgeskeie gebly van die onsedelike gebruike van die nasies rondom hulle nie. Die bewoners van Samaria het eerder “slegte dinge bly doen om Jehovah aanstoot te gee . . . Daarom het Jehovah baie vertoornd op Israel geword, sodat hy hulle onder sy oë uit verwyder het.” Nadat Israel met geweld uit sy land verwyder is, ‘het hy uit sy eie land na Assirië in ballingskap gegaan’ (2 Konings 17:9-12, 16-18, 23; Hosea 4:12-14). Wat met Israel gebeur het, is ’n slegte teken vir sy susterkoninkryk, Juda.
Jesaja voorspel die vernietiging van Juda
3. (a) Waarom verwerp Jehovah die tweestammeryk van Juda? (b) Wat is Jehovah vasbeslote om te doen?
3 Party konings van Juda was getrou, maar die meeste van hulle was nie. Selfs onder ’n getroue koning, soos Jotam, het die volk hulle nie heeltemal van valse aanbidding afgekeer nie (2 Konings 15:32-35). Die goddeloosheid van Juda het sy hoogtepunt bereik gedurende die heerskappy van die bloeddorstige koning Manasse, wat volgens Joodse tradisie die getroue profeet Jesaja vermoor het deur te beveel dat hy in stukke gesaag word. (Vergelyk Hebreërs 11:37.) Hierdie goddelose koning “het Juda en die inwoners van Jerusalem bly verlei om erger dinge te doen as die nasies wat Jehovah voor die kinders van Israel uit verdelg het” (2 Kronieke 33:9). Onder Manasse se heerskappy word die land selfs meer besoedel as toe die Kanaäniete daaroor regeer het. Daarom sê Jehovah: “Kyk, ek bring rampspoed oor Jerusalem en Juda, waarvan elkeen wat dit hoor, se twee ore sal tuit. . . . Ek sal Jerusalem eenvoudig skoon vee net soos ’n mens die bak sonder handvatsel skoon vee; hy vee dit skoon en keer dit onderstebo. En ek sal inderdaad die oorblyfsel van my erfdeel verstoot en hulle in die hand van hulle vyande gee, en hulle sal eenvoudig roofgoed en buit vir al hulle vyande word, omdat hulle gedoen het wat sleg was in my oë en my voortdurend aanstoot gegee het.”—2 Konings 21:11-15.
4. Wat sal Jehovah aan Juda doen, en hoe word hierdie profesie vervul?
4 Soos ’n bak wat onderstebo gekeer word, sodat alles daarin kan uitval, sal al die mense wat in die land woon daaruit verwyder word. Jesaja voorspel weer hierdie komende vernietiging van Juda en Jerusalem. Hy begin: “Kyk! Jehovah maak die land leeg en verwoes dit, en hy het die oppervlak daarvan omgekeer en sy inwoners verstrooi” (Jesaja 24:1). Hierdie profesie word vervul wanneer Jerusalem en sy tempel deur die invallende Babiloniese leërs onder koning Nebukadnesar vernietig word en wanneer die inwoners van Juda deur die swaard, hongersnood en pessiektes uitgeroei word. Die meeste van die Joodse oorlewendes word in ballingskap na Babilon weggevoer en die paar wat agterbly, vlug na Egipte. Die land van Juda is dus heeltemal vernietig en ontvolk. Nie eers hulle diere bly agter nie. Die verlate land word ’n wildernis met mistroostige bouvalle wat net deur wilde diere en voëls bewoon word.
5. Sal enigiemand Jehovah se oordeel vryspring? Verduidelik.
5 Sal enigiemand in Juda gedurende die komende oordeel voorkeurbehandeling kry? Jesaja antwoord: “Dit sal dieselfde vir die volk wees as vir die priester; dieselfde vir die kneg as vir sy heer; dieselfde vir die diensmeisie as vir haar meesteres; dieselfde vir die koper as vir die verkoper; dieselfde vir die uitlener as vir die lener; dieselfde vir die een wat die rente vra as vir die een wat die rente betaal. Die land sal vir seker leeggemaak word, en dit sal vir seker geplunder word, want Jehovah het hierdie woord gespreek” (Jesaja 24:2, 3). Rykdom en die voorreg van tempeldiens sal geen verskil maak nie. Daar sal geen uitsonderings wees nie. Die land is so verdorwe dat almal wat bly lewe—die priesters, knegte en here, kopers en verkopers—in ballingskap weggevoer moet word.
6. Waarom onttrek Jehovah sy seën aan die land?
6 Sodat daar geen misverstand sal wees nie, beskryf Jesaja hoe volkome hierdie komende ramp sal wees en verduidelik hy die rede daarvoor: “Die land het begin treur, het weggekwyn. Die vrugbare land het verwelk, het weggekwyn. Die hooggeplaastes van die volk van die land het verwelk. En die land is onder sy inwoners besoedel, want hulle het die wette verontagsaam, die voorskrif verander, die verbond wat tot onbepaalde tyd duur, verbreek. Daarom het die vloek die land verteer, en sy inwoners word skuldig geag. Daarom het die inwoners van die land in getal afgeneem, en baie min sterflike mense het oorgebly” (Jesaja 24:4-6). Toe die Israeliete die land Kanaän gegee is, het hulle gevind dat dit “’n land [is] wat vloei van melk en heuning” (Deuteronomium 27:3). Maar hulle was nog steeds van Jehovah se seën afhanklik. As hulle sy insettinge en gebooie getrou onderhou het, sou die land “sy opbrengs lewer”, maar as hulle sy wette en gebooie verontagsaam het, sou hulle pogings om die land te bewerk “verniet” wees, en die grond sou “nie sy opbrengs . . . lewer nie” (Levitikus 26:3-5, 14, 15, 20). Jehovah se vervloeking sou “die land verteer” (Deuteronomium 28:15-20, 38-42, 62, 63). Juda moet nou verwag dat daardie vervloeking oor hom gaan kom.
7. Hoe sou die Wetsverbond ’n seën vir die Israeliete wees?
7 Sowat 800 jaar voor Jesaja se tyd het die Israeliete uit vrye wil ’n verbond met Jehovah gesluit en ingestem om hulle daaraan te onderwerp (Eksodus 24:3-8). Die voorwaardes van daardie Wetsverbond het bepaal dat Jehovah hulle ryklik sou seën as hulle gehoorsaam was aan sy gebooie, maar as hulle die verbond verbreek, sou hulle sy seën verloor en sou hulle vyande hulle gevange neem (Eksodus 19:5, 6; Deuteronomium 28:1-68). Hierdie Wetsverbond, wat deur middel van Moses gegee is, sou vir ’n onbepaalde tyd van krag bly. Dit sou die Israeliete beskerm totdat die Messias verskyn.—Galasiërs 3:19, 24.
8. (a) Hoe het die volk “die wette verontagsaam” en “die voorskrif verander”? (b) In watter opsigte is “die hooggeplaastes” die eerstes wat “verwelk”?
8 Maar die volk het “die verbond wat tot onbepaalde tyd duur, verbreek”. Hulle het God se wette verontagsaam, dit ontduik. Hulle het “die voorskrif verander” deur wetlike gebruike te volg wat anders was as dié wat Jehovah gegee het (Eksodus 22:25; Esegiël 22:12). Daarom sal die volk uit die land verwyder word. Daar sal geen barmhartigheid in die komende oordeel bewys word nie. Onder die eerstes wat sal “verwelk” omdat Jehovah sy beskerming en guns onttrek, sal “die hooggeplaastes”, die edeles, wees. Ter vervulling hiervan word konings van Juda, namate die vernietiging van Jerusalem nader kom, eers deur die Egiptenaars en daarna deur die Babiloniërs onderwerp. Later is koning Jojagin en ander lede van die koningsgesin onder die eerstes wat in gevangenskap na Babilon weggeneem word.—2 Kronieke 36:4, 9, 10.
Vreugde verlaat die land
9, 10. (a) Watter rol speel die landbou in Israel? (b) Wat beteken dit dat elkeen ‘onder sy eie wingerdstok en vyeboom sit’?
9 Die nasie Israel is ’n landbougemeenskap. Vandat die Israeliete in die Beloofde Land ingegaan het, het hulle met gewasse en vee geboer. Die landbou beklee dus ’n belangrike plek in die wette wat aan Israel gegee is. ’n Verpligte sabbatsrus vir die land moet elke sewe jaar gehou word sodat die grond vrugbaar sal bly (Eksodus 23:10, 11; Levitikus 25:3-7). Die drie jaarlikse feeste wat die nasie beveel is om te vier, val saam met die landbouseisoene.—Eksodus 23:14-16.
10 Daar is baie wingerde in die land. Die Skrif praat van wyn, die produk van die wingerdstok, as ’n gawe van God wat “die hart van die sterflike mens bly maak” (Psalm 104:15). Die feit dat elkeen ‘onder sy eie wingerdstok en vyeboom sit’, dui op voorspoed, vrede en veiligheid onder God se regverdige heerskappy (1 Konings 4:25; Miga 4:4). ’n Goeie druiweoes word as ’n seën beskou en is ’n rede om te sing en te juig (Rigters 9:27; Jeremia 25:30). Die teenoorgestelde is ook waar. Wanneer die wingerdstokke verwelk of geen druiwe voortbring nie, en die wingerde verwaarloos en vol dorings word, is dit ’n bewys dat Jehovah sy seën onttrek het—’n tyd van groot droefheid.
11, 12. (a) Hoe lig Jesaja toe watter toestande as gevolg van Jehovah se veroordeling sal heers? (b) Watter droewige vooruitsig beskryf Jesaja?
11 Dit is dus gepas dat Jesaja wingerde en hulle opbrengs gebruik om die toestande toe te lig wat heers omdat Jehovah sy seën aan die land onttrek: “Die nuwe wyn het begin treur, die wingerdstok het verwelk, almal wat bly van hart was, het begin sug. Die vreugde van die tamboeryne is weg, die geraas van dié wat besonder uitgelate is, het opgehou, die vreugde van die harp is weg. Sonder ’n lied drink hulle wyn; die sterk drank word bitter vir dié wat dit drink. Die verlate stad is verbreek; elke huis is toegesluit, sodat niemand daar kan ingaan nie. Daar is ’n geskreeu in die strate weens ’n gebrek aan wyn. Alle blydskap het verdwyn; die vreugde van die land het gewyk. In die stad is ’n ontsettende toestand agtergelaat; die poort is tot ’n blote puinhoop verbrysel.”—Jesaja 24:7-12.
12 Die tamboeryn en die harp is instrumente wat gebruik word om Jehovah te loof en uiting te gee aan ’n mens se vreugde (2 Kronieke 29:25; Psalm 81:2). Hulle klank sal nie gedurende hierdie tyd van Goddelike straf gehoor word nie. Daar sal geen vreugdevolle druiweoeste wees nie. Daar sal geen gejuig in die verlate puinhope van Jerusalem wees nie, want sy poort is “tot ’n blote puinhoop verbrysel” en sy huise is “toegesluit”, sodat niemand daar kan ingaan nie. Wat ’n droewige vooruitsig vir die inwoners van ’n land wat eintlik so vrugbaar is!
’n Oorblyfsel ‘roep met vreugde uit’
13, 14. (a) Wat is Jehovah se wette oor die oes? (b) Hoe gebruik Jesaja die wette oor die oes om toe te lig dat party Jehovah se oordeel sal oorleef? (c) Waarvan kan getroue Judeërs seker wees, ten spyte van die donker tye van beproewing wat voorlê?
13 Wanneer die Israeliete olywe oes, slaan hulle die bome met stokke sodat die vrugte afval. Volgens God se Wet word hulle verbied om weer oor die bome se takke te gaan om die oorblywende olywe in te samel. Hulle mag ook nie die druiwe insamel wat oorbly nadat hulle hulle wingerde geoes het nie. Die oesoorblyfsels moet vir die armes gelaat geword—“vir die inwonende vreemdeling, vir die vaderlose seun en vir die weduwee” (Deuteronomium 24:19-21). Jesaja verwys indirek na hierdie bekende wette wanneer hy die vertroostende feit toelig dat daar mense sal wees wat Jehovah se komende oordeel sal oorleef: “Want só sal dit word in die land, onder die volke, soos wanneer die olyfboom afgeslaan word, soos wanneer die oesoorblyfsels ingesamel word as die druiweoes tot ’n einde gekom het. Hulle sal hulle stem verhef, hulle sal met vreugde uitroep. In die verhewenheid van Jehovah sal hulle beslis van die see af juig. Daarom sal hulle Jehovah in die streek van die lig verheerlik, op die eilande van die see die naam van Jehovah, die God van Israel. Van die einde van die land af het ons melodieë gehoor: ‘Sieraad vir die Regverdige!’”—Jesaja 24:13-16a.
14 Net soos daar ná die oes vrugte aan die boom of wingerdstok oorbly, so sal daar ook party wees wat ná die voltrekking van Jehovah se oordeel oorbly—“soos wanneer die oesoorblyfsels ingesamel word as die druiweoes tot ’n einde gekom het”. Die profeet het reeds in vers 6 van hierdie persone gepraat, toe hy gesê het dat ‘baie min sterflike mense oorgebly het’. Maar daar sal mense wees wat die vernietiging van Jerusalem en Juda oorleef, al is hulle min, en later sal ’n oorblyfsel uit gevangenskap terugkeer om weer die land te bewoon (Jesaja 4:2, 3; 14:1-5). Hoewel regskapenes donker tye van beproewing sal moet verduur, kan hulle seker wees dat hulle in die toekoms verlossing en vreugde sal geniet. Die oorlewendes sal sien hoe Jehovah se profetiese woord bewaarheid word en sal besef dat Jesaja ’n ware profeet van God was. Hulle sal met vreugde vervul word wanneer hulle die vervulling van die herstellingsprofesieë sien. Waarheen hulle ook al verstrooi is—of dit nou die eilande van die Middellandse See in die weste, Babilon in “die streek van die lig” (die sonsopkoms, of die Ooste) of enige ander afgeleë plek is—hulle sal God loof omdat hy hulle bewaar het, en hulle sal sing: “Sieraad vir die Regverdige!”
Jehovah se oordeel is onafwendbaar
15, 16. (a) Hoe voel Jesaja oor wat met sy volk gaan gebeur? (b) Wat sal met die ontroue inwoners van die land gebeur?
15 Maar dit is nou nog te vroeg om te juig. Jesaja bring sy tydgenote na die hede terug en sê: “Maar ek sê: ‘Vir my is daar maerheid, vir my is daar maerheid! Wee my! Die verraaiers het verraderlik gehandel. Ja, met verraad het die verraaiers verraderlik gehandel.’ Angs en die kuil en die valstrik is oor jou, o inwoner van die land. En elkeen wat vlug vir die geluid van die verskrikking, sal in die kuil val, en elkeen wat uit die binnekant van die kuil opklim, sal in die valstrik gevang word. Want die sluise daarbo sal geopen word, en die fondamente van die land sal bewe. Die land het geheel en al uitmekaargebars, die land is geheel en al geskud, die land is geheel en al tot wankeling gebring. Die land waggel geheel en al soos ’n dronk man, en dit het heen en weer geswaai soos ’n uitkykhut. En sy oortreding het swaar geword op hom, en hy sal val, sodat hy nie weer sal opstaan nie.”—Jesaja 24:16b-20.
16 Jesaja is diep bedroef oor wat met sy volk gaan gebeur. Die situasie wat om hom heers, laat hom siek en bedroef voel. Verraaiers is volop en maak die inwoners van die land angstig. Wanneer Jehovah sy beskerming onttrek, sal ontroue inwoners van Juda dag en nag bevrees wees. Hulle sal nie seker van hulle lewe wees nie. Hulle sal nie die ramp kan afwend wat hulle sal tref omdat hulle Jehovah se gebooie verlaat het en Goddelike wysheid verontagsaam het nie (Spreuke 1:24-27). Onheil sal kom, al gebruik verraaiers in die land, wat die volk probeer oorreed dat alles sal regkom, valsheid en bedrog om hulle ’n weg te laat inslaan wat na vernietiging lei (Jeremia 27:9-15). Vyande sal van buite kom en hulle plunder en as gevangenes wegvoer. Dit alles is baie ontstellend vir Jesaja.
17. (a) Waarom sal daar geen uitkomkans wees nie? (b) Wat sal met die land gebeur wanneer Jehovah se kragtige oordeel uit die hemele voltrek word?
17 Maar die profeet moet verkondig dat daar geen uitkomkans sal wees nie. Ongeag waarheen mense ook al probeer vlug, hulle sal gevang word. Party ontkom dalk aan die een ramp, maar hulle sal deur ’n ander oorval word—daar sal geen veiligheid wees nie. Dit sal wees soos met ’n dier wat gejag word en nie in die put val nie, maar wel in die strik trap. (Vergelyk Amos 5:18, 19.) Jehovah se kragtige oordeel sal uit die hemele voltrek word en sal die fondamente van die land skud. Die land steier en val soos ’n dronk man, swaar belas met skuld en nie in staat om weer op te staan nie (Amos 5:2). Jehovah se oordeel is finaal. Die land sal totaal vernietig word.
Jehovah sal in heerlikheid regeer
18, 19. (a) Waarna verwys “die leër van die hoogte” moontlik, en hoe word hulle “in die kerker” versamel? (b) Hoe sal daar “ná ’n oorvloed van dae” aan “die leër van die hoogte” aandag geskenk word? (c) Hoe skenk Jehovah aandag aan “die konings van die aarde”?
18 Jesaja se profesie word nou verder uitgebrei en verwys na die finale uitvoering van Jehovah se voorneme: “In dié dag sal Jehovah sy aandag rig op die leër van die hoogte in die hoogte, en op die konings van die aarde op die aarde. En hulle sal beslis versamel word soos wanneer gevangenes in die kuil versamel word en sal in die kerker opgesluit word; en ná ’n oorvloed van dae sal daar aan hulle aandag geskenk word. En die volmaan het verleë geword, en die gloeiende son het beskaamd geword, want Jehovah van die leërs het koning geword op die berg Sion en in Jerusalem en voor sy bejaarde manne met heerlikheid.”—Jesaja 24:21-23.
19 “Die leër van die hoogte” kan na die demoniese “wêreldheersers van hierdie duisternis . . . die bose geesmagte in die hemelse plekke” verwys (Efesiërs 6:12). Deur die geskiedenis heen het hulle ’n groot invloed op die wêreldmoondhede gehad (Daniël 10:13, 20; 1 Johannes 5:19). Hulle doel is om mense van Jehovah en sy rein aanbidding weg te keer. Hoe goed kry hulle dit tog reg om Israel te verlei om die verdorwe gebruike van die nasies rondom hulle te beoefen en sodoende God se veroordeling te verdien! Maar Satan en sy demone moet aan God rekenskap gee wanneer hy uiteindelik sy aandag op hulle vestig sowel as op die aardse heersers, “die konings van die aarde op die aarde”, wat deur hulle beïnvloed is om teen God te draai en sy wette te oortree (Openbaring 16:13, 14). Jesaja sê in simboliese taal dat hulle versamel en “in die kerker opgesluit [sal] word”. “Ná ’n oorvloed van dae”, moontlik wanneer Satan en sy demone (maar nie “die konings van die aarde op die aarde” nie) aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus tydelik vrygelaat word, sal hulle hulle verdiende loon ontvang wanneer God hulle finaal straf.—Openbaring 20:3, 7-10.
20. Hoe en wanneer het Jehovah in die ou tyd sowel as in hedendaagse tye “koning geword”?
20 Hierdie deel van Jesaja se profesie het die Jode dus ’n wonderlike versekering gegee. Op sy bestemde tyd sal Jehovah antieke Babilon tot ’n val bring en die Jode in hulle vaderland herstel. In 537 v.G.J., wanneer hy sy krag en soewereiniteit op hierdie manier ten behoewe van sy volk openbaar, kan daar waarlik vir hulle gesê word: “Jou God het koning geword!” (Jesaja 52:7). In hedendaagse tye het Jehovah in 1914 “koning geword” toe hy Jesus Christus in Sy hemelse Koninkryk as Koning aangestel het (Psalm 96:10). Hy het ook in 1919 “koning geword” toe hy die mag van sy koningskap getoon het deur geestelike Israel uit slawerny aan Babilon die Grote te bevry.
21. (a) Hoe sal ‘die volmaan verleë word en die gloeiende son beskaamd word’? (b) Watter weergalmende uitroep sal ten volle vervul word?
21 Jehovah sal weer ‘koning word’ wanneer hy Babilon die Grote en die res van hierdie goddelose stelsel van dinge tot ’n einde bring (Sagaria 14:9; Openbaring 19:1, 2, 19-21). Daarna sal die glorie van Jehovah se Koninkryksheerskappy so groot wees dat dit die heerlikheid van die glimmende volmaan in die nag of die gloeiende son op die middaguur ver sal oortref. (Vergelyk Openbaring 22:5.) Hulle sal as ’t ware te skaam wees om hulle met die glorieryke Jehovah van die leërs te vergelyk. Jehovah sal as die allerhoogste heers. Sy almag en heerlikheid sal vir almal waarneembaar wees (Openbaring 4:8-11; 5:13, 14). Wat ’n wonderlike vooruitsig! Dan sal die woorde van Psalm 97:1 ten volle vervul word, en dit sal deur die ganse aarde weergalm: “Jehovah het koning geword! Laat die aarde bly wees. Laat die baie eilande hulle verbly.”
[Prent op bladsy 262]
Musiek en gejuig sal nie meer in die land gehoor word nie
[Prent op bladsy 265]
Party sal Jehovah se oordeel oorleef, net soos vrugte ná die oes aan ’n boom oorbly
[Prent op bladsy 267]
Jesaja is diep bedroef oor wat met sy volk gaan gebeur
[Prent op bladsy 269]
Nie die son of die maan sal soveel heerlikheid as Jehovah hê nie