Hoofstuk twee-en-twintig
Jesaja voorspel Jehovah se ‘vreemde daad’
1, 2. Waarom voel Israel en Juda veilig?
ISRAEL en Juda voel vir ’n kort tydjie veilig. In ’n poging om hulle in ’n gevaarlike wêreld te beveilig, het hulle leiers politieke bondgenootskappe met groter, magtiger nasies gesmee. Samaria, die hoofstad van Israel, het hom tot sy buurland Sirië gewend, terwyl Jerusalem, die hoofstad van Juda, sy hoop op die wrede Assirië gevestig het.
2 Buiten dat hulle op nuwe politieke bondgenote vertrou het, verwag party in die noordelike koninkryk dalk dat Jehovah hulle sal beskerm—al gebruik hulle steeds goue kalwers in aanbidding. Juda is ook oortuig dat hulle op Jehovah se beskerming kan staatmaak. Is Jehovah se tempel dan nie in Jerusalem, hulle hoofstad, geleë nie? Maar onverwagte gebeure lê vir albei nasies voor. Jehovah inspireer Jesaja om gebeure te voorspel wat vir sy ongehoorsame volk werklik vreemd sal lyk. En sy woorde bevat belangrike lesse vir almal wat vandag lewe.
“Die dronkaards van Efraim”
3, 4. Waarop is die noordelike koninkryk van Israel trots?
3 Jesaja begin sy profesie met skrikwekkende woorde: “Wee die uitnemende kroon van die dronkaards van Efraim, en die verwelkende bloeisel van sy pragtige sieraad wat op die hoof is van die vrugbare vallei van dié wat deur wyn oorweldig is! Kyk! Jehovah het iemand wat sterk en kragtig is. Soos ’n donderende haelstorm . . . sal hy hulle beslis met krag teen die grond werp. Met die voete sal die uitnemende krone van die dronkaards van Efraim vertrap word.”—Jesaja 28:1-3.
4 Efraim, die vernaamste van die tien noordelike stamme, verteenwoordig die hele koninkryk van Israel. Sy hoofstad, Samaria, is op ’n pragtige en strategiese posisie aan ‘die hoof van die vrugbare vallei’ geleë. Efraim se leiers is trots op hulle “uitnemende kroon” van onafhanklikheid van die Dawidiese konings in Jerusalem. Maar hulle is “dronkaards”, geestelik beskonke weens hulle bondgenootskap met Sirië teen Juda. Alles wat vir hulle kosbaar is, sal binnekort onder die voete van invallers vertrap word.—Vergelyk Jesaja 29:9.
5. In watter gevaarlike posisie bevind Israel hom, maar watter hoop hou Jesaja uit?
5 Efraim besef nie hoe gevaarlik sy posisie is nie. Jesaja gaan voort: “Die verwelkende blom van sy pragtige sieraad wat op die hoof is van die vrugbare vallei, sal word soos die vroeë vy voor die somer, wat iemand, wanneer hy dit sien, insluk terwyl dit nog in sy palm is” (Jesaja 28:4). Efraim sal in die hande van Assirië val, ’n soetigheid wat met een hap opgeëet kan word. Is daar dan geen hoop nie? Wel, soos so dikwels die geval is, word Jesaja se oordeelsprofesieë met hoop getemper. Al kom die nasie tot ’n val, sal getroue persone met Jehovah se hulp behoue bly. “Jehovah van die leërs [sal] ’n sierlike kroon en ’n pragtige krans vir die oorblywendes van sy volk word, en ’n gees van geregtigheid vir die een wat regspreek, en sterkte vir dié wat die geveg van die poort afwend.”—Jesaja 28:5, 6.
“Hulle het afgedwaal”
6. Wanneer word Israel vernietig, maar waarom moet Juda hom nie daaroor verlustig nie?
6 Die dag van afrekening breek in 740 v.G.J. vir Samaria aan wanneer die Assiriërs die land vernietig en die noordelike koninkryk ophou om as ’n onafhanklike nasie te bestaan. Wat van Juda? Assirië sal sy land binneval, en later sal Babilon sy hoofstad vernietig. Maar gedurende Jesaja se lewe sal Juda se tempel en priesterdom in werking bly en sal sy profete steeds profeteer. Moet Juda hom oor die komende vernietiging van sy noordelike buurnasie verlustig? Beslis nie! Jehovah sal ook met Juda en sy leiers afreken weens hulle ongehoorsaamheid en gebrek aan geloof.
7. In watter opsig is Juda se leiers dronk, en met watter gevolg?
7 Jesaja rig sy boodskap aan Juda en sê verder: “En ook hulle—weens wyn het hulle afgedwaal en weens sterk drank het hulle rondgedwaal. Priester en profeet—hulle het afgedwaal weens sterk drank, hulle het verward geraak as gevolg van die wyn, hulle het rondgedwaal as gevolg van die sterk drank; hulle het afgedwaal in wat hulle sien, hulle het gewaggel wat die beslissing betref. Want al die tafels het vol vieslike uitbraaksel geword—daar is geen plek daarsonder nie” (Jesaja 28:7, 8). Hoe walglik tog! Letterlike dronkenskap in God se huis sou erg genoeg gewees het. Maar hierdie priesters en profete is geestelik dronk—hulle verstande is benewel omdat hulle te veel vertroue in bondgenootskappe met mense stel. Hulle het hulleself bedrieg en dink dat hulle die enigste praktiese weg volg en glo moontlik dat hulle nou ’n alternatiewe plan het as Jehovah se beskerming nie genoeg is nie. In hulle geestelik beskonke toestand bring hierdie godsdiensleiers walglike, onrein woorde voort wat hulle skandelike gebrek aan ware geloof in God se beloftes openbaar.
8. Wat is die reaksie op Jesaja se boodskap?
8 Hoe reageer Juda se leiers op Jehovah se waarskuwing? Hulle dryf die spot met Jesaja en beskuldig hom daarvan dat hy met hulle praat asof hulle klein kindertjies is: “Vir wie sal ’n mens in kennis onderrig, en vir wie sal ’n mens laat verstaan wat gehoor is? Dié wat van die melk gespeen is, wat van die borste weggeneem is? Want dit is ‘gebod op gebod, gebod op gebod, meetsnoer op meetsnoer, meetsnoer op meetsnoer, hier ’n bietjie, daar ’n bietjie’” (Jesaja 28:9, 10). Hoe herhalend en vreemd klink Jesaja tog vir hulle! Hy sê dieselfde dinge oor en oor: ‘Dit is wat Jehovah beveel het! Dit is wat Jehovah beveel het! Dit is Jehovah se standaard! Dit is Jehovah se standaard!’a Maar Jehovah gaan binnekort deur middel van dade met die inwoners van Juda “praat”. Hy sal die leërs van Babilon—vreemdelinge wat werklik ’n ander taal praat—teen hulle laat kom. Daardie leërs sal beslis Jehovah se “gebod op gebod” uitvoer, en Juda sal val.—Lees Jesaja 28:11-13.
Geestelike dronkaards van vandag
9, 10. Wanneer en hoe het Jesaja se woorde vir latere geslagte betekenis gehad?
9 Is Jesaja se profesieë net oor eertydse Israel en Juda vervul? Hoegenaamd nie! Jesus sowel as Paulus het sy woorde aangehaal en dit op die nasie in hulle dag toegepas (Jesaja 29:10, 13; Matteus 15:8, 9; Romeine 11:8). Daar het ook vandag ’n situasie ontstaan wat soos dié van Jesaja se dag is.
10 Hierdie keer is dit die godsdiensleiers van die Christendom wat hulle vertroue in die politiek gestel het. Hulle steier rond, soos die dronkaards van Israel en Juda, terwyl hulle hulle bemoei met politieke sake en hulle verheug wanneer die sogenaamde groot manne van hierdie wêreld hulle raadpleeg. Hulle praat nie suiwer Bybelwaarheid nie, maar spreek onreinhede. Geestelik gesproke sien hulle swak, en hulle is nie betroubare gidse vir die mensdom nie.—Matteus 15:14.
11. Hoe reageer die leiers van die Christendom op die goeie nuus van God se Koninkryk?
11 Hoe reageer die leiers van die Christendom wanneer Jehovah se Getuies hulle aandag op die enigste ware hoop, God se Koninkryk, vestig? Hulle verstaan dit nie. Vir hulle lyk dit of die Getuies doelloos voortbabbel, soos babas. Die godsdiensleiers kyk neer op hierdie boodskappers en spot met hulle. Soos die Jode van Jesus se dag wil hulle nie God se Koninkryk hê nie en wil hulle nie hê dat hulle kuddes daarvan moet hoor nie (Matteus 23:13). Daarom word hulle in kennis gestel dat Jehovah nie altyd deur middel van sy onskadelike boodskappers sal praat nie. Die tyd sal kom wanneer diegene wat hulle nie aan God se Koninkryk onderwerp nie, “verbreek en verstrik en gevang”, ja, geheel en al vernietig, sal word.
“’n Verbond met die Dood”
12. Wat is Juda se sogenaamde “verbond met die Dood”?
12 Jesaja gaan voort met sy uitspraak: “Omdat julle gesê het: ‘Ons het ’n verbond met die Dood gesluit, en met Sjeool het ons ’n visioen tot stand gebring; as die oorstromende stortvloed deurtrek, sal dit ons nie bereik nie, want ons het ’n leuen ons toevlug gemaak, en in bedrog het ons ons verberg’” (Jesaja 28:14, 15). Juda se leiers spog dat hulle politieke bondgenootskappe hulle teen vernietiging beskerm. Hulle voel dat hulle “’n verbond met die Dood gesluit” het om hulle alleen te laat. Maar hulle leë toevlug sal hulle nie beskerm nie. Hulle bondgenootskappe is ’n leuen, bedrog. Op dieselfde manier sal die Christendom se hegte verhouding met die leiers van die wêreld hulle nie beskerm wanneer Jehovah se tyd kom om met hulle af te reken nie. Om die waarheid te sê, dit sal hulle ondergang beteken.—Openbaring 17:16, 17.
13. Wie is die “beproefde steen”, en hoe het die Christendom hom verwerp?
13 Waarop behoort daardie godsdiensleiers dan te vertrou? Jesaja teken nou Jehovah se belofte op: “Ek lê as fondament in Sion ’n steen, ’n beproefde steen, die kosbare hoek van ’n vaste fondament. Niemand wat geloof beoefen, sal paniekerig raak nie. En ek sal geregtigheid die meetsnoer maak en regverdigheid die waterpas; en die hael sal die leuentoevlug wegvee, en die waters sal die skuilplek wegspoel” (Jesaja 28:16, 17). Nie lank ná Jesaja hierdie woorde geuiter het nie, word die getroue koning Hiskia in Sion gekroon en sy koninkryk word gered, nie omdat hy buurnasies as bondgenote het nie, maar omdat Jehovah ingegryp het. Maar hierdie geïnspireerde woorde word nie in Hiskia vervul nie. Die apostel Petrus het Jesaja se woorde aangehaal en getoon dat Jesus Christus, ’n afstammeling van Hiskia, die “beproefde steen” is en dat niemand wat in Hom geloof beoefen enigsins hoef te vrees nie (1 Petrus 2:6). Hoe jammer is dit tog dat die leiers van die Christendom wat hulleself Christene noem, gedoen het wat Jesus geweier het om te doen! Hulle het vernaamheid en mag in hierdie wêreld gesoek en nie op Jehovah gewag om sy Koninkryk onder Jesus Christus die Koning te bevestig nie.—Matteus 4:8-10.
14. Wanneer sal Juda se “verbond met die Dood” tot niet gemaak word?
14 Wanneer “die oorstromende stortvloed” van Babilon se leërs deur die land trek, sal Jehovah Juda se politieke toevlug aan die kaak stel as die leuen wat dit werklik is. “Julle verbond met die Dood sal beslis tot niet gemaak word”, sê Jehovah. “Wanneer die oorstromende stortvloed deurtrek—dan sal julle ’n plek van vertrapping daarvoor word. Elke keer as dit deurtrek, . . . sal [dit] niks anders word nie as ’n rede tot bewing om ander te laat verstaan wat gehoor is” (Jesaja 28:18, 19). Ja, daar is ’n goeie les wat geleer moet word uit wat met diegene gebeur wat beweer dat hulle Jehovah dien, maar dan hulle vertroue in bondgenootskappe met die nasies stel.
15. Hoe lig Jesaja die ontoereikendheid van Juda se beskerming toe?
15 Dink aan die posisie waarin hierdie leiers van Juda hulle nou bevind. “Die slaapbank was te kort vir iemand om hom daarop uit te strek, en die geweefde laken is te smal wanneer iemand hom daarin toedraai” (Jesaja 28:20). Dit is asof hulle gaan lê om te rus, maar dit is tevergeefs. Hulle voete steek in die koue uit of hulle trek hulle bene op en die laken is te smal om hulle toe te maak sodat hulle warm kan bly. Dit was die ongemaklike situasie in Jesaja se dag. En dit is in ons dag die situasie van enigiemand wat sy vertroue in die Christendom se leuentoevlug stel. Hoe skandelik is dit tog dat party van die Christendom se godsdiensleiers vind dat hulle, weens hulle betrokkenheid in die politiek, skuld dra aan sulke verskriklike wandade soos etniese reiniging en volksmoord!
Jehovah se ‘vreemde daad’
16. Wat is Jehovah se ‘vreemde daad’, en waarom is dit iets ongewoons?
16 Sake sal uiteindelik heeltemal anders afloop as wat Juda se godsdiensleiers hoop. Jehovah sal iets vreemds aan die geestelike dronkaards van Juda doen. “Jehovah sal opstaan net soos by die berg Perasim, hy sal in beroering wees net soos in die laagvlakte naby Gibeon, om sy daad te verrig—sy daad is vreemd—en om sy werk te doen—sy werk is ongewoon” (Jesaja 28:21). In koning Dawid se tyd het Jehovah sy volk by die berg Perasim en op die laagvlakte van Gibeon beslissende oorwinnings oor die Filistyne gegee (1 Kronieke 14:10-16). In Josua se tyd het hy selfs die son oor Gibeon laat stilstaan sodat die Israeliete ’n algehele oorwinning oor die Amoriete kon behaal (Josua 10:8-14). Dit was baie ongewoon! Nou sal Jehovah weer veg, maar hierdie keer teen diegene wat beweer dat hulle sy volk is. Kon daar enigiets vreemder of ongewoner as dít wees? Nie in die lig van die feit dat Jerusalem die sentrum van Jehovah se aanbidding en die stad van Jehovah se gesalfde koning is nie. Tot nou toe is die vorstehuis van Dawid in Jerusalem nog nooit omvergewerp nie. Nietemin sal Jehovah ongetwyfeld sy ‘vreemde daad’ uitvoer.—Vergelyk Habakuk 1:5-7.
17. Watter uitwerking sal spot op die vervulling van Jesaja se profesie hê?
17 Gevolglik waarsku Jesaja: “Moet dan nou nie spotters wees nie, sodat julle bande nie sterk word nie, want ek het by die Soewereine Heer, Jehovah van die leërs, gehoor van ’n uitroeiing, ja, iets waarop besluit is, vir die hele land” (Jesaja 28:22). Hoewel die leiers spot, is Jesaja se boodskap waar. Hy het dit by Jehovah gehoor, met wie hierdie leiers in ’n verbondsverhouding is. Die godsdiensleiers van die Christendom spot ook vandag wanneer hulle van Jehovah se ‘vreemde daad’ hoor. Hulle vaar selfs heftig uit teen sy knegte. Maar die boodskap wat Jehovah se Getuies verkondig, is waar. Dit kom uit die Bybel, ’n boek wat daardie leiers na bewering verteenwoordig.
18. Hoe lig Jesaja toe dat Jehovah balans handhaaf wanneer hy dissipline toedien?
18 Jehovah sal opregte persone wat nie hierdie leiers navolg nie, reghelp en hulle in sy guns herstel. (Lees Jesaja 28:23-29.) Soos ’n boer minder drastiese metodes gebruik om ’n delikater graan, soos komyn, te dors, pas Jehovah ook sy dissipline volgens die individu en die omstandighede aan. Hy tree nooit onderdrukkend of hardhandig op nie, maar probeer om oortreders te rehabiliteer. Ja, as individue op Jehovah se versoek ag gee, is daar hoop. Net so kan enigiemand wat hom vandag aan Jehovah se Koninkryk onderwerp aan die naderende oordeel ontkom, al is die lot van die Christendom in sy geheel reeds verseël.
Wee Jerusalem!
19. In watter opsig sal Jerusalem ’n “altaarherd” word, en wanneer en hoe vind dit plaas?
19 Maar waarvan praat Jehovah nou? “Wee Ariël, Ariël, die stad waar Dawid kamp opgeslaan het! Voeg jaar by jaar; laat die feeste hulle kringloop voltooi. En ek sal Ariël benoud maak, en daar sal getreur en geweeklaag wees, en dit sal vir my soos die altaarherd van God word” (Jesaja 29:1, 2). “Ariël” beteken moontlik “die altaarherd van God”, en hier verwys dit blykbaar na Jerusalem. Dit is waar die tempel met sy altaar vir offerandes was. Die Jode volg die roetine om feeste te hou en offerandes daarheen te bring, maar Jehovah skep geen behae in hulle aanbidding nie (Hosea 6:6). Hy beveel eerder dat die stad self in ’n ander opsig ’n “altaarherd” moet word. Soos in die geval van ’n altaar sal bloed daaroor stroom en sal vuur daarop brand. Jehovah beskryf selfs hoe dit sal gebeur: “Ek sal aan alle kante teen jou kamp opslaan, en ek sal jou met skanspale beleër en beleëringswerke teen jou oprig. En jy sal verlaag word sodat jy uit die grond sal praat, en soos uit die stof sal jou woord dof klink” (Jesaja 29:3, 4). Dit word in 607 v.G.J. oor Juda en Jerusalem vervul wanneer die Babiloniese leër die stad beleër en vernietig en die tempel verbrand. Jerusalem word so laag verneder soos die grond waarop dit gebou is.
20. Wat sal uiteindelik met God se vyande gebeur?
20 Voor daardie noodlottige tyd het Juda wel van tyd tot tyd ’n koning wat Jehovah se Wet gehoorsaam. Wat gebeur dan? Jehovah veg vir sy volk. Selfs al bedek die vyand die land, word hulle soos “fyn poeier” en “kaf”. Op Jehovah se bestemde tyd verstrooi hy hulle “met donder en met aardbewing en met ’n groot geluid, stormwind en orkaan, en die vlam van ’n verterende vuur”.—Jesaja 29:5, 6.
21. Verduidelik die illustrasie in Jesaja 29:7, 8.
21 Vyandige leërs sien dalk gretig daarna uit om Jerusalem te plunder en hulle vol te stop met die oorlogsbuit. Maar hulle gaan wreed ontnugter word! Soos ’n verhongerde man wat droom dat hy ’n feesmaal geniet en dan net so honger wakker word as toe hy gaan slaap het, sal die vyande van Juda nie die fees geniet waarna hulle so gretig uitsien nie. (Lees Jesaja 29:7, 8.) Dink byvoorbeeld aan wat met die Assiriese leër onder Sanherib gebeur wanneer dit Jerusalem in die tyd van die getroue koning Hiskia bedreig (Jesaja, hoofstukke 36 en 37). In een nag, sonder dat enige mens iets gedoen het, word die skrikwekkende Assiriese leërmag gestuit—185 000 van sy dapper soldate is dood! Drome van verowering sal weer verydel word wanneer Gog van Magog se leërmag hulle in die nabye toekoms gereedmaak om teen Jehovah se volk oorlog te voer.—Esegiël 38:10-12; 39:6, 7.
22. Watter uitwerking het Juda se geestelike dronkenskap op hulle?
22 Wanneer Jesaja hierdie deel van sy profesie uitspreek, het die leiers van Juda nie geloof soos dié van Hiskia nie. Hulle het hulle geestelik gesproke dronk gedrink deur middel van hulle bondgenootskappe met goddelose nasies. “Talm en wees verbaas; verblind julle en wees verblind. Hulle het dronk geword, maar nie van wyn nie; hulle het gewaggel, maar nie weens sterk drank nie” (Jesaja 29:9). Omdat hierdie leiers geestelik dronk is, kan hulle nie die betekenis van die visioen wat aan Jehovah se ware profeet gegee word, verstaan nie. Jesaja sê: “Oor julle het Jehovah ’n gees van diepe slaap uitgestort; en hy sluit julle oë, die profete, en hy het selfs julle koppe, die sieners, bedek. En vir julle word die visioen van alles soos die woorde van die boek wat verseël is, wat hulle vir iemand gee wat die skrif ken en sê: ‘Lees dit asseblief voor’, en hy sal sê: ‘Ek kan nie, want dit is verseël’; en die boek sal vir iemand gegee word wat geen skrif ken nie, terwyl iemand sê: ‘Lees dit asseblief voor’, en hy sal sê: ‘Ek ken hoegenaamd geen skrif nie.’”—Jesaja 29:10-12.
23. Waarom sal Jehovah Juda tot verantwoording roep, en hoe sal hy dit doen?
23 Juda se godsdiensleiers gee voor dat hulle geestelik verstandig is, maar hulle het Jehovah verlaat. Hulle leer eerder hulle eie verdraaide idees van wat reg en verkeerd is en praat hulle ontroue en onsedelike dade goed sowel as die feit dat hulle die volk by God in onguns laat kom het. Deur middel van “iets wonderbaarliks”—sy ‘vreemde daad’—sal Jehovah hulle tot verantwoording roep weens hulle huigelary. Hy sê: “Omdat hierdie volk met hulle mond nader gekom het en hulle my net met hulle lippe verheerlik het en hulle hulle hart ver van my verwyder het en hulle vrees vir my ’n mensegebod word wat hulle geleer word, daarom, hier is ek, die Een wat weer wonderbaarlik met hierdie volk sal handel, op ’n wonderbare wyse en met iets wonderbaarliks; en die wysheid van hulle wyses sal vergaan, en die verstand van hulle verstandiges sal wegskuil” (Jesaja 29:13, 14). Juda se sogenaamde wysheid en insig sal vergaan wanneer Jehovah die Babiloniese Wêreldmoondheid gebruik om die hele afvallige godsdiensstelsel uit te wis. Dieselfde het in die eerste eeu gebeur nadat die Joodse leiers, wat voorgegee het dat hulle wys is, die nasie op ’n dwaalspoor gelei het. Iets soortgelyks sal in ons dag met die Christendom gebeur.—Matteus 15:8, 9; Romeine 11:8.
24. Hoe toon die Judeërs hulle gebrek aan godvrugtige vrees?
24 Maar op die oomblik glo die grootpraterige leiers van Juda dat hulle slim genoeg is om ongestraf te bly vir hulle verdraaiing van ware aanbidding. Is hulle? Jesaja ontmasker hulle en stel hulle aan die kaak as mense wat geen ware vrees vir God en gevolglik geen ware wysheid het nie: “Wee dié wat baie diep gaan om planne vir Jehovah te verberg en wie se dade in ’n donker plek plaasgevind het, terwyl hulle sê: ‘Wie sien ons en wie weet van ons?’ Julle verdorwenheid tog! Moet die pottebakker net soos die klei beskou word? Want moet die maaksel van sy maker sê: ‘Hy het my nie gemaak nie’? En sê dit wat gevorm is van sy vormer: ‘Hy het geen verstand getoon nie’?” (Jesaja 29:15, 16; vergelyk Psalm 111:10.) Ongeag hoe goed hulle dink hulle versteek is, hulle staan “naak en oop en bloot” voor die oë van God.—Hebreërs 4:13.
‘Die dowes sal beslis hoor’
25. In watter sin sal “die dowes” hoor?
25 Maar daar is redding vir individue wat geloof beoefen. (Lees Jesaja 29:17-24; vergelyk Lukas 7:22.) “Die dowes” sal “die woorde van die boek hoor”, naamlik die boodskap uit God se Woord. Ja, dit is nie ’n genesing van fisiese doofheid nie. Dit is ’n geestelike genesing. Jesaja wys weer vooruit na die oprigting van die Messiaanse Koninkryk en die herstelling van ware aanbidding op aarde deur die Messias se heerskappy. Dit het in ons tyd gebeur, en miljoene opregtes laat toe dat hulle deur Jehovah reggehelp word en leer om hom te loof. Wat ’n opwindende vervulling! Uiteindelik sal die dag aanbreek wanneer almal, alles wat asemhaal, Jehovah sal loof en sy heilige naam sal verheerlik.—Psalm 150:6.
26. Watter geestelike herinneringe hoor “die dowes” vandag?
26 Wat leer hierdie “dowes” wat God se Woord vandag hoor? Dat alle Christene, veral dié wat as voorbeelde in die gemeente beskou word, versigtig moet wees dat hulle nie ‘weens sterk drank afdwaal’ nie (Jesaja 28:7). Ons moet ook nooit moeg word om God se herinneringe te hoor nie, want dit help ons om ’n geestelike beskouing van dinge te hê. Hoewel Christene tereg gehoorsaam is aan regerings en op hulle vertrou om sekere dienste te voorsien, kom redding nie uit die sekulêre wêreld nie, maar van Jehovah God af. Ons moet ook nooit vergeet dat God se oordeel oor hierdie geslag, net soos die oordeel oor die afvallige Jerusalem, onafwendbaar is nie. Met Jehovah se hulp kan ons aanhou om sy waarskuwing te verkondig ondanks teenstand, net soos Jesaja gedoen het.—Jesaja 28:14, 22; Matteus 24:34; Romeine 13:1-4.
27. Watter lesse kan Christene uit Jesaja se profesie leer?
27 Ouer manne en ouers kan leer by die manier waarop Jehovah dissipline toedien, deur altyd oortreders tot God se guns te probeer herstel en hulle nie net te straf nie. (Jesaja 28:26-29; vergelyk Jeremia 30:11.) En ons almal, ook die jongmense, moet onthou hoe belangrik dit is om Jehovah uit ons hart te dien en as Christene nie net vormdiens te lewer om mense te behaag nie (Jesaja 29:13). Ons moet toon dat ons, anders as die ontroue inwoners van Juda, ’n gesonde vrees vir Jehovah en diepe eerbied vir hom het (Jesaja 29:16). Ons moet daarbenewens toon dat ons gewillig is om deur Jehovah reggehelp te word en by hom te leer.—Jesaja 29:24.
28. Hoe beskou Jehovah se knegte sy reddingsdade?
28 Hoe belangrik is dit tog om geloof en vertroue te hê in Jehovah en in die manier waarop hy dinge doen! (Vergelyk Psalm 146:3.) Vir die meeste mense sal die waarskuwingsboodskap wat ons verkondig kinderagtig klink. Die komende vernietiging van ’n organisasie, die Christendom, wat beweer dat dit God dien, is ’n vreemde, ongewone gedagte. Maar Jehovah sal sy ‘vreemde daad’ uitvoer. Daar kan geen twyfel daaroor bestaan nie. Gevolglik vertrou God se knegte gedurende die laaste dae van hierdie stelsel van dinge ten volle op sy Koninkryk en sy aangestelde Koning, Jesus Christus. Hulle weet dat Jehovah se reddingsdade—wat saam met sy ‘ongewone werk’ uitgevoer gaan word—ewige seëninge vir die hele gehoorsame mensdom sal meebring.
[Voetnote]
a In die oorspronklike Hebreeus is Jesaja 28:10 ’n herhalende rympie, baie soos ’n kinderrympie. Jesaja se boodskap het dus vir die godsdiensleiers herhalend en kinderagtig geklink.
[Prente op bladsy 289]
Die Christendom het eerder op bondgenootskappe met menseheersers vertrou as op God
[Prent op bladsy 290]
Jehovah voer sy ‘vreemde daad’ uit wanneer hy Babilon toelaat om Jerusalem te vernietig
[Prent op bladsy 298]
Dié wat vroeër geestelik doof was, kan die Woord van God “hoor”