’n Boek wat jy kan vertrou—Deel 7
Die sewende wêreldmoondheid
Hierdie artikel is die laaste in ’n reeks van sewe artikels in opeenvolgende nommers van die “Ontwaak!” wat die sewe wêreldmoondhede van Bybelgeskiedenis bespreek. Die doel hiervan is om te toon dat die Bybel betroubaar en deur God geïnspireer is en dat die boodskap daarin hoop bied dat die lyding wat deur die wrede heerskappy van mense veroorsaak is, tot ’n einde sal kom.
ONS lewe in ’n baie spesiale en betekenisvolle tyd—die tyd waarin die sewende wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis sou verskyn. Wat meer is, hierdie moondheid word in die Bybel slegs in profesieë gemeld, in teenstelling met die vorige ses, wat deel vorm van die Bybel se geskiedkundige verslag. Die Bybel het aangaande die sewe moondhede, of “konings”, voorspel: “Daar is sewe konings: vyf het geval, een is, die ander een het nog nie gekom nie, maar wanneer hy wel kom, moet hy ’n kort tydjie bly.”a—Openbaring 17:10.
Toe hierdie woorde net oor 1 900 jaar gelede geskryf is, het vyf van die sewe “konings”, of politieke ryke, reeds “geval”. Dit was Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië en Griekeland. Die uitdrukking “een is” het na Rome verwys. Maar Rome sou nie vir ewig bly staan nie. Daar sou nog ’n moondheid wees, maar die profesie het gesê: “[Dit] het nog nie gekom nie.” Soos die Bybel voorspel het, het die sewende ‘koning’ wel op die wêreldtoneel verskyn! Watter moondheid was dit? Sal dit vir altyd heerskappy uitoefen? Indien nie, hoe sal dit van die wêreldtoneel verdwyn? Die Bybel voorsien ’n duidelike antwoord.
Betroubare profesie
Die sewende wêreldmoondheid het vorm begin aanneem toe Engeland, in die noordwestelike hoek van die Romeinse Ryk, invloedryker geword het. In die 1760’s het hierdie eilandnasie die magtige Britse Ryk geword. Brittanje se rykdom en mag het bly toeneem, en in die 19de eeu was dit die rykste en die magtigste nasie op aarde. “Die Britse Ryk”, sê een naslaanwerk, “was die grootste ryk wat die wêreld nog gesien het.” Dit “het 372 miljoen onderdane gehad en meer as 28 miljoen vierkante kilometer beslaan”.
Maar die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het gemaak dat Brittanje spesiale betrekkinge aanknoop met die Verenigde State, ’n voormalige kolonie. Wat was die gevolg? Die Britse Ryk het plek gemaak vir die Anglo-Amerikaanse bondgenootskap, wat in baie opsigte ’n tweeledige Engelssprekende wêreldmoondheid is en wat nou nog bestaan.—Sien die venster “’n Noemenswaardige bondgenootskap”.
Die profesie in Openbaring 17:10 vul ’n ander profesie in die boek Daniël aan. Daniël het geskryf van ’n “ontsaglike beeld” wat die Babiloniese koning Nebukadnesar gesien het in ’n visioen wat hy van God ontvang het (Daniël 2:28, 31-43). Daniël het aan die koning geopenbaar dat die verskillende dele van die beeld se liggaam die opeenvolging van politieke ryke voorstel. Dit het begin met Babilon, wat destyds die wêreldmoondheid was. (Egipte en Assirië het toe al gekom en gegaan.) Die geskiedenis bevestig nou die volgende:
Die kop van goud het die Babiloniese Ryk verteenwoordig.
Die bors en arms van silwer het Medo-Persië afgebeeld.
Die maag en dye van koper het eertydse Griekeland voorgestel.
Die bene van yster het die Romeinse Ryk afgebeeld.
Die voete, ’n mengsel van yster en klei, simboliseer die politieke en maatskaplike verdeeldheid wat gedurende die tyd van die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid sou heers.
Volgens Openbaring 17:10 moet die sewende wêreldmoondheid “’n kort tydjie bly”. Hoe lank sal dit wees? Hoe sal dit van die wêreldtoneel af verdwyn? En wat sal daarna gebeur? Daniël werp baie lig op hierdie vrae.
’n Betroubare hoop
Nadat Daniël die voorgemelde beeld beskryf het, het hy gesê: “’n Klip [is uit ’n berg] uitgekap . . . , nie deur hande nie, en dit het die beeld op sy voete van yster en van gevormde klei getref en hulle verbrysel” (Daniël 2:34). Waarop het hierdie skouspelagtige gebeurtenis gewys?
Daniël het verder gesê: “In die dae van dié [laaste] konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie [aardse] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan” (Daniël 2:44, 45).b Let op hierdie belangrike punte:
Die seëvierende Koninkryk, wat deur ’n groot klip afgebeeld word, word deur God self ‘opgerig’, nie deur ‘mensehande’ nie. Gevolglik word dit tereg God se Koninkryk genoem.
God se Koninkryk sal alle menseheerskappy “verbrysel”, insluitende die sewende wêreldmoondheid. Waarom? Hulle almal sal weier om hulle mag prys te gee en sal teen God te staan kom in ’n finale groot oorlog by ’n figuurlike plek met die naam Har–Magedon, of Armageddon. Die Bybel toon duidelik dat “die konings van die hele bewoonde aarde” by hierdie oorlog betrokke sal wees.—Openbaring 16:13, 14, 16.
In teenstelling met verbygaande menseregerings, insluitende die sewe wêreldmoondhede, sal God se Koninkryk “nooit vernietig . . . word nie”. Daarbenewens sal dit oor die hele aarde heers.—Daniël 2:35, 44.
Die finale vernietiging van God se teenstanders sal ’n skouspelagtige vervulling wees van die profesie in Genesis 3:15, wat in die eerste artikel van hierdie reeks gemeld word. Die Saad van die vrou, Jesus Christus, sou die simboliese slang, Satan, en sy saad verbrysel (Galasiërs 3:16). Satan se saad sluit alle mense in wat sy goddelose weë aanneem en wat menseheerskappy bo heerskappy deur God en Christus voorstaan.—Psalm 2:7-12.
Dit bring ons by ’n baie belangrike vraag: Wanneer sal daardie finale vernietiging plaasvind? Ja, wanneer sal die “klip”—God se Koninkryk—elke sweempie van menseheerskappy verwyder? Die Bybel beantwoord hierdie vraag deur middel van ’n “teken” wat sou toon dat die laaste dae begin het.—Matteus 24:3.
Herken “die teken”!
Die teken sluit wêreldwye oorlogvoering in, sowel as “groot aardbewings”, “pessiektes” en ernstige “voedseltekorte” (Lukas 21:10, 11; Matteus 24:7, 8; Markus 13:8). Die “laaste dae” sou ook gekenmerk word deur ernstige sedelike en geestelike verval in die samelewing (2 Timoteus 3:1-5). Het “al hierdie dinge” gebeur? (Matteus 24:8). Ja, in so ’n mate dat baie mense die toekoms vrees. Die koerant The Globe and Mail het gesê: “Party van die mees gerespekteerde denkers op wetenskaplike en maatskaplike gebied maak verontrustende voorspellings oor die einde van die mensdom.”
Maar in een baie belangrike opsig is hierdie voorspellings verkeerd—die mensdom self sal nie tot ’n einde kom nie. Trouens, ingryping deur God se Koninkryk waarborg dit! Toe Jesus Christus die teken van die einde gegee het, het hy gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Hoe het hierdie profesie ontvou?
In meer as 230 lande verkondig Jehovah se Getuies die Koninkryk van God. Trouens, die titel van hulle belangrikste tydskrif is Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan. En Jehovah is God se persoonlike naam (Psalm 83:18). Die Getuies se program van Bybelonderrig help tallose mense en gesinne om skadelike lewenswyses te vervang met rein en vreedsame gedrag wat aan God se standaarde voldoen (1 Korintiërs 6:9-11). Gevolglik het miljoene mense regoor die wêreld die vertroue dat hulle God se beskerming sal geniet wanneer sy Koninkryk in menseaangeleenthede ingryp.
Ja, hulle sal met hulle eie oë die vervulling sien van Christus se modelgebed, wat die Onse Vader genoem word en gedeeltelik sê: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). Het jy al gewonder hoe die lewe op die aarde sal wees as alle mense God liefhet en gehoorsaam? Die volgende Bybelverse kan jou help om te verstaan waarom die uitdrukking “goeie nuus” gepas is.
Wanneer God se wil op die aarde geskied, sal die volgende toestande heers:
Daar sal ware vrede wees, nie net die afwesigheid van oorlog nie. “Jehovah . . . laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde. Die boog verbreek hy en die spies kap hy stukkend; die waens verbrand hy met vuur” (Psalm 46:8, 9). “Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:11.
Almal sal oorgenoeg kos hê. “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.”—Psalm 72:16.
Almal sal volmaakte gesondheid geniet. “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.”—Jesaja 33:24.
Almal sal ’n gerieflike huis hê. “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet. Hulle sal nie bou sodat iemand anders dit bewoon nie; hulle sal nie plant sodat iemand anders dit eet nie.”—Jesaja 65:21, 22.
Alle vorme van lyding sal eindig. “Die tent van God is by die mensdom, . . . en hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.
Sal jy graag die vervulling van hierdie beloftes wil sien? Indien wel, spoor Jehovah se Getuies jou aan om die Bybel verder te ondersoek. Trouens, as jy dit doen, sal jy selfs meer bewyse sien dat die mens se wrede heerskappy oor sy medemens binnekort tot ’n einde sal kom. Jy sal ook sien dat jy die Bybel ten volle kan vertrou en dat dit werklik deur God geïnspireer is.—2 Timoteus 3:16.c
a Omdat die moondhede wat in die Bybel gemeld word, gewoonlik ’n koning gehad het, word daar dikwels na hierdie moondhede verwys as “konings”, “koninkryke”, of albei.—Daniël 8:20-22.
b Vir meer inligting oor God se hemelse Koninkryk, sien hoofstukke 8 en 9 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
c As jy meer oor die Bybel wil leer, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking kom of skryf na die gepaste adres op bladsy 5 of ons webwerf www.watchtower.org besoek.