Hoofstuk vier-en-twintig
Geen hulp van hierdie wêreld nie
1, 2. (a) Waarom is die inwoners van Jerusalem verskrik? (b) Watter vrae is gepas met die oog op die moeilike situasie waarin Jerusalem hom bevind?
DIE inwoners van Jerusalem is verskrik—en met goeie rede! Assirië, die magtigste ryk van daardie tyd, het “teen al die versterkte stede van Juda opgetrek en hulle verower”. Nou bedreig Assirië se leër die hoofstad van Juda (2 Konings 18:13, 17). Wat sal koning Hiskia en die res van Jerusalem se inwoners doen?
2 Aangesien die ander stede in sy land reeds geval het, weet Hiskia dat Jerusalem beslis nie teen Assirië se kragtige krygsmag opgewasse is nie. Daarbenewens het die Assiriërs ’n ongeëwenaarde reputasie vir wreedheid en geweld. Daardie nasie se leër boesem soveel vrees in dat teenstanders soms vlug sonder om hulle eers teë te sit! Met die oog op die moeilike situasie waarin Jerusalem hom bevind, waar kan sy inwoners hulp soek? Is daar enige hoop dat hulle van die Assiriese leër gered kan word? En hoe het God se volk in hierdie omstandighede beland? Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons terugkyk na Jehovah se handelinge met sy verbondsvolk in vroeër jare.
Afvalligheid in Israel
3, 4. (a) Wanneer en hoe is die nasie Israel in twee koninkryke verdeel? (b) Watter slegte begin het Jerobeam die noordelike tienstammeryk gegee?
3 Van die tyd nadat Israel Egipte verlaat het tot die dood van Dawid se seun Salomo—’n tydperk van net oor die 500 jaar—was die 12 stamme van Israel verenig as een nasie. Ná die dood van Salomo het Jerobeam die tien noordelike stamme in ’n opstand teen die huis van Dawid aangevoer, en van toe af was die nasie in twee koninkryke verdeel. Dit het in die jaar 997 v.G.J. plaasgevind.
4 Jerobeam was die eerste koning van die noordelike koninkryk van Israel, en hy het sy onderdane op die weg van afvalligheid gelei deur die Aäronitiese priesterdom en die regmatige aanbidding van Jehovah deur ’n onwettige priesterdom en ’n stelsel van kalfaanbidding te vervang (1 Konings 12:25-33). Dit was vir Jehovah afskuwelik (Jeremia 32:30, 35). Om hierdie en ander redes het hy Assirië toegelaat om Israel te onderwerp (2 Konings 15:29). Koning Hosea het die Assiriese juk probeer breek deur met Egipte saam te sweer, maar die plan het misluk.—2 Konings 17:4.
Israel soek hulp by ’n valse toevlug
5. By wie soek Israel hulp?
5 Jehovah wil die Israeliete weer tot besinning bring.a Daarom stuur hy die profeet Jesaja met die volgende waarskuwing: “Wee dié wat na Egipte aftrek om hulp, dié wat hulle op blote perde verlaat, en wat hulle vertroue in strydwaens stel, omdat hulle talryk is, en in ryperde, omdat hulle baie sterk is, maar wat nie hulle oë op die Heilige van Israel gerig het nie en Jehovah nie gesoek het nie” (Jesaja 31:1). Hoe tragies is dit tog! Israel het groter vertroue in perde en in strydwaens as in die lewende God, Jehovah. Volgens Israel se vleeslike beskouing is Egipte se perde talryk en magtig. Egipte sal dus sekerlik ’n nuttige bondgenoot teen die Assiriese leër wees! Maar die Israeliete sal binnekort uitvind dat hulle vleeslike bondgenootskap met Egipte tevergeefs is.
6. Waarom toon die feit dat Israel by Egipte hulp soek dat hulle ’n skokkende gebrek aan geloof in Jehovah het?
6 Die inwoners van Israel sowel as Juda is deur middel van die Wetsverbond in ’n toegewyde verhouding met Jehovah (Eksodus 24:3-8; 1 Kronieke 16:15-17). Deur by Egipte hulp te soek, toon Israel dat hulle ’n gebrek aan geloof in Jehovah het en dat hulle die wette minag wat ’n deel van daardie heilige verbond uitmaak. Hoe so? Omdat Jehovah se belofte om sy volk te beskerm as hulle uitsluitlike toegewydheid aan hom gee deel is van daardie verbond (Levitikus 26:3-8). Jehovah het daardie belofte nagekom en herhaaldelik getoon dat hy ’n “vesting in die tyd van benoudheid” is (Psalm 37:39; 2 Kronieke 14:2, 9-12; 17:3-5, 10). Daarbenewens het Jehovah deur middel van Moses, die middelaar van die Wetsverbond, vir die toekomstige konings van Israel gesê dat hulle nie perde vir hulle moet vermeerder nie (Deuteronomium 17:16). Gehoorsaamheid aan hierdie voorskrif sou toon dat hierdie konings op “die Heilige van Israel” vertrou het vir beskerming. Ongelukkig het die heersers van Israel nie daardie soort geloof gehad nie.
7. Wat kan hedendaagse Christene uit Israel se gebrek aan geloof leer?
7 Hier is ’n les vir hedendaagse Christene. Israel het sigbare hulp by Egipte gesoek in plaas van staat te maak op die baie kragtiger hulp wat Jehovah voorsien. Net so kom Christene vandag moontlik in die versoeking om eerder op fisiese bronne van sekuriteit—bankrekeninge, aansien in die gemeenskap, invloedryke vriende in die wêreld—te vertrou en nie op Jehovah nie. Christengesinshoofde neem hulle verantwoordelikheid om materieel vir hulle gesinne te sorg weliswaar ernstig op (1 Timoteus 5:8). Maar hulle stel nie hulle vertroue in materiële dinge nie. En hulle waak teen “elke soort hebsug” (Lukas 12:13-21). Die enigste “veilige hoogte in tye van benoudheid” is Jehovah God.—Psalm 9:9; 54:7.
8, 9. (a) Wat sal die uiteinde van Israel se planne wees, al lyk dit strategies gesproke na ’n goeie idee, en waarom? (b) Wat is die verskil tussen die beloftes van mense en die beloftes van Jehovah?
8 Jesaja spot in werklikheid met die Israelitiese leiers wat die verdrag met Egipte aangegaan het en sê: “Hy is ook wys en sal rampspoed laat kom, en hy het nie sy woorde teruggetrek nie; en hy sal beslis opstaan teen die huis van die kwaaddoeners en teen die hulp van dié wat beoefen wat skadelik is” (Jesaja 31:2). Israel se leiers dink dalk dat hulle wys is. Maar is die Skepper van die heelal nie alwys nie? Strategies gesproke lyk Israel se plan om by Egipte hulp te soek na ’n goeie idee. Maar so ’n politieke bondgenootskap is geestelike egbreuk in Jehovah se oë (Esegiël 23:1-10). Gevolglik sê Jesaja dat Jehovah ‘rampspoed sal laat kom’.
9 Die beloftes van mense is soos ons almal weet onbetroubaar, en die beskerming wat mense kan bied, is onseker. Aan die ander kant is dit nooit vir Jehovah nodig om ‘sy woorde terug te trek nie’. Hy sal beslis doen wat hy belowe. Sy woord keer nie sonder resultate na hom toe terug nie.—Jesaja 55:10, 11; 14:24.
10. Wat sal met Egipte sowel as met Israel gebeur?
10 Sal die Egiptenaars ’n betroubare beskerming vir Israel wees? Nee. Jesaja sê vir Israel: “Die Egiptenaars is egter mense en nie God nie; en hulle perde is vlees en nie gees nie. En Jehovah sal sy hand uitsteek, en hy wat hulp aanbied, sal moet struikel, en hy wat gehelp word, sal moet val, en hulle almal sal tegelykertyd aan hulle einde kom” (Jesaja 31:3). Die helper (Egipte) sowel as die een wat gehelp word (Israel), sal struikel, val en tot hulle einde kom wanneer Jehovah sy hand uitsteek om sy oordeel deur middel van Assirië te voltrek.
Die val van Samaria
11. Watter sondeskuld het Israel opgehoop, en wat is die eindresultaat?
11 Weens sy barmhartigheid stuur Jehovah herhaaldelik profete om Israel aan te moedig om berou te toon en na ware aanbidding terug te keer (2 Konings 17:13). Maar ten spyte daarvan gaan Israel selfs verder as om net kalfaanbidding te beoefen. Hulle beoefen ook waarsêery, onsedelike Baälaanbidding en gebruik heilige pale en hoogtes. Die Israeliete laat selfs “hulle seuns en hulle dogters deur die vuur . . . gaan” en offer sodoende hulle eie vlees en bloed aan demoniese gode (2 Konings 17:14-17; Psalm 106:36-39; Amos 2:8). Om ’n einde aan Israel se goddeloosheid te bring, beveel Jehovah: “Samaria en sy koning sal beslis tot swye gebring word, soos ’n afgebreekte takkie op die oppervlak van waters” (Hosea 10:1, 7). In 742 v.G.J. val Assiriese magte Samaria, die hoofstad van Israel, aan. Ná ’n beleg van drie jaar val Samaria en kom die tienstammeryk in 740 v.G.J. tot ’n einde.
12. Watter werk het Jehovah gesê moet vandag gedoen word, en wat gebeur met diegene wat die waarskuwing verontagsaam?
12 In ons dag het Jehovah opdrag gegee dat ’n wêreldwye predikingswerk gedoen moet word om “die mensdom [te waarsku] dat hulle almal oral berou moet hê” (Handelinge 17:30; Matteus 24:14). Diegene wat God se middel tot redding verwerp, sal soos “’n afgebreekte takkie” word. Hulle sal net soos die afvallige nasie Israel vernietig word. Aan die ander kant sal dié wat op Jehovah hoop “die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). Hoe verstandig is dit dus om die foute van die eertydse koninkryk van Israel te vermy! Laat ons ten volle op Jehovah vertrou vir redding.
Jehovah se reddingskrag
13, 14. Watter vertroostende woorde het Jehovah vir Sion?
13 Jerusalem, die hoofstad van Juda, lê ’n paar kilometer van die suidelike grens van Israel af. Die inwoners van Jerusalem weet maar alte goed wat met Samaria gebeur het. Nou vind hulle dat hulle deur dieselfde skrikwekkende vyand bedreig word wat hulle noordelike buurnasie vernietig het. Sal hulle leer uit wat met Samaria gebeur het?
14 Jesaja se volgende woorde bied vertroosting vir die inwoners van Jerusalem. Hy verseker hulle dat Jehovah nog steeds vir sy verbondsvolk lief is en sê: “Só het Jehovah vir my gesê: ‘Net soos die leeu grom, ja, die jong maanhaarleeu, oor sy prooi, wanneer ’n volle aantal herders teen hom saamgeroep word, en hy ondanks hulle stem nie verskrik sal wees nie en ondanks hulle geraas nie sal ineenkrimp nie; so sal Jehovah van die leërs neerdaal om oorlog te voer oor die berg Sion en oor sy heuwel’” (Jesaja 31:4). Soos ’n jong leeu wat oor sy prooi staan, sal Jehovah sy heilige stad, Sion, met alle mag beskerm. Geen grootpratery, geen dreigende woorde of geen ander taktiek van die Assiriese troepe sal Jehovah van sy voorneme laat afsien nie.
15. Hoe behandel Jehovah die inwoners van Jerusalem op tere en medelydende wyse?
15 Kyk nou op watter tere en medelydende wyse sal Jehovah die inwoners van Jerusalem behandel: “Soos vlieënde voëls, so sal Jehovah van die leërs Jerusalem verdedig. Deur dit te verdedig, sal hy dit ook beslis bevry. Deur dit te spaar, sal hy dit ook laat ontkom” (Jesaja 31:5). ’n Voëlwyfie is altyd waaksaam sodat sy haar kleintjies kan verdedig. Met uitgestrekte vlerke hang sy bo haar nes in die lug, en met wakende oë soek sy na enige teken van gevaar. As ’n roofdier nader kom, duik sy vinnig neer om haar kuikens te beskerm. Net so sal Jehovah met teerheid vir die inwoners van Jerusalem sorg weens die aanvallende Assiriërs.
“Keer terug”
16. (a) Watter liefdevolle versoek rig Jehovah tot sy volk? (b) Wanneer word die opstandigheid van die mense van Juda veral duidelik? Lig dit toe.
16 Jehovah herinner nou sy volk dat hulle gesondig het en hy spoor hulle aan om hulle sondige weë te laat staan: “Keer terug tot die Een teen wie die kinders van Israel in diepe opstand gekom het” (Jesaja 31:6). Die tienstammeryk van Israel was nie alleen in hulle opstand nie. Die mense van Juda, ook “kinders van Israel”, het “in diepe opstand gekom”. Dit sal veral duidelik word wanneer Hiskia se seun Manasse koning word kort ná Jesaja sy profetiese boodskap voltooi het. Volgens die Bybelverslag het “Manasse . . . Juda en die inwoners van Jerusalem bly verlei om erger dinge te doen as die nasies wat Jehovah voor die kinders van Israel uit verdelg het” (2 Kronieke 33:9). Dink net daaraan! Jehovah vernietig heidense nasies omdat hulle walglike dinge beoefen, maar die inwoners van Juda, wat in ’n verbondsverhouding met Jehovah is, is selfs erger as hierdie mense van die nasies.
17. In watter opsig is toestande vandag soos dié in Juda onder Manasse?
17 Aan die begin van die 21ste eeu is toestande in baie opsigte eenders as dié in Juda gedurende die tyd van Manasse. Die wêreld word al hoe meer verdeeld as gevolg van godsdiens-, rasse- en etniese haat. Miljoene het al gely as gevolg van skokkende moorde, marteling, verkragtings en so genoemde etniese reiniging. Mense en nasies—veral die nasies van die Christendom—het sonder twyfel “in diepe opstand gekom”. Maar ons kan seker wees dat Jehovah nie sal toelaat dat goddeloosheid vir ewig voortduur nie. Waarom nie? As gevolg van wat in Jesaja se tyd plaasgevind het.
Jerusalem word verlos
18. Waarteen waarsku Rabsake Hiskia?
18 Assiriese konings het hulle gode die eer gegee vir hulle oorwinnings op die slagveld. Die boek Ancient Near Eastern Texts bevat die woorde van Assurbanipal, ’n Assiriese koning wat beweer het dat hy gelei is “deur Assur, Bel, Nebo, die groot gode, [sy] here, wat (altyd) aan [sy] sy is in die oorlog, [toe hy] die soldate (wat ervare is in die) stryd . . . gedurende ’n groot veldslag oorwin het”. In Jesaja se tyd toon Rabsake, wat koning Sanherib van Assirië verteenwoordig, dat hy ook glo dat die gode betrokke is in menseoorlogvoering wanneer hy koning Hiskia aanspreek. Hy waarsku die Joodse koning om nie op Jehovah te vertrou vir redding nie en wys daarop dat die gode van ander nasies nie hulle volk teen die magtige Assiriese leër kon beskerm nie.—2 Konings 18:33-35.
19. Hoe reageer Hiskia op Rabsake se beledigings?
19 Hoe reageer koning Hiskia? Die Bybelverslag sê: “Net toe koning Hiskia dit hoor, het hy onmiddellik sy klere geskeur en hom met saklinne bedek en in die huis van Jehovah ingegaan” (2 Konings 19:1). Hiskia besef dat daar net een Persoon is wat hom in hierdie skrikwekkende situasie kan help. Hy verootmoedig hom en vra Jehovah se leiding.
20. Hoe sal Jehovah ten behoewe van al die inwoners van Juda optree, en wat moet hulle daaruit leer?
20 Jehovah gee hom die leiding wat hy gevra het. Hy sê deur middel van die profeet Jesaja: “In dié dag sal elkeen van hulle sy waardelose gode van silwer en sy waardelose gode van goud verwerp, wat julle hande vir julle tot sonde gemaak het” (Jesaja 31:7). Wanneer Jehovah vir sy volk veg, sal Sanherib se gode as waardeloos aan die kaak gestel word. Dit is ’n les wat die inwoners van Juda ter harte moet neem. Ten spyte van koning Hiskia se getrouheid is die land van Juda, soos Israel, vol afgode (Jesaja 2:5-8). As die inwoners van Juda hulle verhouding met Jehovah wil herstel, sal hulle berou moet toon oor hulle sondes en sal hulle “elkeen sy waardelose gode” moet verwerp.—Sien Eksodus 34:14.
21. Hoe beskryf Jesaja Jehovah se teregstellingsdade teen die Assiriër in die profesie?
21 Jesaja gee nou ’n profetiese beskrywing van Jehovah se teregstellingsdade teen Juda se skrikwekkende vyand: “Die Assiriër sal deur die swaard val, nie dié van ’n man nie; en ’n swaard, nie dié van ’n mens nie, sal hom verslind. En hy sal vir die swaard vlug, en sy jong manne sal dwangarbeiders word” (Jesaja 31:8). Wanneer die beslissende stryd kom, hoef die inwoners van Jerusalem nie eers hulle swaard uit sy skede te trek nie. Die room van Assirië se troepe word nie deur die swaard van ’n mens verslind nie, maar deur die swaard van Jehovah. Wat die Assiriese koning Sanherib betref, “hy sal vir die swaard vlug”. Ná Jehovah se engel 185 000 van sy soldate doodgemaak het, keer hy terug huis toe. Later, terwyl hy voor sy god Nisrog buig, word hy deur sy eie seuns vermoor.—2 Konings 19:35-37.
22. Wat kan Christene vandag leer uit die gebeurtenisse waarby Hiskia en die Assiriese leër betrokke was?
22 Niemand kon vooruitsien hoe Jehovah Jerusalem van die Assiriese leër sou verlos nie, nie eers Hiskia nie. Die manier waarop Hiskia die krisis hanteer, voorsien nietemin ’n uitstekende voorbeeld vir mense wat vandag voor beproewinge te staan kom (2 Korintiërs 4:16-18). Met die oog op die skrikwekkende reputasie van die Assiriërs wat Jerusalem bedreig het, was dit heeltemal verstaanbaar dat Hiskia bang sou wees (2 Konings 19:3). Hy het nogtans geloof in Jehovah gehad, en hy het Sy leiding gesoek, nie die mens s’n nie. Wat ’n seën was dit tog vir Jerusalem dat hy dit gedoen het! Vandag ervaar godvresende Christene moontlik ook intense emosies wanneer hulle onder druk verkeer. In baie situasies is dit te verstane waarom hulle bang is. Maar as ons ‘al ons sorge op Jehovah werp’, sal hy vir ons sorg (1 Petrus 5:7). Hy sal ons help om ons vrees te bowe te kom en sal ons die krag gee om die situasie wat die druk veroorsaak te verduur.
23. Hoe is dit dat Sanherib, nie Hiskia nie, met vrees vervul word?
23 Uiteindelik is dit Sanherib, nie Hiskia nie, wat met vrees vervul word. Waar kan hy hulp soek? Jesaja voorspel: “‘Sy groot rots sal van pure skrik vergaan, en weens die baken sal sy vorste verskrik wees’, is die woord van Jehovah, wie se lig in Sion en wie se oond in Jerusalem is” (Jesaja 31:9). Sanherib se gode—sy “groot rots”, die toevlug waarop hy vertrou het—laat hom in die steek. Dit is asof hulle “van pure skrik vergaan”. Daarbenewens is selfs Sanherib se vorste van min hulp. Hulle is ook lam van vrees.
24. Watter duidelike boodskap word oorgedra deur wat met die Assiriër gebeur het?
24 Hierdie deel van Jesaja se profesie het ’n duidelike boodskap vir enigiemand wat God wil teëstaan. Daar is geen wapen, geen mag, hoegenaamd niks wat Jehovah se voornemens in die wiele kan ry nie (Jesaja 41:11, 12). Terselfdertyd sal dié wat beweer dat hulle God dien maar hom verwerp deur in fisiese dinge veiligheid te soek, teleurgestel word. Enigiemand wat “nie hulle oë op die Heilige van Israel gerig het nie”, sal sien hoe Jehovah “rampspoed laat kom” (Jesaja 31:1, 2). Ja, die enigste werklike en blywende toevlug is Jehovah God.—Psalm 37:5.
[Voetnoot]
a Die eerste drie verse van Jesaja hoofstuk 31 word waarskynlik veral tot Israel gerig. Die laaste ses verse is blykbaar op Juda van toepassing.
[Prent op bladsy 319]
Diegene wat op materiële dinge vertrou, sal teleurgestel word
[Prent op bladsy 322]
Jehovah sal sy heilige stad beskerm, soos ’n leeu sy prooi beskerm
[Prente op bladsy 324]
Die wêreld is verdeeld as gevolg van godsdiens-, rasse- en etniese haat
[Prent op bladsy 326]
Hiskia het na die huis van Jehovah gegaan vir hulp