Waar moet jy wees wanneer die einde kom?
HOE sal regskapenes vaar wanneer Jehovah die teenswoordige goddelose stelsel van dinge by Armageddon tot ’n einde bring? Spreuke 2:21, 22 antwoord: “Die regskapenes sal op die aarde woon, en die onberispelikes sal daarop oorbly. Wat die goddeloses betref, hulle sal van die aarde af uitgeroei word; en die verraderlikes sal daarvan weggeruk word.”
Maar hoe sal die onberispelikes op die aarde oorbly? Sal daar ’n toevlugsoord vir hulle wees? Waar moet die regskapenes wees wanneer die einde kom? Vier Bybelverslae omtrent oorlewing werp lig op hierdie sake.
Toe ’n spesifieke plek belangrik was
Aangaande die verlossing van die aartsvaders Noag en Lot lees ons in 2 Petrus 2:5-7 dat God “hom nie daarvan weerhou het om ’n eertydse wêreld te straf nie, maar Noag, ’n prediker van regverdigheid, met sewe ander veilig bewaar het toe hy ’n watervloed oor ’n wêreld van goddelose mense gebring het; en hy die stede Sodom en Gomorra veroordeel het deur hulle tot as te verbrand, waardeur hy vir goddelose mense ’n voorbeeld van toekomstige dinge gegee het; en hy die regverdige Lot verlos het, wat baie ontsteld was oor die wettrotserende mense se oorgawe aan losbandige gedrag”.
Hoe het Noag die Vloed oorleef? God het vir Noag gesê: “Die einde van alle vlees het voor my gekom, want die aarde is vol geweld as gevolg van hulle; en kyk, ek verdelg hulle saam met die aarde. Maak vir jou ’n ark van die hout van ’n harsagtige boom” (Gen. 6:13, 14). Noag het die ark gebou net soos Jehovah hom beveel het. Sewe dae voordat die vloedwaters begin val het, het Jehovah vir hom gesê om die diere in die ark in te neem en om saam met sy hele gesin daarin te gaan. Op die sewende dag is die deur agter hom toegesluit, “en die stortreën op die aarde het veertig dae en veertig nagte voortgeduur” (Gen. 7:1-4, 11, 12, 16). Noag en sy gesin is “veilig deur die water heen gevoer” (1 Pet. 3:20). Hulle oorlewing het daarvan afgehang dat hulle in die ark was. Geen ander plek op aarde kon veiligheid bied nie.—Gen. 7:19, 20.
In Lot se geval was die instruksies ietwat anders. Twee engele het hom meegedeel waar hy nie moes wees nie. “Almal wat joune is in die stad [Sodom]”, het die twee engele vir Lot gesê, “bring hulle uit die plek uit! Want ons gaan hierdie plek verwoes.” Hulle moes “vlug na die bergstreek”.—Gen. 19:12, 13, 17.
Die ondervindinge van Noag en Lot bewys dat “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos, maar om onregverdige mense te bewaar vir die dag van die oordeel” (2 Pet. 2:9). In albei hierdie gevalle waar verlossing plaasgevind het, was ’n spesifieke plek ’n beslissende faktor. Noag moes in die ark ingaan; Lot moes uit Sodom uitgaan. Maar is dit altyd die geval? Kan Jehovah die regverdiges red waar hulle ook al is, sonder dat hulle êrens anders hoef te gaan? Kom ons kyk na twee ander verslae van verlossing om hierdie vraag te beantwoord.
Is ’n spesifieke plek altyd belangrik?
Voordat Jehovah Egipte verpletter het deur die tiende plaag in Moses se dag te bring, het Hy die Israeliete beveel om die bloed van die Pasgadier teen die boonste deel van die deuropening en teen die deurposte van hulle huise te sprinkel. Waarom? Sodat ‘Jehovah, wanneer hy deurtrek om die Egiptenaars met die plaag te tref en hy die bloed aan die boonste deel van die deuropening en aan die twee deurposte sien, die ingang sal oorslaan en nie sal toelaat dat die vernietiging in hulle huise ingaan om hulle met die plaag te tref nie’. Daardie selfde nag “het Jehovah elke eersgeborene in Egipteland getref, van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het tot die eersgeborene van die gevangene wat in die kerker was, en elke eersgeborene van die diere”. Die eersgeborenes van die Israeliete is gered sonder dat enigeen êrens anders moes gaan.—Eks. 12:22, 23, 29.
Neem ook die geval van Ragab, ’n prostituut wat in die stad Jerigo gewoon het. Die Israeliete het op die punt gestaan om met hulle verowering van die Beloofde Land te begin. Toe Ragab besef dat Jerigo vernietig gaan word, het sy vir die twee Israelitiese spioene gesê dat die stad vreesbevange is weens die Israeliete wat in aantog is. Sy het die spioene weggesteek en hulle gevra om vir haar te sweer dat sy en haar hele familie behoue sal bly wanneer Jerigo verower word. Die spioene het Ragab beveel om haar familie in haar huis, wat op die stadsmuur was, bymekaar te bring. Enigiemand wat die huis verlaat, sou saam met die res van die stad vernietig word (Jos. 2:8-13, 15, 18, 19). Maar Jehovah het later vir Josua gesê: “Die muur van die stad sal inmekaarstort” (Jos. 6:5). Wat die spioene gesê het ’n veilige plek sou wees, was blykbaar nou onveilig. Hoe sou Ragab en haar familie gered word?
Toe die tyd aanbreek om Jerigo in te neem, het die Israeliete geskreeu en op die horings geblaas. “Toe die volk [Israel] die geluid van die horing hoor en die volk ’n groot oorlogskreet aanhef”, sê Josua 6:20, “het die muur inmekaar begin stort.” Geen mens kon nou die ineenstorting van die muur keer nie. Maar die verbrokkeling van die stadsmuur het op wonderdadige wyse by Ragab se huis opgehou. Josua het die twee spioene beveel: “Gaan in die huis van die vrou, die prostituut, en bring die vrou en almal wat aan haar behoort, daaruit, net soos julle vir haar gesweer het” (Jos. 6:22). Almal in Ragab se huis is gered.
Wat was die belangrikste?
Wat kan ons leer uit die verlossing van Noag, Lot, die Israeliete in Moses se dag en Ragab? Hoe help hierdie verslae ons om vas te stel waar ons moet wees wanneer die einde van die teenswoordige goddelose stelsel van dinge kom?
Noag het weliswaar redding in die ark gevind. Maar waarom was hy daar? Was dit nie omdat hy geloof beoefen het en gehoorsaam was nie? “Noag het gedoen volgens alles wat God hom beveel het”, sê die Bybel. “Hy het net so gedoen” (Gen. 6:22; Heb. 11:7). Wat van ons? Doen ons alles wat God ons beveel het? Noag was ook “’n prediker van regverdigheid” (2 Pet. 2:5). Is ons, soos hy, ywerig in die predikingswerk, selfs as daar min belangstelling in ons gebied is?
Lot het vernietiging vrygespring deur uit Sodom te vlug. Hy is gespaar omdat hy regverdig was in God se oë en baie ontsteld was oor die losbandige gedrag van die wettrotserende mense van Sodom en Gomorra. Is ons werklik ontsteld oor die losbandige gedrag wat vandag so algemeen is? Of is ons so gewoond daaraan dat dit ons nie pla nie? Doen ons ons uiterste bes om “vlekkeloos en smetloos en in vrede bevind te word”?—2 Pet. 3:14.
In die geval van die Israeliete in Egipte en Ragab in Jerigo het verlossing daarvan afgehang dat hulle in hulle huise bly. Dit het geloof en gehoorsaamheid geverg (Heb. 11:28, 30, 31). Stel jou voor hoe elke Israelitiese gesin se oë vasgenael was op hulle eersgeborene terwyl daar in die een Egiptiese huis ná die ander ‘’n groot geskreeu ontstaan het’ (Eks. 12:30). Stel jou voor hoe Ragab digby haar familie gesit het terwyl sy die gedreun van Jerigo se verbrokkelende mure al hoe nader hoor kom het. Dit het ware geloof van haar geverg om gehoorsaam te bly en daardie huis nie te verlaat nie.
Die einde van Satan se goddelose wêreld sal binnekort aanbreek. Hoe Jehovah sy volk gedurende die vreesinboesemende ‘dag van sy toorn’ sal beskerm, weet ons nog nie (Sef. 2:3). Maar ongeag waar en in watter situasie ons ons dan bevind, ons kan seker wees dat ons oorlewing sal afhang van ons geloof in Jehovah en ons gehoorsaamheid aan hom. Intussen moet ons die regte gesindheid aankweek teenoor wat Jesaja se profesie ons “binnekamers” noem.
“Gaan in jou binnekamers in”
“Kom, my volk, gaan in jou binnekamers in en sluit jou deure agter jou toe”, sê Jesaja 26:20. “Verberg jou vir net ’n oomblik, totdat die veroordeling verbygaan.” Hierdie profesie het moontlik sy eerste vervulling in 539 v.G.J. gehad toe die Mede en die Perse Babilon verower het. Toe Kores die Pers Babilon binnegegaan het, het hy blykbaar beveel dat almal binnenshuis moet bly omdat sy soldate die opdrag gegee is om almal wat buite gevind word, tereg te stel.
In ons dag hou die “binnekamers” van hierdie profesie waarskynlik ten nouste verband met die meer as 100 000 gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die wêreld. Hierdie gemeentes speel ’n belangrike rol in ons lewe. Hulle sal voortgaan om dit tydens “die groot verdrukking” te doen (Op. 7:14). God se volk word beveel om in hulle “binnekamers” in te gaan en hulle te verberg “totdat die veroordeling verbygaan”. Dit is lewensbelangrik dat ons ’n heilsame gesindheid teenoor die gemeente aankweek en behou en dat ons ons vas voorneem om in noue omgang daarmee te bly. Ons kan Paulus se aansporing ter harte neem: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate [ons] die dag sien nader kom.”—Heb. 10:24, 25.
[Prente op bladsy 7]
Wat kan ons leer uit God se reddingsdade in die verlede?
[Prent op bladsy 8]
Waarna kan die “binnekamers” in hedendaagse tye verwys?