Hoofstuk vyf-en-twintig
Die koning en sy vorste
1, 2. Wat kan van die teks van die Dooie See-rol van Jesaja gesê word?
TEEN die einde van die 1940’s is ’n merkwaardige stel boekrolle in grotte naby die Dooie See in Palestina gevind. Hulle het as die Dooie See-rolle bekend geword en is vermoedelik iewers tussen 200 v.G.J. en 70 G.J. geskryf. Die bekendste onder hulle is ’n duursame leerboekrol van Jesaja wat in Hebreeus geskryf is. Hierdie boekrol is so te sê volledig en die teks daarvan verskil baie min van dié van manuskripte van die Masoretiese teks wat sowat 1 000 jaar jonger is. Die boekrol toon dus hoe akkuraat die Bybelteks oorgeskryf is.
2 ’n Opmerkenswaardige besonderheid in verband met die Dooie See-rol van Jesaja is dat ’n kopiïs die deel wat vandag as Jesaja hoofstuk 32 bekend staan met ’n “X” in die kantruimte gemerk het. Ons weet nie waarom die kopiïs hierdie merk gemaak het nie, maar ons weet wel dat daar iets spesiaals omtrent hierdie deel van die Heilige Bybel is.
Hulle heers vir regverdigheid en geregtigheid
3. Watter administrasie word in die boeke Jesaja en Openbaring voorspel?
3 Jesaja hoofstuk 32 begin met ’n opwindende profesie wat op ’n merkwaardige manier in ons dag vervul word: “Kyk! ’n Koning sal vir regverdigheid regeer; en wat vorste betref, hulle sal as vorste vir geregtigheid heers” (Jesaja 32:1). Ja, “Kyk!” Hierdie uitroep laat ons dink aan ’n soortgelyke uitroep wat in die laaste profetiese boek in die Bybel aangetref word: “Die Een wat op die troon sit, het gesê: ‘Kyk! Ek maak alles nuut’” (Openbaring 21:5). Die Bybelboeke Jesaja en Openbaring, wat sowat 900 jaar uitmekaar geskryf is, gee albei ’n pragtige beskrywing van ’n nuwe administrasie—“’n nuwe hemel”, wat bestaan uit die Koning, Christus Jesus, wat in 1914 in die hemel op die troon geplaas is, en 144 000 medeheersers wat “uit die mensdom gekoop” is—sowel as “’n nuwe aarde”, ’n aardwye, verenigde mensegemeenskap (Openbaring 14:1-4; 21:1-4; Jesaja 65:17-25).a Hierdie hele reëling is moontlik gemaak deur Christus se losprysoffer.
4. Watter kern van die nuwe aarde bestaan reeds vandag?
4 Nadat die apostel Johannes die finale verseëling van hierdie 144 000 medeheersers in ’n visioen gesien het, sê hy: “Ek [het] gesien, en kyk! ’n groot skare, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale, wat voor die troon en voor die Lam staan.” Hier is die kern van die nuwe aarde—’n groot skare wat nou miljoene tel, wat hulle aan die sy van die paar, meestal bejaarde oorblywendes van die 144 000 geskaar het. Hierdie groot skare sal behoue bly deur die groot verdrukking wat nou vinnig nader kom, en in die Paradysaarde sal verrese getroues by hulle aansluit sowel as duisendmiljoene ander wat die geleentheid gegee sal word om geloof te beoefen. Almal wat dit doen, sal met ewige lewe geseën word.—Openbaring 7:4, 9-17.
5-7. Watter rol vervul die voorspelde “vorste” in God se kudde?
5 Maar solank die huidige liefdelose wêreld bestaan, het lede van die groot skare beskerming nodig. Dit word in groot mate voorsien deur die “vorste” wat “vir geregtigheid heers”. Wat ’n wonderlike reëling! Jesaja se profesie gee verdere besonderhede oor hierdie “vorste”: “Elkeen sal soos ’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm wees, soos waterstrome in ’n waterlose land, soos die skaduwee van ’n groot, swaar rots in ’n uitgeputte land.”—Jesaja 32:2.
6 Nou, in hierdie tyd van wêreldwye benoudheid, is daar ’n behoefte aan “vorste”, ja, ouer manne wat ‘op die hele kudde sal let’ deur vir Jehovah se skape te sorg en geregtigheid in ooreenstemming met Jehovah se regverdige beginsels toe te pas (Handelinge 20:28). Hierdie “vorste” moet aan die vereistes voldoen wat in 1 Timoteus 3:2-7 en Titus 1:6-9 uiteengesit word.
7 In sy groot profesie wat die angswekkende “voleinding van die stelsel van dinge” beskryf het, het Jesus gesê: “Sorg dat julle nie verskrik word nie” (Matteus 24:3-8). Waarom word Jesus se volgelinge nie verskrik deur die gevaarlike wêreldtoestande van vandag nie? Een rede is dat die “vorste”—hetsy hulle gesalfdes of “ander skape” is—die kudde lojaal beskerm (Johannes 10:16). Hulle sorg onbevrees vir hulle broers en susters, selfs ten spyte van verskriklike toestande soos etniese oorloë en volksmoorde. In ’n geestelik uitgeputte wêreld sorg hulle dat terneergedrukte siele verkwik word deur die opbouende waarhede van God se Woord, die Bybel.
8. Hoe lei Jehovah die “vorste” onder die ander skape op, en hoe gebruik hy hulle?
8 Die “vorste” het gedurende die afgelope 50 jaar duidelik te voorskyn gekom. “Vorste” onder die ander skape word opgelei om ’n “owerste”-klas te vorm sodat bekwame manne onder hulle ná die groot verdrukking gereed sal wees om in die administrasie van die “nuwe aarde” aangestel te word (Esegiël 44:2, 3; 2 Petrus 3:13). Deur geestelike leiding en verkwikking te voorsien terwyl hulle die voortou neem in Koninkryksdiens, toon hulle dat hulle “soos die skaduwee van ’n groot, swaar rots” is en bring hulle verligting vir die kudde waar hulle aanbid.b
9. Watter toestande toon dat “vorste” vandag nodig is?
9 In hierdie moeilike laaste dae van Satan se goddelose wêreld het toegewyde Christene hierdie beskerming werklik nodig (2 Timoteus 3:1-5, 13). Valse leerstellings en verdraaide propaganda waai soos sterk winde oor die aarde. Storms woed in die vorm van oorloë tussen nasies sowel as burgeroorloë asook direkte aanvalle op getroue aanbidders van Jehovah God. In ’n wêreld wat deur geestelike droogte geteister word, het Christene die waterstrome van suiwer, onvervalste waarheid uiters nodig om hulle geestelike dors te les. Gelukkig het Jehovah belowe dat sy heersende Koning in hierdie moeilike tyd aanmoediging en leiding aan neerslagtiges en mismoediges sal voorsien deur middel van sy gesalfde broers sowel as die “vorste” onder die ander skape wat hulle ondersteun. Jehovah sal dus toesien dat regverdigheid en reg sal seëvier.
Skenk aandag met oë, ore en harte
10. Watter voorsienings het Jehovah gemaak sodat sy volk geestelike dinge kan “sien” en “hoor”?
10 Hoe het die groot skare op Jehovah se teokratiese reëling gereageer? Die profesie gaan voort: “Die oë van dié wat sien, sal nie toegeplak wees nie, en die ore van dié wat hoor, sal aandag skenk” (Jesaja 32:3). Deur die jare heen het Jehovah voorsiening gemaak dat sy dierbare knegte onderrig word en tot rypheid kan groei. Die Teokratiese Bedieningskool en ander vergaderinge wat wêreldwyd in die gemeentes van Jehovah se Getuies gehou word; die streek-, nasionale en internasionale byeenkomste sowel as die gespesialiseerde opleiding van die “vorste” om die kudde met liefdevolle sorg te behandel, het alles daartoe bygedra dat ’n verenigde, wêreldwye broederskap met miljoene lede opgebou is. Waar hierdie herders ook al op die aarde is, hulle ore is wyd oop vir aanpassings wat hulle moet maak in hulle begrip van die progressiewe woord van waarheid. Omdat hulle ’n Bybelopgeleide gewete het, is hulle altyd gereed om te hoor en gehoorsaam te wees.—Psalm 25:10.
11. Waarom spreek God se volk nou met vertroue en hakkel hulle nie onseker nie?
11 Daarna waarsku die profesie: “Die hart van die oorhaastiges sal op kennis ag gee, en selfs die tong van die hakkelaars sal gou wees om duidelik te praat” (Jesaja 32:4). Niemand moet oorhaastig gevolgtrekkings maak oor wat reg en verkeerd is nie. Die Bybel sê: “Het jy ’n man gesien wat haastig is met sy woorde? Daar is meer hoop vir ’n sot as vir hom” (Spreuke 29:20; Prediker 5:2). Voor 1919 was selfs Jehovah se volk met Babiloniese idees besoedel. Maar van daardie jaar af het Jehovah hulle ’n duideliker begrip van sy voornemens gegee. Hulle het gevind dat die waarhede wat hy geopenbaar het weldeurdag was, nie oorhaastig nie, en hulle praat nou met die oortuiging van geloof en hakkel nie onseker nie.
“Die verstandelose”
12. Wie is vandag ‘die verstandeloses’, en in watter opsig is hulle nie vrygewig nie?
12 Jesaja se profesie maak nou ’n teenstelling: “Die verstandelose sal nie meer vrygewig genoem word nie; en wat die beginsellose man betref, van hom sal nie gesê word dat hy edel is nie; want die verstandelose sal pure onsinnigheid spreek” (Jesaja 32:5, 6a). Wie is “die verstandelose”? Asof hy dit wil beklemtoon, gee koning Dawid die antwoord twee keer: “Die verstandelose het in sy hart gesê: ‘Daar is geen Jehovah nie.’ Hulle het verderflik gehandel, hulle het verfoeilik gehandel in hulle handelswyse. Daar is niemand wat goed doen nie” (Psalm 14:1; 53:1). Ateïste sê natuurlik dat daar geen Jehovah is nie. “Intellektuele” en ander wat optree asof daar geen God is nie en wat glo dat hulle aan niemand rekenskap hoef te gee nie, sê dit as ’t ware ook. Die waarheid is nie in sulke persone nie. Daar is geen vrygewigheid in hulle harte nie. Hulle het geen evangelie van liefde nie. In teenstelling met ware Christene is hulle nie gretig om vir behoeftiges in nood te sorg nie, of hulle doen dit moontlik glad nie.
13, 14. (a) Hoe bedryf hedendaagse afvalliges wat skadelik is? (b) Waarvan probeer afvalliges dié wat honger en dors is, weghou, maar wat sal die uiteinde van die saak wees?
13 Baie sulke verstandeloses haat diegene wat God se waarheid voorstaan. “Sy hart sal bedryf wat skadelik is, om afvalligheid te bedryf en verkeerde dinge teen Jehovah te spreek” (Jesaja 32:6b). Hoe waar is dit tog van hedendaagse afvalliges! In ’n aantal lande in Europa en Asië het afvalliges met ander teenstanders van die waarheid saamgespan en volslae leuens aan die owerheid verkondig sodat die werk van Jehovah se Getuies verbied of beperk kan word. Hulle lê dieselfde gees aan die dag as die “bose slaaf”, van wie Jesus voorspel het: “As daardie bose slaaf ooit in sy hart sou sê: ‘My heer talm om te kom’, en sy medeslawe sou begin slaan en saam met die verstokte dronkaards sou eet en drink, sal die heer van daardie slaaf op ’n dag kom dat hy dit nie verwag nie en op ’n uur wat hy nie weet nie en hom met die grootste strengheid straf en hom sy deel by die huigelaars toewys. Dáár sal sy gehuil en die gekners van sy tande wees.”—Matteus 24:48-51.
14 Intussen laat die afvallige “die siel van die hongerige leeg . . . bly, en hy laat selfs die dorstige sonder iets te drinke bly” (Jesaja 32:6c). Vyande van die waarheid probeer om die mense wat na die waarheid honger daarvan weg te hou, en hulle probeer dié wat geestelik dors is daarvan weerhou om die verkwikkende waters van die Koninkryksboodskap te drink. Maar die uiteinde van die saak sal wees soos Jehovah deur middel van een van sy ander profete sê: “Hulle sal vir seker teen jou veg, maar hulle sal nie die oorhand oor jou kry nie, want ‘ek is met jou’, is die woord van Jehovah, ‘om jou te verlos’.”—Jeremia 1:19; Jesaja 54:17.
15. Wie is vandag in die besonder ‘beginselloos’, watter “valse woorde” het hulle bevorder, en met watter gevolg?
15 Van die middel van die 20ste eeu af vier onsedelikheid hoogty in die lande van die Christendom. Waarom? Die profesie het een rede voorspel: “Wat die beginsellose man betref, sy werktuie is sleg; hy het raad gegee met betrekking tot losbandige dade, om die geteisterdes met valse woorde te verwoes, selfs wanneer ’n arme spreek wat reg is” (Jesaja 32:7). Ter vervulling van hierdie woorde is daar baie, veral onder die geestelikes, wat ’n permissiewe houding ingeneem het teenoor voorhuwelikse seks, mense wat saamwoon sonder dat hulle getroud is, homoseksualiteit—ja, “hoerery en elke soort onreinheid” (Efesiërs 5:3). Gevolglik “verwoes” hulle hulle kuddes met hulle valse woorde.
16. Wat maak ware Christene gelukkig?
16 Hoe verkwikkend is die vervulling van die profeet se volgende woorde in teenstelling hiermee! “Wat die vrygewige betref, met betrekking tot vrygewige dinge het hy raad gegee; en ten gunste van vrygewige dinge sal hy opstaan” (Jesaja 32:8). Jesus het self vrygewigheid aangemoedig toe hy gesê het: “Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee. Hulle sal ’n goeie maat, ingestamp, geskud en oorlopend, in julle skoot stort. Want met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle weer vir julle uitmeet” (Lukas 6:38). Die apostel Paulus het ook gepraat van die seëninge wat vrygewige persone te beurt val, toe hy gesê het: “[Hou in gedagte] die woorde van die Here Jesus . . . , toe hy self gesê het: ‘Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang’” (Handelinge 20:35). Ware Christene word gelukkig gemaak, nie deur die verkryging van materiële rykdom of aansien in die gemeenskap nie, maar deur vrygewig te wees—net soos hulle God, Jehovah, vrygewig is (Matteus 5:44, 45). Hulle grootste geluk is wanneer hulle God se wil doen, wanneer hulle ryklik van hulleself gee deur “die heerlike goeie nuus van die gelukkige God” aan ander bekend te maak.—1 Timoteus 1:11.
17. Wie is vandag soos die “sorgelose dogters” waarvan Jesaja praat?
17 Jesaja se profesie gaan verder: “Staan op, o geruste vroue, luister na my stem! O sorgelose dogters, hoor my woord! Binne ’n jaar en enkele dae sal julle, o sorgeloses, in beroering wees, want die druiweoes sal tot ’n einde gekom het, maar daar sal geen insameling van vrugte kom nie. Bewe, o geruste vroue! Wees in beroering, o sorgeloses!” (Jesaja 32:9-11a). Die gesindheid van dié vroue herinner ons moontlik aan dié wat vandag beweer dat hulle God dien, maar wat dit nie ywerig doen nie. Sulke persone word in die godsdienste van “Babilon die Grote, die moeder van die hoere” gevind (Openbaring 17:5). Lidmate van die Christendom se godsdienste is byvoorbeeld baie soos Jesaja hierdie “vroue” beskryf. Hulle is ‘gerus’, onverskillig teenoor die oordeel en beroering wat hulle binnekort gaan oorval.
18. Wie kry die opdrag om ‘die lendene met saklinne te omgord’, en waarom?
18 Die oproep gaan dus na valse godsdiens uit: “Trek julle uit en ontbloot julle en omgord die lendene met saklinne. Slaan op julle bors in weeklag oor die begeerlike velde, oor die vrugdraende wingerdstok. Op die grond van my volk kom net dorings, stekelrige struike op, want hulle is op al die huise van vreugde, ja, op die besonder uitgelate stad” (Jesaja 32:11b-13). Die uitdrukking “Trek julle uit en ontbloot julle” beteken blykbaar nie dat hulle al hulle klere moet uittrek nie. Die destydse gebruik was om ’n bokleed bo-oor ’n onderkleed te dra. Die bokleed was dikwels ’n identifikasiemiddel (2 Konings 10:22, 23; Openbaring 7:13, 14). Die profesie beveel lede van valse godsdienste dus om hulle boklere—hulle identiteit as voorgewende knegte van God—te verwyder en eerder klere van saklinne, simbole van droefheid oor hulle naderende oordeel, aan te trek (Openbaring 17:16). Die godsdiensorganisasies van die Christendom, wat beweer dat hulle God se “besonder uitgelate stad” is, sowel as die res van die lede van die wêreldryk van valse godsdiens, dra geen vrug in God se diens nie. Die gebied waarin hulle funksioneer, bring “net dorings, stekelrige struike” van verwaarlosing en verlatenheid voort.
19. Watter toestand van die afvallige “Jerusalem” lê Jesaja bloot?
19 Hierdie sombere toneel geld vir die hele afvallige “Jerusalem”: “Die woontoring is verlate, die stadsgewoel het uitgesterf; Ofel en die wagtoring het kaal velde geword, vir onbepaalde tyd die vreugde van sebras, die weiveld van kuddes” (Jesaja 32:14). Ja, selfs Ofel word ingesluit. Ofel is ’n verhewe deel van Jerusalem wat ’n sterk verdedigingsposisie voorsien. Om te sê dat Ofel ’n kaal veld word, beteken algehele verwoesting vir die stad. Jesaja se woorde toon dat afvallige “Jerusalem”—die Christendom—nie wakker gebly het om God se wil te doen nie. Hulle is geestelik onvrugbaar, ver verwyder van waarheid en geregtigheid—absoluut dierlik.
’n Wonderlike kontras!
20. Watter uitwerking het God se gees wat op sy volk uitgestort word?
20 Jesaja beskryf nou ’n hartverblydende hoop vir diegene wat Jehovah se wil doen. Enige vernietiging van God se volk sal net duur “totdat die gees uit die hoogte oor ons uitgestort word, en die wildernis ’n boord geword het, en die boord as ’n ware woud gereken word” (Jesaja 32:15). Gelukkig word Jehovah se gees sedert 1919 oorvloedig oor sy volk uitgestort en het dit as ’t ware ’n vrugbare boord van gesalfde Getuies herstel, wat gevolg is deur ’n groeiende woud van ander skape. Voorspoed en groei is kenmerkend van sy hedendaagse aardse organisasie. In die herstelde geestelike paradys word “die heerlikheid van Jehovah . . . , die prag van ons God”, weerspieël deur sy volk terwyl hulle sy inkomende Koninkryk wêreldwyd verkondig.—Jesaja 35:1, 2.
21. Waar kan regverdigheid, rustigheid en veiligheid vandag gevind word?
21 Luister nou na Jehovah se wonderlike belofte: “In die wildernis sal geregtigheid beslis vertoef, en in die boord sal regverdigheid woon. En die werk van die ware regverdigheid sal vrede word, en die diens van die ware regverdigheid rus en veiligheid tot onbepaalde tyd” (Jesaja 32:16, 17). Hoe goed beskryf dit tog die geestelike toestand van Jehovah se volk vandag! In teenstelling met die grootste gedeelte van die mensdom, wat verdeel word deur haat, geweld en volslae geestelike armoede, is ware Christene wêreldwyd verenig, al kom hulle “uit alle nasies en stamme en volke en tale”. Hulle lewe, werk en dien in harmonie met God se regverdigheid, en hulle doen dit met die vertroue dat hulle uiteindelik vir ewig ware vrede en veiligheid sal geniet.—Openbaring 7:9, 17.
22. Wat is die verskil tussen die toestand van God se volk en dié in valse godsdiens?
22 In die geestelike paradys word Jesaja 32:18 vandag reeds vervul. Dit sê: “My volk sal in ’n vreedsame woonplek en in wonings van volle vertroue en in ongestoorde rusplekke woon.” Maar vir die naamchristene “sal [dit] beslis hael wanneer die woud te gronde gaan en die stad tot ’n vernederde toestand verlaag word” (Jesaja 32:19). Ja, soos ’n swaar haelstorm is Jehovah se oordeel gereed om die bedrieglike stad van valse godsdiens te tref, sy “woud” van ondersteuners te verneder en hulle tot in alle ewigheid te vernietig!
23. Watter wêreldwye werk is nou amper voltooi, en hoe voel diegene wat daaraan deelneem?
23 Ons kom nou by die slot van hierdie deel van die profesie: “Gelukkig is julle wat langs al die waters saad saai, wat die pote van die bul en van die esel uitstuur” (Jesaja 32:20). Die bul en die esel was lasdiere wat God se eertydse volk gebruik het wanneer hulle hulle landerye geploeg het en wanneer hulle saad gesaai het. Jehovah se volk gebruik vandag drukkerstoerusting, elektroniese toestelle, moderne geboue en vervoermiddele en bowenal ’n verenigde, teokratiese organisasie om duisendmiljoene Bybelpublikasies te druk en te versprei. Gewillige werkers gebruik hierdie toerusting om saadjies van Koninkrykswaarheid oor die hele aarde te saai, letterlik “langs al die waters”. Miljoene godvresende manne en vroue is reeds geoes, en nog menigtes sluit steeds by hulle aan (Openbaring 14:15, 16). Hulle is almal waarlik “gelukkig”!
[Voetnote]
a Die “koning” in Jesaja 32:1 het moontlik aanvanklik na koning Hiskia verwys. Maar die vernaamste vervulling van Jesaja hoofstuk 32 is in verband met die Koning, Christus Jesus.
b Sien Die Wagtoring, 1 Maart 1999, bladsye 13-18, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.
[Prente op bladsy 331]
In die Dooie See-rolle is Jesaja hoofstuk 32 met ’n “X” gemerk
[Prente op bladsy 333]
Elke ‘vors’ is soos ’n skuilplek teen die wind, ’n skuiling teen die reën, water in die woestyn en skaduwee teen die son
[Prent op bladsy 338]
Dit verskaf ’n Christen groot vreugde om ander van die goeie nuus te vertel