Kom nader aan God
Die beloner van almal wat hom dien
“DANKIE.” Wie hou nou nie daarvan om bedank te word vir werk wat goed gedoen is of vir ’n geskenk wat uit die hart gegee is nie? Ons wil almal voel dat ons pogings waardeer word, veral deur diegene vir wie ons lief is. Ons is natuurlik die liefste vir ons God, Jehovah. Waardeer hy ons pogings om hom te dien? Kom ons ondersoek sy handelinge met Ebed-Meleg, ’n man wat sy lewe gewaag het om een van God se profete te red.—Lees Jeremia 38:7-13 en 39:16-18.
Wie was Ebed-Meleg? Hy was blykbaar ’n amptenaar in die hof van koning Sedekia van Juda.a Ebed-Meleg was ’n tydgenoot van Jeremia, wat deur God gestuur is om ontroue Juda oor hulle komende vernietiging te waarsku. Hoewel Ebed-Meleg deur goddelose vorste omring was, was hy godvresend en het hy groot respek vir Jeremia gehad. Ebed-Meleg se godvrugtige eienskappe is op die proef gestel toe bose vorste Jeremia valslik van sedisie beskuldig het en hom in ’n modderput gegooi het waar hulle hom gelos het om te sterf (Jeremia 38:4-6). Wat sou Ebed-Meleg doen?
Ebed-Meleg het dapper en beslissend opgetree en enige vrees oorkom dat die prinse weerwraak op hom sou neem. Hy het Sedekia in die openbaar genader en beswaar gemaak teen Jeremia se onregverdige behandeling. Dalk het hy na die skuldiges gewys toe hy vir die koning gesê het: ‘Hierdie manne het sleg gehandel in wat hulle Jeremia aangedoen het’ (Jeremia 38:9). Ebed-Meleg was suksesvol en het op Sedekia se bevel 30 manne geneem en Jeremia gaan red.
Ebed-Meleg het toe nog ’n aantreklike eienskap aan die dag gelê: goedhartigheid. Hy het “verslete lappe en verslete stukke materiaal geneem en dit met toue na Jeremia . . . laat afsak”. Waarom was die lappe en materiaal nodig? Hy wou hê Jeremia moet dit onder sy armholtes sit sodat die toue hom nie te erg sou skaaf terwyl hy uit die modderput opgetrek word nie.—Jeremia 38:11-13.
Jehovah het gesien wat Ebed-Meleg gedoen het. Het Hy dit waardeer? God het deur Jeremia vir Ebed-Meleg gesê dat Juda se vernietiging op hande is. Toe het God aan Ebed-Meleg “’n vyfvoudige waarborg van redding” gegee, soos een geleerde dit noem. Jehovah het gesê: ‘Ek sal jou verlos, en jy sal nie in die hand van die manne gegee word nie. Ek sal vir seker aan jou ontkoming verskaf en jy sal nie deur die swaard val nie; en jou siel sal beslis vir jou ’n buit wees.’ Waarom het Jehovah Ebed-Meleg se veiligheid verseker? Jehovah het vir hom gesê: “Omdat jy op my vertrou het” (Jeremia 39:16-18). Jehovah het geweet dat Ebed-Meleg nie net opgetree het omdat hy besorg was oor Jeremia nie, maar ook omdat hy vertroue en geloof in God gehad het.
Die les is duidelik: Jehovah waardeer wat ons in sy diens doen. Die Bybel verseker ons dat hy selfs die kleinste daad van aanbidding onthou wat uit ’n hart vol liefde voortspruit (Markus 12:41-44). Wil jy nader aan hierdie waarderende God kom? Indien wel, kan jy seker wees dat hy in ooreenstemming sal optree met hoe hy in sy Woord beskryf word: “Hy [is] die beloner . . . van dié wat hom ernstig soek.”—Hebreërs 11:6.
Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Mei:
[Voetnoot]
a Ebed-Meleg word “’n eunug” genoem (Jeremia 38:7). Hoewel hierdie woord letterlik verwys het na ’n ontmande persoon, is dit in ’n breër sin ook gebruik om te verwys na enige amptenaar aan wie pligte in die koninklike hof gegee is.