Hoofstuk ses
Jehovah God bewys barmhartigheid aan ’n oorblyfsel
1, 2. Wat voorspel die profeet Jesaja aangaande Juda en Jerusalem?
’N HEWIGE storm bars oor ’n dig bevolkte gebied los. Sterk winde, stortreëns en oorstromings saai verwoesting in ’n groot deel van die land en vernietig huise, beskadig landerye en eis lewens. Maar die storm gaan gou verby en daarna volg ’n tydperk van kalmte. Vir dié wat dit oorleef het, is dit nou ’n tyd van herbouing en herstelling.
2 Die profeet Jesaja voorspel iets soortgelyks aangaande Juda en Jerusalem. Die stormwolke van Goddelike veroordeling kom al hoe nader—en heel tereg! Die nasie dra groot skuld. Die heersers sowel as die volk het die land met ongeregtigheid en bloedvergieting gevul. Jehovah lê Juda se skuld deur middel van Jesaja bloot en waarsku dat Hy oordeel aan daardie ongehoorsame nasie sal voltrek (Jesaja 3:25). Die land van Juda sal ná hierdie storm heeltemal verwoes wees. Daardie vooruitsig maak Jesaja beslis baie hartseer.
3. Watter goeie nuus bevat die geïnspireerde boodskap in Jesaja 4:2-6?
3 Maar daar is goeie nuus! Die storm van Jehovah se regverdige oordeel sal verbygaan, en ’n oorblyfsel sal dit oorleef. Ja, Jehovah se veroordeling van Juda sal met barmhartigheid getemper word! Jesaja se geïnspireerde boodskap wat in Jesaja 4:2-6 opgeteken staan, praat van hierdie geseënde tyd. Dit is asof die son agter die wolke deurbreek; ons aandag verskuif van ’n toneel van veroordeling—wat in Jesaja 2:6–4:1 beskryf word—na ’n land en volk wat pragtig hernieu is.
4. Waarom moet ons Jesaja se profesie oor die herstelling van ’n oorblyfsel bespreek?
4 Jesaja se profesie oor die herstelling van ’n oorblyfsel en die veiligheid wat hulle dan sal geniet, word ook in ons tyd—“die einde van die dae”—vervul (Jesaja 2:2-4). Kom ons bespreek nou hierdie tydige boodskap, want dit het nie net profetiese betekenis nie, maar dit leer ons ook van Jehovah se barmhartigheid en hoe ons dit individueel kan ontvang.
‘Die uitspruitsel van Jehovah’
5, 6. (a) Hoe beskryf Jesaja die vreedsame tyd wat op die naderende storm volg? (b) Waarna verwys die woord “spruit”, en wat toon dit in verband met die land van Juda?
5 Jesaja se toon word hartlik wanneer hy verby die naderende storm na ’n vreedsamer tyd kyk. Hy skryf: “In dié dag sal wat Jehovah laat uitspruit [“die uitspruitsel (spruit) van Jehovah”, voetnoot in naslaanuitgawe], tot sieraad en tot heerlikheid wees, en die vrug van die land sal iets wees om op trots te wees en iets pragtigs vir dié van Israel wat ontkom het.”—Jesaja 4:2.
6 Jesaja praat hier van herstel. Die Hebreeuse selfstandige naamwoord wat met “spruit” vertaal word, verwys na ‘iets wat opskiet, ’n loot, ’n tak’. Dit word geassosieer met voorspoed, vermeerdering en seëninge van Jehovah. Jesaja sê dus dat daar hoop is—die naderende vernietiging sal nie permanent wees nie. Met Jehovah se seën sal die land van Juda, wat vroeër so voorspoedig was, weer eens oorvloedig vrug dra.a—Levitikus 26:3-5.
7. Hoe sal die uitspruitsel van Jehovah “tot sieraad en tot heerlikheid wees”?
7 Jesaja beskryf op ’n baie aanskoulike manier hoe wonderlik die toekomstige verandering sal wees. Die uitspruitsel van Jehovah sal “tot sieraad en tot heerlikheid wees”. Die woord “sieraad” laat ’n mens dink aan die prag van die Beloofde Land toe Jehovah dit eeue tevore aan Israel gegee het. Dit was so pragtig dat dit as “die sieraad [“juweel”, New American Bible] van al die lande” beskou is (Esegiël 20:6). Jesaja se woorde verseker die volk dus dat die land van Juda tot sy vorige heerlikheid en prag herstel sal word. Ja, dit sal soos ’n pragtige juweel op die aarde wees.
8. Wie sal in die land woon om die herstelde prag daarvan te geniet, en hoe beskryf Jesaja hulle gevoelens?
8 Maar wie sal in die land woon om die herstelde prag daarvan te geniet? “Dié van Israel wat ontkom het”, skryf Jesaja. Ja, party sal die vernederende vernietiging oorleef wat vroeër voorspel is (Jesaja 3:25, 26). ’n Oorblyfsel van die oorlewendes sal na Juda terugkeer en help om dit te herstel. Vir hierdie terugkerendes—‘dié wat ontkom het’—sal die oorvloedige opbrengs van hulle herstelde land “iets wees om op trots te wees en iets pragtigs” (Jesaja 4:2). Die vernedering van vernietiging sal plek maak vir ’n hernieude gevoel van trots.
9. (a) Wat het ter vervulling van Jesaja se woorde in 537 v.G.J. gebeur? (b) Waarom kan daar gesê word dat ‘dié wat ontkom het’ party insluit wat in ballingskap gebore is? (Sien voetnoot.)
9 Net soos Jesaja gesê het, het die storm van oordeel in 607 v.G.J. gekom toe die Babiloniërs Jerusalem vernietig het en baie Israeliete gesterf het. Party het dit oorleef en is in ballingskap na Babilon geneem, maar as dit nie was dat God barmhartig is nie, sou daar hoegenaamd geen oorlewendes gewees het nie (Nehemia 9:31). Uiteindelik is Juda heeltemal woes gelaat (2 Kronieke 36:17-21). Daarna, in 537 v.G.J., het die God van barmhartigheid ‘dié wat ontkom het’, toegelaat om na Juda terug te keer sodat hulle ware aanbidding kon herstel (Esra 1:1-4; 2:1).b Die opregte berou van hierdie terugkerende ballinge word pragtig uitgedruk in Psalm 137, wat waarskynlik gedurende die ballingskap of kort daarna geskryf is. Toe hulle weer in Juda was, het hulle die grond bewerk en saad op die landerye gesaai. Dink net hoe hulle moes gevoel het toe hulle sien dat God hulle pogings seën deur die land te laat uitspruit soos die vrugbare “tuin van Eden”!—Esegiël 36:34-36.
10, 11. (a) Hoe is die Bybelstudente vroeg in die 20ste eeu deur “Babilon die Grote” gevange gehou? (b) Hoe het Jehovah die oorblyfsel van geestelike Israeliete geseën?
10 ’n Soortgelyke herstelling het in ons dag plaasgevind. Vroeg in die 20ste eeu het die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het, geestelik gesproke gevangenes geword van “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens (Openbaring 17:5). Hoewel die Bybelstudente talle valse godsdiensleerstellings verwerp het, was hulle nog steeds besoedel deur party Babiloniese idees en gebruike. As gevolg van teenkanting wat deur die geestelikes aangestig is, is party van hulle letterlik in die tronk gestop. Hulle geestelike land—hulle godsdienstige, of geestelike, toestand—is woes gelaat.
11 Maar in die lente van 1919 het Jehovah barmhartigheid aan hierdie oorblyfsel van geestelike Israeliete bewys (Galasiërs 6:16). Hy het gesien dat hulle berou het en dat hulle hom in waarheid wil aanbid, en daarom het hy hulle bevryding uit letterlike gevangenskap en, nog belangriker, uit geestelike gevangenskap teweeggebring. ‘Dié wat ontkom het’, is in hulle godgegewe geestelike toestand herstel, wat hy oorvloedig laat uitspruit het. Hierdie geestelike toestand lyk aantreklik en miljoene ander godvresende mense is daardeur beweeg om hulle in ware aanbidding by die oorblyfsel te voeg.
12. Hoe verheerlik Jesaja se woorde die barmhartigheid van Jehovah teenoor sy volk?
12 Hierdie woorde van Jesaja verheerlik die barmhartigheid van God teenoor sy volk. Hoewel die Israeliete as ’n nasie teen Jehovah gedraai het, het hy barmhartigheid aan ’n berouvolle oorblyfsel bewys. Ons kan vertroosting put uit die feit dat selfs mense wat ernstige oortredings begaan met hoop na Jehovah kan terugkeer. Berouvolle persone hoef nie te voel dat hulle buite die bereik van Jehovah se barmhartigheid is nie, want hy verwerp nie ’n berouvolle hart nie (Psalm 51:17). Die Bybel verseker ons: “Jehovah is barmhartig en genadig, stadig tot toorn en oorvloedig in liefderyke goedhartigheid. Soos ’n vader barmhartigheid aan sy kinders bewys, het Jehovah barmhartigheid bewys aan dié wat hom vrees” (Psalm 103:8, 13). So ’n barmhartige God verdien tog seker ons lof!
’n Oorblyfsel word heilig vir Jehovah
13. Hoe beskryf Jesaja die oorblyfsel aan wie Jehovah barmhartigheid sou bewys, soos dit in Jesaja 4:3 opgeteken staan?
13 Ons het reeds kennis gemaak met die oorblyfsel aan wie Jehovah barmhartigheid sou bewys, maar nou beskryf Jesaja hulle in fyner besonderhede. Hy skryf: “Van dié wat in Sion oorgebly het en van dié wat in Jerusalem oorgelaat is, sal daar gesê word dat hulle heilig is vir hom, elkeen wat vir die lewe in Jerusalem opgeskryf is.”—Jesaja 4:3.
14. Wie is ‘dié wat oorgebly het’ en ‘dié wat oorgelaat is’, en waarom sal Jehovah barmhartigheid aan hulle bewys?
14 Wie is ‘dié wat oorgebly het’ en ‘dié wat oorgelaat is’? Hulle is dié wat ontkom het, wat in die vorige vers genoem word—die Joodse ballinge wat toegelaat sal word om na Juda terug te keer. Nou toon Jesaja waarom Jehovah aan hulle barmhartigheid sal bewys—hulle sal ‘vir hom heilig wees’. Heiligheid beteken “godsdienstige reinheid of vlekkeloosheid”. Om heilig te wees, behels om in woord en daad skoon, of rein, te wees, om te voldoen aan Jehovah se standaard van wat reg is. Ja, Jehovah sal barmhartigheid bewys aan dié wat “heilig is vir hom”, en hy sal hulle toelaat om na “die heilige stad”, Jerusalem, terug te keer.—Nehemia 11:1.
15. (a) Die uitdrukking ‘vir die lewe in Jerusalem opgeskryf’ herinner ons aan watter Joodse gebruik? (b) Watter ernstige waarskuwing hou Jesaja se woorde in?
15 Sal hierdie getroue oorblyfsel daar bly? Hulle sal ‘vir die lewe in Jerusalem opgeskryf wees’, belowe Jesaja. Dit herinner ons aan die Joodse gebruik om noukeurige lyste te hou van Israel se families en stamme (Nehemia 7:5). As iemand se naam op ’n lys geskryf is, het dit beteken dat hy lewe, want wanneer iemand gesterf het, is sy naam daarvan verwyder. In ander dele van die Bybel lees ons van ’n figuurlike lys, of boek, wat die name bevat van diegene wat Jehovah met die lewe beloon. Maar name word voorwaardelik in hierdie boek geskryf, want Jehovah kan name “uitwis” (Eksodus 32:32, 33; Psalm 69:28). Jesaja se woorde hou dus ’n ernstige waarskuwing in—dié wat terugkeer, mag alleenlik in hulle herstelde land lewe as hulle in God se oë heilig bly.
16. (a) Wat het Jehovah van diegene vereis wat hy toegelaat het om in 537 v.G.J. na Juda terug te keer? (b) Waarom kan daar gesê word dat Jehovah nie tevergeefs barmhartigheid aan die gesalfde oorblyfsel en die “ander skape” bewys het nie?
16 In 537 v.G.J. het die oorblyfsel wat na Jerusalem teruggekeer het dit met ’n suiwer motief gedoen—om ware aanbidding te herstel. Niemand wat besmet is deur heidense godsdiensgebruike of deur die onrein gedrag waarteen Jesaja so duidelik gewaarsku het, het die reg gehad om terug te keer nie (Jesaja 1:15-17). Alleenlik dié wat na Jehovah se mening heilig was, kon na Juda terugkeer (Jesaja 35:8). Sedert hulle in 1919 uit geestelike gevangenskap vrygelaat is, het die gesalfde oorblyfsel, saam met miljoene “ander skape”—dié wat hoop om vir ewig op die aarde te lewe—eweneens hulle uiterste bes gedoen om in God se oë heilig te bly (Johannes 10:16). Hulle het hulle vrygemaak van Babiloniese leringe en gebruike. Hulle strewe elkeen daarna om God se hoë sedelike standaarde te handhaaf (1 Petrus 1:14-16). Jehovah het nie tevergeefs barmhartigheid aan hulle bewys nie.
17. Wie se name skryf Jehovah in sy “boek van die lewe” op, en wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
17 Onthou dat Jehovah gelet het op dié in Israel wat heilig was en dat hy hulle name ‘vir die lewe opgeskryf’ het. Jehovah let ook vandag op ons pogings om verstandelik en liggaamlik rein te bly terwyl ons ‘ons liggame aanbied as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is’ (Romeine 12:1). En God skryf almal wat so ’n lewensweg volg op in sy “boek van die lewe”—die figuurlike verslag wat die name bevat van diegene wat die vooruitsig op ewige lewe het, hetsy in die hemel of op die aarde (Filippense 4:3; Maleagi 3:16). Laat ons dus ons uiterste bes doen om in God se oë heilig te bly, want dan kan ons sorg dat ons name in daardie kosbare “boek” bly.—Openbaring 3:5.
’n Belofte van liefdevolle sorg
18, 19. Watter reiniging gaan Jehovah volgens Jesaja 4:4, 5 laat plaasvind, en hoe sal dit bewerkstellig word?
18 Jesaja wys verder hoe die inwoners van die herstelde land heilig sal word en watter seëninge op hulle wag. Hy sê: “Wanneer Jehovah die ontlasting van die dogters van Sion afgewas het en hy selfs die bloedvergieting van Jerusalem daaruit sal wegspoel deur die gees van strafgerig en deur die gees van verbranding, dan sal Jehovah beslis oor elke vaste plek van die berg Sion en oor die bymekaarkomplek daarvan bedags ’n wolk en rook skep, en snags die glans van ’n vlammende vuur; want oor al die heerlikheid sal daar ’n beskutting wees.”—Jesaja 4:4, 5.
19 Jesaja het vroeër “die dogters van Sion” bestraf, wie se sedelike verdorwenheid agter hulle vertonerige ornamente weggesteek is. Hy het ook die bloedskuld van die volk oor die algemeen aan die kaak gestel en hulle aangespoor om hulle te was (Jesaja 1:15, 16; 3:16-23). Maar hier kyk hy vooruit na ’n tyd wanneer God self “die ontlasting”, of sedelike verdorwenheid, sal “afgewas” het en wanneer hy ‘die bloedvlekke sal skoongemaak het’ (Jesaja 4:4, New International Version). Hoe sal hierdie reiniging bewerkstellig word? Deur “die gees van strafgerig” en deur “die gees van verbranding”. Die komende vernietiging van Jerusalem en die ballingskap in Babilon sal blyke van God se veroordeling en brandende toorn oor ’n onreine nasie wees. Die oorblyfsel wat hierdie rampe oorleef en na hulle vaderland terugkeer, sal dan nederig, gelouter, wees. Daarom sal hulle heilig wees vir Jehovah en sal hulle barmhartigheid ontvang.—Vergelyk Maleagi 3:2, 3.
20. (a) Waaraan herinner die uitdrukkings “’n wolk”, “rook” en “’n vlammende vuur” ons? (b) Waarom hoef die gereinigde ballinge nie bang te wees nie?
20 Deur middel van Jesaja belowe Jehovah dat hy hierdie gereinigde oorblyfsel in sy liefdevolle sorg sal neem. Die uitdrukkings “’n wolk”, “rook” en “’n vlammende vuur” herinner ons aan die manier waarop Jehovah vir die Israeliete gesorg het nadat hulle Egipte verlaat het. ’n “Vuur- en wolkkolom” het hulle teen die Egiptenaars beskerm wat hulle agternagesit het; dit het hulle ook in die wildernis gelei (Eksodus 13:21, 22; 14:19, 20, 24). Toe Jehovah hom by die berg Sinai geopenbaar het, het die hele berg “gerook” (Eksodus 19:18). Die gereinigde ballinge hoef dus nie bang te wees nie. Jehovah sal hulle Beskermer wees. Hy sal met hulle wees of hulle in hulle eie huise vergader of tydens heilige byeenkomste bymekaarkom.
21, 22. (a) Waarvoor is ’n hut dikwels gebou? (b) Watter vooruitsig word voor die gereinigde oorblyfsel gestel?
21 Jesaja sluit sy beskrywing van Goddelike beskerming af deur die aandag op die daaglikse lewe te vestig. Hy skryf: “Daar sal ’n hut wees vir skaduwee bedags teen die droë hitte en as ’n toevlug en as ’n skuilplek teen die reënstorm en teen die neerslag” (Jesaja 4:6). ’n Hut is dikwels in ’n wingerd of op ’n land gebou om uiters nodige skuiling te bied teen die brandende son in die droë seisoen en teen die koue en storms van die reënseisoen.—Vergelyk Jona 4:5.
22 Wanneer die gereinigde oorblyfsel voor die verskroeiende hitte van vervolging en die storms van teenstand te staan kom, sal hulle vind dat Jehovah hulle Bron van beskerming en veiligheid sowel as hulle toevlug is (Psalm 91:1, 2; 121:5). ’n Pragtige vooruitsig word dus voor hulle gestel: As hulle die onrein opvattings en gebruike van Babilon agterlaat, hulle aan die reiniging van Jehovah se oordeel onderwerp en probeer om heilig te bly, sal hulle altyd veilig wees, asof hulle in “’n hut” van Goddelike beskerming is.
23. Waarom het Jehovah die gesalfde oorblyfsel en hulle metgeselle geseën?
23 Let daarop dat die reiniging eerste kom, en dat die seëninge daarop volg. Dit was in ons dag ook so. In 1919 het die gesalfde oorblyfsel hulle nederig aan loutering onderwerp, en Jehovah het hulle onreinheid “afgewas”. Sedertdien het “’n groot skare” ander skape ook toegelaat dat hulle deur Jehovah gereinig word (Openbaring 7:9). Nadat hulle op dié manier gereinig is, is die oorblyfsel en hulle metgeselle geseën—Jehovah het hulle in sy beskermende sorg geneem. Hy keer nie op wonderdadige wyse dat die hitte van vervolging of die storms van teenstand oor hulle kom nie. Maar hy beskerm hulle wel, asof hy ‘’n hut vir skaduwee en as ’n skuilplek teen die reënstorm’ oor hulle oprig. Hoe?
24. Hoe is dit duidelik dat Jehovah sy volk as ’n organisasie geseën het?
24 Dink hieroor: Party van die magtigste regerings in die geskiedenis het die predikingswerk van Jehovah se Getuies verbied of het hulle heeltemal probeer uitwis. En tog het die Getuies standvastig gebly en aangehou preek, sonder om ooit op te hou! Waarom kon magtige nasies nie ’n einde maak aan die werk van hierdie relatief klein en skynbaar weerlose groepie mense nie? Omdat Jehovah sy rein knegte in “’n hut” van beskerming geplaas het wat geen mens kan afbreek nie!
25. Wat beteken dit vir ons as individue om Jehovah as ons Beskermer te hê?
25 Wat van ons as individue? Om Jehovah as ons Beskermer te hê, beteken nie dat ons ’n probleemvrye lewe in hierdie stelsel van dinge sal hê nie. Talle getroue Christene kom voor kwaai beproewinge te staan, soos armoede, natuurrampe, oorlog, siekte en die dood. Wanneer ons voor sulke probleme te staan kom, moet ons nooit vergeet dat ons God met ons is nie. Hy beskerm ons geestelik en voorsien wat ons nodig het—selfs “krag wat bo die normale is”—sodat ons beproewinge getrou kan verduur (2 Korintiërs 4:7). Ons hoef nie bang te wees nie, want ons is veilig in sy sorg. Solank ons ons bes doen om ons voor hom heilig te hou, sal niks ons immers ‘van God se liefde kan skei nie’.—Romeine 8:38, 39.
[Voetnote]
a Dit is die mening van party geleerdes dat die frase ‘spruit van Jehovah’ ’n verwysing is na die Messias, wat nie sou verskyn voor die herstelling van Jerusalem plaasgevind het nie. In die Aramese Targoems lees die parafrase van hierdie uitdrukking: “Die Messias [Christus] van Jehovah.” Dit is interessant dat Jeremia dieselfde Hebreeuse selfstandige naamwoord (tseʹmag) gebruik wanneer hy van die Messias praat as “’n regverdige spruit” wat vir Dawid verwek word.—Jeremia 23:5; 33:15.
b ‘Dié wat ontkom het’, het party ingesluit wat in ballingskap gebore is. Hulle kon beskou word as persone wat “ontkom” het, aangesien hulle nooit gebore sou gewees het as hulle voorouers nie die vernietiging oorleef het nie.—Esra 9:13-15; vergelyk Hebreërs 7:9, 10.
[Prent op bladsy 63]
’n Storm van Goddelike oordeel kom oor Juda