Bybelboek nommer 33—Miga
Skrywer: Miga
Waar geskryf: Juda
Geskrif voltooi: Voor 717 v.G.J.
Beskrewe tydperk: ca. 777–717 v.G.J.
1. Watter soort man was Miga?
DINK aan ’n ryp man, iemand wat baie jare in getroue diens aan Jehovah deurgebring het. Dink aan ’n vrymoedige man, iemand wat vir die heersers van sy nasie kon sê: “Haters van wat goed is, en liefhebbers van wat sleg is, . . . wat die vlees van my volk eet en hulle vel van hulle afslag.” Dink aan ’n nederige man, iemand wat al die eer vir sy kragtige uitsprake aan Jehovah gegee het, deur wie se gees hy gespreek het. Sou jy nie graag so ’n man wou ken nie? Wat ’n skat van inligting en gesonde raad sou hy tog kon verstrek! Die profeet Miga was so ’n man. Ons het steeds toegang tot sy uitgelese raad in die boek wat sy naam dra.—Miga 3:2, 3, 8.
2. Wat is bekend oor Miga en die tydperk waartydens hy geprofeteer het?
2 Soos in die geval van baie van die profete word daar baie min oor Miga self in sy boek gesê; dit was die boodskap wat belangrik was. Die naam Miga is ’n verkorte vorm van Migael (wat “Wie is soos God?” beteken) of Migaja (wat “Wie is soos Jehovah?” beteken). Hy het gedurende die regerings van Jotam, Agas en Hiskia (777-717 v.G.J.) as profeet gedien, wat hom ’n tydgenoot van die profete Jesaja en Hosea gemaak het (Jes. 1:1; Hos. 1:1). Presies hoe lank hy geprofeteer het, is onseker, maar dit was hoogstens 60 jaar. Sy profesieë oor Samaria se verwoesting moes voor die stad se vernietiging in 740 v.G.J. uitgespreek gewees het, en die hele geskrif moes teen die einde van Hiskia se regering, 717 v.G.J., voltooi gewees het (Miga 1:1). Miga was ’n plattelandse profeet uit die dorpie Moreset in die vrugbare Sjefela, suidwes van Jerusalem. Sy bekendheid met die plattelandse lewe blyk uit die soort illustrasies wat hy gebruik het om die strekking van sy uitsprake duidelik te maak.—2:12; 4:12, 13; 6:15; 7:1, 4, 14.
3. In watter betekenisvolle tye het Miga gedien, en waarom het Jehovah hom as profeet aangestel?
3 Miga het in gevaarlike en betekenisvolle tye gelewe. Snel opeenvolgende gebeure het ondergang vir die koninkryke van Israel en Juda voorspel. Sedelike verdorwenheid en afgodery het in Israel wortelgeskiet en dit het vernietiging deur Assirië oor die nasie gebring, klaarblyklik nog gedurende Miga se tyd. Gedurende die regering van Jotam het Juda gedoen wat reg is, maar hulle het gedurende Agas se opstandige regering daartoe oorgegaan om Israel se goddeloosheid na te volg, waarop daar weer ’n tydperk van herstel gedurende die regering van Hiskia gevolg het. Jehovah het Miga verwek om Sy volk kragtig te waarsku oor wat Hy oor hulle gaan bring. Miga se profesieë het dié van Jesaja en Hosea bevestig.—2 Kon. 15:32–20:21; 2 Kron. hfst. 27-32; Jes. 7:17; Hos. 8:8; 2 Kor. 13:1.
4. Waardeur word die egtheid van die boek Miga bewys?
4 Daar is ’n oorvloed van bewyse vir die egtheid van die boek Miga. Die Jode het dit nog altyd as ’n deel van die Hebreeuse kanon aanvaar. Jeremia 26:18, 19 verwys regstreeks na Miga se woorde: “[Sion sal] soos ’n land omgeploeg en Jerusalem [sal] puinhope word” (Miga 3:12). Hierdie profesie is in 607 v.G.J. akkuraat vervul toe die koning van Babel Jerusalem met die grond gelykgemaak het (2 Kron. 36:19). ’n Soortgelyke profesie oor Samaria, naamlik dat dit ‘’n puinhoop op die veld’ sou word, is eweneens vervul (Miga 1:6, 7). Samaria is in 740 v.G.J. deur die Assiriërs verwoes toe hulle die noordelike koninkryk Israel in gevangenskap weggevoer het (2 Kon. 17:5, 6). Dit is later, in die vierde eeu v.G.J., deur Alexander die Grote verower en in die tweede eeu v.G.J. deur die Jode onder Johannes Hyrkanus I verwoes. The New Westminster Dictionary of the Bible, 1970, bladsy 822, sê oor hierdie laaste vernietiging van Samaria: “Die oorwinnaar het dit gesloop in ’n poging om alle bewyse dat ’n versterkte stad eens op die heuwel gestaan het uit te wis.”
5. Hoe getuig die argeologie van die vervulling van Miga se profesieë?
5 Argeologiese bewyse staaf ook die vervullings van Miga se profesie. Samaria se vernietiging deur die Assiriërs word in Assiriese annale gemeld. Assiriese koning Sargon het byvoorbeeld gespog: “Ek het Samaria (Sa-me-ri-na) beleër en verower.”a Maar dit was moontlik Sargon se voorganger, Salmaneser V, wat die verowering voltooi het. ’n Babiloniese kroniek sê oor Salmaneser: “Hy het Samaria verwoes.”b Die inval in Juda gedurende Hiskia se regering, soos deur Miga voorspel, is goed geboekstaaf deur Sanherib (Miga 1:6, 9; 2 Kon. 18:13). Hy het ’n groot reliëf van vier panele op die muur van sy paleis in Nineve laat aanbring, wat die verowering van Lagis uitbeeld. Op sy prisma sê hy: “Ek het 46 van sy sterk stede . . . beleër . . . Ek het (daaruit) weggevoer 200 150 mense . . . Hom het ek in Jerusalem, sy koninklike tuiste, ’n gevangene gemaak soos ’n voël in ’n kou.” Hy gee ook die skatting aan wat Hiskia aan hom betaal het, hoewel hy die bedrag oordryf. Hy maak geen melding van die onheil wat sy troepe getref het nie.c—2 Kon. 18:14-16; 19:35.
6. Wat ruim alle twyfel oor die inspirasie van Miga uit die weg?
6 Die uitsonderlike profesie in Miga 5:1, wat die geboorteplek van die Messias voorspel, ruim enige twyfel oor die inspirasie van die boek uit die weg (Matt. 2:4-6). Daar is ook gedeeltes wat ’n parallel vind in verklarings in die Christelike Griekse Geskrifte.—Miga 7:6, 20; Matt. 10:35, 36; Luk. 1:72, 73.
7. Wat kan oor Miga se uitdrukkingsvermoë gesê word?
7 Miga het nou wel van die platteland van Juda gekom, maar hy het beslis nie gesukkel om homself uit te druk nie. Van die mooiste uitdrukkings in God se Woord word in sy boek aangetref. Hoofstuk 6 is in treffende dialoog geskryf. Skielike oorgange boei die leser se aandag wanneer Miga vinnig van die een gedagte na die ander oorslaan, van vloeke na seëninge en weer terug (Miga 2:10, 12; 3:1, 12; 4:1). Die boek is vol lewendige beeldspraak: Wanneer Jehovah uittrek, “[smelt] die berge . . . onder Hom, en die laagtes skeur oop, soos was voor die vuur, soos water wat langs ’n helling afstroom!”—1:4; sien ook 7:17.
8. Wat bevat elk van die drie dele van Miga?
8 Die boek kan in drie dele verdeel word, en elke deel begin met “Luister” of “Hoor” en bevat bestrawwings, waarskuwings oor straf en beloftes van seëninge.
INHOUD VAN MIGA
9. Watter strawwe word teen Samaria en Juda uitgespreek?
9 Deel 1 (1:1–2:13). Jehovah kom uit sy tempel om Samaria vir haar afgodery te straf. Hy sal haar “’n puinhoop” maak en “haar klippe in die dal laat afrol”, terwyl hy haar gesnede beelde verbrysel. Daar sal vir haar geen genesing wees nie. Juda is ook skuldig en sal tot “die poort van Jerusalem” ingeval word. Diegene wat skadelike dinge beraam, word veroordeel en sal weeklaag: “Ons is heeltemal verwoes”!—1:6, 12; 2:4.
10. Hoe word die aandag op Jehovah se barmhartigheid gevestig?
10 Skielik word die aandag op Jehovah se barmhartigheid gevestig wanneer die profeet, in Jehovah se naam, verklaar: “Gewis sal Ek jou . . . versamel, o Jakob! Gewis sal Ek . . . almal bymekaarbring soos skape in ’n kraal, soos ’n kudde in sy weiveld; en dit sal dreun van mense.”—2:12.
11. (a) Watter veroordeling word nou teen die heersers van Jakob en Israel uitgespreek? (b) Hoe erken Miga die bron van sy moed?
11 Deel 2 (3:1–5:14). Miga gaan dan verder: “Hoor tog, o hoofde van Jakob en owerstes van die huis van Israel!” ’n Vernietigende veroordeling word uitgespreek teen hierdie “haters van wat goed is, en liefhebbers van wat sleg is” wat die volk verdruk. Hulle het “hulle gebeente verbrysel” (3:1-3). Tot hulle behoort die valse profete wat geen werklike leiding gee nie en God se volk laat dwaal. Meer as menslike moed is nodig om hierdie boodskap te verkondig! Maar Miga sê vol vertroue: “Ek daarenteen is vol krag, mét die Gees van die HERE, en reg en heldemoed, om aan Jakob sy oortreding te verkondig en aan Israel sy sonde” (3:8). Sy veroordeling van die bloedskuldige heersers bereik ’n vernietigende hoogtepunt: “Sy hoofde spreek vonnisse uit vir ’n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld” (3:11). Daarom sal Sion soos ’n land omgeploeg word en sal Jerusalem niks anders as ’n puinhoop word nie.
12. Watter grootse profesie word vir “die einde van die dae” gegee?
12 In nog ’n skielike kontras slaan die profesie oor na “die einde van die dae” om ’n grootse, treffende beskrywing van die herstel van Jehovah se aanbidding op sy berg te gee (4:1). Baie nasies sal opgaan om Jehovah se weë te leer, want sy wet en woord sal uit Sion en uit Jerusalem uitgaan. Hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie, maar elkeen sal onder sy wingerdstok en vyeboom sit. Hulle sal onbevrees wees. Laat die volke elkeen sy god volg, maar ware aanbidders sal in die naam van Jehovah hulle God wandel en hy sal vir ewig as Koning oor hulle heers. Maar eers moet Sion in ballingskap na Babel gaan. Slegs met haar herstel sal Jehovah haar vyande verpletter.
13. Watter soort heerser sal uit Betlehem kom, en soos wat sal “die oorblyfsel van Jakob” word?
13 Miga voorspel nou dat die heerser in Israel wie se ‘uitgange uit die voortyd is’ uit Betlehem Efrata sal kom. Hy sal as ’n herder ‘in die sterkte van Jehovah’ heers en groot wees, nie net in Israel nie, maar “tot aan die eindes van die aarde” (5:1, 3). Die sukses van die invallende Assiriër sal kortstondig wees, want hy sal teruggedryf en sy land verwoes word. “Die oorblyfsel van Jakob” sal soos ‘dou van Jehovah’ onder die volke wees en so moedig soos ’n leeu onder nasies (5:6). Jehovah sal valse aanbidding uitroei en wraak op die ongehoorsame nasies oefen.
14. (a) Met watter illustrasie begin deel 3 van Miga? (b) Ten opsigte van watter vereistes van Jehovah skiet die volk Israel te kort?
14 Deel 3 (6:1–7:20). ’n Treffende hoftoneel word nou in dialoog uitgebeeld. Jehovah het “’n regsgeding” met Israel en hy roep selfs die heuwels en berge as getuies (6:1, NW). Hy daag Israel uit om teen hom te getuig, en hy verhaal sy regverdige dade ten behoewe van hulle. Wat verlang Jehovah van die aardse mens? Nie ’n menigte diereoffers nie, maar eerder “om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig [“beskeie”, NW] te wandel met [sy] God” (6:8). Dit is juis wat in Israel ontbreek. In plaas van geregtigheid en liefde is daar “’n valse weegskaal”, geweld, leuentaal en bedrog (6:11). In plaas van beskeie met hulle God te wandel, wandel hulle in die goddelose planne en afgodediens van Omri en Agab, wat in Samaria regeer het.
15. (a) Wat betreur die profeet? (b) Watter gepaste slot het die boek Miga?
15 Die profeet betreur die sedelike verval van sy volk. Selfs hulle “mees opregte [is] erger as ’n doringheining” (7:4). Daar is verraad onder intieme vriende en in huisgesinne. Miga verloor nie moed nie. “Ek sal uitsien na [Jehovah], ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor” (7:7, vgl. NW). Hy waarsku ander om hulle nie te verheug wanneer Jehovah Sy volk straf nie, want verlossing sal kom. Jehovah sal sy volk laat wei en hulle voed en hulle “wonders” laat sien, wat die nasies bevrees sal maak (7:15). In die slot van sy boek is Miga getrou aan die betekenis van sy naam deur Jehovah vir Sy verruklike liefderyke goedheid te loof. Ja, ‘Wie is ’n God soos Jehovah?’—7:18.
WAAROM NUTTIG
16. (a) Hoe was Miga se profesie nuttig in Hiskia se dag? (b) Watter kragtige vermaninge bevat dit vir vandag?
16 Bykans 2 700 jaar gelede was Miga se profesie uiters ‘nuttig tot teregwysing’, want koning Hiskia van Juda het op sy boodskap gereageer en die volk tot berou en godsdienshervorming gelei. (Miga 3:9-12; Jer. 26:18, 19; vergelyk 2 Konings 18:1-4.) Vandag is hierdie geïnspireerde profesie selfs nuttiger. Hoor tog, alle verklaarde aanbidders van God, Miga se duidelike waarskuwings teen valse godsdiens, afgodediens, leuens en geweld! (Miga 1:2; 3:1; 6:1). Paulus bekragtig hierdie waarskuwings in 1 Korinthiërs 6:9-11, waar hy sê dat ware Christene skoon gewas is en dat niemand wat hom aan sulke gebruike oorgee God se Koninkryk sal beërf nie. Miga 6:8 sê eenvoudig en duidelik dat Jehovah verlang dat die mens in geregtigheid, liefde en beskeidenheid met Hom wandel.
17. Watter aanmoediging gee Miga vir diegene wat God onder vervolging en moeilike omstandighede dien?
17 Miga het sy boodskap bekend gemaak onder ’n volk wat so verdeeld was dat ‘’n man se huisgenote sy vyande was’. Ware Christene preek dikwels onder soortgelyke omstandighede, en party word selfs deur hulle eie familielede verraai en bitter vervolg. Hulle moet altyd geduldig op Jehovah, die ‘God van hulle redding’, wag (Miga 7:6, 7, vgl. NW; Matt. 10:21, 35-39). Tydens vervolging of wanneer hulle voor ’n moeilike toewysing te staan kom, sal diegene wat moedig op Jehovah vertrou, soos Miga, ‘vol krag word, met die gees van Jehovah’, om Sy boodskap te versprei. Miga het geprofeteer dat sulke moed in die besonder onder “die oorblyfsel van Jakob” te sien sou wees. Hulle sou wees soos ‘’n leeu onder die nasies, tussen baie volke’, en terselfdertyd soos verfrissende dou en reënbuie van Jehovah. Hierdie eienskappe is beslis geopenbaar onder die ‘oorblyfsel van Israel (Jakob)’ wat lede van die Christengemeente van die eerste eeu geword het.—Miga 3:8; 5:6, 7; Rom. 9:27; 11:5, 26.
18. Watter profesie van Miga hou verband met God se Koninkryksheerskappy deur middel van Christus Jesus?
18 Jesus se geboorte in Betlehem, ter vervulling van Miga se profesie, bevestig nie net die goddelike inspirasie van die boek nie, maar werp ook lig op die konteks van die vers en toon dat die koms van die Koninkryk van God onder Christus Jesus daarin voorspel is. Jesus is die een wat uit Betlehem (Huis van brood) verskyn met lewegewende voordele vir almal wat geloof in sy offer beoefen. Dit is hy wat “in die sterkte van die HERE” as herder optree en wat groot word en tot aan die eindes van die aarde vrede onder die herstelde, verenigde kudde van God bring.—Miga 5:1, 3; 2:12; Joh. 6:33-40.
19. (a) Watter geloofinboesemende aanmoediging word gegee vir diegene wat aan “die einde van die dae” lewe? (b) Hoe verheerlik Miga Jehovah se soewereiniteit?
19 Groot aanmoediging kan geput word uit Miga se profesie oor “die einde van die dae”, wanneer “baie nasies” deur Jehovah onderrig wil word. “En hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek.” Hulle versaak alle valse godsdiens en bevestig saam met Miga: “Óns sal wandel in die Naam van [Jehovah] onse God vir ewig en altoos.” Miga se profesie is inderdaad geloofinboesemend deurdat dit ons ’n toekomsblik van hierdie betekenisvolle gebeure gee. Dit verheerlik Jehovah ook op besondere wyse as die ewige Soewerein en Koning. Hoe opwindend is die woorde tog: “[Jehovah] sal koning wees oor hulle op die berg Sion, van nou af tot in ewigheid”!—Miga 4:1-7, vgl. NW; 1 Tim. 1:17.
[Voetnote]
a Ancient Near Eastern Texts, onder redaksie van James B. Pritchard, 1974, bladsy 284.
b Assyrian and Babylonian Chronicles, deur A. K. Grayson, 1975, bladsy 73.
c Ancient Near Eastern Texts, 1974, bladsy 288; Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 894-5.