Jehovah—Ons beste Vriend
“[Abraham] is ‘Jehovah se vriend’ genoem.”—JAK. 2:23.
1. Watter vermoë het ons, aangesien ons na God se beeld geskep is?
“DIE appel val nie ver van die boom nie”, is ’n bekende gesegde. Ja, baie kinders aard na hulle ouers. En dit is te verstane, aangesien die vader sowel as die moeder tot hulle kind se genetiese erfenis bydra. Jehovah, ons hemelse Vader, is die Lewegewer (Ps. 36:9). En ons, sy mensekinders, aard in sekere mate na hom. Omdat ons na sy beeld geskep is, het ons die vermoë om te redeneer, gevolgtrekkings te maak en vriendskappe aan te knoop en te behou.—Gen. 1:26.
2. Waarop is vriendskap met Jehovah gegrond?
2 Jehovah kan ons beste Vriend wees. Hierdie vriendskap is gegrond op God se liefde vir ons en ons geloof in hom en sy Seun. Jesus het gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Daar is baie voorbeelde van persone wat ’n hegte verhouding met Jehovah gehad het. Kom ons bespreek twee hiervan.
“MY VRIEND ABRAHAM”
3, 4. Hoe was Abraham se vriendskap met Jehovah anders as sy nakomelinge se vriendskap met Hom?
3 Jehovah het na die aartsvader en voorvader van die Israeliete verwys as “my vriend Abraham” (Jes. 41:8). Waarop was daardie getroue man se blywende vriendskap met sy Skepper gegrond? Dit was Abraham se geloof.—Gen. 15:6; lees Jakobus 2:21-23.
4 Aanvanklik was Jehovah ook die Vader en Vriend van Abraham se nakomelinge wat die eertydse nasie Israel geword het. Maar ongelukkig het hulle hulle vriendskap met God verloor. Waarom? Omdat hulle nie aangehou het om geloof in Jehovah se beloftes te beoefen nie.
5, 6. (a) Hoe het Jehovah jou Vriend geword? (b) Watter vrae moet ons ons afvra?
5 Namate jy meer omtrent Jehovah leer, sal jou geloof in hom en jou liefde vir hom sterker word. Dink terug aan die tyd toe jy uitgevind het dat God ’n werklike Persoon is, iemand met wie jy ’n hegte verhouding kan opbou. Jy het geleer dat ons almal as gevolg van Adam se ongehoorsaamheid in sonde gebore is en dat die mensdom as ’n geheel van God vervreemd is (Kol. 1:21). Jy het ook geleer dat ons liefdevolle hemelse Vader nie ’n afsydige persoon is wat nie in ons belangstel nie. Toe ons geleer het dat hy Jesus as ’n losprysoffer voorsien het en geloof in hierdie voorsiening beoefen het, het ons begin om ’n vriendskap met God op te bou.
6 Wanneer ons nou terugdink, kan ons ons gerus afvra: ‘Maak ek vooruitgang in my vriendskap met God? Is my vertroue in hom sterk, en neem my liefde vir my geliefde Vriend, Jehovah, elke dag toe?’ Gideon was nog iemand van die ou tyd wat ’n hegte verhouding met Jehovah gehad het. Kom ons bespreek nou sy goeie voorbeeld en hoe ons hom kan navolg.
“JEHOVAH IS VREDE”
7-9. (a) Watter merkwaardige ondervinding het Gideon gehad, en wat was die gevolg? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Hoe kan ons Jehovah se vriend word?
7 Rigter Gideon het Jehovah gedien gedurende ’n onstuimige tydperk in Israel se geskiedenis nadat die nasie die Beloofde Land binnegegaan het. Rigters hoofstuk ses sê dat Jehovah se engel by Ofra aan Gideon verskyn het. Op daardie stadium was die naburige Midianiete ’n groot bedreiging vir Israel. Daarom het Gideon koring gedors in ’n wynpers eerder as in die oop veld, sodat hy die kosbare graan maklik kon wegsteek. Toe die engel verskyn het en hom as “sterk man” aangespreek het, was Gideon verbaas en wou hy weet of Jehovah, wat die Israeliete uit Egipte verlos het, hulle werklik sou help. Die engel het namens die Skepper gepraat en Gideon verseker dat Jehovah hom beslis sal ondersteun.
8 Gideon het gewonder hoe hy dit sou regkry om ‘Israel uit Midian se palm te red’. Hy het ’n direkte antwoord gekry: “Omdat ek met jou sal wees”, het Jehovah gesê, “sal [jy] Midian beslis verslaan asof dit een man is” (Rigt. 6:11-16). Gideon het ongetwyfeld nog steeds gewonder hoe dit gaan gebeur, en daarom het hy God vir ’n teken gevra. Uit hierdie gesprek kan ons duidelik sien dat Gideon Jehovah as ’n werklike Persoon beskou het.
9 Wat daarna gebeur het, het Gideon se geloof versterk en hom nader aan God gebring. Gideon het ’n maaltyd voorberei en dit aan die engel bedien. Toe die engel met sy staf aan die voedsel geraak het en dit wonderdadig deur vuur verteer is, het Gideon besef dat die engel inderdaad Jehovah se verteenwoordiger is. Gideon het bang geword en het uitgeroep: “Ag, Soewereine Heer Jehovah, want ek het Jehovah se engel van aangesig tot aangesig gesien!” (Rigt. 6:17-22). Maar het hierdie voorval ’n negatiewe uitwerking op Gideon se vriendskap met sy God gehad? Beslis nie! Inteendeel, Gideon het Jehovah so goed leer ken dat hy vrede met God geniet het. Ons weet dit omdat die altaar wat Gideon daar gebou het, “Jehovah-Sjalom” genoem is. Hierdie naam beteken “Jehovah is vrede”. (Lees Rigters 6:23, 24, vtn. in NW.) Wanneer ons nadink oor alles wat Jehovah elke dag vir ons doen, besef ons dat hy ’n ware Vriend is. As ons gereeld tot God bid, sal ons meer vrede geniet en sal dit ons vriendskap met hom versterk.
WIE SAL ‘’N GAS IN JEHOVAH SE TENT’ WEES?
10. Wat vereis Jehovah volgens Psalm 15:3, 5 van ons as ons sy vriend wil wees?
10 Ons moet egter aan sekere vereistes voldoen as ons wil hê dat Jehovah ons Vriend moet wees. In Psalm 15 het Dawid gesing oor wat ons moet doen as ons ‘’n gas in Jehovah se tent’, dit wil sê ’n vriend van God, wil wees (Ps. 15:1). Kom ons bespreek twee van hierdie vereistes—om laster te vermy en om eerlik te wees in alles wat ons doen. In hierdie verband het Dawid van ’n gas in Jehovah se tent gesê: “Hy het nie met sy tong gelaster nie . . . ’n Omkoopgeskenk teen die onskuldige het hy nie aanvaar nie.”—Ps. 15:3, 5.
11. Waarom moet ons niemand belaster nie?
11 In ’n ander psalm het Dawid gewaarsku: “Bewaar jou tong van wat sleg is” (Ps. 34:13). As ons nie op hierdie geïnspireerde raad ag slaan nie, sal dit ’n wig tussen ons en ons regverdige hemelse Vader indryf. Trouens, laster is ’n kenmerk van Jehovah se groot vyand, Satan. Die term “Duiwel” is afgelei van ’n Griekse woord wat “lasteraar” beteken. As ons versigtig is oor wat ons van ander sê, sal dit ons help om na aan Jehovah te bly. Dit is veral die geval wanneer dit kom by ons gesindheid teenoor aangestelde mans in die gemeente.—Lees Hebreërs 13:17; Judas 8.
12, 13. (a) Waarom moet ons in alles eerlik wees? (b) Wat kan dit tot gevolg hê wanneer ons eerlik is?
12 Eerlikheid, nie uitbuitery nie, is ook ’n kenmerk van Jehovah se knegte. Die apostel Paulus het geskryf: “Hou aan om vir ons te bid, want ons vertrou dat ons ’n eerlike gewete het, aangesien ons ons in alles eerlik wil gedra” (Heb. 13:18). Omdat ons vasbeslote is om ons ‘in alles eerlik te gedra’, maak ons nie misbruik van ons Christenbroers nie. Byvoorbeeld, as hulle sekulêre werk vir ons doen, maak ons seker dat hulle regverdig behandel word en betaal word wat ons met hulle ooreengekom het. As Christene is ons eerlik met ons werknemers en met alle ander mense. En as ons vir ’n mede-Christen werk, maak ons nie misbruik van hom deur daarop aan te dring dat ons spesiale voorregte geniet nie.
13 Mense in die wêreld wat met Jehovah se Getuies te doen het, prys hulle dikwels vir hulle eerlikheid! Byvoorbeeld, die bestuurder van ’n boumaatskappy het opgemerk dat Jehovah se Getuies hulle beloftes nakom. “Julle bly altyd by julle woord”, het hy gesê (Ps. 15:4). Sulke gedrag help ons om ons vriendskap met Jehovah te behou. Wat meer is, dit bring lof aan ons liefdevolle hemelse Vader.
HELP ANDER OM JEHOVAH SE VRIEND TE WORD
14, 15. Hoe kan ons mense in ons bediening help om Jehovah se vriend te word?
14 Al glo hulle dalk dat God bestaan, beskou baie van die mense wat ons in ons bediening ontmoet, hom nie as hulle beste Vriend nie. Hoe kan ons hulle help? Dink aan die instruksies wat Jesus aan 70 van sy dissipels gegee het toe hy hulle twee-twee uitgestuur het om te preek: “Oral waar julle in ’n huis ingaan, sê eers: ‘Mag hierdie huis vrede hê.’ En as daar ’n vriend van vrede is, sal julle vrede op hom rus. Maar so nie, sal dit na julle toe terugkeer” (Luk. 10:5, 6). Ons kan mense met ons vriendelike benadering na die waarheid aantrek. Wat teenstanders betref, kan dit help om vyandigheid teë te werk en daartoe lei dat hulle by ’n volgende geleentheid beter reageer.
15 Wanneer ons mense ontmoet wat diep betrokke is by valse godsdiens of wat onskriftuurlike gebruike volg, hou ons aan om ’n vriendelike en vreedsame gesindheid te openbaar. By ons vergaderinge verwelkom ons hartlik mense wie se ontevredenheid met ons hedendaagse samelewing by hulle ’n begeerte wek om meer te leer omtrent die God wat ons aanbid. Artikels in die reeks “Die Bybel verander lewens” voorsien ons van talle goeie voorbeelde.
ONS WERK SAAM MET ONS BESTE VRIEND
16. In watter opsig kan ons as Jehovah se vriende sowel as sy “medewerkers” beskou word?
16 Mense wat saamwerk, word dikwels hegte vriende. Almal wat aan Jehovah toegewy is, het die voorreg om as sy vriende sowel as sy “medewerkers” beskou te word. (Lees 1 Korintiërs 3:9.) Ja, wanneer ons aan die predikings- en dissipelmaakwerk deelneem, verkry ons groter insig in die wonderlike eienskappe van ons hemelse Vader. Ons sien hoe sy heilige gees ons toerus om ons opdrag uit te voer om die goeie nuus te verkondig.
17. Hoe lewer die geestelike voedsel wat ons by ons byeenkomste ontvang, bewys van die feit dat Jehovah ons Vriend is?
17 Hoe meer ons aan die dissipelmaakwerk deelneem, hoe nader voel ons aan Jehovah. Ons sien byvoorbeeld hoe Jehovah teenstanders se pogings om die predikingswerk stop te sit, in die wiele ry. Dink terug aan die afgelope paar jaar. Het ons nie duidelik gesien hoe God ons lei nie? Ons verwonder ons oor die ryk geestelike voedsel wat hy voortdurend voorsien. Ons byeenkomsprogramme toon ons Vader se liefdevolle insig in ons probleme en behoeftes. Een gesin het hulle waardering vir ’n byeenkoms soos volg in ’n brief uitgespreek: “Die program het werklik ons hart geraak. Ons kon voel hoe lief Jehovah vir elkeen van ons is en hoe graag hy wil hê dat ons suksesvol moet wees.” Nadat ’n egpaar van Duitsland ’n spesiale byeenkoms in Ierland bygewoon het, het hulle hulle waardering uitgespreek vir hoe die broers hulle hartlik verwelkom en na hulle omgesien het, en hulle het bygevoeg: “Maar ons is veral dankbaar teenoor Jehovah en sy Koning Jesus Christus. Hulle het ons genooi om deel van hierdie waarlik verenigde nasie te wees. Ons praat nie net van eenheid nie, maar ons ondervind dit elke dag. Ons ondervindinge by die spesiale byeenkoms in Dublin, sal ons altyd herinner aan die kosbare voorreg wat ons het om ons groot God saam met julle almal te dien.”
VRIENDE KOMMUNIKEER
18. Wat kan ons ons afvra in verband met ons kommunikasie met Jehovah?
18 Goeie kommunikasie versterk vriendskappe. Die gebruik van sosiale netwerke en SMS’e is baie gewild in hierdie eeu van die Internet en telekommunikasietegnologie. Maar hoe goed is ons persoonlike kommunikasie met ons beste Vriend, Jehovah? Hy is wel die “Hoorder van die gebed” (Ps. 65:2). Maar hoe dikwels neem ons die tyd om met hom te praat?
19. Watter hulp is beskikbaar as dit vir ons moeilik is om ons hart voor ons hemelse Vader uit te stort?
19 Vir party knegte van God is dit moeilik om hulle hart uit te stort en hulle diepe gevoelens uit te druk. En tog is dit wat Jehovah wil hê ons moet doen wanneer ons bid (Ps. 119:145; Klaagl. 3:41). Maar as dit vir ons moeilik is om sulke hartgrondige gevoelens in woorde uit te druk, is daar hulp beskikbaar. Paulus het aan Christene in Rome geskryf: “Ons weet nie waarvoor ons moet bid soos ons moet nie, maar die gees self pleit vir ons met onuitgesproke kreuninge. Tog weet hy wat die harte deursoek wat die bedoeling van die gees is, want dit pleit in ooreenstemming met God vir heiliges” (Rom. 8:26, 27). As ons peins oor die woorde in Bybelboeke soos Job, Psalms en Spreuke, sal dit ons help om ons diepste gevoelens teenoor Jehovah uit te spreek.
20, 21. Watter vertroosting bied Paulus se woorde in Filippense 4:6, 7?
20 Wanneer ons voor angswekkende situasies te staan kom, moet ons ag slaan op Paulus se geïnspireerde raad aan die Filippense: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word.” Sulke openhartige kommunikasie met ons beste Vriend sal beslis vir ons vertroosting meebring, want Paulus voeg by: “Die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Fil. 4:6, 7). Laat ons altyd die onvergelyklike “vrede van God” koester wat werklik ons hart en verstandelike vermoëns bewaak.
21 Gebed help ons om ’n vriendskap met Jehovah op te bou. Laat ons dus ‘onophoudelik bid’ (1 Tess. 5:17). Mag hierdie studie ons kosbare verhouding met God versterk en ons meer vasbeslote maak om aan sy regverdige vereistes te voldoen. En laat ons tyd neem om na te dink oor die seëninge wat ons geniet omdat Jehovah werklik ons Vader, ons God en ons Vriend is.