Gelukkig om op Jehovah te wag
HET jy al ooit vrugte geëet wat nog groen is? Die smaak het jou ongetwyfeld teleurgestel. Vrugte het tyd nodig om ryp te word, en dit is beslis die moeite werd om daarvoor te wag. Daar is ook ander omstandighede waaronder dit lonend is om te wag. “Dit is goed dat ’n mens wag, ja, in stilte, op die redding van Jehovah”, sê die Bybel (Klaagliedere 3:26; Titus 2:13). Hoe moet Christene op Jehovah wag? Hoe kan ons daarby baat vind om op hom te wag?
Wat behels dit om op God te wag?
As Christene ‘verwag ons die teenwoordigheid van die dag van Jehovah en hou ons dit goed in gedagte’. Ons sien uit na verligting wanneer hy die “vernietiging van die goddelose mense” bring (2 Petrus 3:7, 12). Jehovah is self gretig om ’n einde te maak aan alle boosheid, maar hy beoefen selfbeheersing sodat hy die redding van Christene kan teweegbring op ’n manier wat sy naam sal verheerlik. Die Bybel sê: “God [het], hoewel hy sy gramskap wil toon en sy krag bekend wil maak, voorwerpe van gramskap, wat vir vernietiging geskik gemaak is, met groot lankmoedigheid geduld . . . , sodat hy die rykdom van sy heerlikheid oor voorwerpe van barmhartigheid bekend kon maak” (Romeine 9:22, 23). Net soos in Noag se dag weet Jehovah wat die regte tyd is om sy hedendaagse knegte te red (1 Petrus 3:20). Om op God te wag, behels dus dat ons wag vir sy tyd om op te tree.
Terwyl ons op Jehovah se dag wag, ontstel dit ons dalk soms om te sien hoe die sedelike standaarde van die wêreld om ons al hoe laer daal. Op sulke tye is dit goed om na te dink oor die woorde wat God se profeet Miga geskryf het: “Die lojale het van die aarde af vergaan, en onder die mensdom is daar geen regskapene nie.” Toe het hy bygevoeg: “Wat my betref, na Jehovah sal ek op die uitkyk bly. Ek sal ’n wagtende houding teenoor die God van my redding inneem” (Miga 7:2, 7). Wat is die “wagtende houding” wat ons moet aankweek? Hoe kan ons vreugde vind terwyl ons op God wag, aangesien dit dikwels frustrerend is om te wag?
Gelukkig terwyl ons wag
Ons kan die regte gesindheid by Jehovah leer. Hy was nog altyd “die gelukkige God” (1 Timoteus 1:11). Hy is gelukkig terwyl hy wag, want hy hou aan werk ter vervulling van sy voorneme om mense wat hom liefhet, tot die volmaaktheid te verhef wat hy vir die mens in gedagte gehad het toe hy hulle geskep het (Romeine 5:12; 6:23). Hy sien dat sy werk aangename resultate oplewer—miljoene mense is al na ware aanbidding aangetrek. Jesus het gesê: “My Vader het tot nou toe aangehou werk, en ek hou aan werk” (Johannes 5:17). As ’n mens gelukkig wil wees, is dit noodsaaklik om dinge vir ander te doen (Handelinge 20:35). Ware Christene is eweneens nie ledig terwyl hulle wag nie. Hulle hou eerder aan werk om ander van God se voorneme vir die mens te leer.
Getroue mense was nog altyd tevrede om God te loof terwyl hulle wag vir sy tyd om op te tree. Dink aan die psalmis Dawid se voorbeeld. Dawid se koning het hom vervolg, ’n intieme metgesel het hom verraai en sy seun het teen hom gedraai. Kon Dawid, onder elkeen van hierdie omstandighede, gelukkig wees terwyl hy gewag het dat verligting op Jehovah se bestemde tyd kom? Psalm 71, wat klaarblyklik deur Dawid geskryf is, sê: “Wat my betref, ek sal voortdurend wag, en ek sal al u lof vermeerder. My mond sal u regverdigheid verkondig, die hele dag u redding” (Psalm 71:14, 15). Dawid was nie gefrustreerd terwyl hy gewag het nie, maar het eerder vreugdevol gebly omdat hy hom daarmee besig gehou het om Jehovah te loof en ander in ware aanbidding te versterk.—Psalm 71:23.
Om op Jehovah te wag, is nie frustrerend soos wanneer ’n mens op ’n bus wat laat is, sit en wag nie. Dit is eerder soos die vreugdevolle gewag van ouers terwyl hulle kind in ’n volwassene ontwikkel waarop hulle trots kan wees. Die jare is gevul met bedrywighede—opleiding, onderrigting en dissipline—wat alles daarop gemik is om die verlangde resultaat te bereik. Ons wat op Jehovah wag, vind eweneens geluk deur ander te help om nader aan God te kom. Ons wil ook God se goedkeuring en, uiteindelik, redding verkry.
Ons gee nie moed op nie
Om op Jehovah te wag, impliseer dat ons voortgaan om hom lief te hê en te dien sonder om moed op te gee. Dit kan ’n uitdaging wees. Baie van God se knegte woon vandag in gemeenskappe waar mense enigiemand bespot wie se lewe op geloof in God se beloftes gegrond is. Dink egter aan die voorbeeld van getroue Israeliete wat hulle hoop lewend gehou het gedurende hulle 70 jaar van Babiloniese ballingskap. Wat het hulle gehelp om dit te doen? Dit het hulle ongetwyfeld versterk om die psalms te lees. Een bemoedigende psalm wat moontlik reeds teen daardie tyd geskryf was, sê: “Op sy woord het ek gewag. My siel het op Jehovah gewag, meer as wagte op die oggend, wat uitsien na die oggend. Laat Israel op Jehovah bly wag.”—Psalm 130:5-7.
Die Jode wat hulle hoop lewend gehou het deur daaroor te lees en te praat, is beloon toe Babilon uiteindelik deur invallers verower is. Duisende getroue Jode het gou na Jerusalem gereis. Aangaande daardie tyd is daar geskryf: “Toe Jehovah die gevangenes van Sion laat terugkeer het, . . . is ons mond met gelag gevul” (Psalm 126:1, 2). Daardie Jode het nie moed opgegee nie, maar het voortgegaan om hulle geloof te versterk. En hulle het nooit opgehou om Jehovah se lof te besing nie.
Ware Christene wat gedurende “die voleinding van die stelsel van dinge” op God wag, span hulle eweneens voortdurend in om hulle geloof lewend te hou. Hulle bestudeer God se Woord, bemoedig mekaar en hou aan om Jehovah te loof deur die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig.—Matteus 24:3, 14.
Wag en vind baat by dissipline
God se profeet Jeremia het geskryf: “Dit is goed dat ’n mens wag, ja, in stilte, op die redding van Jehovah” (Klaagliedere 3:26). Jeremia het bedoel dat dit vir God se volk goed sal wees om nie te kla oor die manier waarop Jehovah hulle gedissiplineer het toe hy toegelaat het dat Jerusalem vernietig word nie. Hulle moes eerder by die ondervinding baat vind deur na te dink oor hulle ongehoorsaamheid en die feit dat hulle hulle gesindheid moet verander.—Klaagliedere 3:40, 42.
Die manier waarop ons baat vind by dissipline van Jehovah, kan vergelyk word met die manier waarop vrugte ryp word. Die Bybel sê dat dissipline van God ‘vir dié wat daardeur geoefen is, vreedsame vrug oplewer, naamlik regverdigheid’ (Hebreërs 12:11). Net soos vrugte tyd nodig het om ryp te word, is tyd nodig sodat ons ons gesindhede kan verander in reaksie op die opleiding wat God voorsien. As ons byvoorbeeld weens wangedrag die een of ander voorreg in die gemeente verloor, sal ons gewilligheid om op God te wag, keer dat ons mismoedig raak en moed opgee. In sulke omstandighede is die geïnspireerde woorde van Dawid bemoedigend: “Om onder [God se] toorn te wees, is vir ’n oomblik, om onder sy welwillendheid te wees, is lewenslank. In die aand kan gehuil sy intrek neem, maar in die oggend is daar vreugdegeroep” (Psalm 30:5). As ons ’n wagtende houding aankweek en die raad toepas wat ons van God se Woord en sy organisasie ontvang, sal ons tyd van “vreugdegeroep” kom.
Dit neem tyd om tot volwassenheid te groei
As jy jonk is of onlangs gedoop is, is jy dalk gretig om verantwoordelikhede in die Christengemeente te hê. Maar dit neem tyd om die geestelike volwassenheid te ontwikkel wat nodig is om sulke verantwoordelikhede te dra. Maak dus gebruik van jou vroeë jare om as ’n geestelike persoon te groei. Jou jeug is byvoorbeeld ’n goeie tyd om die Bybel deur te lees, Christelike eienskappe aan te kweek en die kuns te ontwikkel om dissipels te maak (Prediker 12:1). As jy nederig ’n wagtende houding openbaar, sal Jehovah se tyd wel aanbreek vir jou om meer verantwoordelikhede te geniet.
Die dissipelmaakwerk vereis ook geduld. Net soos die boer moet bly natgooi totdat God die saad laat groei, so is dit met die werk om dissipels te maak (1 Korintiërs 3:7; Jakobus 5:7). Om geloof en waardering vir Jehovah in die harte van ander op te bou, verg maande of selfs jare van geduldige Bybelstudie. Om op Jehovah te wag, behels volharding, selfs as studente aanvanklik nie reageer op wat hulle leer nie. As hulle ten minste ’n mate van waardering toon, kan dit ’n teken wees dat hulle op Jehovah se gees reageer. Met geduld kan jy dalk die vreugde smaak om te sien hoe Jehovah jou student tot ’n dissipel van Christus laat groei.—Matteus 28:20.
Om te wag—’n blyk van liefde
Om toe te lig hoe dit ’n blyk van liefde en vertroue kan wees om te wag, beskou die voorbeeld van ’n bejaarde suster wat in ’n woestynstreek van die Andes, in Suid-Amerika, woon. Sy en ’n geestelike suster is die enigste Getuies van Jehovah in hulle dorpie. Kan jy jou voorstel met hoeveel opgewondenheid hulle op die besoeke van mede-Christene wag? Eenkeer het ’n reisende opsiener wat hulle die eerste keer sou besoek, op pad daarheen verdwaal. Hy moes teruggaan met die pad waarlangs hy gereis het en was ’n paar uur laat. Dit was lank ná middernag toe hy uiteindelik die dorpie in die verte sien. Aangesien daar geen elektrisiteit in die gebied was nie, was hy verbaas om ’n lig te sien skyn. Hoe bly was hy tog toe hy uiteindelik by die dorpie kom en sien dat dit die lig van ’n olielamp is wat die bejaarde suster omhoog gehou het! Sy was seker dat hy sou kom, en daarom het sy gewag.
Dit verskaf ons vreugde om met soortgelyke geduld op Jehovah te wag. Ons is seker dat hy sy belofte sal hou. En soos daardie reisende opsiener, waardeer ons diegene wat liefdevol op ons wag. Dit is dus nie verbasend nie dat God diegene waardeer wat op hom wag. Die Bybel sê: “Jehovah het behae . . . in dié wat op sy liefderyke goedhartigheid wag.”—Psalm 147:11.
[Prent op bladsy 18]
Mense wat hulle daarmee besig hou om God te loof, put vreugde daaruit om op Jehovah te wag