Bybelboek nommer 30—Amos
Skrywer: Amos
Waar geskryf: Juda
Geskrif voltooi: ca. 804 v.G.J.
1. Wie was Amos?
NIE ’n profeet of die seun van ’n profeet nie, maar ’n skaapboer en ’n knyper van vye van wildevyebome—dit is wat Amos was toe Jehovah hom geroep en hom gestuur het om te profeteer, nie net vir sy eie nasie Juda nie, maar in die besonder vir die noordelike koninkryk Israel. Hy was een van die profete na wie 2 Konings 17:13, 22, 23 verwys. Hy was van Tekoa in Juda, nagenoeg 16 kilometer suid van Jerusalem en omtrent ’n dagreis van die suidelike grens van die tienstammeryk Israel.—Amos 1:1; 7:14, 15.
2. Hoe kan die tyd van Amos se profesie bepaal word?
2 Die eerste vers van sy profesie meld dat hy sy loopbaan as profeet gedurende die dae van Ussia, koning van Juda, en van Jerobeam II, die seun van Joas, koning van Israel, begin het. Dit was twee jaar voor ’n besonder noemenswaardige aardbewing. Dit plaas die profesie in die 26-jarige tydperk van 829 tot omstreeks 804 v.G.J., waartydens die regerings van hierdie twee konings saamgeval het. Die profeet Sagaria meld die rampspoedige aardbewing in die dae van Ussia, toe die volk in vrees gevlug het (Sag. 14:5). Die Joodse geskiedskrywer Josephus sê dat ’n aardbewing plaasgevind het toe Ussia vermetel opgetree en wierook in die tempel probeer offer het. Dit lyk egter of die aardbewing wat Amos gemeld het vroeër in Ussia se regering plaasgevind het.
3. (a) Waarom het Amos se boodskap van weë op die regte tyd gekom? (b) Hoe het hy Jehovah se soewereiniteit verheerlik?
3 Die naam Amos beteken “’n Las wees” of “’n Las dra”. Hoewel hy boodskappe vol weë na Israel en Juda (en ook na talle heidense nasies) geneem het, het hy ook ’n vertroostende boodskap oor die herstel van Jehovah se volk gehad. Daar was alle rede om ’n reeks weë in Israel uit te spreek. Voorspoed, weelderige lewenswyses en losbandigheid was aan die orde van die dag. Die volk het die Wet van Jehovah vergeet. Hulle oënskynlike voorspoed het hulle verblind vir die feit dat hulle, soos oorryp vrugte, reeds aan bederf onderhewig was, wat tot vernietiging lei. Amos het geprofeteer dat die tienstammeryk oor net ’n paar jaar tot anderkant Damaskus in ballingskap weggevoer sou word. Hierdeur het hy die regverdigheid en soewereiniteit van Jehovah, wat hy 21 keer die “Soewereine Heer” noem, verheerlik.—Amos 1:8, NW.
4. Die vervulling van watter profesieë getuig van die egtheid van Amos?
4 Die vervulling van hierdie en ander profesieë getuig van die egtheid van Amos. Die profeet het ook voorspel dat al die vyandelike nasies om Israel—die Arameërs (Siriërs), die Filistyne, die Tiriërs, die Edomiete, die Ammoniete en die Moabiete—deur die vuur van vernietiging verteer sou word. Die geskiedenis getuig dat elkeen van hierdie vyandelike vestings mettertyd verbreek is. Die handelwyse van Juda en Israel was selfs laakbaarder, aangesien hulle Jehovah verlaat het om valse aanbidding te beoefen. Die laaste vesting van Israel, die versterkte stad Samaria, het in die jaar 740 v.G.J. geval nadat dit deur die Assiriese leër onder Salmaneser V beleër is (2 Kon. 17:1-6). Juda het nie geleer uit wat met haar susternasie gebeur het nie, en sy is dus in 607 v.G.J. vernietig.
5. Hoe staaf die argeologie die verslag in Amos?
5 Amos het die Israeliete weens hulle weelderige lewenswyse veroordeel, want die rykes het die armes beroof sodat hulle hul “huise van ivoor” kon bou waarin hulle op kwistige wyse kon eet en drink (Amos 3:15; 5:11, 12; 6:4-7). Argeoloë het die bewys van hierdie welvaart blootgelê. Talle ivoorvoorwerpe is in die opgrawing van Samaria gevind. Die Encyclopedia of Archaeological Excavations in the Holy Land sê: “Twee vername groepe kan onderskei word: 1. Plakette wat in hoogreliëf gegraveer is, . . . 2. Plakette wat in laagreliëf gegraveer is en met edelgesteentes, gekleurde glas, bladgoud, ens. versier is . . . Die ivoorplakette word beskou as produkte van Feniciese kuns, en hulle is waarskynlik gebruik as insetsels in die paleismeubels van die Israelitiese konings. Die Bybel meld die ‘ivoorhuis’ wat Agab gebou het (1 Kon. 22:39) en die ‘ivoorbeddens’, wat in die teregwysings van Amos (6:4) die weelderige lewe in Samaria simboliseer.”a
6. Wat beklink die egtheid van Amos?
6 Daar bestaan geen twyfel dat die boek Amos in die Bybelkanon hoort nie. Stefanus se parafrasering van drie verse daarvan in Handelinge 7:42, 43 en Jakobus se aanhaling uit die boek in Handelinge 15:15-18 beklink die egtheid van die boek.—Amos 5:25-27; 9:11, 12.
INHOUD VAN AMOS
7. Amos waarsku oor Jehovah se oordele teen watter nasies?
7 Oordele teen die nasies (1:1–2:3). “Die HERE brul uit Sion” (1:2). Amos waarsku voorts oor Sy vurige oordele teen die nasies. Damaskus (Sirië) het Gilead met ysterdorssleë gedors. Gasa (Filistea) en Tirus het Israelitiese gevangenes aan Edom uitgelewer. In Edom het genade en broederliefde ontbreek. Ammon het Gilead ingeval. Moab het die beendere van die koning van Edom tot kalk verbrand. Jehovah se hand is teen al hierdie nasies, en hy sê: “Ek [sal] dit nie afwend nie.”—1:3, 6, 8, 9, 11, 13; 2:1.
8. Waarom word Jehovah se oordeel ook teen Juda en Israel verkondig?
8 Oordeel teen Juda en Israel (2:4-16). Jehovah sal ook nie sy toorn van Juda afwend nie. Hulle het oortree deur ‘die wet van Jehovah te verwerp’ (2:4). En Israel? Jehovah het die gedugte Amoriete vir hulle vernietig en hulle die goeie land gegee. Hy het nasireërs en profete onder hulle verwek, maar hulle het die nasireërs hulle gelofte laat verbreek en die profete beveel: “Julle mag nie profeteer nie!” (2:12). Jehovah laat gevolglik hulle fondamente slinger soos ’n wa vol pas gesnyde koring. Wat hulle helde betref, dié sal naak wegvlug.
9. Wat bewys dat Jehovah gespreek het, en teen wie in die besonder profeteer Amos?
9 Die afrekening met Israel (3:1–6:14). Deur treffende illustrasies te gebruik, lê Amos nadruk daarop dat sy profetering op sigself bewys dat Jehovah gespreek het. “Want die [Soewereine Heer Jehovah] doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie. . . . Die [Soewereine Heer Jehovah] het gespreek, wie sal nie profeteer nie?” (3:7, 8, vgl. NW). Amos profeteer wel in die besonder teen die gemaksugtige plunderaars wat in Samaria woon. Jehovah sal hulle van hulle pragtige rusbanke afruk, en hulle ivoorhuise sal vergaan.
10. Waaraan herinner Jehovah Israel, en watter dag van wee sal kom?
10 Jehovah vertel hoe hy Israel getugtig en bestraf het. Hy herinner hulle vyf keer: ‘Julle het julle nie tot My bekeer nie.’ O Israel, ‘maak jou dus klaar om jou God te ontmoet’ (4:6-12). Amos hef ’n profetiese klaaglied aan: “Die jonkvrou van Israel het geval, sy sal nie weer opstaan nie; neergewerp lê sy op haar land, niemand rig haar op nie” (5:2). Jehovah, die Maker van wonderlike dinge in die hemel en op aarde, hou egter aan om ’n beroep op Israel te doen om hom te soek en te bly lewe. Ja, “soek wat goed is, en nie wat sleg is nie, sodat julle kan lewe” (5:4, 6, 14). Maar wat sal die dag van Jehovah vir hulle beteken? Dit sal ’n dag van wee wees. Soos ’n stroom sal dit hulle tot anderkant Damaskus in ballingskap voer, en die ivoorversierde huise waarin hulle hulle oordadige feeste hou, sal tot puin en splinters gemaak word.
11. Op wie se gesag dring Amos daarop aan om teen Israel te profeteer?
11 Amos profeteer ondanks teenstand (7:1-17). Jehovah wys sy profeet ’n skietlood wat in die midde van Israel aangelê is. Daar sal geen verskoning meer wees nie. Hy sal die heiligdomme van Israel verwoes en met ’n swaard teen die huis van Jerobeam II optree. Amasia, die priester van Bet-el, laat weet Jerobeam: “Amos het ’n sameswering gesmee teen u” (7:10). Amasia sê vir Amos om na Juda te gaan en daar te profeteer. Amos toon duidelik van wie sy gesag kom deur te sê: “Die HERE het my agter die kleinvee weggeneem, en die HERE het aan my gesê: Gaan heen, profeteer teen my volk Israel” (7:15). Amos voorspel dan onheil vir Amasia en sy huisgesin.
12. Watter hongersnood word vir Israel voorspel, maar met watter glorieryke belofte eindig die profesie?
12 Verdrukking, straf en herstel (8:1–9:15). Jehovah wys Amos ’n mandjie met somervrugte. Hy veroordeel Israel se verdrukking van die armes en sweer ‘by die Hoogheid van Jakob’ dat hulle weens hulle slegte werke sal treur. “Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ’n honger in die land stuur, nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor” (8:7, 11, vgl. NW). Hulle sal val en nie weer opstaan nie. Of hulle nou tot in Sjeool grawe of na die hemele opklim, Jehovah se hand sal hulle daaruit haal. Die sondaars onder sy volk sal deur die swaard sterf. Dan ’n glorieryke belofte! “In dié dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou . . . , Ek sal dit opbou soos in die ou tyd” (9:11). Die gevangenes, wat weer bymekaargebring word, sal so voorspoedig wees dat die ploeër die maaier sal inhaal voor hy sy buitengewoon ryk oes kan insamel. Hierdie seëninge van Jehovah sal blywend wees!
WAAROM NUTTIG
13. Hoe kan Amos se waarskuwings ons vandag tot voordeel strek?
13 Dit kan hedendaagse Bybellesers tot voordeel strek om te let op die rede vir die waarskuwings wat Amos aan Israel, Juda en hulle buurlande verkondig het. Diegene wat die wet van Jehovah verwerp, die armes bedrieg en verdruk, gierig en onsedelik is en afgodery beoefen, kan nie Jehovah se goedkeuring geniet nie. Maar Jehovah vergewe diegene wat hulle van sulke dinge afkeer en berou toon, en hy betoon barmhartigheid aan hulle. Ons is verstandig as ons ons van verderflike omgang in hierdie bose wêreld afskei en op Jehovah se vermaning ag slaan: “Soek My, dan sal julle lewe!”—5:4, 6, 14.
14. Het die Jode van Stefanus se tyd by Amos se vermaninge baat gevind?
14 Stefanus het Amos ten tyde van sy martelaarskap aangehaal. Hy het die Jode daaraan herinner dat dit Israel se afgodery met vreemde gode, soos Molog en Remfan, was wat tot gevangenskap gelei het. Het daardie Jode daarby baat gevind toe hulle ’n herhaling van Amos se woorde gehoor het? Nee! Hulle was woedend en het Stefanus gestenig, en sodoende het hulle hulle verdere onheil op die hals gehaal met die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J.—Amos 5:25-27; Hand. 7:42, 43.
15. Watter herstellingsprofesieë is dit nuttig om te beskou?
15 Dit is nuttig om die vervulling van die baie profesieë van Amos te beskou, nie net dié wat in die bestrawwing van Israel, Juda en die ander nasies vervul is nie, maar ook die herstellingsprofesieë. Ooreenkomstig Jehovah se woord deur Amos het die gevangenes van Israel in 537 v.G.J. teruggekeer om hulle verwoeste stede te bou en te bewoon en hulle wingerde en tuine te plant.—Amos 9:14; Esra 3:1.
16. Hoe het Jakobus gewys hoe Amos 9:11, 12 met betrekking tot die Christengemeente vervul is?
16 Daar was egter ’n glorieryke en opbouende vervulling van Amos se profesie in die dae van die apostels. Waar Jakobus die byeenbrenging van nie-Israeliete in die Christengemeente bespreek, verduidelik hy onder inspirasie dat dit in die profesie in Amos 9:11, 12 voorspel is. Hy wys daarop dat die ‘heroprigting van die vervalle hut van Dawid’ met betrekking tot die Christengemeente vervul is, “sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here”. Dit was inderdaad die skriftuurlike steun vir die nuwe ontwikkeling, soos uiteengesit deur Simon Petrus—dat God ‘’n volk vir sy naam’ uit die nasies neem.—Hand. 15:13-19.
17. Watter welvaart en bestendigheid voorspel Amos in verband met God se Koninkryk?
17 Jesus Christus, die Hoof van hierdie Christengemeente, word elders as die “seun van Dawid” geïdentifiseer, wat “die troon van sy vader Dawid” erf en vir ewig regeer (Luk. 1:32, 33; 3:31). Die profesie van Amos wys derhalwe vooruit na die vervulling van die verbond met Dawid vir ’n koninkryk. Die laaste woorde van Amos gee nie net ’n wonderlike visioen van oorvloedige welvaart in die tyd wanneer die “hut van Dawid” opgerig word nie, maar hulle onderstreep ook die bestendigheid van God se Koninkryk: “En Ek sal hulle plant in hul land, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hul land wat Ek hulle gegee het nie, sê die HERE jou God.” Wanneer Jehovah die “hut van Dawid” volkome herstel, sal die aarde oorvloei van ewige seëninge!—Amos 9:13-15.
[Voetnoot]
a 1978, Jerusalem, bladsy 1046.