Hoofstuk drie-en-twintig
Bly in afwagting van Jehovah
1, 2. (a) Wat bevat Jesaja hoofstuk 30? (b) Watter vrae gaan ons nou bespreek?
IN JESAJA hoofstuk 30 lees ons verdere uitsprake van God teen die goddeloses. Hierdie deel van Jesaja se profesie vestig nietemin die aandag op van Jehovah se innemende eienskappe. Trouens, dit is so ’n duidelike beskrywing van Jehovah se eienskappe dat ons as ’t ware sy teenwoordigheid waardeur hy ons vertroos, kan sien, sy stem waardeur hy ons lei, kan hoor en die aanraking kan voel waardeur ons genees word.—Jesaja 30:20, 21, 26.
2 Jesaja se landgenote, die afvallige inwoners van Juda, weier nietemin om na Jehovah terug te keer. Hulle stel hulle vertroue eerder in mense. Hoe voel Jehovah hieroor? En hoe help hierdie deel van Jesaja se profesie Christene van vandag om in afwagting van Jehovah te bly? (Jesaja 30:18). Kom ons vind uit.
’n Dwase en dodelike weg
3. Watter planne lê Jehovah bloot?
3 Die leiers van Juda is al ’n geruime tyd besig om in die geheim planne te beraam sodat hulle nie onder die juk van Assirië sal kom nie. Maar Jehovah sien dit. Nou lê hy hulle planne bloot: “‘Wee die wederstrewige kinders’, is die woord van Jehovah, ‘wat geneig is om raad uit te voer, maar nie dié wat van my af kom nie; en om ’n drankoffer uit te giet, maar nie met my gees nie, om sonde by sonde te voeg; wat vertrek om na Egipte af te gaan.’”—Jesaja 30:1, 2a.
4. Hoe het God se opstandige volk Egipte in die plek van God gestel?
4 Hoe geskok is daardie listige leiers wanneer hulle hoor hoe hulle plan blootgelê word! Wanneer hulle optrek om ’n bondgenootskap met Egipte aan te gaan, is dit nie net vyandige optrede teen Assirië nie; dit is opstandigheid teen Jehovah God. In die tyd van koning Dawid het die nasie Jehovah as hulle vesting beskou en het hulle ‘in die skaduwee van sy vleuels’ skuiling gesoek (Psalm 27:1; 36:7). Nou gaan hulle uit om “in die vesting van Farao skuiling te soek” en “in die skaduwee van Egipte toevlug te soek” (Jesaja 30:2b). Hulle het Egipte in die plek van God gestel! Hoe verraderlik tog!—Lees Jesaja 30:3-5.
5, 6. (a) Waarom is die bondgenootskap met Egipte ’n dodelike fout? (b) Watter reis wat God se volk vroeër onderneem het, beklemtoon die dwaasheid van hierdie reis na Egipte?
5 Asof hy enige bewering wil weerlê dat die sending na Egipte bloot ’n terloopse besoek is, verstrek Jesaja verdere besonderhede. “Die uitspraak teen die diere van die suide: Deur die land van benoudheid en moeilike toestande, van die leeu en die grommende luiperd, van die adder en die vlieënde vurige slang, dra hulle hulle rykdom op die rûe van volgroeide esels en hulle voorrade op die bulte van kamele” (Jesaja 30:6a). Die reis is klaarblyklik goed beplan. Gesante reël ’n karavaan van kamele en esels, waarop hulle kosbare goedere laai en na Egipte lei deur ’n dorre woestyn waar baie grommende leeus en giftige slange aangetref word. Eindelik bereik die gesante hulle bestemming, en hulle handig hulle skatte aan die Egiptenaars oor. Hulle het beskerming gekoop—of so dink hulle. Maar Jehovah sê: “Dit sal vir die volk geen voordeel bring nie. En die Egiptenaars is blote nietigheid, en hulle hulp sal eenvoudig tevergeefs wees. Daarom het ek dit genoem: ‘Ragab—hulle hou van stilsit’” (Jesaja 30:6b, 7). “Ragab”, ’n “seemonster”, het Egipte afgebeeld (Jesaja 51:9, 10). Hy belowe alles maar doen niks. Juda se bondgenootskap met hom is ’n dodelike fout.
6 Terwyl Jesaja die reis van die gesante beskryf, laat dit sy toehoorders moontlik aan ’n soortgelyke reis dink wat in die dae van Moses onderneem is. Hulle voorvaders het deur dieselfde “vreesinboesemende wildernis” gegaan (Deuteronomium 8:14-16). Maar in Moses se dag het die Israeliete uit Egipte weggegaan en is hulle uit gevangenskap bevry. Hierdie keer is die gesante op pad na Egipte toe en bring hulle in werklikheid onderworpenheid oor hulleself. Hoe dwaas tog! Mag ons nooit so ’n slegte besluit neem en ons geestelike vryheid vir slawerny verruil nie!—Vergelyk Galasiërs 5:1.
Teenstand teen die profeet se boodskap
7. Waarom sê Jehovah dat Jesaja Sy waarskuwing aan Juda moet neerskryf?
7 Jehovah sê vir Jesaja om die boodskap wat hy pas tevore oorgedra het neer te skryf sodat “dit vir ’n toekomstige dag kan dien, as ’n getuienis tot onbepaalde tyd” (Jesaja 30:8). Jehovah keur dit nie goed dat mense eerder op bondgenootskappe met ander mense vertrou as op Hom nie, en dit moet opgeteken word ter wille van toekomstige geslagte—ook ter wille van ons geslag (2 Petrus 3:1-4). Maar daar is ’n dringender behoefte aan ’n geskrewe verslag. “Dit is ’n opstandige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van Jehovah nie wou hoor nie” (Jesaja 30:9). Die volk het God se raad verwerp. Dit moet gevolglik neergeskryf word sodat hulle nie later kan ontken dat hulle ’n behoorlike waarskuwing gekry het nie.—Spreuke 28:9; Jesaja 8:1, 2.
8, 9. (a) Hoe probeer die leiers van Juda om Jehovah se profete tot verdorwenheid oor te haal? (b) Hoe toon Jesaja dat hy hom nie sal laat intimideer nie?
8 Jesaja gee nou ’n voorbeeld van die volk se opstandige gesindheid. Hulle het “vir dié wat sien, gesê . . . : ‘Julle moenie sien nie’, en vir dié wat visioene het: ‘Julle moenie vir ons sien wat reg is nie. Spreek vir ons vleiende dinge; sien bedrieglike dinge’” (Jesaja 30:10). Deur getroue profete te beveel om op te hou sê wat “reg”, of waar, is en eerder “vleiende” en “bedrieglike”, of valse, dinge te sê, toon die leiers van Juda dat hulle hulle ore gestreel wil hê. Hulle wil geprys word, nie veroordeel word nie. Hulle sê vir enige profeet wie se profesie nie na hulle smaak is nie: “Draai af van die weg; wyk af van die pad” (Jesaja 30:11a). Hy moet dinge sê wat hulle ore streel of eenvoudig ophou preek!
9 Jesaja se teenstanders hou vol: “Laat die Heilige van Israel net ter wille van ons verdwyn” (Jesaja 30:11b). Laat Jesaja ophou om in die naam van Jehovah, “die Heilige van Israel”, te spreek! Hierdie titel irriteer hulle juis omdat Jehovah se verhewe standaarde hulle veragtelike toestand ontbloot. Hoe reageer Jesaja hierop? Hy sê: “Só het die Heilige van Israel gesê” (Jesaja 30:12a). Sonder aarseling sê Jesaja presies wat sy teenstanders nie wil hoor nie. Hy sal hom nie laat intimideer nie. Wat ’n uitstekende voorbeeld vir ons! Christene moet nooit ’n kompromis aangaan wat die verkondiging van God se boodskap betref nie (Handelinge 5:27-29). Soos Jesaja hou hulle aan om te sê: ‘Só het Jehovah gesê’!
Die gevolge van opstandigheid
10, 11. Wat sal die gevolge van Juda se opstand wees?
10 Juda het God se woord verwerp, op ’n leuen vertrou en op “kullery” staatgemaak (Jesaja 30:12b). Wat sal die gevolge daarvan wees? Jehovah sal nie bloot van die toneel verdwyn soos die nasie wil hê nie, maar hy sal die nasie tot niet laat gaan! Jesaja gebruik ’n illustrasie om die aandag te vestig op hierdie skielike en algehele vernietiging. Die opstandigheid van die nasie is soos “’n gebreekte stuk . . . wat wil val, ’n uitbulting in ’n hoë muur, waarvan die instorting skielik, in ’n oomblik, kan kom” (Jesaja 30:13). Net soos ’n groeiende uitbulting in ’n hoë muur uiteindelik sal veroorsaak dat die muur inmekaarstort, so sal die toenemende opstandigheid van Jesaja se tydgenote die ineenstorting van die nasie veroorsaak.
11 Jesaja gebruik nog ’n illustrasie om die omvang van die komende vernietiging te toon: “Dit sal beslis gebreek word soos ’n groot kruik van die pottebakkers gebreek word, wat verbrysel word sonder dat dit ontsien word, sodat daar onder sy verbryselde stukke geen erdeskerf gevind kan word waarmee die vuur uit die vuurherd gekrap of water uit ’n vleiagtige plek geskep kan word nie” (Jesaja 30:14). Juda sal geheel en al vernietig word, sodat niks waardevols sal oorbly nie—nie eers ’n potskerf wat groot genoeg is om warm as uit ’n vuurherd te krap of om water uit ’n vlei te skep nie. Wat ’n skandelike einde! Die komende vernietiging van diegene wat vandag teen ware aanbidding in opstand kom, sal net so skielik en erg wees.—Hebreërs 6:4-8; 2 Petrus 2:1.
Jehovah se aanbod word verwerp
12. Hoe kan die volk van Juda vernietiging vermy?
12 Maar dié wat Jesaja hoor, sal nie noodwendig vernietig word nie. Daar is ’n uitkoms. Die profeet verduidelik: “Só het die Soewereine Heer Jehovah, die Heilige van Israel, gesê: ‘As julle terugkom en rus, sal julle gered word. Julle sterkte sal eenvoudig daarin lê dat julle rustig is en vertroue het’” (Jesaja 30:15a). Jehovah is gereed om sy volk te red—as hulle geloof betoon deur te “rus”, of op te hou om redding deur middel van mensebondgenootskappe te probeer verkry, en deur “rustig” te wees, of te toon dat hulle op God se beskermende krag vertrou en nie voor vrees swig nie. “Maar”, sê Jesaja vir die volk, “julle wou nie.”—Jesaja 30:15b.
13. Waarin stel die leiers van Juda hulle vertroue, en is hierdie vertroue geregverdig?
13 Jesaja gaan dan verder: “En julle het gesê: ‘Nee, maar op perde sal ons vlug!’ Daarom sal julle vlug. ‘En op vinnige perde sal ons ry!’ Daarom sal julle agtervolgers vinnig wees” (Jesaja 30:16). Die Judeërs dink dat vinnige perde, nie Jehovah nie, vir hulle redding sal beteken (Deuteronomium 17:16; Spreuke 21:31). Maar, sê die profeet, hulle vertroue sal ’n illusie wees, want hulle vyande sal hulle inhaal. Selfs groot getalle sal hulle nie help nie. “Duisend sal bewe weens die bestrawwing deur een; weens die bestrawwing deur vyf sal julle vlug” (Jesaja 30:17a). Die leërs van Juda sal benoud raak en vlug wanneer hulle die kreet van net ’n handjie vol van die vyand hoor.a Op die ou end sal net ’n oorblyfsel agterbly, heeltemal alleen, “soos ’n mas op ’n bergtop en soos ’n baken op ’n heuwel” (Jesaja 30:17b). Net soos die profesie voorspel het, het net ’n oorblyfsel behoue gebly toe Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig is.—Jeremia 25:8-11.
Vertroosting te midde van veroordeling
14, 15. Watter vertroosting bied die woorde van Jesaja 30:18 vir die inwoners van Juda in die ou tyd en vir ware Christene van vandag?
14 Terwyl hierdie ernstige woorde nog in die ore van Jesaja se toehoorders weerklink, verander die toon van sy boodskap. Die dreigende onheilsboodskap maak plek vir die belofte van seëninge. “Daarom sal Jehovah vol verwagting daarna uitsien om aan julle guns te betoon, en daarom sal hy opstaan om aan julle barmhartigheid te bewys. Want Jehovah is ’n God van oordeel. Gelukkig is almal wat in afwagting van hom bly” (Jesaja 30:18). Hoe vertroostend is hierdie woorde tog! Jehovah is ’n medelydende Vader wat daarna smag om sy kinders te help. Hy skep behae daarin om barmhartigheid te bewys.—Psalm 103:13; Jesaja 55:7.
15 Hierdie gerusstellende woorde is van toepassing op die Joodse oorblyfsel wat genadiglik toegelaat is om die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. te oorleef en ook op die paar wat in 537 v.G.J. na die Beloofde Land terugkeer. Maar die profeet se woorde vertroos Christene vandag ook. Ons word daaraan herinner dat Jehovah om ons ontwil sal “opstaan” en ’n einde aan hierdie goddelose wêreld sal bring. Getroue aanbidders kan seker wees dat Jehovah—wat “’n God van oordeel” is—nie sal toelaat dat Satan se wêreld een dag langer sal staan as wat geregtigheid vereis nie. Daarom het diegene “wat in afwagting van hom bly” groot rede tot blydskap.
Jehovah vertroos sy volk deur gebede te verhoor
16. Hoe vertroos Jehovah mismoediges?
16 Maar party voel dalk mismoedig omdat verlossing nie so gou gekom het as wat hulle gehoop het nie (Spreuke 13:12; 2 Petrus 3:9). Mag hulle deur Jesaja se volgende woorde vertroos word, wat die aandag op ’n spesiale aspek van Jehovah se persoonlikheid vestig. “Wanneer die volk in Sion in Jerusalem sal woon, sal jy geensins huil nie. Hy sal vir seker aan jou guns betoon by die geluid van jou geroep; sodra hy dit hoor, sal hy jou antwoord” (Jesaja 30:19). Jesaja dra teerheid in hierdie woorde oor deur van die meervoudige “julle” in vers 18 oor te slaan na die enkelvoudige “jy” in vers 19. Wanneer Jehovah mense vertroos wat ontsteld is, behandel hy elkeen van hulle as ’n individu. As ’n Vader vra hy nie ’n seun wat reeds mismoedig is: ‘Waarom is jy nie so sterk soos jou broer nie?’ (Galasiërs 6:4). Hy luister eerder aandagtig na elkeen. Trouens, “sodra hy dit hoor, sal hy jou antwoord”. Hoe gerusstellend is hierdie woorde tog! Mismoediges kan grootliks versterk word as hulle tot Jehovah bid.—Psalm 65:2.
Hoor God se stem deur sy Woord te lees
17, 18. Hoe gee Jehovah leiding, selfs in moeilike tye?
17 Wanneer Jesaja verder praat, herinner hy dié wat na hom luister dat benoudheid sal kom. Die volk sal “brood in die vorm van benoudheid [kry] en water in die vorm van onderdrukking” (Jesaja 30:20a). Die benoudheid en onderdrukking wat hulle sal ondervind wanneer hulle beleër word, sal so alledaags word soos brood en water. Jehovah is nietemin gereed om regskapenes te red. “Jou Grootse Onderrigter [sal] hom nie langer verberg nie, en jou oë sal oë word wat jou Grootse Onderrigter sien. En jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: ‘Dit is die weg. Wandel daarop’, ingeval julle regs sou gaan of ingeval julle links sou gaan.”—Jesaja 30:20b, 21.b
18 Jehovah is die “Grootse Onderrigter”. As leermeester het hy geen gelyke nie. Maar hoe kan mense hom “sien” en “hoor”? Jehovah openbaar homself deur middel van sy profete, wie se woorde in die Bybel opgeteken staan (Amos 3:6, 7). Wanneer getroue aanbidders vandag die Bybel lees, is dit asof God se vaderlike stem vir hulle sê watter rigting hulle moet inslaan en hulle aanspoor om hulle lewenswyse aan te pas sodat hulle daardie weg kan bewandel. Elke Christen moet aandagtig luister na Jehovah se woorde in die Bybel en in Bybelpublikasies wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word (Matteus 24:45-47). Laat elkeen hom daarop toelê om die Bybel te lees, want ‘dit beteken sy lewe’.—Deuteronomium 32:46, 47; Jesaja 48:17.
Peins oor toekomstige seëninge
19, 20. Watter seëninge lê vir diegene voor wat op die stem van die Grootse Onderrigter ag gee?
19 Diegene wat ag gee op die stem van die Grootse Onderrigter sal hulle gesnede beelde weggooi omdat hulle dit as afstootlik beskou. (Lees Jesaja 30:22.) Dan sal hulle wonderlike seëninge geniet. Jesaja beskryf hierdie seëninge in Jesaja 30:23-26, ’n wonderlike herstellingsprofesie wat sy eerste vervulling gehad het toe ’n Joodse oorblyfsel in 537 v.G.J. uit ballingskap teruggekeer het. Vandag help hierdie profesie ons om die wonderlike seëninge te sien wat die Messias nou in die geestelike paradys tot stand bring sowel as dié wat hy nog in die letterlike Paradys tot stand sal bring.
20 “Hy sal beslis die reën gee vir jou saad waarmee jy die grond besaai, en as die opbrengs van die grond, brood, wat vet en olierig sal word. Jou vee sal in dié dag op ’n uitgestrekte weiveld wei. En die beeste en die volgroeide esels wat die grond bewerk, sal voer eet waarby suring gevoeg is, wat met die skop en met die vurk gewan is” (Jesaja 30:23, 24). ‘Vet en olierige’ brood—kos wat baie voedsaam is—sal die mens se daaglikse stapelvoedsel wees. Die land sal so oorvloedig voortbring dat selfs die diere daarby baat sal vind. Vee sal “voer eet waarby suring gevoeg is”—smaaklike voer wat vir spesiale geleenthede gehou word. Hierdie voer is selfs “gewan”—iets wat gewoonlik net gedoen word met graan wat deur mense gebruik gaan word. Wat ’n pragtige beskrywing gee Jesaja hier om die ryk seëninge van Jehovah oor die getroue mensdom toe te lig!
21. Beskryf die omvang van die seëninge wat voorlê.
21 “Op elke hoë berg en op elke verhewe heuwel sal daar strome . . . wees” (Jesaja 30:25a).c Jesaja gee ’n gepaste beskrywing waarin die volkomenheid van Jehovah se seëninge beklemtoon word. Daar sal geen tekort aan water wees nie. Hierdie kosbare vloeistof sal nie net in die laagland vloei nie, maar selfs “op elke hoë berg en op elke verhewe heuwel”. Ja, honger sal iets van die verlede wees (Psalm 72:16). Verder vestig die profeet sy aandag op dinge wat selfs hoër as die berge is. “Die lig van die volmaan sal soos die lig van die gloeiende son word; en die lig van die gloeiende son sal sewe keer sterker word, soos die lig van sewe dae, op die dag wanneer Jehovah die breuk van sy volk verbind en selfs die ernstige wond genees waar hy hulle geslaan het” (Jesaja 30:26). Wat ’n opwindende klimaks van hierdie pragtige profesie! Die heerlikheid van God sal in al sy prag skyn. Die seëninge wat op God se getroue aanbidders wag, sal enigiets wat hulle vroeër ervaar het grootliks—sewevoudig—oortref.
Oordeel en vreugde
22. In teenstelling met die seëninge wat die getroues sal geniet, wat gaan Jehovah met die goddeloses doen?
22 Die toon van Jesaja se boodskap verander weer. “Kyk!” sê hy, asof hy sy toehoorders se aandag wil trek. “Die naam van Jehovah kom van ver af, brandend met sy toorn en met swaar wolke. Wat sy lippe betref, hulle is vol veroordeling, en sy tong is soos ’n verterende vuur” (Jesaja 30:27). Tot dusver het Jehovah as ’t ware weggebly en die vyande van sy volk toegelaat om te doen wat hulle wil. Nou kom hy nader—soos ’n dreigende donderstorm—om sy oordeel te voltrek. “Sy gees is soos ’n oorlopende stroom wat tot aan die nek reik, om die nasies heen en weer te swaai met ’n sif van waardeloosheid; en ’n toom wat ’n mens laat ronddwaal, sal in die kakebene van die volke wees” (Jesaja 30:28). Vyande van God se volk sal omring word deur “’n oorlopende stroom”, ‘met ’n sif heen en weer’ geskud word en met “’n toom” beteuel word. Hulle sal vernietig word.
23. Wat gee Christene vandag “blydskap van hart”?
23 Jesaja se toon verander weer eens wanneer hy beskryf hoe gelukkig getroue aanbidders sal wees wat eendag na hulle land sal terugkeer. “Julle sal ’n lied hê soos dié in die nag wanneer iemand hom vir ’n fees heilig, en blydskap van hart soos dié van iemand wat met ’n fluit loop om te kom op die berg van Jehovah, na die Rots van Israel” (Jesaja 30:29). Ware Christene ervaar vandag ’n soortgelyke “blydskap van hart” wanneer hulle dink aan die oordeel wat oor Satan se wêreld gaan kom; die beskerming wat hulle van Jehovah, die “Rots van redding”, kry en die Koninkrykseëninge wat gaan kom.—Psalm 95:1.
24, 25. Hoe beklemtoon Jesaja se profesie dat Assirië beslis geoordeel sal word?
24 Ná hierdie uiting van vreugde keer Jesaja na die tema van oordeel terug en identifiseer hy die voorwerp van God se gramskap. “Jehovah sal beslis die waardigheid van sy stem laat hoor en die neerdaling van sy arm laat sien, in grimmige toorn en die vlam van ’n verterende vuur en in wolkbreuk en reënstorm en haelstene. Want weens die stem van Jehovah sal Assirië met verskrikking vervul word; hy sal dit met ’n staf slaan” (Jesaja 30:30, 31). Deur middel van hierdie aanskoulike beskrywing beklemtoon Jesaja dat God Assirië beslis sal oordeel. Assirië staan as ’t ware voor God en bewe wanneer hy sien hoe Sy “arm” van veroordeling ‘neerdaal’.
25 Die profeet gaan voort: “Elke swaai van sy tugroede wat Jehovah op Assirië sal laat neerkom, sal beslis met tamboeryne en met harpe wees; en met gevegte gekenmerk deur swaaiende wapens sal hy teen hulle veg. Want sy Tofet is onlangs gereedgemaak; dit is ook vir die koning berei. Hy het die stapel daarvan diep gemaak. Vuur en hout is in oorvloed. Die asem van Jehovah, soos ’n stroom swael, brand daarteen” (Jesaja 30:32, 33). Tofet, in die Hinnomvallei, word hier as ’n figuurlike plek gebruik wat met vuur brand. Deur te toon dat Assirië daar sal beland, beklemtoon Jesaja die skielike en algehele vernietiging wat oor daardie nasie sal kom.—Vergelyk 2 Konings 23:10.
26. (a) Watter hedendaagse toepassing het Jehovah se woorde teen Assirië? (b) Hoe bly Christene vandag in afwagting van Jehovah?
26 Hoewel hierdie oordeelsboodskap teen Assirië gerig is, het Jesaja se profesie ’n groter toepassing (Romeine 15:4). Jehovah sal as ’t ware weer van ver af kom om almal wat sy volk onderdruk te oorstroom, te skud en in toom te hou (Esegiël 38:18-23; 2 Petrus 3:7; Openbaring 19:11-21). Mag daardie dag tog gou kom! Intussen wag Christene gretig op die dag van verlossing. Hulle word versterk deur na te dink oor die duidelike woorde wat in Jesaja hoofstuk 30 opgeteken staan. Hierdie woorde spoor God se knegte aan om die voorreg van gebed as iets kosbaars te beskou, hulle op Bybelstudie toe te lê en oor die komende Koninkrykseëninge te peins (Psalm 42:1, 2; Spreuke 2:1-6; Romeine 12:12). Jesaja se woorde help ons almal dus om in afwagting van Jehovah te bly.
[Voetnote]
a Let daarop dat presies die teenoorgestelde sou gebeur het as Juda getrou was.—Levitikus 26:7, 8.
b Dit is die enigste plek in die Bybel waar Jehovah “Grootse Onderrigter” genoem word.
c Jesaja 30:25b sê: “Op die dag van die groot slagting wanneer die torings val.” In die eerste vervulling verwys dit moontlik na die val van Babilon, wat dit moontlik gemaak het dat Israel die seëninge kon geniet wat in Jesaja 30:18-26 voorspel word. (Sien paragraaf 19.) Dit kan ook na die vernietiging by Armageddon verwys, wat die grootste vervulling van hierdie seëninge in die nuwe wêreld moontlik sal maak.
[Prente op bladsy 305]
In Moses se dag het die Israeliete uit Egipte ontvlug. In Jesaja se dag soek Juda hulp by Egipte
[Prent op bladsy 311]
“Op elke verhewe heuwel sal daar strome . . . wees”
[Prent op bladsy 312]
Jehovah sal kom “met sy toorn en met swaar wolke”