Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Esegiël—II
DIT is Desember 609 v.G.J. Die Babiloniese koning het sy laaste beleg van Jerusalem begin. Tot dusver het Esegiël se boodskap aan die ballinge in Babilon om een tema gedraai: die val en vernietiging van hulle geliefde stad, Jerusalem. Maar nou verander die onderwerp van Esegiël se profesieë na die ondergang van die heidense nasies wat hulle sal verheug oor die rampspoed wat God se volk tref. Wanneer Jerusalem 18 maande later val, kry Esegiël se boodskap weer eens ’n nuwe tema: die glorieryke herstel van ware aanbidding.
Esegiël 25:1–48:35 bevat profesieë oor die nasies rondom Israel en die verlossing van God se volk.a Met die uitsondering van Esegiël 29:17-20 word die verslag chronologies sowel as volgens onderwerp aangebied. Dié vier verse pas egter by die onderwerp onder bespreking. As deel van die geïnspireerde Skrif bevat die boek Esegiël ’n boodskap wat ‘lewend is en krag uitoefen’.—Hebreërs 4:12.
‘DAARDIE LAND SAL SOOS DIE TUIN VAN EDEN WORD’
Omdat Jehovah vooruitsien hoe Ammon, Moab, Edom, Filistea, Tirus en Sidon op die val van Jerusalem sal reageer, laat hy Esegiël teen hulle profeteer. Egipte gaan geplunder word. ‘Farao, die koning van Egipte, en sy menigte’ word vergelyk met ’n seder wat deur “die swaard van die koning van Babilon” afgekap sal word.—Esegiël 31:2, 3, 12; 32:11, 12.
Omtrent ses maande ná die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. kom vertel iemand wat ontkom het vir Esegiël: “Die stad is verslaan!” Die profeet is “nie meer stom” voor die ballinge nie (Esegiël 33:21, 22). Hy het herstellingsprofesieë om bekend te maak. Jehovah “sal een herder oor hulle verwek, [sy] kneg Dawid” (Esegiël 34:23). Edom sal verwoes word, maar “die land daar”, Juda, sal “soos die tuin van Eden” word (Esegiël 36:35). Jehovah belowe om sy herstelde volk teen die aanval van “Gog” te beskerm.—Esegiël 38:2.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
29:8-12—Wanneer was Egipte 40 jaar lank verlate? Ná die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. het die oorblyfsel van Juda na Egipte gevlug ondanks die profeet Jeremia se waarskuwing (Jeremia 24:1, 8-10; 42:7-22). Dit het nie aan hulle ontkoming verskaf nie, want Nebukadnesar het teen Egipte opgetrek en dit verower. Die 40 jaar waartydens Egipte verlate was, het moontlik op hierdie verowering gevolg. Hoewel die sekulêre geskiedenis geen bewyse verskaf van hierdie verlate toestand nie, kan ons seker wees dat dit wel plaasgevind het, want Jehovah is die Vervuller van profesie.—Jesaja 55:11.
29:18—Hoe is ‘elke kop kaal gemaak en elke skouer deurgeskaaf’? Die beleëring van Tirus op die vasteland was so intensief en moeilik dat die koppe van Nebukadnesar se soldate kaalgeskaaf is deur hulle helms en hulle skouers deurgeskaaf is as gevolg van die boumateriaal wat hulle aangedra het vir torings en verskansings.—Esegiël 26:7-12.
Lesse vir ons:
29:19, 20. Omdat die Tiriërs met baie van hulle rykdom na hulle eilandstad ontsnap het, was daar nie veel wat koning Nebukadnesar in Tirus kon buitmaak nie. Hoewel Nebukadnesar ’n trotse, egosentriese heidense heerser was, het Jehovah hom vir sy diens vergoed deur Egipte aan hom te gee as “die loon vir sy krygsmag”. Moet ons nie die ware God navolg deur belasting aan die regerings te betaal vir die dienste wat hulle ten behoewe van ons lewer nie? Nóg die gedrag van sekulêre owerhede nóg die manier waarop die belasting gebruik word, onthef ons van hierdie verpligting.—Romeine 13:4-7.
33:7-9. Die hedendaagse wagklas—die gesalfde oorblyfsel—en hulle metgeselle moet nooit aarsel om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en mense te waarsku van die komende “groot verdrukking” nie.—Matteus 24:21.
33:10-20. Ons redding hang daarvan af dat ons slegte weë laat vaar en aan God se vereistes voldoen. Ja, Jehovah se weg is “regverdig”.
36:20, 21. Die Israeliete het God se naam onder die nasies ontheilig omdat hulle nie geleef het soos wat daar van “die volk van Jehovah” verwag is nie. Ons moet nooit net in naam aanbidders van Jehovah wees nie.
36:25, 37, 38. Die geestelike paradys wat ons vandag geniet, is gevul met “’n kudde heilige mense”. Daarom moet ons daarna streef om dit rein te hou.
38:1-23. Hoe gerusstellend is dit tog om te weet dat Jehovah sy volk sal red van die aanval van Gog van die land Magog! Gog is die naam wat aan “die heerser van hierdie wêreld”, Satan die Duiwel, gegee is nadat hy uit die hemel gewerp is. Die land Magog verwys na die omgewing van die aarde, waartoe Satan en sy demone beperk is.—Johannes 12:31; Openbaring 12:7-12.
“RIG JOU HART OP ALLES WAT EK JOU WYS”
Dit is die 14de jaar nadat die stad Jerusalem verslaan is (Esegiël 40:1). Ses-en-vyftig jaar van ballingskap lê nog voor (Jeremia 29:10). Esegiël is nou byna 50 jaar oud. Hy word in ’n visioen na die land Israel gebring. Daar word vir hom gesê: “Mensekind, kyk met jou oë en hoor met jou ore en rig jou hart op alles wat ek jou wys” (Esegiël 40:2-4). Hoe opwindend moet dit tog vir Esegiël wees om ’n visioen van ’n nuwe tempel te ontvang!
Die glorieryke tempel wat Esegiël sien, het 6 poorte, 30 eetkamers, die Heilige, die Allerheiligste, ’n houtaltaar en ’n brandofferaltaar. ’n Straaltjie water, wat later ’n stroom word, ‘vloei uit’ die tempel (Esegiël 47:1). Esegiël ontvang ook ’n visioen van die verdeling van die land onder die stamme—elke toegemete deel strek van oos na wes met ’n administratiewe strook tussen die toegemete dele van Juda en Benjamin. “Die heiligdom van Jehovah” en “die stad” met die naam Jehovah-Sjamma is in hierdie strook geleë.—Esegiël 48:9, 10, 15, 35, voetnoot in NW.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
40:3–47:12—Wat word deur die tempel in die visioen afgebeeld? Hierdie tempel met sy ontsaglike afmetings wat deur Esegiël in die visioen gesien is, is nooit werklik gebou nie. Dit het God se geestelike tempel afgebeeld—sy tempelagtige reëling vir rein aanbidding in ons dag (Esegiël 40:2; Miga 4:1; Hebreërs 8:2; 9:23, 24). Die tempelvisioen word gedurende “die laaste dae” vervul, wanneer die priesterdom gelouter word (2 Timoteus 3:1; Esegiël 44:10-16; Maleagi 3:1-3). Maar ’n finale vervulling daarvan vind in die Paradys plaas. Die tempel in die visioen het die Joodse ballinge egter van ’n belofte voorsien dat rein aanbidding herstel sou word en dat elke Joodse familie ’n erfdeel in die land sou hê.
40:3–43:17—Wat beteken dit dat die tempel gemeet is? Die tempel is gemeet as ’n teken dat Jehovah se voorneme in verband met rein aanbidding beslis vervul sal word.
43:2-4, 7, 9—Wat was “die lyke van hulle konings” wat uit die tempel verwyder moes word? Die lyke het klaarblyklik na afgode verwys. Jerusalem se heersers en die volk het God se tempel met afgode besoedel—en hulle in werklikheid hulle konings gemaak.
43:13-20—Wat word gesimboliseer deur die altaar wat Esegiël in die visioen gesien het? Die simboliese altaar stel God se wil voor in verband met Jesus Christus se losprysoffer. As gevolg van hierdie voorsiening word die gesalfdes regverdig verklaar en is die “groot menigte” skoon en rein in God se oë (Openbaring 7:9-14; Romeine 5:1, 2). Dit is moontlik waarom “die gegote see” van Salomo se tempel—’n groot waterkom wat die priesters gebruik het om in te was—nie in die tempel van die visioen is nie.—1 Konings 7:23-26.
44:10-16—Wie word deur die priesterlike klas afgebeeld? Die priesterlike klas beeld die liggaam van gesalfde Christene in ons dag af. Hulle loutering het in 1918 plaasgevind toe Jehovah “as ’n louteraar en reiniger” in sy geestelike tempel gesit het (Maleagi 3:1-5). Diegene wat rein was of wat berou getoon het, kon hulle diensvoorreg behou. Hierna moes hulle hard werk om hulle “sonder vlek van die wêreld” te bewaar, en sodoende het hulle voorbeelde geword vir die “groot menigte”, wat deur die niepriesterlike stamme afgebeeld is.—Jakobus 1:27; Openbaring 7:9, 10.
45:1; 47:13–48:29—Wat word deur “die land” en die verdeling daarvan afgebeeld? Die land beeld die bedrywigheidsfeer van God se volk af. Ongeag waar ’n aanbidder van Jehovah hom bevind, hy is in die herstelde land so lank as wat hy ware aanbidding beoefen. Die finale vervulling van die verdeling van die land sal in die nuwe wêreld plaasvind wanneer elke getroue persoon ’n plek sal beërf.—Jesaja 65:17, 21.
45:7, 16—Wat word deur die volk se bydrae aan die priesterdom en die owerste voorgestel? In die geestelike tempel verwys dit hoofsaaklik na geestelike ondersteuning—om geestelike hulp aan te bied en ’n gees van samewerking te openbaar.
47:1-5—Wat word deur die water van die rivier in Esegiël se visioen afgebeeld? Die water beeld Jehovah se geestelike voorsienings vir die lewe af, met inbegrip van die losprysoffer van Christus Jesus en die kennis van God wat in die Bybel gevind word (Jeremia 2:13; Johannes 4:7-26; Efesiërs 5:25-27). Die rivier word geleidelik dieper om voorsiening te maak vir die instroming van nuwelinge wat ware aanbidding aanneem (Jesaja 60:22). Die rivier sal gedurende die Millennium met die kragtigste water van die lewe vloei, en hierdie waters sal verdere begrip insluit wat verkry word uit die “boekrolle” wat dan oopgemaak sal word.—Openbaring 20:12; 22:1, 2.
47:12—Wat word deur die vrugdraende bome afgebeeld? Die simboliese bome stel God se geestelike voorsienings voor om die mensdom tot volmaaktheid te herstel.
48:15-19, 30-35, voetnoot in NW—Wat word deur die stad in Esegiël se visioen afgebeeld? “Jehovah-Sjamma” is in ’n ‘ongewyde’ gebied geleë, wat toon dat dit iets met betrekking tot die aarde moet afbeeld. Die stad beeld blykbaar die aardse administrasie af wat diegene bevoordeel wat die regverdige “nuwe aarde” sal uitmaak (2 Petrus 3:13). Die poorte aan elke kant toon die toeganklikheid daarvan. Die opsieners onder God se volk moet genaakbaar wees.
Lesse vir ons:
40:14, 16, 22, 26. Die graverings van palmbome op die mure in die ingange van die tempel toon dat slegs diegene wat sedelik regskape is, daar mag ingaan (Psalm 92:12). Dit leer ons dat ons aanbidding slegs vir Jehovah aanneemlik is as ons regskape is.
44:23. Hoe dankbaar kan ons tog wees vir die diens wat die hedendaagse priesterlike klas verrig! “Die getroue en verstandige slaaf” neem die leiding daarin om tydige geestelike voedsel te voorsien wat ons help om die verskil te onderskei tussen wat onrein en wat rein is in Jehovah se oë.—Matteus 24:45.
47:9, 11. Kennis—’n baie belangrike aspek van die simboliese water—het ’n wonderlike genesing in ons tyd tot gevolg. Waar dit ook al ingeneem word, maak dit mense geestelik lewend (Johannes 17:3). Daarteenoor sal diegene wat nie die lewegewende water aanvaar nie, ‘aan die sout oorgegee word’—permanent vernietig word. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ‘ons ons uiterste bes doen om die woord van die waarheid reg te hanteer’!—2 Timoteus 2:15.
“Ek sal beslis my groot naam heilig”
Nadat die laaste koning in Dawid se geslagslyn verwyder is, het die ware God ’n lang tydperk laat verloop voor die koms van die Een “wat die wetlike reg het” op die koningskap. God het egter nie sy verbond met Dawid versaak nie (Esegiël 21:27; 2 Samuel 7:11-16). Esegiël se profesie praat van “my kneg Dawid”, wat ’n “herder” en ’n “koning” sou word (Esegiël 34:23, 24; 37:22, 24, 25). Dit is niemand anders as Jesus Christus in Koninkryksmag nie (Openbaring 11:15). Jehovah sal sy “groot naam heilig” deur middel van die Messiaanse Koninkryk.—Esegiël 36:23.
Die tyd is nou baie naby dat almal wat God se heilige naam ontheilig, vernietig sal word. Maar diegene wat hierdie naam in hulle lewe heilig deur Jehovah op aanneemlike wyse te aanbid, sal die ewige lewe ontvang. Laat ons dus ten volle gebruik maak van die waters van die lewe wat in ons tyd oorvloedig vloei en ware aanbidding die middelpunt van ons lewe maak.
[Voetnoot]
a Vir ’n bespreking van Esegiël 1:1–24:27, sien “Glanspunte uit die boek Esegiël—I”, in Die Wagtoring van 1 Julie 2007.
[Prent op bladsy 9]
Die glorieryke tempel van Esegiël se visioen
[Prent op bladsy 10]
Wat word deur die rivier van die lewe in Esegiël se visioen afgebeeld?
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.