‘Hou jou onder die kwaad in bedwang’
“’n Slaaf van die Here hoef nie te stry nie, maar moet teer wees teenoor almal, . . . iemand wat hom onder die kwaad in bedwang hou.”—2 TIMOTEUS 2:24.
1. Waarom kom ons soms mense in die Christelike bediening teë wat ongeskik is met ons?
HOE reageer jy wanneer jy mense teëkom wat jou of dit wat jy verteenwoordig, nie goedgesind is nie? In sy beskrywing van die laaste dae het die apostel Paulus voorspel dat mense “lasteraars, . . . kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig” sou wees (2 Timoteus 3:1-5, 12). Jy kom moontlik sulke mense in jou bediening of in ander bedrywighede teë.
2. Watter tekste kan ons help om wyslik te handel met mense wat ongeskik is met ons?
2 Nie almal wat skeltaal gebruik, het geen belangstelling in wat reg is nie. Groot ontbering of frustrasie kan mense laat uitvaar teen wie ook al naby hulle is (Prediker 7:7). Baie tree so op omdat hulle lewe en werk in ’n milieu waar growwe taal algemeen is. Dit maak nie sulke taal vir ons as Christene aanvaarbaar nie, maar dit help ons om te verstaan waarom ander mense dit gebruik. Hoe moet ons reageer wanneer mense ongeskik is met ons? Spreuke 19:11 sê: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn.” En Romeine 12:17, 18 maan ons: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. . . . Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.”
3. Hoe is vredeliewendheid betrokke by die boodskap wat ons verkondig?
3 As ons werklik vreedsaam, of vredeliewend, is, sal dit blyk uit die gees wat ons openbaar. Dit sal weerspieël word in wat ons sê en doen, miskien ook in ons gesigsuitdrukking en in ons stemtoon (Spreuke 17:27). Toe Jesus sy apostels uitgestuur het om te preek, het hy hulle gemaan: “Wanneer julle in die huis ingaan, groet die huismense [“wens die mense vrede toe”, Die Bybel, 1983]; en as die huis verdienstelik is, laat die vrede wat julle dit toewens, daaroor kom; maar as dit nie verdienstelik is nie, laat julle vrede na julle toe terugkeer” (Matteus 10:12, 13). Die boodskap wat ons verkondig, is goeie nuus. Die Bybel noem dit “die goeie nuus van vrede”, “die goeie nuus van die onverdiende goedhartigheid van God” en “hierdie goeie nuus van die koninkryk” (Efesiërs 6:15; Handelinge 20:24; Matteus 24:14). Ons oogmerk is nie om die ander persoon se opvattings te kritiseer of met hom oor sy beskouings te stry nie, maar om hom van goeie nuus uit God se Woord te vertel.
4. Wat kan jy sê wanneer iemand sê: “Ek stel nie belang nie” nog voordat jy ’n geleentheid gehad het om die rede vir jou besoek te verduidelik?
4 Sonder om werklik te luister, sal ’n huisbewoner dalk kortaf sê: “Ek stel nie belang nie.” In baie gevalle is dit moontlik om te sê: “Ek het gehoop om net hierdie een kort teks uit die Bybel te lees.” Hy opper miskien geen beswaar daarteen nie. In ander gevalle kan dit gepas wees om te sê: “Ek het gehoop om jou te vertel van ’n tyd wanneer daar geen ongeregtigheid sal wees nie en alle mense sal leer om mekaar lief te hê.” As hy jou nie dadelik vra om dit te verduidelik nie, kan jy byvoeg: “Maar dit is blykbaar nie nou vir jou ’n gerieflike tyd nie.” Selfs al reageer die huisbewoner nie op ’n vreedsame wyse nie, moet ons dan tot die slotsom kom dat hy “nie verdienstelik” is nie? Ongeag die reaksie, hou die Bybel se raad in gedagte om ‘teer te wees teenoor almal en jou onder die kwaad in bedwang te hou’.—2 Timoteus 2:24.
Vermetel maar mislei
5, 6. Hoe het Saulus Jesus se volgelinge behandel, en waarom het hy só opgetree?
5 In die eerste eeu was ’n man met die naam Saulus bekend vir sy oneerbiedige spraak, selfs vir sy gewelddadige gedrag. Die Bybel sê dat hy “dreiging en moord teen die dissipels van die Here geblaas het” (Handelinge 9:1, 2). Hy het later erken dat hy vroeër “’n lasteraar en ’n vervolger en ’n vermetele man” was (1 Timoteus 1:13). Hoewel party van sy familielede miskien reeds Christene geword het, het hy van sy eie gesindheid teenoor Christus se volgelinge gesê: “Aangesien ek uitermate woedend teenoor hulle was, het ek hulle selfs in buitelandse stede vervolg” (Handelinge 23:16; 26:11; Romeine 16:7, 11). Daar is geen bewys dat die dissipels Saulus by ’n openbare debat probeer betrek het terwyl hy hom só gedra het nie.
6 Waarom het Saulus só opgetree? Hy het jare later geskryf: “Ek [was] onkundig . . . en [het] in ’n gebrek aan geloof opgetree” (1 Timoteus 1:13). Hy was ’n Fariseër, opgevoed “volgens die strengheid van die voorvaderlike Wet” (Handelinge 22:3). Hoewel Saulus se onderrigter Gamaliël blykbaar ietwat ruimdenkend was, was die hoëpriester Kajafas, met wie Saulus omgegaan het, fanaties. Kajafas was een van die voorbokke by die komplot wat tot Jesus Christus se teregstelling gelei het (Matteus 26:3, 4, 63-66; Handelinge 5:34-39). Daarna het Kajafas toegesien dat Jesus se apostels geslaan is, en hy het hulle streng beveel om op te hou om in Jesus se naam te preek. Kajafas het as voorsitter van die Sanhedrin opgetree gedurende die emosiebelaaide sessie waartydens Stefanus weggeneem is om gestenig te word (Handelinge 5:27, 28, 40; 7:1-60). Saulus het die steniging aanskou, en Kajafas het hom die gesag gegee om verdere pogings aan te wend om die volgelinge van Jesus te onderdruk deur hulle in Damaskus in hegtenis te neem (Handelinge 8:1; 9:1, 2). Onder hierdie invloed het Saulus gedink dat sy gedrag bewys lewer van ywer vir God, maar hy het in werklikheid ’n gebrek aan ware geloof gehad (Handelinge 22:3-5). Gevolglik het Saulus nie besef dat Jesus die ware Messias was nie. Maar Saulus het tot besinning gekom toe die verrese Jesus wonderdadig op die pad na Damaskus met hom gepraat het.—Handelinge 9:3-6.
7. Wat het met Saulus gebeur as gevolg van sy ontmoeting met Jesus op die pad na Damaskus?
7 Kort hierna is die dissipel Ananias gestuur om vir Saulus te getuig. Sou jy gretig gewees het om daardie besoek te doen? Ananias was bang, maar hy het vriendelik met Saulus gepraat. Saulus se gesindheid het verander as gevolg van sy wonderdadige ontmoeting met Jesus op die pad na Damaskus (Handelinge 9:10-22). Hy het later bekend gestaan as die apostel Paulus, ’n ywerige Christensendeling.
Saggeaard maar moedig
8. Hoe het Jesus sy Vader se gesindheid weerspieël teenoor mense wat slegte dinge gedoen het?
8 Jesus was ’n ywerige Koninkryksverkondiger wat saggeaard maar moedig was in sy handelinge met mense (Matteus 11:29). Hy het die gees van sy hemelse Vader weerspieël, wat die goddeloses aanspoor om hulle slegte weë te verlaat (Jesaja 55:6, 7). In sy handelinge met sondaars het Jesus daarop gelet wanneer daar tekens van verbetering was, en hy het sulke persone aangemoedig (Lukas 7:37-50; 19:2-10). Jesus het ander nie op grond van hulle uiterlike voorkoms geoordeel nie, maar het eerder sy Vader se goedhartigheid, verdraagsaamheid en lankmoedigheid nagevolg met die doel om hulle tot berou te lei (Romeine 2:4). Dit is Jehovah se wil dat alle soorte mense berou moet toon en gered moet word.—1 Timoteus 2:3, 4.
9. Wat kan ons leer uit die manier waarop Jesaja 42:1-4 in Jesus vervul is?
9 Die Evangelieskrywer Matteus het getoon wat Jehovah se beskouing van Jesus Christus is deur hierdie profetiese woorde aan te haal: “Kyk! My kneg wat ek uitgekies het, my geliefde, wat my siel goedgekeur het! Ek sal my gees op hom plaas, en hy sal aan die nasies duidelik maak wat geregtigheid is. Hy sal nie twis of hard uitroep nie, en ook sal niemand sy stem in die breë strate hoor nie. ’n Beskadigde riet sal hy nie verbrysel nie, en ’n smeulende vlaspit sal hy nie uitdoof nie, totdat hy geregtigheid met welslae uitstuur. Ja, nasies sal op sy naam hoop” (Matteus 12:17-21; Jesaja 42:1-4). In ooreenstemming met hierdie profetiese woorde het Jesus nie aan luide woordewisselings deelgeneem nie. Selfs wanneer hy onder druk was, het hy die waarheid gespreek op ’n manier wat by opregtes van hart byval gevind het.—Johannes 7:32, 40, 45, 46.
10, 11. (a) Hoewel die Fariseërs van Jesus se mees uitgesproke teenstanders was, waarom het hy vir party van hulle getuig? (b) Watter soort antwoorde het Jesus soms vir sy teenstanders gegee, maar wat het hy nie gedoen nie?
10 Gedurende sy bediening het Jesus met baie Fariseërs gepraat. Hoewel party van hulle hom met sy woorde probeer vastrek het, het Jesus nie tot die slotsom gekom dat almal van hulle slegte beweegredes het nie. Simon, ’n Fariseër wat ietwat krities was, wou blykbaar meer omtrent Jesus te wete kom en het hom vir ’n ete genooi. Jesus het die uitnodiging aanvaar en vir die mense daar getuig (Lukas 7:36-50). By ’n ander geleentheid het ’n vooraanstaande Fariseër met die naam Nikodemus in die nag na Jesus toe gekom. Jesus het hom nie berispe omdat hy gewag het totdat dit donker is nie. Hy het eerder vir Nikodemus getuig van die liefde wat God getoon het deur sy Seun te stuur om redding moontlik te maak vir diegene wat geloof sou beoefen. Jesus het ook vriendelik daarop gewys hoe belangrik gehoorsaamheid aan God se reëling is (Johannes 3:1-21). Nikodemus het later vir Jesus opgekom toe ander Fariseërs ’n gunstige verslag oor Jesus verkleineer het.—Johannes 7:46-51.
11 Jesus was nie blind vir die huigelary van diegene wat hom probeer verstrik het nie. Hy het nie toegelaat dat teenstanders hom by nuttelose debatte betrek nie. Maar wanneer dit gepas was, het hy kort, kragtige antwoorde gegee deur ’n beginsel te meld, ’n illustrasie te gebruik of ’n teks aan te haal (Matteus 12:38-42; 15:1-9; 16:1-4). By ander geleenthede het Jesus eenvoudig nie geantwoord wanneer dit duidelik was dat dit niks goeds sou bereik nie.—Markus 15:2-5; Lukas 22:67-70.
12. Wat kon Jesus doen om mense te help selfs wanneer hulle op hom geskreeu het?
12 Soms het mense wat onder die beheer van onrein geeste was, op Jesus geskreeu. Wanneer dit gebeur het, het hy hom in bedwang gehou, oftewel selfbeheersing aan die dag gelê, en selfs sy godgegewe krag gebruik om verligting te bring (Markus 1:23-28; 5:2-8, 15). As party mense kwaad word en op ons skreeu wanneer ons aan die bediening deelneem, moet ons eweneens selfbeheersing aan die dag lê en die situasie op ’n vriendelike en taktvolle manier probeer hanteer.—Kolossense 4:6.
In die gesin
13. Waarom staan mense soms ’n gesinslid teë wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer?
13 Die feit dat dit vir Jesus se volgelinge nodig is om selfbeheersing aan die dag te lê, kan dikwels die duidelikste in die gesin gesien word. Iemand wie se hart diep geraak is deur Bybelwaarheid, wil baie graag hê dat sy gesin op dieselfde wyse moet reageer. Maar soos Jesus gesê het, kan gesinslede vyandiggesind wees (Matteus 10:32-37; Johannes 15:20, 21). Daar is verskillende redes hiervoor. Hoewel Bybelleringe ons byvoorbeeld kan help om eerlik, verantwoordelik en respekvol te word, leer die Skrif ook dat ons grootste verantwoordelikheid in enige situasie teenoor ons Skepper is (Prediker 12:1, 13; Handelinge 5:29). ’n Gesinslid wat voel dat sy invloed in die gesin op die een of ander manier weens ons lojaliteit aan Jehovah ondermyn word, neem dalk aanstoot. Hoe belangrik is dit tog dat ons in so ’n situasie Jesus se voorbeeld van selfbeheersing volg!—1 Petrus 2:21-23; 3:1, 2.
14-16. Wat het veranderinge meegebring in party wat vroeër hulle gesinslede teëgestaan het?
14 Baie wat Jehovah nou dien, het ’n huweliksmaat of ander gesinslid gehad wat gekant was teen die veranderinge wat hulle gemaak het toe hulle die Bybel begin studeer het. Die teenstanders het dalk negatiewe kommentare oor Jehovah se Getuies gehoor en was miskien bang dat daar ’n ongewenste invloed in die gesin sou wees. Wat het hulle van gesindheid laat verander? In baie gevalle het ’n goeie voorbeeld ’n groot rol gespeel. Omdat die gelowige altyd Bybelraad toegepas het—deur gereeld Christelike vergaderinge by te woon en aan die bediening deel te neem en terselfdertyd na gesinsverantwoordelikhede om te sien en deur selfbeheersing aan die dag te lê ondanks enige beledigings—het gesinsteenstand soms afgeneem.—1 Petrus 2:12.
15 ’n Teenstander het dalk ook weens vooroordeel of trots geweier om na enige verduideliking uit die Bybel te luister. Dit was die geval met ’n man in die Verenigde State wat gesê het dat hy baie patrioties is. Eenkeer het hy, toe sy vrou by ’n byeenkoms was, al sy klere gepak en uitgetrek. By ’n ander geleentheid het hy die huis met ’n vuurwapen verlaat en gedreig om homself dood te skiet. Hy het haar godsdiens vir al sy onredelike gedrag blameer. Maar sy het probeer om Bybelraad voortdurend toe te pas. Twintig jaar nadat sy een van Jehovah se Getuies geword het, het hy ook ’n Getuie geword. In Albanië het ’n vrou kwaad geword omdat haar dogter die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het en toe gedoop is. Twaalf keer het die moeder haar dogter se Bybel vernietig. Toe het sy eendag ’n nuwe Bybel oopgemaak wat haar dogter op ’n tafel laat lê het. Dit het toevallig by Matteus 10:36 oopgeval, en die moeder het besef dat daardie woorde op haar van toepassing is. Die moeder het nietemin haar dogter, uit besorgdheid oor haar welsyn, na die boot vergesel toe sy saam met ander Getuies na ’n byeenkoms in Italië sou vertrek. Toe die moeder die liefde, omhelsings en glimlagte van die groep sien en hulle vreugdevolle gelag hoor, het haar gevoelens begin verander. Kort hierna het sy ingestem om die Bybel te bestudeer. Vandag probeer sy diegene help wat ander aanvanklik teëstaan.
16 In een geval het ’n man sy vrou met ’n mes gedreig en haar bittere verwyte toegeslinger toe sy op pad na die Koninkryksaal toe was. Sy het sag geantwoord: “Kom in die Koninkryksaal in en kyk self.” Hy het, en na verloop van tyd het hy ’n Christen- ouer man geword.
17. Watter skriftuurlike raad kan help as die situasie in ’n Christenhuis soms gespanne raak?
17 Selfs wanneer almal in jou gesin Christene is, is daar moontlik tye wanneer die gesinsituasie gespanne raak en daar selfs skerp woorde geuiter word weens menslike onvolmaaktheid. Dit is opmerkenswaardig dat Christene in eertydse Efese gemaan is: “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word, saam met alle slegtheid” (Efesiërs 4:31). Blykbaar is die Christene in Efese beïnvloed deur die milieu waarin hulle hulle bevind het, hulle eie onvolmaaktheid en, in sommige gevalle, hulle vorige lewenswyse. Wat sou hulle help om te verander? Hulle moes ‘vernuwe word in die krag wat hulle verstand aangedryf het’ (Efesiërs 4:23). Namate hulle God se Woord bestudeer het, gepeins het oor hoe dit hulle lewe moet beïnvloed, met mede-Christene omgegaan het en ernstig gebid het, sou die vrugte van God se gees in groter mate in hulle lewe gesien kon word. Hulle sou leer om ‘goedhartig teenoor mekaar te word, vol tere medelye, en mekaar vryelik te vergewe net soos God hulle ook deur Christus vryelik vergewe het’ (Efesiërs 4:32). Ongeag wat ander doen, ons moet selfbeheersing aan die dag lê en goedhartig, vol medelye en vergewensgesind wees. Ja, ons “moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie” (Romeine 12:17, 18). Om opregte liefde in navolging van God te betoon, is altyd die regte ding om te doen.—1 Johannes 4:8.
Raad vir alle Christene
18. Waarom was die raad in 2 Timoteus 2:24 gepas vir ’n ouer man in eertydse Efese, en hoe kan alle Christene daarby baat vind?
18 Die raad om ons ‘onder die kwaad in bedwang te hou’, is op alle Christene van toepassing (2 Timoteus 2:24). Maar dit is in die eerste plek vir Timoteus gegee, wat dit nodig gehad het toe hy as ’n ouer man in Efese gedien het. Party in daardie gemeente was baie uitgesproke oor hulle beskouings en het verkeerde leerstellings verkondig. Omdat hulle nie die doel van die Mosaïese Wet ten volle begryp het nie, het hulle nie besef hoe belangrik geloof, liefde en ’n goeie gewete is nie. Trots het onenigheid veroorsaak, aangesien hulle debatte oor woorde gevoer het, terwyl hulle nie die punt van Christus se leringe en die belangrikheid van godvrugtige toegewydheid gesnap het nie. Om hierdie situasie te hanteer, moes Timoteus standvastig by skriftuurlike waarheid bly maar sy broers nietemin vriendelik behandel. Soos hedendaagse ouer manne, het hy geweet dat die kudde nie aan hom behoort nie en dat hy ander op so ’n wyse moet behandel dat dit Christelike liefde en eenheid sou bevorder.—Efesiërs 4:1-3; 1 Timoteus 1:3-11; 5:1, 2; 6:3-5.
19. Waarom is dit belangrik dat ons almal ‘sagmoedigheid soek’?
19 God spoor sy volk aan om ‘sagmoedigheid te soek’ (Sefanja 2:3). Die Hebreeuse woord vir “sagmoedigheid” dui op ’n gesindheid wat ’n persoon in staat stel om onreg geduldig te verduur, sonder om geïrriteerd te raak en sonder om vergelding te soek. Mag ons Jehovah opreg om hulp vra sodat ons selfbeheersing aan die dag kan lê en hom behoorlik kan verteenwoordig, selfs onder moeilike omstandighede.
Wat het jy geleer?
• Watter tekste kan jou help wanneer iemand op vermetele wyse met jou praat?
• Waarom het Saulus vermetel opgetree?
• Hoe help Jesus se voorbeeld ons om op ’n gepaste wyse teenoor alle soorte mense op te tree?
• Watter voordele kan dit meebring as ons in ons woorde by die huis selfbeheersing aan die dag lê?
[Prent op bladsy 26]
Ananias het Saulus ten spyte van sy reputasie vriendelik behandel
[Prent op bladsy 29]
As ’n Christen getrou na verantwoordelikhede omsien, kan dit gesinsteenstand laat afneem
[Prent op bladsy 30]
Christene bevorder liefde en eenheid