Volg hulle geloof na
Hy het ’n les in barmhartigheid geleer
JONA sou baie tyd hê om te dink. ’n Reis van meer as 800 kilometer het vir hom voorgelê, ’n landreis wat hom sowat ’n maand, of dalk selfs langer, sou neem. Om mee te begin, moes hy tussen die korter en die veiliger roetes kies en dan moes hy stadig maar seker sy pad deur tallose valleie en oor etlike bergpasse vind. Hy moes al om die uitgestrekte Siriese Woestyn reis, riviere soos die magtige Eufraat oorsteek en by vreemdelinge in die dorpe van Sirië, Mesopotamië en Assirië herberg soek. Dag ná dag het hy nagedink oor die bestemming wat hy so gevrees het, die stad wat met elke tree al hoe nader gekom het—Nineve.
Jona was van een ding seker: Hy kon nie omdraai en van hierdie toewysing af weghardloop nie. Hy het dit al voorheen probeer doen. Toe Jehovah hom die eerste keer die opdrag gegee het om ’n oordeelsboodskap aan hierdie magtige Assiriese stad oor te dra, het Jona onmiddellik op ’n skip geklim wat in die teenoorgestelde rigting gevaar het. Jehovah het toe ’n groot storm gestuur, en Jona het gou besef dat sy opstandigheid die lewe van almal aan boord sou kos. Om daardie dapper seemanne te red, het hy vir hulle gesê om hom oorboord te gooi. Hulle het dit teësinnig gedoen, en Jona het gedink dat hy beslis sou sterf. Maar Jehovah het ’n groot vis gestuur om Jona in te sluk en hom sowat drie dae later ongedeerd op die strand te laat—’n man wat nou met ontsag vervul en gehoorsamer was.a—Jona, hoofstukke 1, 2.
Toe Jehovah Jona die tweede keer na Nineve gestuur het, het die profeet hierdie lang reis ooswaarts gehoorsaam aangepak (Jona 3:1-3). Maar het hy toegelaat dat Jehovah se dissipline hom werklik verander? Byvoorbeeld, Jehovah het barmhartigheid aan hom betoon deur hom van ’n waterdood te red, hom nie te straf vir sy opstandigheid nie en hom ’n tweede kans te gee om hierdie opdrag uit te voer. Het Jona, ná dit alles, geleer om barmhartigheid aan ander te betoon? Onvolmaakte mense sukkel dikwels om te leer om barmhartigheid te betoon. Kom ons kyk wat ons uit Jona se stryd kan leer.
’n Oordeelsboodskap en ’n verbasende reaksie
Jona het nie Jehovah se beskouing van Nineve gehad nie. Ons lees: “Nineve was ’n groot stad voor God” (Jona 3:3). In Jona se verslag word Jehovah drie keer aangehaal waar Hy na “Nineve, die groot stad”, verwys (Jona 1:2; 3:2; 4:11). Waarom was hierdie stad groot, oftewel belangrik, in Jehovah se oë?
Nineve was ’n antieke stad, want dit was een van die eerste stede wat Nimrod ná die Vloed gebou het. Dit was ontsaglik groot, ’n metropolitaanse gebied wat blykbaar talle ander stede ingesluit het, sodat dit ’n man drie dae sou neem om van die een kant tot die ander kant te loop (Genesis 10:11; Jona 3:3). Nineve was klaarblyklik indrukwekkend, met statige tempels, massiewe mure en ander geboue. Maar nie een van hierdie faktore het die stad in Jehovah God se oë belangrik gemaak nie. Wat vir hom saak gemaak het, was die mense. Nineve het ’n enorme bevolking vir daardie tyd gehad. Al was hulle hoe sleg, Jehovah het vir hulle omgegee. Hy heg waarde aan menselewe en die potensiaal wat elkeen het om berou te toon en te leer om te doen wat reg is.
Toe Jona uiteindelik in Nineve ingaan, het die yslike bevolking van meer as 120 000 mense die plek dalk net meer intimiderend gemaak.b Hy het ’n dag lank geloop, al hoe dieper in die besige metropool in, dalk op soek na ’n gepaste sentrale plek om sy boodskap te begin versprei. Hoe sou hy hierdie mense bereik? Het hy geleer om Assiries te praat? Of het Jehovah hom hierdie vermoë op wonderdadige wyse gegee? Ons weet nie. Dit is moontlik dat Jona sy boodskap in sy moedertaal, Hebreeus, verkondig het en dat hy ’n tolk gebruik het om dit aan die Nineviete oor te dra. In ieder geval, sy boodskap was eenvoudig en sou hom beslis nie baie gewild maak nie: “Nog net veertig dae, en Nineve sal verwoes word” (Jona 3:4). Hy het sy boodskap herhaaldelik en moedig verkondig. Deur dit te doen, het hy merkwaardige moed en geloof getoon, eienskappe wat Christene vandag meer as ooit tevore nodig het.
Jona het die Nineviete se aandag gekry. Hy het hom ongetwyfeld gestaal vir ’n vyandige en gewelddadige reaksie. Maar iets merkwaardigs het gebeur. Die mense het geluister! Sy woorde het soos ’n veldbrand versprei. Kort voor lank het die hele stad oor Jona se doemprofesie gepraat. Jona se verslag sê vir ons: “Die manne van Nineve het geloof in God begin stel, en hulle het ’n vas uitgeroep en hulle met saklinne beklee, van die grootste onder hulle tot selfs die geringste onder hulle” (Jona 3:5). Ryk en arm, sterk en swak, jonk en oud—almal het dieselfde berouvolle gees geopenbaar. Kort voor lank het die nuus oor hierdie volksoptrede die koning bereik.
Ook die koning is met godvrugtige vrees vervul. Hy het van sy troon af opgestaan, sy weelderige staatskleed uitgetrek, dieselfde growwe klere aangetrek wat sy volk gedra het en selfs “in die as gaan sit”. Tesame met sy “vername manne”, of adellikes, het hy ’n verordening uitgevaardig wat die vas verander het van ’n spontane volksoptrede tot ’n amptelike opdrag deur die staat. Hy het beveel dat almal saklinne dra, selfs die mak diere.c Hy het nederig erken dat sy volk skuldig was aan slegtheid en gewelddadigheid. Hy het ook die hoop uitgespreek dat die ware God se aangesig versag sou word wanneer Hy hulle berou sien en het gesê: “God sal . . . hom [dalk] van sy brandende toorn . . . afwend, sodat ons nie vergaan nie.”—Jona 3:6-9.
Party kritici meen dat die Nineviete nie so skielik tot inkeer sou gekom het nie. Bybelgeleerdes het egter gesê dat so ’n reaksie nie in stryd sou wees met die bygelowige en wispelturige aard van die mense van sulke eertydse kulture nie. Hoe dit ook al sy, Jesus Christus het later self na die Nineviete se berou verwys (Matteus 12:41). Hy het geweet waarvan hy praat, aangesien hy in die hemel gelewe het en daardie gebeurtenisse gesien het terwyl dit ontvou het (Johannes 8:57, 58). Maar hoe het Jehovah op die Nineviete se berou gereageer?
’n Kontras tussen goddelike barmhartigheid en menslike onbuigsaamheid
Jona het later geskryf: “Die ware God het hulle werke gesien, dat hulle hulle van hulle slegte weg afgekeer het; en toe het die ware God spyt gevoel oor die rampspoed wat hy gesê het hy oor hulle sou bring; en hy het dit nie gebring nie.”—Jona 3:10.
Beteken dit dat Jehovah besluit het dat sy oordeel in verband met Nineve verkeerd was? Nee. Die Bybel sê oor Jehovah: “Volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie” (Deuteronomium 32:4). Jehovah se regverdige toorn teenoor Nineve het eenvoudig afgeneem. Hy het die verandering in daardie volk opgemerk en gesien dat die straf wat hy oor hulle wou bring, nie meer gepas sou wees nie. Dit was ’n geleentheid om goddelike barmhartigheid te betoon.
Jehovah is glad nie soos die onbuigsame, ongevoelige en selfs hardvogtige God wat so dikwels deur godsdiensleiers uitgebeeld word nie. Hy is eerder redelik, aanpasbaar en barmhartig. Wanneer hy besluit om die goddeloses te straf, gebruik hy eers sy verteenwoordigers op die aarde om hulle te waarsku, want hy wil graag hê dat die goddeloses moet doen wat die Nineviete gedoen het—berou toon en hulle weë verander (Esegiël 33:11). Jehovah het vir sy profeet Jeremia gesê: “As ek op enige oomblik teen ’n nasie en teen ’n koninkryk spreek om dit uit te ruk en af te breek en te vernietig, en dié nasie hom afkeer van sy slegtheid waarteen ek gespreek het, dan sal ek spyt voel oor die rampspoed wat ek gedink het om daaroor te bring.”—Jeremia 18:7, 8.
Was Jona se profesie dus vals? Nee; dit het die doel daarvan bereik deur as ’n waarskuwing te dien. Daardie waarskuwing was gebaseer op die Nineviete se slegte weë, wat intussen verander het. As die Nineviete in hulle slegte weë sou terugval, sou God oordeel aan hulle voltrek. Dit is presies wat later gebeur het.—Sefanja 2:13-15.
Hoe het Jona gereageer toe die stad nie vernietig is toe hy dit verwag het nie? Ons lees: “Maar Jona was baie ontevrede hieroor, en hy het kwaad geword” (Jona 4:1). Jona het selfs ’n gebed gedoen wat klink asof hy die Almagtige teregwys! Jona het aan die hand gedoen dat hy by die huis moes gebly het, in sy eie land. Hy het beweer dat hy al die tyd geweet het dat Jehovah nie rampspoed oor Nineve sou bring nie en het dit selfs as ’n verskoning gebruik vir die feit dat hy in die eerste plek na Tarsis gevlug het. Toe het hy gevra om te sterf en gesê dat die dood beter sal wees as die lewe.—Jona 4:2, 3.
Wat het Jona gekwel? Ons weet nie waaraan hy alles gedink het nie, maar ons weet wel dat Jona voor al daardie mense ’n oordeelsboodskap aan Nineve verkondig het. Hulle het hom geglo. En nou sou geen oordeel kom nie. Was hy bang dat hy gespot sou word of dat hy as ’n valse profeet bestempel sou word? Wat die geval ook al was, hy was nie bly oor die mense se berou of oor Jehovah se barmhartigheid nie. Hy was blykbaar eerder op ’n afwaartse spiraal van bitterheid, selfbejammering en gekrenkte eer. Maar klaarblyklik het Jona se barmhartige God nog steeds die goeie in hierdie ontstelde man gesien. Pleks van Jona vir sy oneerbiedigheid te straf, het Jehovah hom eenvoudig een vriendelike, indringende vraag gevra: “Het jy met reg kwaad geword?” (Jona 4:4). Het Jona ooit geantwoord? Die Bybelverslag sê nie.
Hoe Jehovah vir Jona ’n les geleer het
Die neerslagtige profeet het Nineve verlaat en het nie huis toe gegaan nie, maar ooswaarts, waar berge oor die streek uitgekyk het. Hy het ’n klein skuiling gebou en gaan sit en wag om te sien wat met Nineve sou gebeur. Dalk het hy nog steeds vasgehou aan die hoop dat hy die vernietiging daarvan sou sien. Hoe sou Jehovah hierdie hardkoppige man leer om barmhartig te wees?
Deur die nag het Jehovah ’n kalbasplant laat opkom. Toe Jona wakker word, het hy die welige plant gesien, met sy breë blare wat veel meer skadu as sy karige skuiling voorsien het. Hy het beter begin voel. “Jona het baie bly geword” oor die plant en het die wonderdadige verskyning daarvan dalk beskou as ’n blyk van God se seën en goedkeuring. Maar Jehovah wou meer doen vir Jona as om hom net van die hitte en van sy eie onredelike woede te verlos. Hy wou Jona se hart bereik. God het dus ’n wurm gebruik om die plant aan te val en dood te maak. Toe het hy “’n verskroeiende oostewind” gestuur totdat Jona byna “flou geword het” van die hitte. Nogmaals is die man deur mismoedigheid oorkom en het hy God gevra om hom te laat sterf.—Jona 4:6-8.
Weer eens het Jehovah Jona gevra of hy met reg kwaad was, hierdie keer omdat die kalbasplant doodgegaan het. In plaas daarvan om berou te toon, het Jona homself geregverdig en gesê: “Ek het met reg kwaad geword, tot die dood toe.” Dit was nou die regte tyd vir Jehovah om die les by hom tuis te bring.—Jona 4:9.
God het met Jona geredeneer deur te sê dat die profeet jammer voel oor die dood van ’n blote plant wat oornag opgekom het en wat Jona nie geplant het of laat groei het nie. Ten slotte het God gesê: “Behoort ék nie jammer te voel vir Nineve, die groot stad, waarin daar meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat glad nie die verskil tussen hulle regter- en hulle linkerhand ken nie, benewens talle mak diere?”—Jona 4:10, 11.d
Sien jy die diepte van Jehovah se praktiese les? Jona het niks gedoen om na daardie plant om te sien nie. Aan die ander kant was Jehovah die Bron van lewe vir daardie Nineviete en het hy hulle onderhou, soos met al die lewende wesens op die aarde. Hoe kon Jona meer waarde heg aan ’n enkele plant as aan die lewens van 120 000 mense, bo en behalwe al hulle vee? Was dit nie omdat Jona toegelaat het dat sy denke selfsugtig word nie? Hy het immers net vir die plant jammer gevoel omdat dit hom persoonlik tot voordeel gestrek het. Het sy woede oor Nineve nie ook voortgespruit uit selfsugtige beweegredes nie—’n trotse begeerte om nie in die verleentheid gestel te word nie, om reg bewys te word?
Wat ’n belangrike les is dit tog! Die vraag is: Het Jona die les ter harte geneem? Die boek wat sy naam dra, sluit af met Jehovah se vraag wat onbeantwoord gelaat word. Party kritici kla dalk dat Jona nooit antwoord nie. Maar om die waarheid te sê, sy antwoord is wel daar. Die boek self is die antwoord. Die bewyse dui daarop dat Jona die boek geskryf het wat sy naam dra. Stel jou hierdie profeet voor terwyl hy, veilig terug in sy vaderland, hierdie verslag skryf. Ons kan amper sien hoe ’n ouer, wyser en nederiger man bedroef sy kop skud terwyl hy skryf oor sy eie foute, sy opstandigheid en sy hardkoppige weiering om barmhartigheid te betoon. Dit is duidelik dat Jona wel uit Jehovah se wyse onderrigting geleer het. Hy het geleer om barmhartig te wees. Wat van ons?
[Voetnote]
a Sien die artikel “Volg hulle geloof na—Hy het uit sy foute geleer”, in Die Wagtoring van 1 Januarie 2009.
b Daar word geskat dat Samaria, die hoofstad van Israel, in Jona se dag dalk sowat 20 000 tot 30 000 inwoners gehad het—minder as ’n kwart van Nineve se bevolking. Nineve was tydens sy glorietyd moontlik die grootste stad ter wêreld.
c Hierdie besonderheid klink dalk vreemd, maar dit is nie uniek in die geskiedenis nie. Die Griekse geskiedskrywer Herodotus het gesê dat die eertydse Perse oor die dood van ’n gewilde generaal getreur het deur hulle vee by die rougebruike in te sluit.
d Die feit dat God gesê het dat hierdie mense nie die verskil tussen regs en links ken nie, het verwys na hulle kinderlike onkunde ten opsigte van goddelike standaarde.
[Lokteks op bladsy 16]
God wil graag hê dat die goddeloses berou moet toon en hulle weë moet verander, soos die Nineviete gedoen het
[Lokteks op bladsy 17]
God het die kalbasplant gebruik om Jona ’n les in barmhartigheid te leer