Pas op vir “die stem van vreemdelinge”
“Hulle sal ’n vreemdeling hoegenaamd nie volg nie maar sal van hom af wegvlug, omdat hulle nie die stem van vreemdelinge ken nie.”—JOHANNES 10:5.
1, 2. (a) Hoe reageer Maria wanneer Jesus haar by haar naam roep, en watter vroeëre woorde van Jesus word deur hierdie voorval toegelig? (b) Wat stel ons in staat om na aan Jesus te bly?
DIE verrese Jesus sien die vrou wat naby sy leë graf staan. Hy ken haar goed. Dit is Maria Magdalena. Byna twee jaar vroeër het hy haar van demoonbesetenheid genees. Sedertdien het sy hom en sy apostels vergesel en na hulle daaglikse behoeftes omgesien (Lukas 8:1-3). Maar vandag huil Maria omdat sy baie hartseer is, want sy het Jesus sien sterf, en nou het selfs sy liggaam verdwyn! Jesus vra haar dus: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?” Sy dink dat hy die tuinier is en antwoord: “Meneer, as u hom weggedra het, sê vir my waar u hom neergelê het, en ek sal hom wegneem.” Dan sê Jesus: “Maria!” Sy herken onmiddellik die manier waarop hy altyd met haar praat. “Leermeester!” roep sy vreugdevol uit. En sy omhels hom.—Johannes 20:11-18.
2 Hierdie verslag lig op treffende wyse toe wat Jesus ’n ruk tevore gesê het. Hy het hom met ’n herder en sy volgelinge met skape vergelyk en gesê dat die herder sy eie skape by hulle naam roep en dat hulle sy stem ken (Johannes 10:3, 4, 14, 27, 28). Ja, soos ’n skaap sy herder herken, het Maria haar Herder, Christus, herken. Dit is ook waar van Jesus se hedendaagse volgelinge (Johannes 10:16). Net soos ’n skaap se onderskeidende oor hom in staat stel om na aan sy herder te bly, stel ons geestelike onderskeidingsvermoë ons in staat om noukeurig in die voetstappe van ons Goeie Herder, Jesus Christus, te wandel.—Johannes 13:15; 1 Johannes 2:6; 5:20.
3. Watter vrae laat Jesus se illustrasie van die skaapkraal ontstaan?
3 Maar volgens hierdie selfde illustrasie stel ’n skaap se vermoë om mensestemme te herken, hom nie net in staat om te weet wie sy vriend is nie, maar ook wie sy vyand is. Dit is uiters belangrik, want ons het slinkse teenstanders. Wie is hulle? Hoe gaan hulle te werk? Hoe kan ons ons beskerm? Om uit te vind, kan ons kyk na wat Jesus verder in sy illustrasie van die skaapkraal sê.
‘Hy wat nie by die deur ingaan nie’
4. Wie volg die skape volgens die illustrasie van die herder, en wie volg hulle nie?
4 Jesus sê: “Hy wat by die deur ingaan, is herder van die skape. Die deurwagter maak vir hom oop, en die skape luister na sy stem, en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. Wanneer hy almal wat syne is, uitgebring het, gaan hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal ’n vreemdeling hoegenaamd nie volg nie maar sal van hom af wegvlug, omdat hulle nie die stem van vreemdelinge ken nie” (Johannes 10:2-5). Let daarop dat Jesus die woord “stem” drie keer gebruik. Hy praat twee keer van die stem van ’n herder, maar die derde keer verwys hy na “die stem van vreemdelinge”. Na watter soort vreemdeling verwys Jesus?
5. Waarom betoon ons nie gasvryheid aan die soort vreemdeling wat in Johannes hoofstuk 10 genoem word nie?
5 Jesus bespreek nie die soort vreemdeling aan wie ons gasvryheid—’n woord wat in die oorspronklike Bybeltaal “liefde vir vreemdelinge” beteken—wil betoon nie (Hebreërs 13:2). In Jesus se illustrasie is die vreemdeling nie ’n genooide gas nie. Hy is iemand “wat nie by die deur in die skaapkraal ingaan nie maar iewers anders opklim”. Hy is “’n dief en ’n plunderaar” (Johannes 10:1). Wie is die eerste persoon wat volgens God se Woord ’n dief en ’n plunderaar geword het? Satan die Duiwel. Ons vind die bewys hiervoor in die boek Genesis.
Toe die stem van ’n vreemdeling die eerste keer gehoor is
6, 7. Waarom kan Satan tereg ’n vreemdeling en ’n dief genoem word?
6 Genesis 3:1-5 beskryf hoe die stem van ’n vreemdeling die eerste keer op aarde gehoor is. Die verslag toon dat Satan die eerste vrou, Eva, deur middel van ’n slang genader het en op ’n misleidende wyse met haar gepraat het. In hierdie verslag word Satan weliswaar nie letterlik “’n vreemdeling” genoem nie. Nietemin toon sy dade dat hy in baie opsigte soos die vreemdeling is wat in Jesus se illustrasie in Johannes hoofstuk 10 beskryf word. Kyk na ’n paar ooreenkomste.
7 Jesus sê dat die vreemdeling sy slagoffers in die skaapkraal met ’n ompad nader. Net so het Satan sy slagoffer indirek genader deur ’n slang te gebruik. Hierdie slinkse benadering het Satan se ware karakter verraai—hy is ’n bedrieglike indringer. Verder beplan die vreemdeling in die skaapkraal om die regmatige eienaar van sy skape te beroof. Trouens, hy is erger as ’n dief, want sy doel is ook om “te slag en te vernietig” (Johannes 10:10). Satan was eweneens ’n dief. Deur Eva te bedrieg, het hy haar getrouheid by God gesteel. Wat meer is, Satan het ook die dood oor mense gebring. Gevolglik is hy ’n moordenaar.
8. Hoe het Satan Jehovah se woorde en beweegredes verdraai?
8 Satan se oneerlikheid kon duidelik gesien word in die manier waarop hy Jehovah se woorde en beweegredes verdraai het. “Is dit werklik so dat God gesê het dat julle nie van al die bome van die tuin mag eet nie?” het hy Eva gevra. Satan het voorgegee dat hy geskok is, deur as ’t ware te sê: ‘Hoe kan God so onredelik wees?’ Hy het bygevoeg: “God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sekerlik geopen sal word.” Let op sy woorde: “God weet.” Satan het as ’t ware gesê: ‘Ek weet wat God weet. Ek ken sy beweegredes, en dit is sleg’ (Genesis 2:16, 17; 3:1, 5). Ongelukkig het Eva en Adam nie weggedraai van die stem van hierdie vreemdeling nie. Hulle het eerder daarna geluister en weë oor hulleself en hulle nakomelinge gebring.—Romeine 5:12, 14.
9. Waarom moet ons verwag dat ons vandag die stem van vreemdelinge sal hoor?
9 Satan gebruik vandag soortgelyke metodes om God se knegte te mislei (Openbaring 12:9). Hy is “die vader van die leuen”, en diegene wat, soos hy, God se knegte probeer mislei, is sy kinders (Johannes 8:44). Kom ons kyk op watter maniere die stem van hierdie vreemdelinge vandag gehoor word.
Hoe die stem van vreemdelinge vandag gehoor word
10. Wat is een manier waarop die stem van vreemdelinge gehoor word?
10 Bedrieglike redenasies. Die apostel Paulus sê: “Moet julle nie deur allerhande en vreemde leringe laat meesleep nie” (Hebreërs 13:9). Watter soort leringe? Aangesien dit ons kan “meesleep”, is dit duidelik dat Paulus verwys na leringe wat ons geestelike ewewig kan ondermyn. Wie verkondig sulke vreemde leringe? Paulus het vir ’n groep Christen- ouer manne gesê: “Uit julle eie midde sal manne opstaan en verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (Handelinge 20:30). Vandag, net soos in Paulus se dag, probeer persone wat eens deel van die Christengemeente was, nou inderdaad om die skape te mislei deur “verdraaide dinge”—halwe waarhede en blatante leuens—te spreek. Soos die apostel Petrus dit stel, gebruik hulle “valse woorde”—woorde wat na die waarheid klink, maar wat in werklikheid so waardeloos soos vervalste geld is.—2 Petrus 2:3.
11. Hoe lê die woorde in 2 Petrus 2:1, 3 die metodes en oogmerk van afvalliges bloot?
11 Petrus lê die metodes van afvalliges verder bloot deur te sê dat hulle “heimlik verderflike sektes [sal] invoer” (2 Petrus 2:1, 3). Net soos die dief in Jesus se illustrasie van die skaapkraal “nie by die deur . . . ingaan nie maar iewers anders opklim”, so benader afvalliges ons op onderduimse maniere (Galasiërs 2:4; Judas 4). Wat is hulle oogmerk? Petrus voeg by: ‘Hulle sal julle uitbuit.’ Ja, ongeag wat afvalliges dalk sê om die teendeel te probeer bewys, die eintlike oogmerk van indringers is om “te steel en te slag en te vernietig” (Johannes 10:10). Pas op vir sulke vreemdelinge!
12. (a) Hoe kan ons omgang ons blootstel aan die stem van vreemdelinge? (b) Watter ooreenkoms is daar tussen Satan se taktiek en dié van vreemdelinge van vandag?
12 Skadelike omgang. Ons kan blootgestel word aan die stem van vreemdelinge deur diegene met wie ons assosieer. Skadelike omgang stel veral jongmense in gevaar (1 Korintiërs 15:33). Onthou, Satan het Eva uitgesonder—die jonger en minder ervare lid van die eerste mensepaar. Hy het haar daarvan oortuig dat Jehovah haar vryheid onnodig beperk, terwyl die teenoorgestelde in werklikheid waar was. Jehovah het sy menseskepsele liefgehad en was besorg oor hulle welsyn (Jesaja 48:17). Vandag probeer vreemdelinge eweneens om julle jongmense daarvan te oortuig dat julle Christenouers julle vryheid onnodig beperk. Watter invloed kan sulke vreemdelinge op julle hê? ’n Christenmeisie erken: “My klasmaats het my geloof ’n ruk lank in ’n mate ondermyn. Hulle het bly sê dat my godsdiens beperkend en onredelik is.” Maar die waarheid is dat julle ouers julle liefhet. Wanneer skoolmaats julle dus probeer oorreed om julle ouers te wantrou, moet julle nie soos Eva mislei word nie.
13. Watter wyse weg het Dawid gevolg, en wat is een manier waarop ons hom kan navolg?
13 Aangaande skadelike omgang sê die psalmis Dawid: “Ek het nie by mense van onwaarheid gesit nie; en by dié wat verberg wat hulle is, gaan ek nie in nie” (Psalm 26:4). Kan jy weer eens die kenmerkende eienskap van vreemdelinge sien? Hulle verberg wie hulle is—net soos Satan sy identiteit verberg het deur ’n slang te gebruik. Vandag verberg party onsedelike mense hulle identiteit en ware bedoelings deur die Internet te gebruik. In kletskamers kan perverse volwassenes hulle selfs as jongmense voordoen om julle in ’n valstrik te lok. Jongmense, wees asseblief baie versigtig sodat julle nie geestelik skade ly nie.—Psalm 119:101; Spreuke 22:3.
14. Hoe word die stem van vreemdelinge soms in die media gehoor?
14 Valse aantygings. Hoewel party nuusberigte oor Jehovah se Getuies gunstig is, word die media soms gebruik om die bevooroordeelde stem van vreemdelinge uit te dra. In een land het ’n nuusberig byvoorbeeld valslik beweer dat die Getuies Hitler se regime gedurende die Tweede Wêreldoorlog ondersteun het. In ’n ander land het ’n berig die aantyging gemaak dat Getuies vandalisties optree deur kerke te verniel. In verskeie lande het die media die Getuies daarvan beskuldig dat hulle mediese behandeling vir hulle kinders weier en ook dat hulle ernstige sondes van medegelowiges doelbewus oorsien (Matteus 10:22). Nietemin besef opregte mense wat ons persoonlik ken dat sulke aantygings vals is.
15. Waarom is dit onverstandig om alles te glo wat in die media verkondig word?
15 Wat moet ons doen as ons aantygings hoor wat deur die stem van sulke vreemdelinge versprei word? Dit sal goed wees as ons die raad in Spreuke 14:15 ter harte neem: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.” Dit is onverstandig om alles te glo wat in die media as waarheid verkondig word. Hoewel ons beslis nie alle sekulêre inligting wantrou nie, besef ons wel dat ‘die hele wêreld in die mag van die bose lê’.—1 Johannes 5:19.
“Stel die geïnspireerde uitinge op die proef”
16. (a) Hoe lig die gedrag van letterlike skape toe dat Jesus se woorde in Johannes 10:4 waar is? (b) Wat spoor die Bybel ons aan om te doen?
16 Hoe kan ons egter seker wees of iemand ’n vriend of ’n vyand is? Wel, Jesus sê dat die skape die herder volg “omdat hulle sy stem ken” (Johannes 10:4). Dit is nie die letterlike herder se voorkoms wat die skape beweeg om hom te volg nie; dit is sy stem. ’n Boek oor Bybellande vertel dat ’n besoeker eenkeer beweer het dat die skape hulle herder aan sy klere uitken, nie aan sy stem nie. ’n Herder het geantwoord dat dit die stem is wat hulle ken. Om dit te bewys, het hy en die vreemdeling klere geruil. Geklee in die herder se klere het die vreemdeling die skape geroep, maar hulle het nie gereageer nie. Hulle het nie sy stem geken nie. Maar toe die herder hulle roep, het die skape dadelik gekom, al het hy heeltemal anders gelyk. Iemand kan dus soos ’n herder lyk, maar vir die skape bewys dit nie dat hy werklik een is nie. Die skape toets in werklikheid die stem van die een wat roep en vergelyk dit met die herder se stem. God se Woord sê vir ons om dieselfde te doen—“stel die geïnspireerde uitinge op die proef om te sien of hulle hulle oorsprong by God het” (1 Johannes 4:1; 2 Timoteus 1:13). Wat sal ons help om dit te doen?
17. (a) Hoe raak ons vertroud met die stem van Jehovah? (b) Kennis van Jehovah stel ons in staat om wat te doen?
17 Hoe beter ons Jehovah se stem, of boodskap, ken, hoe beter sal ons natuurlik die stem van ’n vreemdeling kan identifiseer. Die Bybel toon hoe ons hierdie kennis kan verkry. Dit sê: “Jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: ‘Dit is die weg. Wandel daarop’” (Jesaja 30:21). Daardie “woord” agter ons kom uit die Woord van God. Elke keer as ons God se Woord lees, hoor ons as ’t ware die stem van ons Groot Herder, Jehovah (Psalm 23:1). Met ander woorde, hoe meer ons die Bybel bestudeer, hoe beter raak ons vertroud met God se stem. Hierdie intieme kennis stel ons dan weer in staat om dadelik die stem van vreemdelinge te identifiseer.—Galasiërs 1:8.
18. (a) Wat behels dit om Jehovah se stem te ken? (b) Waarom moet ons volgens Matteus 17:5 Jesus se stem gehoorsaam?
18 Wat anders behels dit om Jehovah se stem te ken? Ons moet dit nie net hoor nie, maar dit ook gehoorsaam. Kyk weer na Jesaja 30:21. God se Woord sê: “Dit is die weg.” Ja, deur ’n studie van die Bybel hoor ons Jehovah se voorskrifte. Daarna beveel hy: “Wandel daarop.” Jehovah wil hê dat ons ag slaan op wat ons hoor. As ons dus toepas wat ons leer, toon ons dat ons nie bloot Jehovah se stem gehoor het nie, maar ook daarna geluister het (Deuteronomium 28:1). Gehoorsaamheid aan Jehovah se stem beteken ook dat ons Jesus se stem moet gehoorsaam, want Jehovah self het gesê dat ons dit moet doen (Matteus 17:5). Wat sê Jesus, die Goeie Herder, vir ons om te doen? Hy leer ons om dissipels te maak en om op “die getroue en verstandige slaaf” te vertrou (Matteus 24:45; 28:18-20). Ons ewige lewe hang daarvan af dat ons sy stem gehoorsaam.—Handelinge 3:23.
‘Hulle sal van hom af wegvlug’
19. Hoe moet ons reageer op die stem van vreemdelinge?
19 Hoe moet ons dan reageer op die stem van vreemdelinge? Soos skape. Jesus sê: “Hulle sal ’n vreemdeling hoegenaamd nie volg nie maar sal van hom af wegvlug” (Johannes 10:5). Ons reaksie is tweevoudig. Eerstens sal ons ’n vreemdeling “hoegenaamd nie volg nie”. Ja, ons verwerp ’n vreemdeling met beslistheid. Trouens, in Bybelse Grieks is die woorde wat met “hoegenaamd nie” vertaal word, die kragtigste manier om verwerping in daardie taal uit te druk (Matteus 24:35; Hebreërs 13:5). Tweedens sal ons “van hom af wegvlug”, of van hom af wegdraai. Dit is die enigste regte manier waarop ons moet optree teenoor diegene wie se leringe nie ooreenkom met die stem van die Goeie Herder nie.
20. Hoe sal ons reageer wanneer ons te staan kom voor (a) bedrieglike afvalliges, (b) skadelike omgang, (c) bevooroordeelde mediaberigte?
20 Wanneer ons dus diegene teëkom wat afvallige idees versprei, wil ons doen wat God se Woord sê: “[Hou] dié in die oog . . . wat, in stryd met die leer wat julle geleer het, verdeeldheid veroorsaak en tot struikeling aanleiding gee, en vermy hulle” (Romeine 16:17; Titus 3:10). Jong Christene wat te kampe het met die gevare van skadelike omgang, moet eweneens Paulus se raad aan jong Timoteus toepas: “Vlug . . . vir die begeertes wat eie is aan die jeug.” En wanneer ons valse aantygings in die media teëkom, moet ons Paulus se verdere raad aan Timoteus in gedagte hou: “Hulle [diegene wat na die stem van vreemdelinge luister] sal hulle . . . tot valse stories wend. Bly jy egter in alles nugter van verstand” (2 Timoteus 2:22; 4:3-5). Ongeag hoe vriendelik die stem van vreemdelinge dalk klink, ons vlug weg van alles wat ons geloof kan ondermyn.—Psalm 26:5; Spreuke 7:5, 21; Openbaring 18:2, 4.
21. Watter beloning wag op diegene wat die stem van vreemdelinge verwerp?
21 Deur die stem van vreemdelinge te verwerp, gee geesgesalfde Christene ag op die Goeie Herder se woorde in Lukas 12:32. Daar sê Jesus vir hulle: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om aan julle die koninkryk te gee.” Die “ander skape” sien eweneens gretig daarna uit om Jesus se woorde te hoor: “Kom, julle wat deur my Vader geseën is, beërf die koninkryk wat van die grondlegging van die wêreld af vir julle berei is” (Johannes 10:16; Matteus 25:34). Wat ’n hartverblydende beloning wag op ons as ons “die stem van vreemdelinge” verwerp!
Onthou jy?
• Hoe beantwoord Satan aan die beskrywing van die vreemdeling in Jesus se illustrasie van die skaapkraal?
• Hoe word die stem van vreemdelinge vandag gehoor?
• Hoe kan ons die stem van vreemdelinge identifiseer?
• Hoe moet ons op die stem van vreemdelinge reageer?
[Prent op bladsy 15]
Maria het Christus herken
[Prent op bladsy 16]
Die vreemdeling nader die skape nie direk nie
[Prent op bladsy 18]
Hoe reageer ons op die stem van vreemdelinge?