Hoofstuk agt-en-twintig
Die Paradys word herstel!
1. Waarom bied baie godsdienste die hoop op lewe in ’n paradys?
“DIE begeerte na ’n paradys is ’n baie sterk begeerte by die mens. Dit is moontlik dié sterkste en blywendste begeerte. Op elke vlak van die godsdienslewe is daar blyke van die mens se hunkering na ’n paradys.” So sê The Encyclopedia of Religion. Hierdie begeerte is net natuurlik, want die Bybel sê vir ons dat die mens se lewe in die Paradys begin het—’n pragtige tuin vry van siekte en die dood (Genesis 2:8-15). Dit is heeltemal te verstane dat baie van die wêreld se godsdienste die hoop op toekomstige lewe in die een of ander soort paradys bied.
2. Waar kan ons die ware hoop op die toekomstige Paradys vind?
2 In baie dele van die Bybel kan ons van die ware hoop op die toekomstige Paradys lees (Jesaja 51:3). Die deel van Jesaja se profesie wat in hoofstuk 35 opgeteken is, beskryf byvoorbeeld dat woestynstreke in parkagtige tuine en vrugbare landerye verander sal word. Die blindes kan sien, die stommes kan praat en die dowes kan hoor. In hierdie beloofde Paradys is daar geen droefheid of gesug nie, wat te kenne gee dat selfs die dood nie meer daar is nie. Wat ’n wonderlike belofte! Hoe moet ons hierdie woorde verstaan? Bied dit vandag vir ons hoop? As ons hierdie hoofstuk van Jesaja bestudeer, sal dit die antwoorde op hierdie vrae voorsien.
’n Verlate land juig
3. Watter verandering sal volgens Jesaja se profesie in die land plaasvind?
3 Jesaja se geïnspireerde profesie van die herstelde Paradys begin met hierdie woorde: “Die wildernis en die waterlose streek sal jubel, en die woestynvlakte sal bly wees en bloei soos die saffraan. Dit sal vir seker bloei, en dit sal werklik bly wees met blydskap en met vreugdegeroep. Die heerlikheid van die Libanon sal daaraan gegee word, die prag van Karmel en van Saron. Daar sal dié wees wat die heerlikheid van Jehovah sal sien, die prag van ons God.”—Jesaja 35:1, 2.
4. Wanneer en hoe begin die Jode se vaderland soos ’n wildernis lyk?
4 Jesaja skryf hierdie woorde omstreeks die jaar 732 v.G.J. Sowat 125 jaar later vernietig die Babiloniërs Jerusalem, en die volk van Juda word in ballingskap weggevoer. Hulle vaderland word leeg en verlate agtergelaat (2 Konings 25:8-11, 21-26). Op hierdie manier is Jehovah se woorde, dat die volk van Israel in ballingskap weggevoer sou word as hulle ontrou is, bewaarheid (Deuteronomium 28:15, 36, 37; 1 Konings 9:6-8). Terwyl die Hebreeuse nasie in ’n vreemde land gevange gehou word, lê hulle goed versorgde landerye en boorde 70 jaar lank braak en word dit soos ’n wildernis.—Jesaja 64:10; Jeremia 4:23-27; 9:10-12.
5. (a) Hoe word paradystoestande in die land herstel? (b) In watter sin ‘sien mense die heerlikheid van Jehovah’?
5 Maar Jesaja se profesie voorspel dat die land nie vir ewig woes sal lê nie. Dit sal weer ’n paradys word. “Die heerlikheid van die Libanon” en “die prag van Karmel en van Saron” sal daaraan gegee word.a Hoe? Wanneer die Jode uit ballingskap terugkeer, kan hulle weer eens hulle landerye bewerk en natlei, en hulle land word weer so vrugbaar soos dit vroeër was. Dit is net Jehovah wat die eer hiervoor kan kry. Dit is deur sy wil en met sy ondersteuning en seën dat die Jode die geleentheid het om sulke paradystoestande te geniet. Die mense kan ‘die heerlikheid van Jehovah, die prag van hulle God’ sien wanneer hulle erken dat Jehovah se hand die verbasende verandering in hulle land teweeggebring het.
6. Watter belangrike vervulling van Jesaja se woorde word gesien?
6 Daar is nietemin ’n belangriker vervulling van Jesaja se woorde in die herstelde land van Israel. Geestelik gesproke was Israel baie jare lank in ’n droë, woestynagtige toestand. Terwyl die ballinge in Babilon was, is ware aanbidding grootliks beperk. Daar was geen tempel, geen altaar en geen georganiseerde priesterdom nie. Daar is nie meer daagliks offerandes gebring nie. Nou voorspel Jesaja ’n ommekeer. Onder die leierskap van manne soos Serubbabel, Esra en Nehemia keer verteenwoordigers uit al 12 stamme van Israel na Jerusalem terug, herbou hulle die tempel en aanbid hulle Jehovah vryelik (Esra 2:1, 2). Dit is inderdaad ’n geestelike paradys!
Gloei van die gees
7, 8. Waarom het die Joodse ballinge ’n positiewe gesindheid nodig, en hoe moedig Jesaja se woorde hulle aan?
7 Die woorde van Jesaja hoofstuk 35 getuig van vreugde. Die profeet maak bekend dat die berouvolle nasie ’n blink toekoms sal geniet. Hy praat beslis met oortuiging en optimisme. Twee eeue later, net voor hulle herstel sou word, het die Jode in ballingskap dieselfde oortuiging en optimisme nodig. Deur middel van Jesaja, spoor Jehovah hulle profeties aan: “Versterk die swak hande en maak die wankelende knieë sterk. Sê vir dié wat angstig van hart is: ‘Wees sterk. Moenie bang wees nie. Kyk! Julle God sal kom met wraak, ja, God met vergelding. Hy sal kom en julle red.’”—Jesaja 35:3, 4.
8 Die einde van die lang ballingskap is ’n tyd om op te tree. Koning Kores van Persië, die instrument van Jehovah se wraak teen Babilon, het verklaar dat Jehovah se aanbidding in Jerusalem herstel moet word (2 Kronieke 36:22, 23). Duisende Hebreeuse gesinne moet hulleself organiseer om die gevaarlike reis van Babilon na Jerusalem te onderneem. Wanneer hulle daar aankom, sal hulle die nodige woongeriewe moet bou en sal hulle moet voorberei vir die enorme taak om die tempel en die stad te herbou. Vir party Jode in Babilon kan dit alles na ’n skrikwekkende taak lyk. Maar dit is nie nou die tyd om swak of bang te wees nie. Die Jode moet mekaar versterk en op Jehovah vertrou. Hy verseker hulle dat hulle gered sal word.
9. Watter wonderlike belofte word aan die terugkerende Jode gemaak?
9 Dié wat uit gevangenskap in Babilon vrygelaat is, sal goeie rede hê om hulle te verbly, want ’n wonderlike toekoms wag op hulle wanneer hulle na Jerusalem terugkeer. Jesaja voorspel: “Dan sal die oë van die blindes geopen word, en die ore van die dowes sal ontsluit word. Dan sal die kreupele net soos ’n takbok klim, en die tong van die stomme sal van vreugde uitroep.”—Jesaja 35:5, 6a.
10, 11. Waarom moes Jesaja se woorde vir terugkerende Jode ’n geestelike betekenis gehad het, en wat impliseer dit?
10 Jehovah het klaarblyklik die geestelike toestand van sy volk in gedagte. Hulle is met 70 jaar van ballingskap gestraf vir hulle vroeëre afvalligheid. Maar toe Jehovah sy dissipline toegedien het, het hy nie sy volk blind, doof, kreupel en stom gemaak nie. Gevolglik vereis die herstelling van die nasie Israel nie dat fisiese gebreke genees word nie. Jehovah herstel wat verloor is, naamlik geestelike gesondheid.
11 Berouvolle Jode word genees in die sin dat hulle hulle geestelike vermoëns terugkry—hulle geestelike sig en hulle vermoë om Jehovah se woord te hoor, te gehoorsaam en daaroor te praat. Hulle besef hoe noodsaaklik dit is dat hulle na aan Jehovah moet bly. Deur hulle goeie gedrag ‘roep hulle uit’, met vreugdevolle lof tot hulle God. Die een wat vroeër ‘kreupel’ was, word gretig en energiek in sy aanbidding van Jehovah. Hy sal figuurlik gesproke “net soos ’n takbok klim”.
Jehovah verkwik sy volk
12. In watter mate sal Jehovah die land met water seën?
12 Dit is moeilik om jou ’n paradys sonder water voor te stel. Die oorspronklike Paradys in Eden het ’n oorvloed water gehad (Genesis 2:10-14). Die land wat aan Israel gegee is, was ook “’n land van stroomvalleie vol water, fonteine en waterdieptes” (Deuteronomium 8:7). Dit is dus gepas dat Jesaja hierdie verkwikkende belofte maak: “In die wildernis sal waters uitbreek, en strome in die woestynvlakte. En die verskroeide grond sal soos ’n rietpoel word, en die dorsland soos waterfonteine. In die woonplek van jakkalse, ’n rusplek vir hulle, sal daar groen gras met riete en papirusplante wees” (Jesaja 35:6b, 7). Wanneer die Israeliete weer vir die land sorg, sal die verlate gebiede waar jakkalse vroeër gewoon het, bedek wees met welige plantegroei. Droë en stowwerige grond sal omskep word in “’n moerasagtige plek” waar papirus en ander waterriete kan groei.—Job 8:11.
13. Watter oorvloedige geestelike water sal vir die herstelde nasie beskikbaar wees?
13 Maar nog belangriker is die geestelike water van waarheid, wat die herstelde Jode in oorvloed sal geniet. Jehovah sal kennis, aanmoediging en vertroosting deur sy Woord voorsien. Daarbenewens sal getroue ouer manne en vorste “soos waterstrome in ’n waterlose land” wees (Jesaja 32:1, 2). Diegene wat rein aanbidding voorstaan, soos Esra, Haggai, Jesua, Nehemia, Sagaria en Serubbabel, sal inderdaad lewende getuienis wees van die vervulling van Jesaja se profesie.—Esra 5:1, 2; 7:6, 10; Nehemia 12:47.
“Die Weg van Heiligheid”
14. Beskryf die reis tussen Babilon en Jerusalem.
14 Maar voor die Jode in ballingskap sulke fisiese en geestelike paradystoestande kan geniet, sal hulle die lang en gevaarlike reis van Babilon na Jerusalem moet aandurf. As hulle ’n direkte roete geneem het, sou dit beteken dat hulle ongeveer 800 kilometer ver deur droë, onherbergsame gebied moes trek. ’n Makliker roete sou beteken dat hulle 1 600 kilometer ver moes reis. Ongeag watter van die twee hulle gekies het, hulle sou maande lank aan die wind en weer blootgestel wees en in gevaar wees om wilde diere sowel as mense wat soos wilde diere is teë te kom. Nogtans is diegene wat Jesaja se profesie glo nie oormatig bekommerd nie. Waarom nie?
15, 16. (a) Watter beskerming voorsien Jehovah vir getroue Jode op hulle terugreis? (b) In watter ander sin voorsien Jehovah ’n veilige grootpad vir die Jode?
15 Jehovah belowe deur middel van Jesaja: “Daar sal beslis ’n grootpad wees, ja, ’n weg; en dit sal die Weg van Heiligheid genoem word. Die onreine sal nie daarop trek nie. En dit sal wees vir die een wat op die weg wandel, en geen dwase sal daarop ronddwaal nie. Daar sal geen leeu wees nie, en die wrede wilde diere sal nie daarop kom nie. Nie een sal daarop aangetref word nie; en die teruggekooptes sal daarop wandel” (Jesaja 35:8, 9). Jehovah het sy volk teruggeneem! Hulle is sy “teruggekooptes”, en hy waarborg dat hulle veilig sal wees op pad huis toe. Is daar letterlik ’n verhewe en omheinde pad tussen Babilon en Jerusalem? Nee, maar Jehovah se beskerming van sy volk op hulle reis is so seker dat dit is asof hulle op so ’n grootpad reis.—Vergelyk Psalm 91:1-16.
16 Die Jode word ook teen geestelike gevare beskerm. Die figuurlike grootpad is “die Weg van Heiligheid”. Diegene wat nie respek vir heilige dinge het nie of wat geestelik onrein is, voldoen nie aan die vereistes om daarop te reis nie. Sulke mense is nie welkom in die herstelde land nie. Goedgekeurdes het die regte beweegredes. Hulle keer nie na Juda en Jerusalem terug uit nasietrots of om hulle eie belange na te jaag nie. Geestelikgesinde Jode besef dat die vernaamste rede vir hulle terugkeer is om die rein aanbidding van Jehovah in daardie land te herstel.—Esra 1:1-3.
Jehovah se volk verbly hulle
17. Hoe het die profesie van Jesaja getroue Jode gedurende hulle lang ballingskap vertroos?
17 Hoofstuk 35 van Jesaja se profesie eindig op ’n vreugdevolle noot: “Dié wat deur Jehovah losgekoop is, sal terugkeer en beslis met vreugdegeroep na Sion kom; en blydskap tot onbepaalde tyd sal op hulle hoof wees. Verheuging en blydskap sal hulle verkry, en droefheid en gesug sal wegvlug” (Jesaja 35:10). Die gevange Jode wat gedurende hulle ballingskap vertroosting en hoop in hierdie profesie gesoek het, het dalk gewonder hoe al die besonderhede daarvan vervul sou word. Hulle het baie van die aspekte van die profesie moontlik nie verstaan nie. Dit was nogtans baie duidelik dat hulle wel sou ‘terugkeer en beslis na Sion sou kom’.
18. Hoe word droefheid en gesug in Babilon deur verheuging en blydskap in die herstelde land vervang?
18 Gevolglik is daar in die jaar 537 v.G.J. sowat 50 000 manne (wat meer as 7 000 slawe ingesluit het) saam met vroue en kinders wat, met volle vertroue in Jehovah, die reis van vier maande terug na Jerusalem onderneem (Esra 2:64, 65). Net ’n paar maande later is Jehovah se altaar herbou, wat die eerste stap was in die volledige herbouing van die tempel. Die 200 jaar oue profesie van Jesaja is vervul. Die nasie se droefheid en gesug terwyl hulle in Babilon was, word vervang deur verheuging en blydskap in die herstelde land. Jehovah het sy belofte nagekom. Die paradys—letterlik sowel as figuurlik—is herstel!
Die geboorte van ’n nuwe nasie
19. Waarom kan daar gesê word dat Jesaja se profesie net ’n beperkte vervulling in die sesde eeu v.G.J. gehad het?
19 Die vervulling van Jesaja hoofstuk 35 in die sesde eeu v.G.J. is natuurlik beperk. Die paradystoestande wat die herstelde Jode geniet, is nie permanent nie. Mettertyd word rein aanbidding deur valse godsdiensleringe en nasionalisme bederf. In geestelike sin ervaar die Jode weer eens droefheid en gesug. Jehovah verwerp hulle uiteindelik as sy volk (Matteus 21:43). Omdat hulle weer ongehoorsaam is, duur hulle vreugde nie voort nie. Dit alles toon dat daar ’n verdere, grotere vervulling van Jesaja hoofstuk 35 sal wees.
20. Watter nuwe Israel het in die eerste eeu G.J. in aansyn gekom?
20 Op Jehovah se bestemde tyd het ’n ander Israel, ’n geestelike Israel, in aansyn gekom (Galasiërs 6:16). Jesus het gedurende sy aardse bediening die weg berei vir die geboorte van hierdie nuwe Israel. Hy het rein aanbidding herstel, en as gevolg van sy leringe het die water van waarheid weer begin vloei. Hy het die siekes fisies sowel as geestelik genees. ’n Vreugdegeroep het uitgegaan aangesien die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig is. Sewe weke ná sy dood en opstanding het die verheerlikte Jesus die Christengemeente gestig, ’n geestelike Israel saamgestel uit Jode en ander wat deur Jesus se vergote bloed losgekoop is, as God se geestelike seuns en broers van Jesus verwek is en deur die heilige gees gesalf is.—Handelinge 2:1-4; Romeine 8:16, 17; 1 Petrus 1:18, 19.
21. Watter gebeurtenisse in verband met die eerste-eeuse Christengemeente kan beskou word as ’n vervulling van sekere aspekte van Jesaja se profesie?
21 Toe die apostel Paulus aan die lede van die geestelike Israel geskryf het, het hy na die woorde van Jesaja 35:3 verwys deur te sê: “Rig . . . die hande wat hang en die verslapte knieë op” (Hebreërs 12:12). Daar was dus klaarblyklik ook in die eerste eeu G.J. ’n vervulling van die woorde van Jesaja hoofstuk 35. Jesus en sy dissipels het wonderwerke verrig en in letterlike sin blindes laat sien en dowes laat hoor. Hulle het “kreupeles” in staat gestel om te loop en dié wat nie kon praat nie om hulle spraak te herwin (Matteus 9:32; 11:5; Lukas 10:9). Nog belangriker, regskapenes het uit valse godsdiens ontsnap en ’n geestelike paradys binne die Christengemeente begin geniet (Jesaja 52:11; 2 Korintiërs 6:17). Soos in die geval van die Jode wat van Babilon af teruggekeer het, het hierdie ontsnaptes gevind dat ’n positiewe, moedige gees noodsaaklik was.—Romeine 12:11.
22. Hoe het opregte Christene wat na die waarheid gesoek het in hedendaagse tye in Babiloniese gevangenskap gekom?
22 Wat van ons dag? Het Jesaja se profesie nog ’n vervulling, ’n vollediger vervulling waarby die Christengemeente van vandag betrokke is? Ja. Ná die dood van die apostels het die aantal ware gesalfde Christene grootliks afgeneem en valse Christene, “onkruid”, het op die wêreldtoneel gefloreer (Matteus 13:36-43; Handelinge 20:30; 2 Petrus 2:1-3). Selfs toe opregte persone gedurende die 19de eeu begin het om hulle van die Christendom af te skei en rein aanbidding te soek, was hulle begrip nog steeds deur onskriftuurlike leringe besoedel. In 1914 is Jesus as Messiaanse Koning op die troon geplaas, maar kort daarna het die situasie maar sleg gelyk vir hierdie opregte waarheidsoekers. Ter vervulling van die profesie het die nasies ‘teen hulle oorlog gevoer en hulle oorwin’, en die pogings van hierdie opregte Christene om die goeie nuus te verkondig, is gesmoor. Hulle is as ’t ware in Babiloniese gevangenskap weggevoer.—Openbaring 11:7, 8.
23, 24. Op watter maniere is Jesaja se woorde sedert 1919 onder God se volk vervul?
23 Maar in 1919 het die situasie verander. Jehovah het sy volk uit gevangenskap uitgebring. Hulle het die valse leerstellings wat vroeër hulle aanbidding besoedel het, begin verwerp. Gevolglik is hulle genees. Hulle het in ’n geestelike paradys gekom, wat vandag nog verder oor die aarde uitbrei. In geestelike sin leer die blindes sien en die dowes hoor—hulle word met ander woorde ten volle bewus van die werking van God se heilige gees en hulle bly bewus van die belangrikheid om naby Jehovah te bly (1 Tessalonisense 5:6; 2 Timoteus 4:5). Ware Christene is nie meer stom nie, maar is gretig om ‘uit te roep’ en Bybelwaarhede aan ander bekend te maak (Romeine 1:15). Diegene wat geestelik swak, of ‘kreupel’, was, is nou ywerig en vreugdevol. Hulle kan figuurlik gesproke “net soos ’n takbok klim”.
24 Hierdie herstelde Christene wandel op “die Weg van Heiligheid”. Hierdie “Weg”, wat uit Babilon die Grote tot in ’n geestelike paradys lei, is oop vir alle geestelike rein aanbidders (1 Petrus 1:13-16). Hulle kan op Jehovah staatmaak om hulle te beskerm en kan vertrou dat Satan nie suksesvol sal wees in sy wrede pogings om ware aanbidding uit te wis nie (1 Petrus 5:8). Ongehoorsames en dié wat hulle soos wrede wilde diere gedra, word nie toegelaat om diegene op God se grootpad van heiligheid te verderf nie (1 Korintiërs 5:11). In hierdie veilige omstandighede kan Jehovah se losgekooptes—gesalfdes en “ander skape”—vreugde in hulle diens aan die enigste ware God vind.—Johannes 10:16.
25. Sal daar ’n fisiese vervulling van Jesaja hoofstuk 35 wees? Verduidelik.
25 Wat van die toekoms? Sal Jesaja se profesie ooit ’n fisiese vervulling hê? Ja. Die wonderdadige genesings deur Jesus en sy apostels in die eerste eeu het Jehovah se begeerte en vermoë getoon om mense in die toekoms op groot skaal te genees. Die geïnspireerde Psalms praat van die ewige lewe in vreedsame toestande op aarde (Psalm 37:9, 11, 29). Jesus het lewe in die Paradys belowe (Lukas 23:43). Die Bybel bied tot in sy heel laaste boek die hoop op ’n letterlike paradys. Dan sal die blindes, die dowes, die kreupeles en die stommes fisies en permanent genees word. Droefheid en gesug sal wegvlug. Vreugde sal inderdaad tot onbepaalde tyd duur, ja vir ewig.—Openbaring 7:9, 16, 17; 21:3, 4.
26. Hoe versterk Jesaja se woorde Christene van vandag?
26 Hoewel ware Christene vir die herstelling van die fisiese aardse Paradys wag, geniet hulle nou al die seëninge van die geestelike paradys. Hulle verduur beproewinge en vervolging met ’n optimistiese gesindheid. Met onwankelbare vertroue in Jehovah moedig hulle mekaar aan en gee hulle ag op die aansporing: “Versterk die swak hande en maak die wankelende knieë sterk. Sê vir dié wat angstig van hart is: ‘Wees sterk. Moenie bang wees nie.’” Hulle het vaste vertroue in die profetiese versekering: “Kyk! Julle God sal kom met wraak, ja, God met vergelding. Hy sal kom en julle red.”—Jesaja 35:3, 4.
[Voetnote]
a Die Skrif beskryf die eertydse Libanon as ’n vrugbare land met digte woude en majestueuse seders, wat met die Tuin van Eden vergelyk kan word (Psalm 29:5; 72:16; Esegiël 28:11-13). Saron was bekend vir sy strome en eikewoude; Karmel was bekend vir sy wingerde, boorde en blombedekte hellings.
[Volbladillustrasie op bladsy 370]
[Prente op bladsy 375]
Woestyngebiede sal waterryke plekke word waar riete en papirus floreer
[Prente op bladsy 378]
Jesus het die siekes fisies sowel as geestelik genees