Hosea se profesie help ons om met God te wandel
“Agter Jehovah aan sal hulle gaan.”—HOSEA 11:10.
1. Watter simboliese drama word in die boek Hosea gevind?
GENIET jy dramas met fassinerende karakters en boeiende intriges? Die Bybelboek Hosea bevat ’n simboliese drama.a Daardie drama handel oor die gesinslewe van God se profeet Hosea en hou verband met die figuurlike huwelik wat Jehovah met eertydse Israel aangegaan het deur middel van die Mosaiese Wetsverbond.
2. Wat weet ons omtrent Hosea?
2 Die agtergrond van hierdie drama word in Hosea hoofstuk 1 gevind. Hosea het blykbaar in die gebied van die tienstammeryk van Israel gewoon (wat ook Efraim genoem is, na aanleiding van die oorheersende stam). Hy het gedurende die heerskappye van Israel se laaste sewe heersers en van koning Ussia, Jotam, Agas en Hiskia van Juda geprofeteer (Hosea 1:1). Hosea het dus ten minste 59 jaar lank geprofeteer. Hoewel die boek wat sy naam dra, kort ná 745 v.G.J. voltooi is, is dit van toepassing op ons dag, ’n tyd waarin miljoene die weg volg wat voorspel is in die woorde: “Agter Jehovah aan sal hulle gaan.”—Hosea 11:10.
Wat ’n oorsig aan die lig bring
3, 4. Verduidelik kortliks wat in Hosea hoofstukke 1 tot 5 gedek word.
3 ’n Kort oorsig van Hosea hoofstukke 1 tot 5 sal ons versterk in ons voorneme om met God te wandel deur geloof te beoefen en ’n weg te volg wat in ooreenstemming met sy wil is. Hoewel inwoners van die koninkryk van Israel hulle skuldig gemaak het aan geestelike egbreuk, sou God hulle barmhartig wees as hulle berou toon. Dit word toegelig deur die manier waarop Hosea sy vrou, Gomer, behandel het. Nadat sy een kind vir hom gebaar het, het sy blykbaar twee buite-egtelike kinders gehad. En tog het Hosea haar teruggeneem, net soos Jehovah bereid was om barmhartigheid aan berouvolle Israeliete te bewys.—Hosea 1:1–3:5.
4 Jehovah het ’n regsaak met Israel gehad omdat daar geen waarheid, liefderyke goedhartigheid of kennis van God in die land was nie. Hy sou rekenskap eis van afgodsaanbiddende Israel sowel as van die eiesinnige koninkryk van Juda. Wanneer God se volk “in groot nood” verkeer het, het hulle egter na Jehovah gesoek.—Hosea 4:1–5:15.
Die drama ontvou
5, 6. (a) Hoe algemeen was hoerery in die tienstammeryk van Israel? (b) Waarom het die waarskuwing wat aan eertydse Israel gegee is, betekenis vir ons?
5 “Gaan”, het God Hosea beveel, “neem vir jou ’n vrou van hoerery en kinders van hoerery, want deur hoerery keer die land hom gewis daarvan af om Jehovah te volg” (Hosea 1:2). Hoe algemeen was hoerery in Israel? Daar word vir ons gesê: “Die gees van hoerery het [die mense van die tienstammeryk] laat afdwaal, en deur hoerery gaan hulle onder hulle God uit. . . . Daarom pleeg julle dogters hoerery en pleeg julle skoondogters egbreuk. . . . Wat die manne betref, met die hoere sonder hulle hulle af, en met die vroulike tempelprostitute bring hulle offerandes.”—Hosea 4:12-14.
6 Hoerery, in geestelike sowel as fisiese sin, was aan die orde van die dag in Israel. Jehovah sou dus “rekenskap” eis van die Israeliete (Hosea 1:4; 4:9). Hierdie waarskuwing het betekenis vir ons omdat Jehovah rekenskap sal eis van diegene wat vandag onsedelikheid en onrein aanbidding beoefen. Maar dié wat met God wandel, voldoen aan sy standaarde vir rein aanbidding en weet dat “geen hoereerder . . . enige erfenis in die koninkryk van die Christus en van God het nie”.—Efesiërs 5:5; Jakobus 1:27.
7. Wat het Hosea se huwelik met Gomer afgebeeld?
7 Toe Hosea met Gomer getrou het, was sy klaarblyklik ’n maagd, en toe sy “vir hom ’n seun gebaar het”, was sy nog getrou aan hom (Hosea 1:3). Soos uitgebeeld word in die simboliese drama, het God kort nadat hy die Israeliete in 1513 v.G.J uit slawerny in Egipte bevry het, eweneens ’n verbond met hulle gesluit wat soos ’n kontrak vir ’n rein huwelik was. Deur daardie verbond te aanvaar, het Israel belowe om getrou aan hulle “eggenoot-eienaar”, Jehovah, te wees (Jesaja 54:5). Ja, hierdie figuurlike huwelik van Israel met God is afgebeeld deur Hosea se rein huwelik met Gomer. Maar hoe het dinge tog verander!
8. Hoe het die tienstammeryk van Israel in aansyn gekom, en wat kan van hulle aanbidding gesê word?
8 Hosea se vrou het “weer swanger geword en aan ’n dogter geboorte gegee”. Gomer het waarskynlik weens egbreuk swanger geword met hierdie dogter sowel as ’n latere kind (Hosea 1:6, 8). Aangesien Gomer Israel voorgestel het, vra jy dalk: ‘Hoe het Israel hoerery begin pleeg?’ In 997 v.G.J. het tien van Israel se stamme hulle van die suidelike stamme Juda en Benjamin afgeskei. Kalfaanbidding is in die noordelike tienstammeryk van Israel ingestel om te keer dat die mense opgaan na Juda om Jehovah by sy tempel in Jerusalem te aanbid. Aanbidding van die valse god Baäl, wat deur seksorgieë gekenmerk is, het stewig gevestig geraak in Israel.
9. Wat het met Israel gebeur, soos voorspel is in Hosea 1:6?
9 By die geboorte van Gomer se tweede kind wat waarskynlik ’n buite-egtelike kind was, het God vir Hosea gesê: “Noem haar Lo-Ruhama [wat beteken “Sy is nie barmhartigheid bewys nie”], want ek sal verder nie meer aan die huis van Israel barmhartigheid bewys nie, omdat ek hulle gewis sal wegneem” (Hosea 1:6). Jehovah het ‘hulle weggeneem’ toe die Assiriërs die Israeliete in 740 v.G.J. in gevangenskap weggevoer het. God het egter aan die tweestammeryk van Juda barmhartigheid bewys en hulle gered, maar nie deur ’n boog, swaard, oorlog, perde of ruiters nie (Hosea 1:7). In één nag in 732 v.G.J. het net een engel 185 000 Assiriese soldate doodgemaak wat Juda se hoofstad, Jerusalem, bedreig het.—2 Konings 19:35.
Jehovah se regsaak met Israel
10. Wat het Gomer se owerspelige gedrag toegelig?
10 Gomer het Hosea verlaat en “’n vrou van hoerery” geword deur in egbreuk met ’n ander man saam te lewe. Dit het toegelig hoe die koninkryk van Israel politieke bondgenootskappe met afgodsaanbiddende nasies aangegaan en op hulle begin vertrou het. In plaas van hulle materiële seëninge aan Jehovah toe te skryf, het Israel dit aan die gode van hierdie nasies toegeskryf en haar huweliksverbond met God geskend deur valse aanbidding te beoefen. Geen wonder dat Jehovah ’n regsaak met die geestelik owerspelige nasie gehad het nie!—Hosea 1:2; 2:2, 12, 13.
11. Wat het van die Wetsverbond geword toe Jehovah toegelaat het dat Israel en Juda in ballingskap gaan?
11 Wat was Israel se straf omdat sy haar Eggenoot-eienaar verlaat het? God het hulle ‘laat ingaan in die wildernis’ van Babilonië, die land wat Assirië verower het, waarheen die Israeliete in 740 v.G.J. as ballinge weggevoer is (Hosea 2:14). Toe Jehovah sodoende die tienstammeryk tot ’n einde laat kom het, het hy nie sy huweliksverbond beëindig met die oorspronklike nasie Israel wat 12 stamme gehad het nie. Trouens, toe God toegelaat het dat Jerusalem in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs vernietig word en dat die mense van Juda ballinge word, het hy nie die Mosaïese Wetsverbond afgeskaf waardeur die 12 stamme van Israel in ’n figuurlike huwelik met hom getree het nie. Daardie verhouding is eers beëindig nadat Joodse leiers Jesus Christus verwerp het en hom in 33 G.J. om die lewe gebring het.—Kolossense 2:14.
Jehovah vermaan Israel
12, 13. Wat is die inhoud van Hosea 2:6-8, en hoe was hierdie woorde op Israel van toepassing?
12 God het Israel vermaan om ‘haar hoerery te verwyder’, maar sy wou agter dié aan loop wat haar hartstogtelik liefhet (Hosea 2:2, 5). “Daarom”, het Jehovah gesê, “kyk, ek versper jou weg rondom met dorings; en ek sal ’n klipmuur teen haar opstapel, sodat sy haar eie paaie nie sal vind nie. En sy sal haar hartstogtelike minnaars agternasit, maar hulle nie inhaal nie; en sy sal hulle beslis soek, maar hulle nie vind nie. En sy sal moet sê: ‘Ek wil gaan en na my man terugkeer, die eerste een, want ek het dit toe beter gehad as nou.’ Maar sy het nie erken dat ek aan haar die graan en die soet wyn en die olie gegee het nie, en dat ek silwer vir haar oorvloedig laat wees het nie, en goud, wat hulle vir Baäl gebruik het [of, waarmee “hulle ’n Baälbeeld gemaak het”, voetnoot in NW].”—Hosea 2:6-8.
13 Hoewel Israel hulp gesoek het by nasies wat haar “hartstogtelike minnaars” was, kon niemand haar help nie. Dit was asof sy deur ’n ondeurdringbare bos afgesper is, sodat hulle nie by haar kon uitkom om haar te help nie. Ná ’n drie jaar lange beleg deur Assirië het die hoofstad, Samaria, in 740 v.G.J. geval, en die tienstammeryk is nooit hervestig nie. Slegs individue onder die Israelitiese ballinge sou besef hoe goed die lewe was toe hulle voorvaders Jehovah gedien het. Daardie oorblyfsel sou Baälaanbidding verwerp en stappe doen om hulle verbondsverhouding met Jehovah te hernieu.
Nog ’n kykie na die drama
14. Wat het daartoe gelei dat Hosea huweliksgemeenskap met Gomer hervat het?
14 Om die verband tussen Hosea se gesinslewe en Israel se verhouding met Jehovah beter te verstaan, kan ons na hierdie woorde kyk: “Jehovah het vir my gesê: ‘Gaan weer eens, bemin ’n vrou wat deur ’n metgesel bemin word en egbreuk pleeg’” (Hosea 3:1). Hosea het hierdie bevel gehoorsaam deur Gomer terug te koop van die man saam met wie sy gelewe het. Daarna het Hosea sy vrou streng vermaan: “Baie dae sal jy as myne woon. Jy mag nie hoerery pleeg nie, en jy mag nie ’n ander man s’n word nie” (Hosea 3:2, 3). Gomer het ag geslaan op die dissipline, en Hosea het huweliksgemeenskap met haar hervat. Hoe is dit van toepassing op God se handelinge met die nasie Israel en Juda?
15, 16. (a) Wat moes God se gedissiplineerde nasie doen om sy barmhartigheid te ontvang? (b) Hoe is Hosea 2:18 vervul?
15 Terwyl ballinge uit Israel en Juda gevangenes in Babilon was, het God sy profete gebruik om ‘tot hulle hart te spreek’. Om goddelike barmhartigheid te ontvang, moes sy volk berou toon en terugkeer na hulle Eggenoot-eienaar, soos Gomer teruggegaan het na haar man. Dan sou Jehovah sy gedissiplineerde gemalin-nasie uit die Babiloniese “wildernis” neem en hulle na Juda en Jerusalem terugbring (Hosea 2:14, 15). Hy het daardie belofte in 537 v.G.J. vervul.
16 God het ook hierdie belofte vervul: “Ek sal beslis in dié dag vir hulle ’n verbond sluit met betrekking tot die wilde diere van die veld en die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde, en die boog en die swaard en oorlog sal ek uit die land verbreek, en ek sal hulle in veiligheid laat lê” (Hosea 2:18). Die Joodse oorblyfsel wat na hulle vaderland teruggekeer het, het in veiligheid gewoon, sonder enige vrees vir diere. Hierdie profesie het ook in 1919 G.J. ’n vervulling gehad, toe die oorblyfsel van geestelike Israel bevry is uit “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens. Hulle woon nou in veiligheid en geniet die lewe in ’n geestelike paradys saam met hulle metgeselle, wat die hoop koester om vir ewig op die aarde te lewe. Dierlike eienskappe bestaan nie onder hierdie ware Christene nie.—Openbaring 14:8; Jesaja 11:6-9; Galasiërs 6:16.
Neem die lesse ter harte
17-19. (a) Watter eienskappe van God word ons hier aangespoor om na te volg? (b) Hoe moet Jehovah se barmhartigheid en medelye ons raak?
17 God is barmhartig en medelydend, en dit is hoe ons moet wees. Dit is een les wat ons uit die eerste hoofstukke van Hosea leer (Hosea 1:6, 7; 2:23). God se bereidwilligheid om aan berouvolle Israeliete barmhartigheid te bewys, is in ooreenstemming met die geïnspireerde spreuk: “Hy wat sy oortredings bedek, sal nie sukses behaal nie, maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid bewys word” (Spreuke 28:13). Die psalmis se woorde is ook bemoedigend vir berouvolle sondaars: “Die offerandes aan God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verbryselde hart, o God, sal u nie verag nie.”—Psalm 51:17.
18 Hosea se profesie beklemtoon die medelye en barmhartigheid van die God wat ons aanbid. Selfs al dwaal party van sy regverdige weë af, kan hulle berou toon en omdraai. As hulle dit doen, verwelkom Jehovah hulle terug. Hy het barmhartigheid bewys aan berouvolle lede van die nasie Israel, met wie hy in figuurlike sin in die huwelik getree het. Hoewel hulle ongehoorsaam aan Jehovah was en ‘die Heilige van Israel bedroef het, was hy barmhartig en het hy in gedagte gehou dat hulle vlees is’ (Psalm 78:38-41). Sy barmhartigheid behoort ons te beweeg om aan te hou wandel met ons medelydende God, Jehovah.
19 Hoewel sondes soos moord, diefstal en egbreuk in Israel aan die orde van die dag was, het Jehovah ‘tot hulle hart gespreek’ (Hosea 2:14; 4:2). Wanneer ons nadink oor Jehovah se barmhartigheid en medelye, behoort dit ons hart te roer en ons persoonlike gehegtheid aan hom te versterk. Laat ons ons dus afvra: ‘Hoe kan ek Jehovah se barmhartigheid en medelye in groter mate in my handelinge met ander navolg? Is ek, soos God, vergewensgesind as ’n mede-Christen wat my aanstoot gegee het, om vergifnis vra?’—Psalm 86:5.
20. Gee ’n voorbeeld om te toon dat ons vertroue moet stel in ons godgegewe hoop.
20 God gee ware hoop. Hy het byvoorbeeld belowe: ‘Ek sal haar die Agorlaagvlakte as ’n deur tot hoop gee’ (Hosea 2:15). Jehovah se eertydse gemalin-organisasie het die vaste hoop gehad om hervestig te word in hulle vaderland, waar “die Agorlaagvlakte” was. Die vervulling van daardie belofte, in 537 v.G.J., gee ons gegronde rede om ons te verbly in die vaste hoop wat Jehovah aan ons voorhou.
21. Watter rol speel kennis daarin om met God te wandel?
21 As ons wil aanhou wandel met God, moet ons voortgaan om kennis van hom in te neem en dit in ons lewe toe te pas. Daar was ’n groot gebrek aan kennis van Jehovah in Israel (Hosea 4:1, 6). Maar daar was wel sommige wat groot waarde geheg het aan goddelike onderrigting, daarvolgens opgetree het en ryklik geseën is. Hosea was een van hulle. So ook die 7 000 wat in Elia se dag nie die knie voor Baäl gebuig het nie (1 Konings 19:18; Romeine 11:1-4). Ons eie waardering vir goddelike onderrigting sal ons help om aan te hou wandel met God.—Psalm 119:66; Jesaja 30:20, 21.
22. Hoe moet afvalligheid beskou word?
22 Jehovah verwag dat manne wat die leiding onder sy volk neem, afvalligheid verwerp. Maar Hosea 5:1 sê: “Hoor dit, o priesters, en skenk aandag, o huis van Israel, en luister, o huis van die koning, want die oordeel het met julle te doen; want ’n strik het julle vir Mispa geword en soos ’n net wat oor Tabor uitgesprei is.” Afvallige leiers was ’n strik en ’n net vir die Israeliete deur hulle te verlok om afgodediens te beoefen. Die berg Tabor en ’n plek met die naam Mispa was waarskynlik sentrums van sulke valse aanbidding.
23. Hoe het jy baat gevind by ’n studie van Hosea hoofstukke 1 tot 5?
23 Tot dusver het Hosea se profesie vir ons getoon dat Jehovah ’n barmhartige God is wat hoop voorsien en seëninge gee aan diegene wat sy onderrigting toepas en afvalligheid verwerp. Laat ons dus, soos berouvolle Israeliete van ouds, Jehovah soek en altyd daarna streef om hom te behaag (Hosea 5:15). Sodoende sal ons maai wat goed is en die onvergelyklike vreugde en vrede smaak wat almal geniet wat getrou met God wandel.—Psalm 100:2; Filippense 4:6, 7.
[Voetnoot]
a In Galasiërs 4:21-26 is ’n simboliese drama opgeteken. Sien in dié verband Deel 2, bladsye 693-4, van Insight on the Scriptures, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat het Hosea se huwelik met Gomer afgebeeld?
• Waarom het Jehovah ’n regsaak met Israel gehad?
• Watter les in Hosea hoofstukke 1 tot 5 het ’n indruk op jou gemaak?
[Prent op bladsy 18]
Weet jy wie Hosea se vrou voorstel?
[Prent op bladsy 19]
Die inwoners van Samaria is in 740 v.G.J. deur die Assiriërs verower
[Prent op bladsy 20]
Vreugdevolle mense keer terug na hulle vaderland