Bybelboek nommer 34—Nahum
Skrywer: Nahum
Waar geskryf: Juda
Geskrif voltooi: Voor 632 v.G.J.
1. Wat is oor eertydse Nineve bekend?
“GODSPRAAK oor Nineve” (Nah. 1:1). Nahum se profesie begin met hierdie onheilspellende woorde. Maar waarom het hy hierdie verklaring van ondergang gemaak? Wat is oor eertydse Nineve bekend? Nahum som die stad se geskiedenis met een woord op: “bloedstad” (3:1). Twee hope op die oostelike oewer van die Tigrisrivier oorkant die hedendaagse stad Mosoel, in noordelike Irak, dui die ligging van eertydse Nineve aan. Dit was sterk verskans met mure en gragte en was die hoofstad van die Assiriese Ryk gedurende die laaste deel van sy geskiedenis. Die oorsprong van die stad kan egter teruggevoer word tot die dae van Nimrod, die “‘magtige jagter in verset teen Jehovah’. . . . Hy het na Assirië getrek en Nineve begin bou” (Gen. 10:9-11, NW). Nineve het dus ’n slegte begin gehad. Dit het veral gedurende die regerings van Sargon, Sanherib, Esar-Haddon en Assurbanipal, in die slottydperk van die Assiriese Ryk, bekendheid verwerf. Deur oorloë en veroweringe het die stad hom met buit verryk en berug geword weens die wrede, onmenslike manier waarop sy heersers die menigte gevangenes behandel het.a C. W. Ceram sê op bladsy 266 van sy boek Gods, Graves and Scholars (1954): “Nineve het ’n indruk op die bewussyn van die mens gelaat van feitlik niks anders nie as moord, plundering, onderdrukking en geweldpleging teenoor die swakkes; van oorlog en allerlei liggaamlike geweld; van die dade van ’n bloeddorstige dinastie van heersers wat die volk deur ’n skrikbewind onderdruk het en wat dikwels om die lewe gebring is deur mededingers wat wreder as hulle was.”
2. Watter soort godsdiens het Nineve beoefen?
2 Wat van Nineve se godsdiens? ’n Groot panteon van gode is aanbid, waarvan talle van Babel ingevoer is. Nineve se heersers het hierdie gode aangeroep wanneer hulle uitgetrek het om te verwoes en te vernietig, en sy hebsugtige priesters het sy veroweringsveldtogte aangemoedig, want hulle het uitgesien na ’n ryk beloning uit die buit. W. B. Wright sê in sy boek Ancient Cities (1886, bladsy 25): “Hulle het krag aanbid en het hulle gebede net tot kolossale klipbeelde gerig, leeus en bulle waarvan die swaar ledemate, arendsvleuels en mensehoofde simbole van krag, moed en oorwinning was. Oorlogvoering was die nasionale bedryf, en die priesters was knaend aanblasers van oorlog. Hulle is hoofsaaklik deur die oorlogsbuit onderhou, waarvan ’n vaste persentasie telkens aan hulle gegee is voor dit onder ander verdeel is, want hierdie geslag van plunderaars was buitengewoon godsdienstig.”
3. (a) In watter opsig is die betekenis van Nahum se naam gepas? (b) Tot watter tydperk behoort Nahum se profesie?
3 Hoewel Nahum se profesie kort is, is dit besonder belangwekkend. Alles wat ons van die profeet self weet, staan in die eerste vers: “Die boek van die gesig van Nahum, die Elkosiet.” Sy naam (Hebreeus, Na·choemʹ) beteken “Trooster”. Sy boodskap was beslis geen troos vir Nineve nie, maar vir God se ware volk het dit gewisse en blywende verligting van ’n onverbiddelike en magtige vyand beteken. Dit is ook vertroostend dat Nahum geen melding van die sondes van sy eie volk maak nie. Hoewel die ligging van Elkos nie definitief bekend is nie, is dit waarskynlik dat die profesie in Juda geskryf is (Nah. 1:15). Die val van Nineve, wat in 632 v.G.J. plaasgevind het, het nog in die toekoms gelê toe Nahum sy profesie opgeteken het, en hy vergelyk hierdie gebeurtenis met die val van No-Amon (Thebe, in Egipte) wat kort tevore plaasgevind het (3:8). Nahum moes gevolglik sy profesie in die loop van hierdie tydperk geskryf het.
4. Watter skryfeienskappe tree in die boek Nahum op die voorgrond?
4 Die styl van die boek is kenmerkend. Dit bevat geen oorbodige woorde nie. Die boek se krag en realisme is in ooreenstemming met die feit dat dit ’n deel van die geïnspireerde geskrifte is. Nahum blink uit in beskrywende, emosionele en dramatiese taal, asook in waardige uitdrukkings, duidelike beeldspraak en lewendige, treffende bewoording (1:2-8, 12-14; 2:4, 12; 3:1-5, 13-15, 18, 19). Die grootste deel van die eerste hoofstuk is blykbaar in die vorm van ’n akrostiese gedig (1:8, voetnoot in NW-naslaanuitgawe). Nahum se styl word verryk deur die feit dat hy net een tema het. Hy het ’n absolute afsku van Israel se verraderlike vyand. Die ondergang van Nineve is al wat hy sien.
5. Waardeur word die egtheid van Nahum se profesie bewys?
5 Die egtheid van Nahum se profesie word bewys deur die akkuraatheid van die vervulling daarvan. Wie anders as ’n profeet van Jehovah sou dit in Nahum se dag gewaag het om te voorspel dat die trotse hoofstad van die Assiriese wêreldmoondheid by die “poorte van die riviere” ingeval kon word, dat sy paleis sou wegsmelt en dat die stad se lot “leegheid, ontlediging, vernieling” sou wees? (2:6-10). Die gebeure wat gevolg het, het getoon dat die profesie inderdaad deur God geïnspireer is. Die annale van Babiloniese koning Nabopolassar beskryf die inname van Nineve deur die Meders en die Babiloniërs: “[Hulle het] die stad [verander] in ruïnes en ho[pe (puin) . . . ].”b So volkome was die ondergang van Nineve dat selfs die ligging daarvan baie eeue lank vergeet is. Sommige kritici het die spot gedryf met die Bybel oor hierdie punt en gesê dat Nineve nooit kon bestaan het nie.
6. Wat is op die terrein van eertydse Nineve opgegrawe wat die akkuraatheid van Nahum bevestig?
6 As verdere bewys van Nahum se egtheid is die ligging van Nineve ontdek, en daar is in die 19de eeu met opgrawings aldaar begin. Daar is geraam dat miljoene tonne grond verskuif sou moes word om dit heeltemal bloot te lê. Wat is in Nineve opgegrawe? Baie dinge wat die akkuraatheid van Nahum se profesie staaf! Die stad se monumente en inskripsies getuig byvoorbeeld van sy wreedhede, en daar is die oorblyfsels van kolossale beelde van gevleuelde bulle en leeus. Geen wonder dat Nahum die stad “die lêplek van die leeus” genoem het nie!—2:11.c
7. Waardeur word die kanonisiteit van die boek Nahum gestaaf?
7 Die kanonisiteit van Nahum blyk uit die feit dat die boek deur die Jode aanvaar word as ’n deel van die geïnspireerde Skrif. Dit is volkome in harmonie met die res van die Bybel. Die profesie word in die naam van Jehovah uitgespreek, van wie se eienskappe en oppermag dit op welsprekende wyse getuig.
INHOUD VAN NAHUM
8. Watter ondergang word vir Nineve aangekondig, maar watter goeie nuus vir Juda?
8 ’n Uitspraak van Jehovah teen Nineve (1:1-15). “Jehovah is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis en wraak neem.” Met hierdie woorde gee die profeet die agtergrond vir “die uitspraak teen Nineve” (1:1, 2, NW). Hoewel Jehovah langsaam tot toorn is, sien ons hom nou waar hy wraak deur wind en storm uitoefen. Berge skud, heuwels smelt weg en die aarde rys op. Wie kan voor die gloed van sy toorn staande bly? Jehovah is nietemin ’n vesting vir diegene wat hulle toevlug tot hom neem. Maar Nineve is tot ondergang gedoem. Hy sal deur ’n vloed verdelg word en “die benoudheid sal nie twee maal opkom nie” (1:9). Jehovah sal die stad se naam en sy gode uitwis. Jehovah sal hom begrawe. As ’n verfrissende teenstelling is daar goeie nuus vir Juda! Wat is dit? ’n Verkondiger van vrede versoek hulle om hulle feeste te vier en hulle geloftes te betaal, want die vyand, die “snoodaard”, of deugniet, is tot ondergang gedoem. “Hy is heeltemal uitgeroei!”—1:15.
9. Watter profetiese blik kry ons van die neerlaag van Nineve?
9 Toekomsblik van Nineve se vernietiging (2:1–3:19). Nahum rig ’n uittartende uitdaging tot Nineve om hom teen ’n naderende verwoester te versterk. Jehovah sal dié wat syne is, ‘die heerlikheid van Jakob en van Israel’, weer byeenbring. Sien die skild en die skarlakenklere van sy lewenskragtige manne en die vurige ystertoebehore van sy strydwa “op die dag as hy hom gereedmaak”! Strydwaens “raas” voortdurend in die strate en jaag soos weerligstrale (2:2-4). Nou kry ons ’n profetiese blik van die stryd. Die Nineviete struikel en haas hulle om die muur te verdedig, maar tevergeefs. Die rivierpoorte gaan oop, die paleis smelt weg en die slavinne kerm en slaan op hulle bors. Die vlugtende manne word beveel om stil te staan, maar niemand draai om nie. Die stad word geplunder en verwoes. Harte versmelt. Waar is hierdie lêplek van leeus nou? Die leeu het sy lêplek met roof gevul vir sy welpe, maar Jehovah verklaar: “Kyk, Ek het dit teen jou” (2:13). Ja, Jehovah sal Nineve se oorlogstuig verbrand, ’n swaard stuur om sy jong leeus te verteer en sy prooi van die aarde afsny.
10. As wat word Nineve ontmasker, en hoe word haar einde verder beskryf?
10 “Wee die bloedstad wat louter bedrog . . . is, terwyl rowery nie ophou nie!” Hoor die klap van die sweep en die gedreun van die wiel. Sien die voortjaende perd, die stampende strydwa, die perderuiter, die vlam van die swaard en die geblits van die spies—en dan, die hope lyke. Daar is “geen einde aan die lyke nie” (3:1, 3). En waarom? Dit is omdat sy nasies verlok het met haar hoererye en geslagte met haar towerye. Jehovah verklaar ’n tweede keer: “Kyk, Ek het dit teen jou” (3:5). Nineve sal as ’n owerspeelster ontmasker en verwoes word, en haar lot sal niks beter wees as dié van No-Amon (Thebe) nie, wat deur Assirië in gevangenskap weggevoer is. Haar vestings is soos ryp vye, wat ‘in die mond van die eter val as ’n mens hulle skud’ (3:12). Haar krygsmanne is soos vroue. Niks kan Nineve van die vuur en die swaard red nie. Haar wagters sal soos ’n swerm sprinkane op ’n sonnige dag vlug en haar volk sal verstrooi word. Die koning van Assirië sal weet dat daar geen verligting is nie, en daar is ook geen genesing van hierdie ramp nie. Almal wat die berig hoor, sal hande klap, want almal het gely weens die slegtheid van Assirië.
WAAROM NUTTIG
11. Watter fundamentele Bybelbeginsels word in Nahum toegelig?
11 Die profesie van Nahum lig enkele fundamentele Bybelbeginsels toe. Die eerste woorde van die visioen herhaal die rede waarom God die tweede van die Tien Gebooie gegee het: “Jehovah is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis.” Onmiddellik daarna maak hy die gewisheid van sy ‘wraak teen sy teenstanders’ bekend. Assirië se wrede trots en heidense gode kon hom nie van die voltrekking van Jehovah se oordeel red nie. Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah op die bestemde tyd al die goddeloses insgelyks sal straf. “Jehovah is langsaam tot toorn en groot in krag, en Jehovah sal geensins ongestraf laat nie.” Aldus word Jehovah se geregtigheid en oppermag verheerlik teen die agtergrond van sy verdelging van magtige Assirië. Nineve het wel ‘leeg, ontledig en ’n vernielde stad’ geword.—1:2, 3, NW; 2:10.
12. Watter herstel kondig Nahum aan, en hoe kan sy profesie met die Koninkrykshoop verbind word?
12 In teenstelling met die algehele ‘uitroeiing’ van Nineve, kondig Nahum herstel vir ‘die heerlikheid van Jakob en van Israel’ aan. Jehovah stuur ook ’n gelukkige tyding aan sy volk: “Kyk, op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor.” Hierdie tyding van vrede hou verband met God se Koninkryk. Hoe weet ons dit? Dit blyk uit die feit dat Jesaja dieselfde uitdrukking gebruik maar dié woorde daaraan toevoeg: “[Hy] wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning!” (Nah. 1:15; 2:2; Jes. 52:7). In Romeine 10:15 weer pas die apostel Paulus die uitdrukking toe op diegene wat deur Jehovah uitgestuur word as Christenpredikers van goeie nuus. Hulle verkondig die “evangelie [“goeie nuus”, NW] van die koninkryk” (Matt. 24:14). Ooreenkomstig die betekenis van sy naam verskaf Nahum groot vertroosting aan almal wat die vrede en redding nastreef wat met God se Koninkryk gepaard gaan. Hulle almal sal gewis besef dat ‘Jehovah goed is, ’n toevlug in die dag van benoudheid vir die wat by hom skuiling soek’.—Nah. 1:7.
[Voetnote]
a Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 201.
b Ancient Near Eastern Texts, onder redaksie van J. B. Pritchard, 1974, bladsy 305; hulle hakies; Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 958.
c Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 955.