Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boeke Obadja, Jona en Miga
“DIE visioen van Obadja” (Obadja 1). Dit is die woorde waarmee die Bybelboek Obadja begin. Buiten sy naam onthul die profeet niks omtrent homself in die boek wat hy in 607 v.G.J. geskryf het nie. In ’n boek wat meer as twee eeue vroeër voltooi is, praat die profeet Jona openlik van sy persoonlike ondervindinge in verband met sy sendingtoewysing. Die 60 jaar van Miga se bedrywighede as profeet lê tussen dié van Obadja en Jona en strek van 777 v.G.J. tot 717 v.G.J. Al wat Miga van homself vertel, is dat hy “van [die dorpie] Moreset” kom en dat Jehovah se woord tot hom gekom het “in die dae van Jotam, Agas, Hiskia, konings van Juda” (Miga 1:1). Die profeet se vertroudheid met die plattelandse lewe blyk duidelik uit die soort illustrasies wat hy gebruik om die gedagtes van sy boodskap te beklemtoon.
EDOM “SAL TOT ONBEPAALDE TYD UITGEROEI MOET WORD”
Obadja sê aangaande Edom: “Weens die geweld teen jou broer Jakob sal skaamte jou bedek, en jy sal tot onbepaalde tyd uitgeroei moet word.” Die Edomiete se onlangse gewelddade teen die kinders van Jakob—die Israeliete—is nog vars in die profeet se geheue. In 607 v.G.J., toe die Babiloniërs Jerusalem vernietig het, het die Edomiete “eenkant gestaan” en hulle by die invallende “vreemdelinge” geskaar.—Obadja 10, 11.
’n Herstel is egter in die vooruitsig vir die huis van Jakob. Obadja se profesie sê: “Op die berg Sion sal dié wees wat ontkom, en dit sal iets heiligs word.”—Obadja 17.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
5-8—Wat is betekenisvol omtrent die feit dat Edom se vernietiging met die koms van plunderaars in die nag en met druiweplukkers vergelyk word? As diewe in Edom ingekom het, sou hulle slegs geneem het wat hulle wou hê. As oesinsamelaars daar ingekom het, sou hulle oesoorblyfsels laat oorbly het. Maar wanneer Edom val, sal dit noukeurig deursoek word vir skatte en sal dit heeltemal geplunder word deur “die manne wat in ’n verbond met [hom] is”—sy bondgenote, die Babiloniërs.—Jeremia 49:9, 10.
10—Hoe is Edom “tot onbepaalde tyd uitgeroei”? Soos voorspel is, het die nasie Edom, as ’n regering en volk in ’n spesifieke gebied op aarde, ophou bestaan. Die Babiloniese koning Nabonidus het Edom omstreeks die middel van die sesde eeu v.G.J. verower. Teen die vierde eeu v.G.J. is Edom se gebied deur die Nabateërs bewoon, en die Edomiete was verplig om in die suide van Judea te gaan woon, die deel van die Negeb wat later as Idumea bekend gestaan het. Nadat die Romeine Jerusalem in 70 G.J. vernietig het, het die Edomiete ophou bestaan.
Lesse vir ons:
3, 4. Omdat die Edomiete gewoon het in ’n ruwe gebied met hoë berge en diep klowe wat uitstekende strategiese voordele gebied het, het die Edomiete uit vermetelheid hulleself moontlik wysgemaak dat hulle veilig en beskut is. Jehovah se oordele is egter onafwendbaar.
8, 9, 15. Die wysheid en mag van mense bied geen beskerming gedurende “die dag van Jehovah” nie.—Jeremia 49:7, 22.
12-14. Die Edomiete dien as ’n waarskuwende voorbeeld vir dié wat hulle verlustig in die moeilikhede waarmee God se knegte te kampe het. Jehovah beskou die mishandeling van sy knegte in ’n ernstige lig.
17-20. Hierdie herstellingsprofesie oor die kinders van Jakob het in vervulling begin gaan toe ’n oorblyfsel in 537 v.G.J. uit Babilon na Jerusalem teruggekeer het. Jehovah se woord word altyd bewaarheid. Ons kan volle vertroue in sy beloftes hê.
“NINEVE SAL VERWOES WORD”
In plaas van God se bevel te gehoorsaam om te “gaan na Nineve, die groot stad,” en ’n oordeelsboodskap te “verkondig daarteen”, vlug Jona in die teenoorgestelde rigting. Deur “’n sterk wind op die see” te werp en “’n groot vis” te gebruik, laat Jehovah Jona van koers verander en gee hy hom ’n tweede keer die opdrag om na die Assiriese hoofstad te gaan.—Jona 1:2, 4, 17; 3:1, 2.
Jona gaan Nineve binne en begin ’n reguit boodskap verkondig: “Nog net veertig dae, en Nineve sal verwoes word” (Jona 3:4). Die onverwagte resultate wat sy predikingswerk oplewer, laat Jona ‘kwaad word’. Jehovah gebruik “’n kalbasplant” om Jona ’n les in barmhartigheid te leer.—Jona 4:1, 6.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
3:3—Was Nineve werklik so groot dat dit “drie dagreise te voet” was? Ja. In die ou tyd het Nineve blykbaar ander dorpies ingesluit wat van Korsabad in die noorde tot Nimroed in die suide gestrek het. Al die dorpies wat by Nineve gereken is, vorm ’n vierhoek met ’n omtrek van 100 kilometer.
3:4—Moes Jona die taal van die Assiriërs leer om vir die Nineviete te preek? Jona het dalk reeds die Assiriese taal gepraat of hy is miskien wonderdadig begaaf met die vermoë om dit te praat. ’n Ander moontlikheid is dat hy sy saaklike boodskap in Hebreeus oorgedra het en dat iemand dit vir hom getolk het. As laasgenoemde die geval was, sou sy woorde selfs groter belangstelling in sy boodskap gewek het.
Lesse vir ons:
1:1-3. Om doelbewus ander bedrywighede te reël sodat ’n mens nie ’n volle aandeel aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk hoef te hê nie, dui op ’n verkeerde beweegrede. Iemand wat dit doen, hardloop as ’t ware weg van ’n godgegewe toewysing af.
1:1, 2; 3:10. Jehovah se barmhartigheid is nie beperk tot een nasie of ras of tot ’n spesiale groep mense nie. “Jehovah is goed vir almal, en sy barmhartighede is oor al sy werke.”—Psalm 145:9.
1:17; 2:10. Die drie dae en nagte dat Jona in ’n groot vis was, wys profeties na Jesus se dood en opstanding.—Matteus 12:39, 40; 16:21.
1:17; 2:10; 4:6. Jehovah het Jona uit die stormagtige see gered. God het ook “’n kalbasplant beskik om oor Jona op te kom, sodat dit as ’n skaduwee oor sy kop kon dien, om hom uit sy rampspoedige toestand te verlos”. Jehovah se hedendaagse aanbidders kan op hulle God, en op sy liefderyke goedhartigheid, vertrou om hulle te bewaar en te verlos.—Psalm 13:5; 40:11.
2:1, 2, 9, 10. Jehovah verhoor die gebede van sy knegte en gee ag op hulle dringende versoeke.—Psalm 120:1; 130:1, 2.
3:8, 10. Die ware God het “spyt gevoel”, of van gedagte verander, oor die rampspoed waarvan hy gepraat het, en hy “het dit nie gebring nie”. Hoe so? Omdat die Nineviete “hulle van hulle slegte weg afgekeer het”. Vandag kan God se ongunstige oordeel eweneens afgewend word as ’n sondaar opregte berou toon.
4:1-4. Geen mens kan maak dat God ’n perk stel aan Sy barmhartigheid nie. Ons moet versigtig wees dat ons nie Jehovah se barmhartige weë kritiseer nie.
4:11. Jehovah laat geduldig toe dat die Koninkryksboodskap aardwyd verkondig word, want—soos in die geval van die 120 000 mense in Nineve—voel hy jammer vir dié “wat glad nie die verskil tussen hulle regter- en hulle linkerhand ken nie”. Moet ons nie ook vir mense in ons gebied jammer voel en ywerig deelneem aan die werk om die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak nie?—2 Petrus 3:9.
‘DIE KAALTE OP HULLE KOP SAL GROTER GEMAAK WORD’
Miga lê die sondes van Israel en Juda bloot, voorspel die verwoesting van hulle hoofstede en belowe ’n herstel. Samaria sal “’n puinhoop in die veld” word. Weens hulle afgodiese weg verdien Israel en Juda ’n “kaalte op [hulle] kop”, oftewel skaamte. Aangesien hulle in ballingskap gestuur word, sal die kaalte op hulle kop groter gemaak word “soos dié van die arend”—blykbaar ’n soort aasvoël wat net ’n paar sagte haartjies op sy kop het. Jehovah belowe: “Ek sal Jakob beslis versamel” (Miga 1:6, 16; 2:12). As gevolg van die verdorwe leiers en ontroue profete sal Jerusalem ook “puinhope word”. Maar Jehovah sal sy volk “bymekaarbring”. Uit “Betlehem Efrata” sal “die een voortkom wat die heerser in Israel sal word”.—Miga 3:12; 4:12; 5:2.
Het Jehovah onregverdig teenoor Israel opgetree? Is sy vereistes te moeilik? Nee. Al wat Jehovah van sy aanbidders vra, is dat hulle ‘geregtigheid beoefen, goedhartigheid liefhet en beskeie wandel’ met hulle God (Miga 6:8). Miga se tydgenote versleg egter so dat “die beste van hulle . . . soos ’n doringstruik [is], die mees regskapene . . . erger as ’n doringheining”, wat enigiemand wat naby kom, seermaak en pyn aandoen. Maar die profeet vra: “Wie is ’n God soos [Jehovah]?” God sal weer eens barmhartigheid aan sy volk bewys en “al hulle sondes in die dieptes van die see werp”.—Miga 7:4, 18, 19.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
2:12—Wanneer is die profesie vervul dat ‘die oorblywendes van Israel bymekaargebring’ sou word? Die eerste vervulling was in 537 v.G.J. toe ’n Joodse oorblyfsel uit Babiloniese ballingskap na hulle vaderland teruggekeer het. In hedendaagse tye word die profesie in “die Israel van God” vervul (Galasiërs 6:16). Sedert 1919 word gesalfde Christene bymekaargebring “soos skape in die kraal”. Hulle het veral sedert 1935, toe die “groot menigte” “ander skape” by hulle aangesluit het, “rumoerig [geword] van mense” (Openbaring 7:9; Johannes 10:16). Gesamentlik beywer hulle hulle om ware aanbidding te bevorder.
4:1-4—Hoe ‘oordeel Jehovah aan die einde van die dae tussen baie volke en stel hy sake reg met betrekking tot magtige nasies’? Die uitdrukkings “baie volke” en “magtige nasies” verwys nie na volksgroepe of politieke magte nie. Hierdie uitdrukkings het eerder betrekking op individue uit al die nasies wat Jehovah se aanbidders geword het. Dit is in ’n geestelike sin dat Jehovah oordeel en sake regstel met betrekking tot hulle.
Lesse vir ons:
1:6, 9; 3:12; 5:2. Samaria is in 740 v.G.J.—gedurende Miga se leeftyd—deur die Assiriërs verwoes (2 Konings 17:5, 6). Die Assiriërs het gedurende Hiskia se bewind tot by Jerusalem gekom (2 Konings 18:13). Jerusalem is in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs aan die brand gesteek (2 Kronieke 36:19). Soos geprofeteer is, is die Messias in “Betlehem Efrata” gebore (Matteus 2:3-6). Jehovah se profetiese woord faal nooit nie.
2:1, 2. Hoe gevaarlik sal dit tog vir ons wees om te beweer dat ons God dien, maar om dan eers rykdom te soek pleks van “die koninkryk en sy regverdigheid”.—Matteus 6:33; 1 Timoteus 6:9, 10.
3:1-3, 5. Jehovah verwag van diegene wat die leiding onder sy volk neem, om regverdig op te tree.
3:4. As ons wil hê dat Jehovah ons gebede moet verhoor, moet ons nie sonde beoefen of ’n dubbele lewe lei nie.
3:8. Ons kan ons opdrag om die goeie nuus te verkondig, wat oordeelsboodskappe insluit, slegs uitvoer as ons deur Jehovah se heilige gees versterk word.
5:5. Hierdie Messiaanse profesie verseker ons dat, wanneer God se volk deur hulle vyande aangeval word, “sewe [wat op volkomenheid dui] herders” en “agt hertoë”—’n aansienlike aantal bekwame manne—verwek sal word om die leiding onder Jehovah se volk te neem.
5:7, 8. Vandag is gesalfde Christene vir baie mense “soos dou van Jehovah”—’n seën van God af. Dit is so omdat hy die gesalfdes gebruik om die Koninkryksboodskap te verkondig. Die “ander skape” help om mense geestelik te verkwik deur die gesalfdes daadwerklik in die predikingswerk te ondersteun (Johannes 10:16). Wat ’n voorreg is dit tog om deel te neem aan hierdie werk, wat ander waarlik verkwik!
6:3, 4. Ons moet Jehovah God navolg en goedhartig en medelydend wees, selfs teenoor diegene met wie ons nie goed oor die weg kom nie of wat geestelik swak is.
7:7. Terwyl ons aan die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge met probleme te kampe het, moet ons nie mismoedig raak nie. Ons moet eerder, soos Miga, “’n wagtende houding teenoor [ons] God . . . inneem”.
7:18, 19. Net soos Jehovah bereid is om ons ongeregtigheid te vergewe, moet ons bereid wees om diegene te vergewe wat teen ons sondig.
Hou aan om ‘in die naam van Jehovah te wandel’
Diegene wat teen God en sy volk veg, “sal tot onbepaalde tyd uitgeroei moet word” (Obadja 10). Maar Jehovah se toorn kan afgewend word as ons ag slaan op die goddelike waarskuwing en ons ‘afkeer van slegte weë’ (Jona 3:10). “Aan die einde van die dae”, dit wil sê gedurende hierdie “laaste dae”, word ware aanbidding bo alle valse godsdiens verhef en stroom gehoorsame mense daarheen (Miga 4:1; 2 Timoteus 3:1). Mag ons derhalwe vasbeslote wees om “in die naam van Jehovah ons God [te] wandel tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig”.—Miga 4:5.
Watter waardevolle lesse leer die boeke Obadja, Jona en Miga ons tog! Dié boeke is meer as 2 500 jaar gelede geskryf, maar die boodskap daarin “is lewend en oefen krag uit”, selfs vandag nog.—Hebreërs 4:12.
[Prent op bladsy 13]
Obadja het geprofeteer: “[Edom] sal tot onbepaalde tyd uitgeroei moet word”
[Prent op bladsy 15]
Miga het ‘’n wagtende houding teenoor Jehovah ingeneem’, en jy kan ook
[Prent op bladsy 16]
Die predikingswerk is ’n voorreg wat hoog op prys gestel moet word