Die Skitiërs—’n raaiselagtige volk van die ou tyd
DIE perderuiters van ’n nomadiese volk galop deur die stof met hulle saalsakke propvol buit. Hierdie raaiselagtige volk het van ongeveer 700 tot 300 v.G.J. beheer oor die steppe van Eurasië uitgeoefen. Toe het hulle verdwyn—maar nie voordat hulle vir hulle ’n plek in die geskiedenis verseker het nie. Selfs die Bybel verwys na hulle. Hulle was die Skitiërs.
Nomadiese volke en troppe wilde perde het eeue lank rondgetrek oor die grasvlaktes wat strek van die Karpatiese gebergte van Oos-Europa tot by wat vandag die suidooste van Rusland is. Teen die agtste eeu v.G.J. het militêre optrede deur die Chinese keiser Hsoean hulle weswaarts laat trek. Tydens die Skitiërs se weswaartse trek het hulle die Kimmeriërs verdryf, wat beheer gehad het oor die Kaukasus en die gebied noord van die Swart See.
In die Skitiërs se soeke na rykdom het hulle die Assiriese hoofstad, Nineve, geplunder. Later het hulle ’n bondgenootskap met Assirië aangegaan teen Medië, Babilonië en ander nasies. Hulle aanvalle het selfs tot by die noorde van Egipte gestrek. Die feit dat die stad Bet-San in die noordooste van Israel later Skitopolis genoem is, is moontlik ’n aanduiding dat dit ’n tyd lank deur die Skitiërs beset is.—1 Samuel 31:11, 12.
Uiteindelik het die Skitiërs hulle op die steppe van die hedendaagse Roemenië, Moldowa, die Oekraïne en suidelike Rusland gevestig. Daar het hulle ryk geword deur as middelmanne tussen die Grieke en die graanprodusente van die hedendaagse Oekraïne en suidelike Rusland op te tree. Die Skitiërs het graan, heuning, pelse en beeste verruil vir Griekse wyn, tekstielware, wapens en kunswerke. Hulle het sodoende ongelooflike rykdom vergaar.
Gedugte perderuiters
Die perd was vir hierdie krygsmanne van die steppe wat die kameel vir die volke van die woestyn was. Die Skitiërs was meesterlike perderuiters en van die eerstes wat die saal en stiebeuel gebruik het. Hulle het perdevleis geëet en die melk van merries gedrink. Hulle het perde selfs vir brandoffers gebruik. Wanneer ’n Skitiese krygsman gesterf het, is sy perd doodgemaak en ’n eervolle begrafnis gegee—met sy harnas en tooisels aan.
Soos uitgebeeld deur die geskiedskrywer Herodotus het die Skitiërs sadistiese gebruike beoefen, onder andere om die skedels van hulle slagoffers as bekers te gebruik. Wanneer hulle hulle vyande aangeval het, het hulle verwoesting onder hulle gesaai met ysterswaarde, strydbyle, spiese en pyle met weerhake wat die vlees van die vyand geskeur het.
Grafte toegerus vir die ewigheid
Die Skitiërs het towery en sjamanisme beoefen en vuur en ’n moedergodin aanbid (Deuteronomium 18:10-12). Hulle het die graf as ’n woning vir die dooies beskou. Slawe en diere is geoffer sodat hulle die dooie heer kon dien. Skatte en huisknegte het glo owerstes na die “ander wêreld” vergesel. In een koninklike graf is vyf diensknegte gevind waar hulle met hulle voete na hulle heer toe gelê het, gereed om op te staan en hulle pligte te hervat.
Heersers is saam met talle offerandes begrawe, en gedurende routydperke het die Skitiërs hulle eie bloed laat vloei en hulle hare afgesny. Herodotus het geskryf: “Hulle sny ’n deel van hulle ore af, skeer hulle hoof, maak snye om hulle arms, sny hulle voorkop en neus oop en deurboor hulle linkerhand met pyle.” In teenstelling hiermee het God se Wet die Israeliete van dieselfde tydperk beveel: “Julle mag . . . ter wille van ’n dooie geen snye in julle vlees maak nie.”—Levitikus 19:28.
Die Skitiërs het duisende kurgans (grafheuwels) agtergelaat. Baie van die ornamente wat in die kurgans gevind is, beeld die alledaagse Skitiese lewe uit. Die Russiese tsaar Peter die Grote het in 1715 sulke voorwerpe begin versamel, en hierdie glinsterende voorwerpe kan nou in museums in Rusland en die Oekraïne gesien word. Hierdie “dierekuns” bestaan onder andere uit perde, arende, valke, katte, luiperds, elke, herte, voëlgriffioene en leeugriffioene (mitologiese diere met ’n gevleuelde of ongevleuelde liggaam van een dier en die kop van ’n ander).
Skitiërs en die Bybel
Die Bybel maak slegs een regstreekse verwysing na die Skitiërs. In Kolossense 3:11 lees ons: “Daar [is] nie Griek of Jood, besnydenis of onbesnedenheid, uitlander, Skitiër, slaaf, vrygeborene . . . nie, maar Christus [is] alles en in almal.” Toe die Christenapostel Paulus hierdie woorde geskryf het, het die Griekse woord wat as “Skitiër” vertaal word, nie na ’n spesifieke nasie verwys nie, maar na die slegste onder onbeskaafde mense. Paulus het beklemtoon dat selfs sulke mense onder die invloed van Jehovah se heilige gees, of werkende krag, hulle met ’n godvrugtige persoonlikheid kan beklee.—Kolossense 3:9, 10.
Party argeoloë meen dat die naam Askenas in Jeremia 51:27 die ekwivalent is van die Assiriese Ashguzai, ’n woord wat na die Skitiërs verwys het. Spykerskriftablette maak melding van ’n bondgenootskap tussen hierdie volk en die Mannai in ’n opstand teen Assirië in die sewende eeu v.G.J. Kort voor Jeremia begin profeteer het, het die Skitiërs verby die land Juda gegaan op hulle pad na en van Egipte sonder om enige verwoesting te saai. Daarom het baie wat gehoor het hoe hy voorspel dat Juda uit die noorde aangeval sou word, dalk die akkuraatheid van sy profesie in twyfel getrek.—Jeremia 1:13-15.
Sekere geleerdes meen dat daar in Jeremia 50:42 na die Skitiërs verwys word, waar dit sê: “Boog en lans hanteer hulle; hulle is wreed en sonder barmhartigheid; hulle geluid bruis soos die see, en hulle ry op perde, gewapend soos ’n man vir die oorlog, teen jou, o dogter van Babel!” Maar hierdie vers is hoofsaaklik van toepassing op die Meders en Perse, wat Babilon in 539 v.G.J. verower het.
Daar is al aan die hand gedoen dat “die land Magog” waarna Esegiël hoofstukke 38 en 39 verwys, op Skitiese stamme betrekking het. “Die land Magog” het egter ’n simboliese betekenis. Dit dui klaarblyklik op die omgewing van die aarde, waarheen Satan en sy engele ná die oorlog in die hemel neergewerp is.—Openbaring 12:7-17.
Die Skitiërs was betrokke by die vervulling van Nahum se profesie wat die val van Nineve voorspel het (Nahum 1:1, 14). Die Galdeërs, die Skitiërs en die Meders het Nineve in 632 v.G.J. verwoes en sodoende die Assiriese Ryk tot ’n val gebring.
’n Raaiselagtige ondergang
Die Skitiërs het verdwyn, maar waarom? “Die waarheid is dat ons eenvoudig nie weet wat gebeur het nie”, sê ’n vooraanstaande Oekraïense argeoloog. Party meen dat hulle, verswak deur hulle liefde vir weelde, in die eerste en tweede eeu v.G.J. geswig het voor ’n nuwe groep nomadiese volke uit Asië—die Sarmate.
Ander dink dat onenigheid onder die Skitiese stamgroepe tot hulle ondergang gelei het. Ander sê weer dat ’n oorblyfsel van die Skitiërs onder die Ossetiërs van die Kaukasus gevind kan word. Hoe dit ook al sy, hierdie raaiselagtige volk van die ou tyd het hulle stempel op die mensegeskiedenis gedruk en die naam Skitiër sinoniem met wreedheid gemaak.
[Kaart op bladsy 24]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
◻ Hedendaagse stad
• Antieke stad
Donau
SKITIË ← MIGRASIEROETE
• Kiëf
Dnjepr
Dnjestr
SwartSee
OSSETIË
Kaukasus-gebergte
Kaspiese See
ASSIRIË ← INVALSROETE
◻ Nineve
Tigris
MEDIË ← INVALSROETE
MESOPOTAMIË
BABILONIË ← INVALSROETE
◻ Babilon
Eufraat
PERSIESE RYK
◻ Susa
Persiese Golf
PALESTINA
• Bet-San (Skitopolis)
EGIPTE ← INVALSROETE
Nyl
Middellandse See
GRIEKELAND
[Prente op bladsy 25]
Die Skitiërs was ’n oorlogsugtige volk
[Erkenning]
The State Hermitage Museum, St. Petersburg
[Prente op bladsy 26]
Die Skitiërs het hulle handelsware vir Griekse kunswerke verruil en het baie ryk geword
[Erkenning]
Courtesy of the Ukraine Historic Treasures Museum, Kiev