Wat verwag Jehovah van ons?
“Wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?”—MIGA 6:8.
1, 2. Waarom raak sommige knegte van Jehovah dalk ontmoedig, maar wat sal hulle nuttig vind?
VERA is ’n getroue Christen wat omtrent 75 jaar oud is en sukkel met haar gesondheid. “Soms”, sê sy, “kyk ek by die venster uit en sien hoe my Christenbroers en -susters van huis tot huis getuig. Dit maak my hartseer omdat ek graag saam met hulle wil wees, maar ek kan weens my siekte nie soveel in Jehovah se diens doen nie.”
2 Het jy al ooit so gevoel? Almal wat Jehovah liefhet, wil natuurlik in sy naam wandel en aan sy vereistes voldoen. Maar sê nou ons sukkel met verslegtende gesondheid, ons is bejaard of het gesinsverantwoordelikhede? Ons voel dalk ietwat ontmoedig omdat hierdie omstandighede ons verhinder om soveel in God se diens te doen as wat ons graag wil doen. As ons in hierdie situasie is, sal ’n bespreking van Miga hoofstukke 6 en 7 ons heel waarskynlik baie bemoedig. Hierdie hoofstukke toon dat Jehovah se vereistes redelik sowel as bereikbaar is.
Hoe God sy volk behandel
3. Hoe behandel Jehovah die opstandige Israeliete?
3 Kom ons kyk eerstens na Miga 6:3-5 en let op hoe Jehovah sy volk behandel. Onthou dat die Israeliete in Miga se tyd opstandig is. Nietemin spreek Jehovah hulle medelydend aan met die woorde “O my volk”. Hy pleit: “O my volk, dink asseblief.” Hy praat nie veroordelend met hulle nie, maar probeer eerder hulle harte bereik deur te vra: “Wat het ek jou aangedoen?” Hy spoor hulle selfs aan om teen hom te “getuig”.
4. Watter uitwerking moet God se voorbeeld van medelye op ons hê?
4 Wat ’n uitstekende voorbeeld stel God tog vir ons almal! Weens sy medelye het hy selfs die opstandige mense van Israel en Juda in Miga se tyd “my volk” genoem en woorde soos “asseblief” gebruik toe hy met hulle gepraat het. Hoeveel te meer moet ons dan medelye en goedhartigheid toon in ons handelinge met diegene wat deel van die gemeente is. Dit is dalk nie so maklik om met party oor die weg te kom nie, of hulle is miskien geestelik swak. Maar as hulle Jehovah liefhet, wil ons hulle help en medelye aan hulle betoon.
5. Wat is die hoofgedagte van Miga 6:6, 7?
5 Kom ons kyk nou na Miga 6:6, 7. Miga vra ’n reeks vrae: “Waarmee sal ek Jehovah tegemoetgaan? Waarmee sal ek my buig voor God in die hoogte? Sal ek hom met heelbrandoffers tegemoetgaan, met jaaroud kalwers? Sal Jehovah behae skep in duisende ramme, in tienduisende strome olie? Sal ek my eersgebore seun vir my opstandigheid gee, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel?” Nee, ons kan Jehovah nie met “duisende ramme, [met] tienduisende strome olie” behaag nie. Maar daar is wel iets wat hom sal behaag. Wat is dit?
Ons moet geregtigheid beoefen
6. Watter drie dinge vereis God van ons volgens Miga 6:8?
6 In Miga 6:8 vind ons uit wat Jehovah van ons verwag. Miga vra: “Wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?” Hierdie drie vereistes hou verband met hoe ons voel, dink en optree. Ons moet beweeg voel om hierdie eienskappe aan die dag te lê, dink aan hoe ons dit kan openbaar en dan daadwerklik optree om dit te betoon. Kom ons bespreek hierdie drie vereistes een op ’n slag.
7, 8. (a) Wat beteken dit “om geregtigheid te beoefen”? (b) Watter onregte is algemeen in Miga se dag?
7 “Om geregtigheid te beoefen”, beteken om te doen wat reg is. God se manier van dinge doen, is die standaard van geregtigheid. Miga se tydgenote beoefen egter nie geregtigheid nie, maar ongeregtigheid. Op watter maniere? Kyk na Miga 6:10. Aan die einde van daardie vers sê dit dat handelaars ’n “skrapse efa” gebruik, dit wil sê een wat te klein is. Vers 11 voeg by dat hulle “bedrieglike weegstene” gebruik. En volgens vers 12 is ‘hulle tong bedrieglik’. Bedrieglike mate, bedrieglike gewigte en bedrieglike woorde is dus algemeen in die handelswêreld van Miga se dag.
8 Ongeregtigheid is nie net tot die mark beperk nie. Dit is ook algemeen in die hof. Miga 7:3 sê: “Die vors vra iets, en hy wat regspreek, doen dit vir die beloning.” Omkoopgeskenke word aan regters gegee sodat hulle onregverdige vonnisse oor onskuldige mense sal uitspreek. “Die vername man”, of invloedryke burger, is medepligtig aan hierdie misdade. Trouens, Miga sê dat die vors, die regter en die vername man hulle goddelose dade ‘ineenvleg’, of dit koördineer.
9. Hoe word Juda en Israel geraak deur die onregte wat die goddeloses pleeg?
9 Die onregte wat deur die goddelose leiers gepleeg word, raak die hele Juda en Israel. Miga 7:5 sê dat ’n gebrek aan geregtigheid veroorsaak het dat daar ’n gebrek aan vertroue tussen metgeselle, vertroude vriende en selfs huweliksmaats is. Vers 6 toon dat dit tot ’n situasie gelei het waarin familielede wat so na aan mekaar is soos seuns en vaders, dogters en moeders, mekaar verag.
10. Hoe gedra Christene hulle in vandag se klimaat van ongeregtigheid?
10 Wat van vandag? Sien ons nie soortgelyke toestande nie? Soos Miga is ons omring deur ’n gebrek aan geregtigheid, ’n atmosfeer van wantroue en ’n agteruitgang in die maatskaplike en gesinslewe. Maar as knegte van God wat in hierdie onregverdige wêreld lewe, laat ons nie toe dat hierdie wêreld se gees van ongeregtigheid in die Christengemeente insypel nie. Ons probeer eerder die beginsels van eerlikheid en onkreukbaarheid handhaaf en pas dít in ons daaglikse lewe toe. Ja, ons ‘gedra ons eerlik in alles’ (Hebreërs 13:18). Stem jy nie saam dat die beoefening van geregtigheid ons ryk seëninge laat geniet omdat ons deel is van ’n broederskap waarin daar ware vertroue heers nie?
Hoe hoor mense “die stem van Jehovah”?
11. Hoe word Miga 7:12 vervul?
11 Miga voorspel dat geregtigheid alle mense sal bereik, ten spyte van onregverdige toestande. Die profeet voorspel dat mense versamel sal word “van see tot see, en van berg tot berg” om aanbidders van Jehovah te word (Miga 7:12). Vandag, in die finale vervulling van hierdie profesie, vind nie net een spesifieke nasie by God se onpartydige geregtigheid baat nie, maar individue uit alle nasies (Jesaja 42:1). Hoe so?
12. Hoe word “die stem van Jehovah” vandag gehoor?
12 Die antwoord vind ons in Miga se vroeëre woorde. Miga 6:9 sê: “Die stem van Jehovah roep tot die stad, en wie praktiese wysheid het, sal u naam vrees.” Hoe hoor mense uit alle nasies “die stem van Jehovah”, en hoe hou dit verband met die feit dat ons geregtigheid beoefen? Vandag hoor mense natuurlik nie God se stem letterlik nie. Maar deur ons wêreldwye predikingswerk hoor individue uit alle rasse en stande Jehovah se stem. Gevolglik sal diegene wat luister, ‘God se naam vrees’, of eerbiedige ontsag daarvoor hê. Ons tree beslis regverdig en liefdevol op deur as ywerige Koninkryksverkondigers te dien. As ons God se naam sonder partydigheid aan almal bekend maak, ‘beoefen ons geregtigheid’.
Ons moet goedhartigheid liefhê
13. Wat is die verskil tussen liefderyke goedhartigheid en liefde?
13 Kom ons bespreek nou die tweede vereiste wat in Miga 6:8 gemeld word. Jehovah verwag van ons om “goedhartigheid lief te hê”. Die Hebreeuse woord wat met “goedhartigheid” vertaal word, word ook as “liefderyke goedhartigheid” of “lojale liefde” weergegee. Liefderyke goedhartigheid is ’n daadwerklike inagneming van ander, ’n medelydende besorgdheid oor hulle. Liefderyke goedhartigheid verskil van die eienskap liefde. Hoe so? Liefde is ’n breër term, want ’n mens kan selfs dinge of iets abstraks liefhê. Die Bybel praat byvoorbeeld van iemand wat “wyn en olie liefhet” en van ’n man wat “wysheid liefhet” (Spreuke 21:17; 29:3). Maar liefderyke goedhartigheid behels altyd mense, veral dié wat God dien. Miga 7:20 praat derhalwe van “die liefderyke goedhartigheid wat aan Abraham bewys is”—’n man wat Jehovah God gedien het.
14, 15. Hoe word liefderyke goedhartigheid betoon, en watter voorbeeld word hier gemeld?
14 Volgens Miga 7:18 sê die profeet dat God ‘behae skep in liefderyke goedhartigheid’. In Miga 6:8 word daar nie net vir ons gesê om liefderyke goedhartigheid te betoon nie, maar om daardie eienskap lief te hê. Wat leer ons uit hierdie tekste? Liefderyke goedhartigheid word gewillig en vryelik betoon omdat ons dit graag wil doen. Soos Jehovah skep ons behae daarin om liefderyke goedhartigheid te bewys aan diegene wat dit nodig het.
15 Vandag is sulke liefderyke goedhartigheid ’n kenmerk van God se volk. Beskou net een voorbeeld. In Junie 2001 het ’n tropiese storm verskriklike oorstromings in Texas, VSA, veroorsaak wat duisende huise beskadig het, waaronder honderde huise van Jehovah se Getuies. Om hulle Christenbroers te help wat in nood verkeer het, het ongeveer 10 000 Getuies hulle tyd en energie gewillig en vryelik opgeoffer. Meer as ses maande lank het die vrywilligers onvermoeid gewerk en hulle dae, nagte en naweke gebruik om 8 Koninkryksale en meer as 700 huise vir hulle Christenbroers te herbou. Diegene wat nie hierdie werk kon doen nie, het kos, ander benodigdhede en geld geskenk. Waarom het al hierdie duisende Getuies hulle broers te hulp gesnel? Omdat hulle ‘goedhartigheid liefhet’. En hoe hartverblydend is dit tog om te weet dat sulke dade van liefderyke goedhartigheid deur ons broers in alle wêrelddele betoon word! Ja, die vereiste om “goedhartigheid lief te hê”, is nie ’n las nie, maar ’n vreugde!
Wandel beskeie met God
16. Watter illustrasie beklemtoon hoe belangrik dit is om beskeie met God te wandel?
16 Die derde vereiste in Miga 6:8 is om “beskeie te wandel met jou God”. Dit beteken dat ons ons beperkings erken en op God vertrou. Ons kan dit so toelig: Stel jou vir ’n oomblik ’n klein dogtertjie voor wat haar pa se hand styf vashou terwyl hulle deur ’n storm loop. Die dogtertjie weet goed dat haar krag beperk is, maar sy stel vertroue in haar pa. Ons moet ook bewus wees van ons beperkings en ons vertroue stel in ons hemelse Vader. Hoe kan ons hierdie vertroue behou? Een manier is deur in gedagte te hou waarom dit verstandig is om na aan God te bly. Miga herinner ons aan drie redes: Jehovah is ons Verlosser, ons Leier en ons Beskermer.
17. Hoe het Jehovah sy eertydse volk verlos, gelei en beskerm?
17 Volgens Miga 6:4, 5 sê God: “Ek het jou uit Egipteland laat optrek.” Ja, Jehovah was Israel se Verlosser. Jehovah sê verder: “Ek het Moses, Aäron en Mirjam voor jou uit gestuur.” Moses en Aäron is gebruik om die nasie te lei, en Mirjam het die vroue van Israel in ’n oorwinningsdans voorgegaan (Eksodus 7:1, 2; 15:1, 19-21; Deuteronomium 34:10). Jehovah het leiding deur middel van sy knegte voorsien. In vers 5 herinner Jehovah die nasie Israel daaraan dat hy hulle beskerm het teen Balak en Bileam en hulle ook gedurende die laaste deel van hulle tog, van Sittim in Moab tot by Gilgal in die Beloofde Land, beskerm het.
18. Hoe tree God vandag op as ons Verlosser, Leier en Beskermer?
18 Terwyl ons met God wandel, verlos hy ons van Satan se wêreld, lei hy ons deur middel van sy Woord en sy organisasie en beskerm hy ons as ’n groep wanneer ons deur teenstanders aangeval word. Ons het dus alle rede om die hand van ons hemelse Vader styf vas te hou terwyl ons met hom wandel deur die stormagtige laaste deel van ons tog na iets veel groters as die eertydse Beloofde Land—God se regverdige nuwe wêreld.
19. Watter verband is daar tussen beskeidenheid en ons beperkings?
19 As ons beskeie met God wandel, sal dit ons help om ’n realistiese beskouing van ons omstandighede te hê. Dit is so omdat beskeidenheid behels dat ons bewus is van ons beperkings. Bejaardheid of swak gesondheid beperk dalk wat ons in Jehovah se diens kan doen. Ons moet egter nie toelaat dat dit ons ontmoedig nie, maar eerder onthou dat God ons pogings en opofferings aanvaar ‘volgens wat ons het, nie volgens wat ons nie het nie’ (2 Korintiërs 8:12). Ja, Jehovah verwag dat ons hom met ons hele siel dien en doen wat ons omstandighede toelaat (Kolossense 3:23). Wanneer ons opreg en ywerig ons bes in sy diens doen, seën God ons ryklik.—Spreuke 10:22.
’n Wagtende houding bring seëninge mee
20. Watter feit moet ons help om soos Miga ’n wagtende houding in te neem?
20 Omdat ons Jehovah se seën geniet, word ons beweeg om Miga se gesindheid na te volg. Hy sê: “Ek sal ’n wagtende houding teenoor die God van my redding inneem” (Miga 7:7). Hoe hou hierdie woorde verband met die feit dat ons beskeie met God wandel? ’n Wagtende houding, oftewel geduld, help ons om nie teleurgesteld te voel omdat Jehovah se dag nog nie gekom het nie (Spreuke 13:12). Ons almal sien weliswaar uit na die einde van hierdie goddelose wêreld. Maar elke week is daar duisende mense wat met God begin wandel. Dit gee vir ons oorgenoeg rede om ’n wagtende houding in te neem. ’n Getuie wat Jehovah al lank dien, het in dié verband gesê: “As ek terugkyk op meer as 55 jaar in die predikingswerk, is ek daarvan oortuig dat ek niks verloor het deur op Jehovah te wag nie. Inteendeel, ek is baie hartseer gespaar.” Voel jy ook so?
21, 22. Hoe word Miga 7:14 in ons dag vervul?
21 Ons vind beslis daarby baat om met Jehovah te wandel. Soos ons in Miga 7:14 lees, vergelyk Miga God se volk met skape wat veilig saam met hulle herder woon. Vandag, in die groter vervulling van hierdie profesie, vind die oorblyfsel van geestelike Israel sowel as die “ander skape” veiligheid by hulle vertroude Herder, Jehovah. Hulle woon “alleen in ’n woud”, of “in ’n boord”, dit wil sê in geestelike sin afgeskeie van hierdie wêreld waarin probleme en gevare toeneem.—Johannes 10:16; Deuteronomium 33:28; Jeremia 49:31; Galasiërs 6:16.
22 Jehovah se volk geniet voorspoed, soos Miga 7:14 ook voorspel het. Aangaande God se skape, of volk, sê Miga: “Laat hulle in Basan en Gilead wei.” Net soos skape in Basan en Gilead in vrugbare weivelde gewei en gefloreer het, so geniet God se volk vandag ook geestelike voorspoed—nog ’n seën vir diegene wat beskeie met God wandel.—Numeri 32:1; Deuteronomium 32:14.
23. Watter les kan ons uit Miga 7:18, 19 leer?
23 In Miga 7:18, 19 beklemtoon die profeet Jehovah se begeerte om diegene te vergewe wat berou toon. Vers 18 sê dat Jehovah “ongeregtigheid vergewe” en ‘die oortreding oorsien’. Volgens vers 19 sal hy “al hulle sondes in die dieptes van die see werp”. Watter les kan ons hieruit leer? Ons kan ons afvra of ons Jehovah in dié opsig navolg. Vergewe ons ander as hulle iets teen ons doen? Wanneer sulke persone berou toon en sake probeer regstel, sal ons beslis Jehovah se voorbeeld wil navolg en hulle ten volle en permanent wil vergewe.
24. Hoe het jy baat gevind by Miga se profesie?
24 Hoe het ons baat gevind by hierdie bespreking van Miga se profesie? Dit het ons daaraan herinner dat Jehovah ware hoop gee aan diegene wat nader aan hom kom (Miga 2:1-13). Ons is aangespoor om alles in ons vermoë te doen om ware aanbidding te bevorder sodat ons vir ewig in God se naam kan wandel (Miga 4:1-4). En ons is daarvan verseker dat ons, ongeag ons omstandighede, aan Jehovah se vereistes kan voldoen. Ja, Miga se profesie versterk ons waarlik om in Jehovah se naam te wandel.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat vereis Jehovah van ons volgens Miga 6:8?
• Wat is nodig om “geregtigheid te beoefen”?
• Hoe kan ons toon dat ons ‘geregtigheid liefhet’?
• Wat behels dit om ‘beskeie te wandel met God’?
[Prente op bladsy 21]
Ten spyte van die goddelose toestande van sy dag het Miga Jehovah se vereistes nagekom. Jy kan ook
[Prent op bladsy 23]
Beoefen geregtigheid deur vir mense van alle stande te getuig
[Prente op bladsy 23]
Toon dat jy goedhartigheid liefhet deur diegene te help wat hulp nodig het
[Prent op bladsy 23]
Doen wat jy kan terwyl jy jou beperkings beskeie erken