Hoofstuk een-en-twintig
Jehovah se hand word hoog
1. Waarom het Jesaja waardering vir Jehovah?
JESAJA het Jehovah innig lief, en dit verskaf hom groot vreugde om Hom te loof. Hy roep uit: “O Jehovah, u is my God. Ek verhef u, ek prys u naam.” Wat help die profeet om so ’n groot waardering vir sy Skepper te hê? ’n Groot faktor is die kennis wat hy van Jehovah en sy werke het. Jesaja se volgende woorde getuig van hierdie kennis: “Want u het wonderlike dinge gedoen, besluite uit die vroeë tye, in getrouheid, in betroubaarheid” (Jesaja 25:1). Soos Josua voor hom, weet Jesaja dat Jehovah getrou en betroubaar is en dat al sy “besluite”—die dinge wat hy hom voorneem—bewaarheid word.—Josua 23:14.
2. Watter besluit van Jehovah maak Jesaja nou bekend, en waarteen is hierdie besluit moontlik gerig?
2 Die besluite van Jehovah sluit sy oordeelsboodskappe teen Israel se vyande in. Jesaja maak nou een van hulle bekend: “U het ’n stad ’n hoop klippe gemaak, ’n versterkte stad ’n verbrokkelende puinhoop, ’n woontoring van vreemdelinge, dat dit geen stad meer is nie, wat selfs tot onbepaalde tyd nie herbou sal word nie” (Jesaja 25:2). Wat is hierdie ongeïdentifiseerde stad? Jesaja praat moontlik van Ar van Moab—Moab is al lank ’n vyand van God se volk.a Of hy verwys moontlik na ’n ander, sterker stad—Babilon.—Jesaja 15:1; Sefanja 2:8, 9.
3. Hoe verheerlik Jehovah se vyande hom?
3 Hoe sal Jehovah se vyande reageer wanneer sy besluit teen hulle sterk stad bewaarheid word? “’n Sterk volk [sal] u verheerlik; die stad van die tirannieke nasies, hulle sal u vrees” (Jesaja 25:3). Dit is verstaanbaar dat die vyande van die almagtige God hom sal vrees. Maar hoe verheerlik hulle hom? Sal hulle hulle valse gode verlaat en rein aanbidding begin beoefen? Beslis nie! Soos Farao en Nebukadnesar sal hulle Jehovah eerder verheerlik wanneer hulle gedwing word om te erken dat hy baie magtiger as hulle is.—Eksodus 10:16, 17; 12:30-33; Daniël 4:37.
4. Watter “stad van die tirannieke nasies” bestaan vandag, en hoe moet selfs daardie stad Jehovah verheerlik?
4 Vandag is “die stad van die tirannieke nasies” “die groot stad wat ’n koninkryk oor die konings van die aarde het”, naamlik “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens (Openbaring 17:5, 18). Die vernaamste deel van hierdie ryk is die Christendom. Hoe verheerlik die godsdiensleiers van die Christendom Jehovah? Deur teësinnig toe te gee dat Jehovah wonderlike dinge ten behoewe van sy Getuies gedoen het. Veral in 1919 toe Jehovah sy knegte tot dinamiese aktiwiteit herstel het nadat hulle uit geestelike gevangenskap in Babilon die Grote vrygelaat is, het hierdie leiers “bang geword en heerlikheid aan die God van die hemel gegee”.—Openbaring 11:13.b
5. Hoe beskerm Jehovah diegene wat vaste vertroue in hom het?
5 Jehovah lyk skrikwekkend vir sy vyande, maar hy is ’n toevlug vir die saggeaardes en nederiges wat hom wil dien. Godsdienstige en politieke tiranne probeer dalk alles in hulle vermoë om ware aanbidders hulle geloof te laat prysgee, maar aangesien hulle vaste vertroue in Jehovah het, kry die tiranne dit nie reg nie. Uiteindelik maak hy sy teenstanders maklik stil, asof hy die skroeiende woestynson met ’n wolk bedek of die krag van ’n reënstorm met ’n muur keer.—Lees Jesaja 25:4, 5.
‘’n Feesmaal vir al die volke’
6, 7. (a) Watter soort fees sit Jehovah voor, en vir wie? (b) Wat skadu die feesmaal in Jesaja se profesie af?
6 Soos ’n liefdevolle vader beskerm Jehovah nie net sy kinders nie, maar hy voed hulle ook, veral in geestelike sin. Nadat hy sy volk in 1919 bevry het, het hy vir hulle ’n oorwinningsfeesmaal, ’n oorvloed van geestelike voedsel, voorsien: “Jehovah van die leërs sal op hierdie berg beslis vir al die volke ’n feesmaal van olieryke geregte berei, ’n feesmaal van beleë wyn, van olieryke geregte vol murg, van gesuiwerde, beleë wyn.”—Jesaja 25:6.
7 Die feesmaal word op Jehovah se “berg” voorgesit. Wat is hierdie berg? Dit is “die berg van die huis van Jehovah” waarheen al die nasies “aan die einde van die dae” stroom. Dit is Jehovah se “heilige berg”, waar sy getroue aanbidders geen kwaad doen en geen verderf aanrig nie (Jesaja 2:2; 11:9). In hierdie verhewe plek van aanbidding sit Jehovah sy smaaklike feesmaal vir getroues voor. En die geestelike goeie dinge wat nou in sulke oorvloed voorsien word, skadu die fisiese goeie dinge af wat voorsien sal word wanneer God se Koninkryk die enigste regering oor die mensdom is. Dan sal honger nie meer bestaan nie. “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.”—Psalm 72:8, 16.
8, 9. (a) Watter twee groot vyande van die mensdom sal verwyder word? Verduidelik. (b) Wat sal God doen om die smaad van sy volk te verwyder?
8 Diegene wat nou deel het aan die geestelike feesmaal wat God voorsien, het ’n wonderlike vooruitsig. Luister na Jesaja se volgende woorde. Hy vergelyk sonde en die dood met ’n “weefsel” of “omhulling” wat ’n mens kan versmoor en sê: “Op hierdie berg sal [Jehovah] beslis die omhulling verswelg wat al die volke omhul, en die weefsel wat oor al die nasies geweef is. Hy sal die dood vir ewig verswelg, en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee.”—Jesaja 25:7, 8a.
9 Ja, sonde en die dood sal nie meer daar wees nie! (Openbaring 21:3, 4). Daarbenewens sal die leuenagtige smaad wat Jehovah se knegte al duisende jare lank verduur ook verwyder word. “Die smaad van sy volk sal hy van die hele aarde af wegneem, want Jehovah het dit gespreek” (Jesaja 25:8b). Hoe sal dit gebeur? Jehovah sal die oorsprong van daardie smaad, Satan en sy saad, verwyder (Openbaring 20:1-3). Dit is dus geen wonder nie dat God se volk sal uitroep: “Kyk! Dit is ons God. Ons het op hom gehoop, en hy sal ons red. Dit is Jehovah. Ons het op hom gehoop. Laat ons bly wees en ons verbly in die redding deur hom.”—Jesaja 25:9.
Die hoogmoediges word verneder
10, 11. Watter harde behandeling het Jehovah vir Moab bestem?
10 Jehovah red die nederiges onder sy volk. Maar Israel se buurnasie Moab is trots en Jehovah verafsku trotsheid (Spreuke 16:18). Moab gaan dus beslis verneder word. “Die hand van Jehovah sal op hierdie berg rus, en Moab sal op sy plek vertrap word soos wanneer ’n hoop strooi op ’n mishoop vertrap word. En hy sal sy hande daarin uitstrek soos wanneer ’n swemmer hulle uitstrek om te swem, en Hy sal sy hoogmoed verneder met die behendige bewegings van sy hande. En die versterkte stad, met jou hoë, veilige mure, sal hy neerwerp; hy sal dit verneder, dit in aanraking bring met die grond, tot in die stof.”—Jesaja 25:10-12.
11 Jehovah se hand sal op die berg van Moab “rus”. Die resultaat? Die hoogmoedige Moab sal platgeslaan en vertrap word asof dit “op ’n mishoop” is. In Jesaja se tyd is strooi in mishope ingetrap om bemesting te maak; Jesaja voorspel dus vernedering vir Moab, ondanks sy hoë, skynbaar veilige mure.
12. Waarom word Moab uitgesonder vir Jehovah se oordeelsboodskap?
12 Waarom sonder Jehovah Moab vir so ’n harde besluit uit? Die Moabiete is afstammelinge van Lot, die broerskind van Abraham en ’n aanbidder van Jehovah. Hulle is dus nie net bure van God se verbondsvolk nie, maar is ook aan hulle verwant. Ten spyte hiervan het hulle valse gode begin aanbid en ’n uiters vyandige gesindheid teenoor Israel geopenbaar. Hulle verdien hulle lot. Hierin is Moab soos die hedendaagse vyande van Jehovah se knegte. Moab is veral soos die Christendom, wat beweer dat hulle hulle oorsprong in die eerste-eeuse Christengemeente het, maar wat, soos ons vroeër gesien het, die vernaamste deel van Babilon die Grote is.
’n Lied van redding
13, 14. Watter “sterk stad” het God se volk vandag, en wie mag daar ingaan?
13 Wat van God se volk? Hulle is verheug om Jehovah se guns en beskerming te geniet en begin sing. “In dié dag sal hierdie lied in die land van Juda gesing word: ‘Ons het ’n sterk stad. Hy gee redding as mure en skanse. Maak oop die poorte, sodat die regverdige nasie wat getroue gedrag handhaaf, kan ingaan’” (Jesaja 26:1, 2). Terwyl hierdie woorde ongetwyfeld in die ou tyd vervul is, het hulle ook vandag ’n duidelik herkenbare vervulling. Jehovah se “regverdige nasie”, geestelike Israel, het ’n sterk organisasie, soos ’n stad. Wat ’n rede is dit tog om vreugdevol te wees en te sing!
14 Watter soort mense kom in hierdie “stad” in? Die lied gee die antwoord: “U [God] sal die neiging wat goed ondersteun word in voortdurende vrede bewaar, want ’n mens word beweeg om op ú te vertrou. Vertrou op Jehovah vir altyd, want in Jah Jehovah is die Rots van onbepaalde tye” (Jesaja 26:3, 4). “Die neiging” wat deur Jehovah ondersteun word, is die begeerte om sy regverdige beginsels te gehoorsaam en op hom te vertrou en nie op die kommersiele, politieke en godsdiensstelsels van die wêreld wat besig is om onder te gaan nie. “Jah Jehovah” is die enigste betroubare Rots van veiligheid. Dié wat vaste vertroue in hom het, geniet sy beskerming en “voortdurende vrede”.—Spreuke 3:5, 6; Filippense 4:6, 7.
15. Hoe is “die verhewe stad” vandag verneder, en hoe vertrap “die voete van die geteisterde” dit?
15 Hoe anders is dit tog as wat met die vyande van God se volk gebeur! “Hy het die bewoners van die hoogte, die verhewe stad, neergewerp. Hy verneder dit, hy verneder dit tot die grond toe; hy bring dit in aanraking met die stof. Die voet sal dit vertrap, die voete van die geteisterde, die voetstappe van die geringes” (Jesaja 26:5, 6). Hier praat Jesaja weer moontlik van ’n “verhewe stad” in Moab, of hy bedoel dalk ’n ander stad, soos Babilon, wat beslis verhewe is van hoogmoedigheid. Hoe dit ook al sy, Jehovah het die bordjies verhang en sy ‘geringes en geteisterdes’ vertrap nou “die verhewe stad”. Vandag pas hierdie profesie goed by Babilon die Grote, veral die Christendom. In 1919 is hierdie “verhewe stad” gedwing om Jehovah se volk vry te laat—’n vernederende val—en op hulle beurt vertrap hulle hulle voormalige gevangenemer (Openbaring 14:8). Hoe? Deur in die openbaar te verkondig dat Jehovah se wraak binnekort daaroor gaan kom.—Openbaring 8:7-12; 9:14-19.
’n Begeerte na regverdigheid en Jehovah se “gedagtenis”
16. Watter uitstekende voorbeeld van toegewydheid stel Jesaja?
16 Ná hierdie oorwinningslied toon Jesaja hoe diep sy eie toegewydheid is en watter belonings ’n mens kry wanneer jy die God van regverdigheid dien. (Lees Jesaja 26:7-9.) Die profeet stel ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat ‘op Jehovah hoop’ en ’n intense begeerte het na Jehovah se “naam” en “gedagtenis”. Wat is Jehovah se gedagtenis? Eksodus 3:15 sê: “Jehovah . . . is my naam tot onbepaalde tyd, en dit is die gedagtenis aan my van geslag tot geslag.” Jesaja waardeer Jehovah se naam en alles waarvoor dit staan, wat Sy regverdige standaarde en weë insluit. Diegene wat ook so ’n liefde vir Jehovah aankweek, kan seker wees van sy seën.—Psalm 5:8; 25:4, 5; 135:13; Hosea 12:5.
17. Watter voorregte sal van die goddeloses weerhou word?
17 Maar nie almal het Jehovah en sy hoë standaarde lief nie. (Lees Jesaja 26:10.) Die goddeloses weier hardkoppig, selfs wanneer hulle uitgenooi word, om regverdigheid te leer sodat hulle in “die land van reg” kan ingaan, die land waar Jehovah se knegte woon wat sedelik en geestelik in ’n regte toestand is. Gevolglik sal die goddeloses “die uitnemendheid van Jehovah nie sien nie”. Hulle sal nie lewe om die seëninge te ontvang wat die mensdom sal geniet nadat Jehovah se naam geheilig is nie. Selfs in die nuwe wêreld, wanneer die hele aarde ’n “land van reg” sal wees, sal party nie op Jehovah se liefderyke goedhartigheid reageer nie. Die name van daardie persone sal nie in die boek van die lewe geskryf word nie.—Jesaja 65:20; Openbaring 20:12, 15.
18. Hoe verkies party in Jesaja se dag om blind te wees, en wanneer sal hulle gedwing word om Jehovah te “sien”?
18 “O Jehovah, u hand het hoog geword, maar hulle sien dit nie. Hulle sal dit sien en beskaamd staan oor die ywer vir u volk. Ja, die vuur vir u teenstanders sal hulle verteer” (Jesaja 26:11). In Jesaja se dag het Jehovah se hand hoog geword toe Jehovah sy volk beskerm het deur teen hulle vyande op te tree. Maar die meeste mense erken dit nie. Hierdie persone, wat verkies om geestelik blind te wees, sal uiteindelik gedwing word om Jehovah te “sien”, of te erken, wanneer hulle deur die vuur van sy ywer verteer word (Sefanja 1:18). God sê later vir Esegiël: “Hulle sal moet weet dat ek Jehovah is.”—Esegiël 38:23.
“Jehovah dissiplineer hom wat hy liefhet”
19, 20. Waarom en hoe het Jehovah sy volk gedissiplineer, en wie het by sulke dissipline baat gevind?
19 Jesaja weet dat enige vrede en veiligheid wat sy landgenote geniet as gevolg van Jehovah se seën is. “O Jehovah, u sal vir ons vrede beskik, want selfs al ons werke het u vir ons verrig” (Jesaja 26:12). Ten spyte hiervan en ten spyte van die feit dat Jehovah sy volk die geleentheid gebied het om “’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie” te word, was Juda deur die geskiedenis heen dikwels ontrou (Eksodus 19:6). Die volk het keer op keer valse gode begin aanbid. Gevolglik moes hulle telkemale gedissiplineer word. Maar hierdie dissipline is ’n blyk van Jehovah se liefde, want “Jehovah dissiplineer hom wat hy liefhet”.—Hebreërs 12:6.
20 Jehovah dissiplineer sy volk dikwels deur ander nasies, “ander here”, toe te laat om hulle te oorheers. (Lees Jesaja 26:13.) In 607 v.G.J. laat hy die Babiloniërs toe om hulle in ballingskap weg te voer. Vind hulle daarby baat? ’n Mens vind nie by lyding op sigself baat nie. Maar as die een wat ly ’n les leer uit die dinge wat gebeur, berou toon en uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah gee, dan vind hy daarby baat (Deuteronomium 4:25-31). Toon enige van die Jode godvrugtige berou? Ja! Jesaja voorspel: “Deur u alleen sal ons van u naam melding maak.” Nadat hulle in 537 v.G.J. van ballingskap teruggekeer het, moet die Jode dikwels gedissiplineer word as gevolg van ander sondes, maar hulle aanbid nooit weer gode van klip nie.
21. Wat sal met dié gebeur wat God se volk onderdruk het?
21 Wat van Juda se gevangenemers? “Hulle is magteloos in die dood; hulle sal nie opstaan nie. Daarom het u u aandag op hulle gerig om hulle te verdelg en alle vermelding van hulle te vernietig” (Jesaja 26:14). Babilon sal ly weens die wreedhede wat hulle oor Jehovah se uitverkore volk gebring het. Deur middel van die Mede en die Perse sal Jehovah die trotse Babilon omverwerp en sy gevange volk bevry. Daardie groot stad, Babilon, sal magteloos gelaat word, so goed as dood. Uiteindelik sal dit nie meer bestaan nie.
22. Hoe is Jehovah se volk in hedendaagse tye geseën?
22 In die hedendaagse vervulling is ’n oorblyfsel van gelouterde geestelike Israel in 1919 uit Babilon die Grote bevry en tot Jehovah se diens herstel. Gesalfde Christene het toe met nuwe ywer aan die predikingswerk begin deelneem (Matteus 24:14). Op sy beurt het Jehovah hulle met vermeerdering geseën en selfs ’n groot skare “ander skape” ingebring om saam met hulle te dien (Johannes 10:16). “U het by die nasie bygevoeg; o Jehovah, u het by die nasie bygevoeg; u het uself verheerlik. U het al die grense van die land ver uitgebrei. O Jehovah, in benoudheid het hulle hulle aandag op u gerig; hulle het ’n fluistergebed uitgestort toe hulle deur u gedissiplineer is.”—Jesaja 26:15, 16.
“Hulle sal opstaan”
23. (a) Watter besondere openbaring van Jehovah se krag vind in 537 v.G.J. plaas? (b) Watter soortgelyke openbaring het in 1919 G.J. plaasgevind?
23 Jesaja keer terug na die situasie waarin Juda hulle bevind terwyl hulle nog in Babilon gevange gehou word. Hy vergelyk die nasie met ’n vrou wat in barensnood is, maar nie sonder hulp geboorte kan gee nie. (Lees Jesaja 26:17, 18.) Daardie hulp kom in 537 v.G.J., en Jehovah se volk keer na hulle vaderland terug, gretig om die tempel te herbou en ware aanbidding te herstel. Die nasie word as ’t ware uit die dood opgewek. “U dooies sal lewe. My lyke—hulle sal opstaan. Word wakker en roep met vreugde uit, julle wat in die stof woon! Want u dou is soos die dou van kiesieblare, en die aarde sal selfs dié wat magteloos is in die dood, voortbring soos by ’n geboorte” (Jesaja 26:19). Wat ’n openbaring van Jehovah se krag! Wat ’n verdere, merkwaardige openbaring was dit toe hierdie woorde in 1919 in geestelike sin vervul is! (Openbaring 11:7-11). En hoe sien ons tog uit na die tyd wanneer hierdie woorde in die nuwe wêreld in letterlike sin vervul sal word en dié wat magteloos is in die dood ‘Jesus se stem sal hoor en uit die gedenkgrafte sal kom’!—Johannes 5:28, 29.
24, 25. (a) Hoe was die Jode in 539 v.G.J. moontlik gehoorsaam aan Jehovah se bevel om hulle te verberg? (b) Waarna verwys die “binnekamers” moontlik in hedendaagse tye, en watter gesindheid moet ons teenoor hulle aankweek?
24 Maar as getroues die geestelike seëninge wil geniet wat Jesaja voorspel het, moet hulle Jehovah se bevele gehoorsaam: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers in en sluit jou deure agter jou toe. Verberg jou vir net ’n oomblik, totdat die veroordeling verbygaan. Want kyk! Jehovah kom uit sy plek te voorskyn om van die inwoner van die land rekenskap te eis vir sy dwaling, en die land sal beslis sy bloedvergieting openbaar en sal nie langer sy doodgemaaktes bedek nie.” (Jesaja 26:20, 21; vergelyk Sefanja 1:14.) Hierdie verse het moontlik ’n aanvanklike vervulling gehad toe die Mede en die Perse, onder bevel van koning Kores, Babilon in 539 v.G.J. verower het. Volgens die Griekse geskiedskrywer Xenofon het Kores almal beveel om in hulle huise te bly toe hy in Babilon ingekom het, omdat sy berede soldate “beveel is om almal wat hulle buite kry dood te maak”. Vandag kan die “binnekamers” van hierdie profesie met die tienduisende gemeentes van Jehovah se volk reg rondom die wêreld geassosieer word. Hierdie gemeentes sal voortgaan om ’n belangrike rol in ons lewe te speel, selfs gedurende “die groot verdrukking” (Openbaring 7:14). Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons ’n goeie gesindheid teenoor die gemeente behou en gereeld daarmee omgaan!—Hebreërs 10:24, 25.
25 Die einde van Satan se wêreld gaan binnekort aanbreek. Hoe Jehovah sy volk gedurende daardie skrikwekkende tyd gaan beskerm, weet ons nog nie (Sefanja 2:3). Maar ons weet wel dat ons oorlewing sal afhang van ons geloof in Jehovah en ons lojaliteit en gehoorsaamheid aan hom.
26. Wat is “Leviatan” in Jesaja se dag en in ons dag, en wat gebeur met hierdie “seemonster”?
26 Jesaja het met betrekking tot daardie tyd voorspel: “In dié dag sal Jehovah met sy harde en groot en sterk swaard sy aandag op die Leviatan rig, die seilende slang, ja, op die Leviatan, die kronkelende slang, en hy sal beslis die seemonster doodmaak wat in die see is” (Jesaja 27:1). In die oorspronklike vervulling verwys “Leviatan” na die lande waarheen Israel verstrooi is, soos Babilon, Egipte en Assirië. Hierdie lande sal nie kan keer dat Jehovah se volk op die regte tyd na hulle vaderland terugkeer nie. Maar wie is die hedendaagse Leviatan? Dit is blykbaar Satan—“die oorspronklike slang”—en sy goddelose stelsel van dinge hier op aarde, sy werktuig om teen geestelike Israel oorlog te voer (Openbaring 12:9, 10; 13:14, 16, 17; 18:24). “Leviatan” het in 1919 sy houvas op God se volk verloor, en binnekort sal hy heeltemal verdwyn wanneer Jehovah ‘die seemonster beslis sal doodmaak’. Intussen sal niks wat “Leviatan” teen Jehovah se volk kan doen werklik sukses behaal nie.—Jesaja 54:17.
“’n Wingerd van skuimende wyn”
27, 28. (a) Waarmee het Jehovah se wingerd die hele aarde gevul? (b) Hoe beskerm Jehovah sy wingerd?
27 Deur middel van nog ’n lied lig Jesaja nou die vrugbaarheid van Jehovah se bevryde volk baie duidelik toe: “Sing in dié dag vir die vrou: ‘’n Wingerd van skuimende wyn! Ek, Jehovah, bewaar dit. Ek sal dit elke oomblik natmaak. Ek sal dit nag en dag bewaar, sodat niemand sy aandag daarteen rig nie’” (Jesaja 27:2, 3). Die oorblyfsel van geestelike Israel en hulle hardwerkende metgeselle het inderdaad die hele aarde met geestelike opbrengs gevul. Wat ’n rede om fees te vier—om te sing! Al die eer kom Jehovah toe, die een wat sy wingerd liefdevol versorg.—Vergelyk Johannes 15:1-8.
28 Ja, Jehovah se woede van vroeër is nou deur vreugde vervang! “Geen woede het ek nie. Wie sal vir my doringbosse en onkruid in die geveg gee? Ek sal daarop trap. Ek sal dit saam aan die brand steek. Laat hy andersins my vesting aangryp, laat hy met my vrede maak; laat hy met my vrede maak” (Jesaja 27:4, 5). Om seker te maak dat sy wingerdstokke steeds ’n oorvloed van “skuimende wyn” voortbring, vernietig en verteer Jehovah asof met vuur enige invloed wat sy wingerd soos onkruid kan besoedel. Laat niemand dus die welsyn van die Christengemeente bedreig nie! Laat almal eerder ‘Jehovah se vesting aangryp’, en sy guns en beskerming soek. Wanneer hulle dit doen, maak hulle vrede met God—iets wat so belangrik is dat Jesaja dit twee keer noem. Die gevolg? “In die komende dae sal Jakob wortelskiet, Israel sal bloeisels voortbring en uitspruit; en hulle sal die oppervlak van die vrugbare land heeltemal met opbrengs vul” (Jesaja 27:6).c Wat ’n wonderlike bewys van Jehovah se mag is die vervulling van hierdie vers tog! Van 1919 af het gesalfde Christene die aarde met “opbrengs”, voedsame geestelike voedsel, gevul. As gevolg daarvan het miljoene lojale ander skape, wat saam met hulle ‘dag en nag heilige diens aan God verrig’, hulle by die oorblyfsel gevoeg (Openbaring 7:15). In ’n verdorwe wêreld handhaaf hierdie persone sy hoë standaarde met vreugde. En Jehovah hou aan om hulle met vermeerdering te seën. Mag ons nooit die wonderlike voorreg uit die oog verloor om in die “opbrengs” te deel en ander deur middel van ons eie lofbetuiginge daarvan te vertel nie!
[Voetnote]
a Die naam Ar beteken moontlik “Stad”.
c Jesaja 27:7-13 word in die venster op bladsy 285 bespreek.
[Venster op bladsy 285]
“’n Groot horing” kondig vryheid aan
In 607 v.G.J. vermeerder Juda se pyne wanneer Jehovah sy ongehoorsame nasie dissiplineer deur hulle in ballingskap te laat wegvoer. (Lees Jesaja 27:7-11.) Die nasie se sonde is te groot dat diereoffers daarvoor versoening kan doen. Net soos ’n mens dus skape of bokke met “’n skrikwekkende kreet” sal verstrooi of blare met ’n “sterk wind” sal wegwaai, dryf Jehovah Israel uit hulle vaderland weg. Daarna sal selfs swak volke, wat deur vroue afgebeeld word, vir hulle eie voordeel kan gebruik wat in die land oorbly.
Maar die tyd kom wanneer Jehovah sy volk uit gevangenskap gaan verlos. Hy bevry hulle soos ’n boer olywe sal bevry wat as ’t ware aan bome gevange gehou word. “In dié dag sal Jehovah die vrugte afslaan, van die vloeiende stroom van die Rivier [die Eufraat] af tot by die stroomvallei van Egipte, en so sal julle die een na die ander ingesamel word, o kinders van Israel. En in dié dag sal daar op ’n groot horing geblaas word, en dié wat in die land Assirië vergaan en dié wat in Egipteland verstrooi is, sal beslis kom en hulle neerbuig voor Jehovah op die heilige berg in Jerusalem” (Jesaja 27:12, 13). Ná sy oorwinning in 539 v.G.J. vaardig Kores ’n bevel uit wat al die Jode in sy ryk bevry, wat ook dié in Assirië en Egipte insluit (Esra 1:1-4). Dit is asof daar op “’n groot horing” geblaas is, wat die loflied van vryheid vir God se volk laat weerklink het.
[Prente op bladsy 275]
“’n Feesmaal van olieryke geregte”
[Prent op bladsy 277]
Babilon word vertrap onder die voete van diegene wat gevangenes was
[Prent op bladsy 278]
“Gaan in jou binnekamers in”