‘Watter soort mense behoort julle te wees!’
“Aangesien al hierdie dinge so tot niet gemaak gaan word, watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid!”—2 PET. 3:11.
1. Waarom was Petrus se tweede brief ’n tydige aansporing vir Christene in sy dag?
TOE die apostel Petrus sy tweede geïnspireerde brief geskryf het, het die Christengemeente reeds baie vervolging verduur, maar dit het nie die ywer daarvan gedemp of die groei daarvan belemmer nie. Die Duiwel het dus ’n ander taktiek gebruik, een waarmee hy al dikwels sukses gehad het. Soos Petrus toon, het Satan God se volk probeer verderf deur middel van valse onderrigters met “oë wat vol egbreuk is” en “’n hart wat geoefen is in hebsug” (2 Pet. 2:1-3, 14; Jud. 4). Gevolglik is Petrus se tweede brief ’n opregte aansporing tot getrouheid.
2. Waarop vestig 2 Petrus hoofstuk 3 die aandag, en watter vrae moet ons ons afvra?
2 Petrus het geskryf: “Ek ag dit reg, solank ek in hierdie tabernakel is, om julle deur herinnering op te wek, aangesien ek weet dat die aflegging van my tabernakel op hande is . . . Daarom sal ek ook te alle tye my uiterste bes doen sodat julle ná my vertrek self van hierdie dinge melding kan maak” (2 Pet. 1:13-15). Ja, Petrus het geweet dat sy dood naby was, maar hy wou hê dat sy tydige herinneringe moet voortleef. En dit het ook, want dit het deel van die Bybel geword en kan vandag deur ons almal gelees word. Hoofstuk 3 van Petrus se tweede brief is vir ons van besondere belang, want dit vestig die aandag op “die laaste dae” van die teenswoordige stelsel van dinge en op die vernietiging van die figuurlike hemele en aarde (2 Pet. 3:3, 7, 10). Watter raad het Petrus vir ons? Hoe sal die toepassing van sy raad ons help om Jehovah se goedkeuring waardig te wees?
3, 4. (a) Watter kragtige stelling het Petrus gemaak, en watter waarskuwing het hy gegee? (b) Watter drie gedagtes gaan ons bespreek?
3 Nadat Petrus die vernietiging van Satan se wêreld gemeld het, het hy gesê: “Watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid!” (2 Pet. 3:11, 12). Hy het klaarblyklik hier nie ’n vraag gestel nie, maar het ’n kragtige stelling gemaak, ’n uitroep. Petrus het geweet dat net diegene wat Jehovah se wil doen en godvrugtige eienskappe aan die dag lê, bewaar sal word deur die komende “dag van . . . wraak” (Jes. 61:2). Gevolglik het die apostel bygevoeg: “Geliefdes, aangesien julle hierdie voorkennis het, moet julle op julle hoede wees dat julle nie saam met hulle [valse onderrigters] deur die dwaling van die wettrotserende mense weggelei word en van julle eie standvastigheid wegval nie.”—2 Pet. 3:17.
4 Aangesien Petrus onder diegene was wat “voorkennis” gehad het, het hy geweet dat Christene in die laaste dae in besondere mate op hulle hoede sal moet wees om hulle onkreukbaarheid te handhaaf. Later het die apostel Johannes verduidelik waarom. Hy het vooruitgesien hoe Satan uit die hemel gewerp word, asook sy “groot toorn” teen diegene “wat die gebooie van God bewaar en die werk het om van Jesus te getuig” (Op. 12:9, 12, 17). God se lojale gesalfde knegte sal saam met hulle getroue metgeselle, die “ander skape”, seëvier (Joh. 10:16). Maar wat van ons as individue? Sal ons ons onkreukbaarheid handhaaf? Ons sal gehelp word om dit te doen as ons probeer om (1) godvrugtige eienskappe aan te kweek, (2) sedelik en geestelik vlekkeloos en smetloos te bly en (3) die regte beskouing van beproewinge te hê. Kom ons bespreek hierdie gedagtes.
Kweek godvrugtige eienskappe aan
5, 6. Watter eienskappe moet ons probeer aankweek, en waarom verg dit “ywerige inspanning”?
5 Vroeg in sy tweede brief het Petrus geskryf: “Deur in reaksie hierop alle ywerige inspanning by te dra, [moet julle] by julle geloof deug voeg, by julle deug kennis, by julle kennis selfbeheersing, by julle selfbeheersing volharding, by julle volharding godvrugtige toegewydheid, by julle godvrugtige toegewydheid broederlike geneentheid, by julle broederlike geneentheid liefde. Want as hierdie dinge in julle bestaan en oorvloedig is, sal dit verhoed dat julle onbedrywig of onvrugbaar word met betrekking tot die juiste kennis van ons Here Jesus Christus.”—2 Pet. 1:5-8.
6 Dit verg weliswaar “ywerige inspanning” om aan bedrywighede deel te neem wat ons help om godvrugtige eienskappe aan te kweek. Dit verg byvoorbeeld inspanning om alle Christelike vergaderinge by te woon, om die Bybel elke dag te lees en om met ’n goeie program van persoonlike studie vol te hou. En dit verg dalk harde werk en goeie beplanning om ’n gereelde, genotvolle en betekenisvolle aand vir Gesinsaanbidding te hê. Maar as ons eers in ’n goeie roetine gekom het, word goeie gewoontes makliker—veral wanneer ons die voordele sien.
7, 8. (a) Wat het party oor die aand vir Gesinsaanbidding gesê? (b) Hoe vind jy baat by julle gesinsaanbidding?
7 Aangaande die reëling vir gesinsaanbidding skryf ’n suster: “Dit gee ons die geleentheid om oor soveel onderwerpe te leer.” ’n Ander een sê: “In alle eerlikheid wou ek nie hê dat die boekstudie tot ’n einde moes kom nie. Dit was my gunstelingvergadering. Maar nou, wanneer ons ons aand vir Gesinsaanbidding het, besef ek dat Jehovah weet wat ons nodig het en wanneer ons dit nodig het.” ’n Gesinshoof sê: “Gesinsaanbidding help ons baie. ’n Vergadering wat by ons spesifieke behoeftes as ’n egpaar aangepas is, is wonderlik! Ons voel albei dat ons die vrug van die heilige gees in groter mate openbaar, en ons put meer vreugde as ooit uit ons bediening.” ’n Ander gesinshoof sê: “Die kinders doen hulle eie navorsing en leer baie—en hulle geniet dit. Die reëling gee ons selfs meer vertroue dat Jehovah weet waaroor ons besorg is en dat hy ons gebede verhoor.” Weerspieël hierdie kommentare hoe jy hierdie wonderlike geestelike voorsiening beskou?
8 Moenie toelaat dat onbelangrike dinge inbreuk maak op gesinsaanbidding nie. ’n Egpaar het gesê: “Die afgelope vier weke het daar elke Donderdagaand iets in ons gesin gebeur wat amper gekeer het dat ons ons studie hou, maar ons het nie toegelaat dat dit ons keer nie.” Julle sal natuurlik soms julle rooster moet aanpas. Maar wees vasbeslote om nie julle aand vir Gesinsaanbidding te kanselleer nie—nie eers vir een week nie!
9. Hoe het Jehovah vir Jeremia onderskraag, en wat kan ons uit sy voorbeeld leer?
9 Die profeet Jeremia is ’n goeie voorbeeld vir ons. Hy het die geestelike voedsel wat Jehovah hom gegee het, nodig gehad en dit opreg waardeer. Hierdie voeding het hom in staat gestel om met volharding vir ’n onontvanklike volk te preek. “Die woord van Jehovah [was] soos ’n brandende vuur, opgesluit in my gebeente”, het hy gesê (Jer. 20:8, 9). Dit het hom ook gehelp om die moeilike tye te verduur wat ’n klimaks bereik het in die vernietiging van Jerusalem. Ons het vandag die volledige geskrewe Woord van God. Wanneer ons dit ywerig bestudeer en God se gedagtes ons eie maak, sal ons, soos Jeremia, vreugdevol in die bediening kan volhard, getrou kan bly tydens beproewinge en sedelike en geestelike reinheid kan handhaaf.—Jak. 5:10.
Bly “vlekkeloos en smetloos”
10, 11. Waarom moet ons ons uiterste bes doen om “vlekkeloos en smetloos” te bly, en wat verg dit van ons?
10 As Christene weet ons dat ons in die tyd van die einde lewe. Ons is dus nie verbaas dat die wêreld behep geraak het met dinge wat Jehovah verafsku, soos gierigheid, seksuele verdorwenheid en geweld nie. Satan se strategie kan soos volg opgesom word: ‘As God se knegte nie banggemaak kan word nie, kan hulle dalk verderf word’ (Op. 2:13, 14). Gevolglik moet ons ag slaan op Petrus se liefdevolle vermaning: “Julle [moet] julle uiterste bes doen om uiteindelik deur [God] vlekkeloos en smetloos en in vrede bevind te word.”—2 Pet. 3:14.
11 Die uitdrukking ‘doen julle uiterste bes’ is soortgelyk aan Petrus se vroeëre vermaning om “alle ywerige inspanning” by te dra. Jehovah—die een wat Petrus geïnspireer het om hierdie gedagtes uit te spreek—weet ongetwyfeld dat ons ons moet inspan om “vlekkeloos en smetloos” te bly, onbesoedel deur die verdorwenheid van Satan se wêreld. Om ons in te span, sluit in dat ons ons hart beskerm sodat dit nie deur verkeerde begeertes oorweldig word nie. (Lees Spreuke 4:23; Jakobus 1:14, 15.) Dit sluit ook in dat ons vasstaan teen diegene wat ons Christelike lewenswyse vreemd vind en wat ‘aanhou om ons te smaad’.—1 Pet. 4:4.
12. Watter versekering vind ons in Lukas 11:13?
12 Omdat ons onvolmaak is, is dit moeilik om te doen wat reg is (Rom. 7:21-25). Ons kan alleenlik hoop om suksesvol te wees as ons ons tot Jehovah wend, wat heilige gees mildelik gee aan dié wat hom opreg daarvoor vra (Luk. 11:13). Daardie gees laat op sy beurt eienskappe in ons na vore kom wat God se goedkeuring waardig is en wat ons help om nie net die versoekings van die lewe nie, maar ook die beproewinge daarvan te bowe te kom, wat heel waarskynlik sal toeneem namate Jehovah se dag nader kom.
Laat beproewinge jou versterk
13. Wat sal ons help om te volhard wanneer ons voor beproewinge in ons lewe te staan kom?
13 Solank ons in hierdie ou stelsel van dinge lewe, is beproewinge van die een of ander aard onvermydelik. Maar pleks van mismoedig te raak, moet jy beproewinge eerder beskou as ’n geleentheid om jou liefde vir God te bevestig en om jou geloof in hom en sy Woord te versterk. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle allerhande beproewinge teëkom, aangesien julle weet dat hierdie beproefde hoedanigheid van julle geloof volharding bewerk” (Jak. 1:2-4). Onthou ook dat “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos”.—2 Pet. 2:9.
14. Hoe moedig Josef se voorbeeld jou aan?
14 Dink aan die voorbeeld van Jakob se seun Josef, wat deur sy eie broers as ’n slaaf verkoop is (Gen. 37:23-28; 42:21). Het Josef sy geloof verloor as gevolg van daardie wrede daad? Het hy verbitterd geword teen God omdat Hy toegelaat het dat hy hierdie bose ding oorkom? God se Woord antwoord duidelik nee! Wat meer is, dit was nie die einde van Josef se beproewinge nie. Later is hy vals beskuldig van ’n poging tot verkragting en is hy in die tronk gestop. Maar hy het weer eens nooit gewankel in sy godvrugtige toegewydheid nie (Gen. 39:9-21). Hy het eerder toegelaat dat beproewinge hom versterk, en hy is ryklik beloon hiervoor.
15. Wat kan ons uit die voorbeeld van Naomi leer?
15 Toegegee, beproewinge kan ons hartseer en selfs terneergedruk laat voel. Josef het moontlik soms so gevoel. Ander getroue knegte van God het beslis so gevoel. Dink aan Naomi, wat haar man sowel as haar twee seuns verloor het. “Moet my nie Naomi noem nie”, het sy gesê. “Noem my Mara [wat “Bitter” beteken], want die Almagtige het dit vir my baie bitter gemaak” (Rut 1:20, 21). Naomi se reaksie was natuurlik en verstaanbaar. Maar, soos Josef, het sy nie geestelik gestruikel of in haar onkreukbaarheid gewankel nie. Op sy beurt het Jehovah hierdie geliefde vrou beloon (Rut 4:13-17, 22). Wat meer is, in die komende aardse Paradys sal hy al die skade ongedaan maak wat deur Satan en sy goddelose wêreld aangerig is. “Die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie.”—Jes. 65:17.
16. Wat moet ons gesindheid wees teenoor gebed, en waarom?
16 Ongeag watter beproewinge ons ondervind, God se liefde is daar om ons te onderskraag. (Lees Romeine 8:35-39.) Al sal Satan nie ophou om ons te probeer ontmoedig nie, sal hy onsuksesvol wees as ons “gesond van verstand” en “waaksaam met die oog op gebede” bly (1 Pet. 4:7). Jesus het gesê: “Bly dus wakker en doen te alle tye smeekbedes dat julle daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur en om voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Let op Jesus se gebruik van die woord “smeekbedes”, wat ’n baie ernstige vorm van gebed is. Deur ons aan te moedig om smeekbedes te doen, het Jesus beklemtoon dat dit nie nou die tyd is om ongeërg te wees oor ons posisie voor hom en sy Vader nie. Net dié wat ’n goedgekeurde posisie het, sal die vooruitsig hê om Jehovah se dag te oorleef.
Bly bedrywig in Jehovah se diens
17. Hoe kan jy by die goeie voorbeeld van die profete van ouds baat vind as die gebied waar jy getuig moeilik is?
17 Deelname aan geestelike bedrywighede verkwik ons. Dit laat ons dink aan Petrus se woorde: “Watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid!” (2 Pet. 3:11). Die belangrikste van hierdie dade is die verkondiging van die goeie nuus (Matt. 24:14). Toegegee, in party gebiede kan die predikingswerk ’n uitdaging wees, moontlik weens onverskilligheid of teenstand of bloot omdat mense besig gehou word deur die alledaagse sake van die lewe. Jehovah se knegte van ouds het met soortgelyke gesindhede te kampe gehad. Nogtans het hulle nooit moed opgegee nie, maar hulle het “keer op keer” teruggegaan met hulle godgegewe boodskap (Lees 2 Kronieke 36:15, 16; Jer. 7:24-26). Wat het hulle gehelp om te volhard? Hulle het Jehovah se beskouing van hulle toewysing gehad, nie die wêreld s’n nie. Hulle het dit ook as die grootste eer beskou om God se naam te dra.—Jer. 15:16.
18. Hoe hou die Koninkrykspredikingswerk verband met die toekomstige verheerliking van God se naam?
18 Ons het ook die voorreg om Jehovah se naam en voorneme bekend te maak. Dink hieraan: As ’n direkte gevolg van ons predikingswerk sal God se vyande nie onkunde as ’n verskoning kan gebruik wanneer hulle gedurende sy groot dag van aangesig tot aangesig met hom kom nie. Ja, soos Farao van ouds, sal hulle weet dat dit Jehovah is wat teen hulle optree (Eks. 8:1, 20; 14:25). Terselfdertyd sal Jehovah sy getroue knegte eer deur dit heeltemal duidelik te maak dat hulle inderdaad sy verteenwoordigers is.—Lees Esegiël 2:5; 33:33.
19. Hoe kan ons toon dat ons Jehovah se geduld goed wil benut?
19 Kort voor die einde van sy tweede brief het Petrus aan sy medegelowiges geskryf: “Beskou die geduld van ons Here as redding” (2 Pet. 3:15). Ja, laat ons voortgaan om Jehovah se geduld goed te benut. Hoe? Deur eienskappe aan te kweek wat hom behaag, deur “vlekkeloos en smetloos” te bly, deur die regte gesindheid teenoor beproewinge te hê en deur besig te bly in Koninkryksdiens. As ons dit doen, kom ons in aanmerking vir die eindelose seëninge wat met die ‘nuwe hemele en nuwe aarde’ gepaardgaan.—2 Pet. 3:13.
Onthou jy?
• Hoe kan ons godvrugtige eienskappe aankweek?
• Hoe kan ons “vlekkeloos en smetloos” bly?
• Wat kan ons by Josef en Naomi leer?
• Waarom is dit ’n groot voorreg om aan die predikingswerk deel te neem?
[Prent op bladsy 9]
Wat sal julle as mans help om godvrugtige eienskappe in julle en julle gesin te kweek?
[Prente op bladsy 10]
Wat kan ons leer uit die manier waarop Josef beproewinge te bowe gekom het?