-
Behandel ander soos God wil hê jy moetLewe met Jehovah se dag in gedagte
-
-
6. Wat raai Miga 7:18 ons aan om te doen, in teenstelling met wat in Sagaria 7:10 gemeld word?
6 Jehovah het Sagaria laat melding maak van Sy wens dat ons ‘geen kwaad teen mekaar in ons hart moet beplan nie’ (Sagaria 7:9, 10; 8:17). Hierdie raad is van toepassing wanneer ons voel dat ’n broer ons seergemaak of iemand in ons familie veronreg het. In sulke gevalle is dit maklik om ‘kwaad in ons hart te beplan’ en dit dan in ons dade te weerspieël. Maar God wil eerder hê dat ons sy positiewe voorbeeld moet navolg. Onthou dat Miga geskryf het dat Jehovah “ongeregtigheid vergewe en die oortreding . . . oorsien” (Miga 7:18).a Hoe kan ons dit op praktiese maniere toepas?
7. Waarom sal ons moontlik verkies om ’n oortreding maar net te vergeet?
7 Ons voel dalk seergemaak oor wat aan ons of aan ons familielid gedoen is, maar hoe ernstig is dit werklik? Die Bybel sit stappe uiteen om geskille op te los, selfs in die geval van ’n sonde teen ’n broer. Dit is nietemin dikwels die beste om die fout of die onreg bloot te ignoreer, om ‘die oortreding oor te sien’. Vra jou af: ‘Is dit dalk een van die 77 keer dat ek hom moet vergewe? Waarom vergeet ek dit nie maar net nie?’ (Matteus 18:15-17, 21, 22). Selfs al lyk die oortreding nou belangrik, sal dit oor ’n duisend jaar nog die geval wees? Leer ’n basiese les uit die verklaring in Prediker 5:20 oor ’n werker wat voedsel en drank geniet: “Hy sal nie dikwels aan sy lewensdae dink nie, omdat die ware God hom besig hou met die blydskap van sy hart.” Wanneer daardie man hom vreugdevol toespits op die dinge wat hy op daardie tydstip geniet, is hy geneig om die probleme van sy daaglikse lewe te vergeet. Kan ons daardie gesindheid navolg? As ons ons op die vreugdes van ons Christenbroederskap toespits, sal ons moontlik geskille vergeet wat nie vir altyd belangrik sal wees nie, dié wat ons nie in die nuwe wêreld sal onthou nie. Dit is heeltemal anders as om bly te wees oor ’n ander se probleme of om oortredings te onthou.
-
-
Behandel ander soos God wil hê jy moetLewe met Jehovah se dag in gedagte
-
-
a Aangaande die uitdrukking ‘die oortreding oorsien’, sê een geleerde dat die Hebreeuse metafoor “geneem is uit die gedrag van ’n reisiger wat voortreis sonder om ag te slaan op ’n voorwerp waaraan hy nie aandag wil skenk nie. Die idee [is nie dat God sonde nie opmerk nie], maar dat hy in sekere gevalle nie daarop let met die doel om straf uit te deel nie; dat hy nie straf nie, maar vergewe.”
-