Nakoming van Goddelike vereistes verheerlik Jehovah
“Ek sal hom met danksegging groot maak.”—PSALM 69:30.
1. (a) Waarom verdien Jehovah om verheerlik te word? (b) Hoe verheerlik ons hom met danksegging?
JEHOVAH is die almagtige God, die Universele Soewerein, die Skepper. As sodanig verdien sy naam en voornemens om verheerlik, of groot gemaak, te word. Om Jehovah te verheerlik, beteken om die hoogste agting vir hom te hê, om hom deur woord en daad te loof en te prys. Om dit “met danksegging” te doen, vereis dat ons altyd dankbaar moet wees vir wat hy nou vir ons doen en wat hy in die toekoms sal doen. Die gesindheid wat ons moet hê, word getoon in Openbaring 4:11, waar getroue geesskepsele in die hemel uitroep: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.” Hoe verheerlik ons Jehovah? Deur van hom te leer en dan te doen wat hy van ons vereis. Ons moet soos die psalmis voel toe hy gesê het: “Leer my om u wil te doen, want u is my God.”—Psalm 143:10.
2. Hoe behandel Jehovah diegene wat hom verheerlik en dié wat dit nie doen nie?
2 Mense wat Jehovah verheerlik, is vir hom kosbaar. Dit is waarom hy “die beloner [is] van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Wat is die beloning? Jesus het in gebed tot sy hemelse Vader gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Ja, diegene wat Jehovah “met danksegging groot maak”, sal “die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). Daarenteen “sal [daar] geen toekoms wees vir iemand wat sleg is nie” (Spreuke 24:20). En in hierdie laaste dae is dit veral dringend om Jehovah te verheerlik, omdat hy binnekort die goddeloses sal vernietig en die regverdiges sal bewaar. “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17; Spreuke 2:21, 22.
3. Waarom moet ons aandag skenk aan die boek Maleagi?
3 Jehovah se wil staan opgeteken in die Bybel, want “die hele Skrif is deur God geïnspireer” (2 Timoteus 3:16). Daardie Woord van God bevat baie verslae van hoe Jehovah diegene seën wat hom verheerlik en wat met diegene gebeur wat dit nie doen nie. Een van daardie verslae handel oor gebeure in Israel gedurende die tyd van die profeet Maleagi. Maleagi het die boek wat sy naam dra, omstreeks die jaar 443 v.G.J. geskryf, terwyl Nehemia die goewerneur van Juda was. Hierdie kragtige en opwindende boek bevat inligting en profesieë wat “opgeskryf [is] as ’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het” (1 Korintiërs 10:11). As ons aandag skenk aan Maleagi se woorde, kan dit ons help om ons voor te berei vir “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah”, wanneer Hy hierdie goddelose stelsel gaan vernietig.—Maleagi 4:5.
4. Op watter ses punte word ons aandag in Maleagi hoofstuk 1 gevestig?
4 Hoe help Maleagi se boek, wat meer as 2 400 jaar gelede geskryf is, ons in hierdie 21ste eeu om ons voor te berei vir daardie groot en vreesinboesemende dag van Jehovah? Die eerste hoofstuk vestig ons aandag op ten minste ses punte wat noodsaaklik is as ons Jehovah met danksegging wil verheerlik sodat ons sy guns en die ewige lewe kan verkry: (1) Jehovah het sy volk lief. (2) Ons moet waardering vir heilige dinge toon. (3) Jehovah verwag van ons om ons beste aan hom te gee. (4) Die dryfveer van ware aanbidding is onselfsugtige liefde, nie gierigheid nie. (5) Aanneemlike diens aan God is nie ’n moeisame formaliteit nie. (6) Elkeen van ons moet aan God rekenskap gee. Kom ons kyk dan nou, in hierdie eerste van drie artikels oor die boek Maleagi, na elkeen van hierdie punte terwyl ons Maleagi hoofstuk 1 noukeurig ondersoek.
Jehovah het sy volk lief
5, 6. (a) Waarom het Jehovah Jakob liefgehad? (b) Wat kan ons verwag as ons Jakob se getrouheid navolg?
5 Jehovah se liefde word duidelik gesien in die vroeë verse van Maleagi. Die boek begin met die woorde: “’n Uitspraak: Die woord van Jehovah oor Israel.” Verder aan sê God: “Ek het julle liefgehad.” In dieselfde vers haal Jehovah ’n voorbeeld aan en sê: “Ek het Jakob liefgehad.” Jakob was ’n man wat geloof in Jehovah gestel het. Na verloop van tyd het Jehovah Jakob se naam na Israel verander, en hy het ’n voorvader van die nasie Israel geword. Dit was omdat Jakob ’n man van geloof was dat Jehovah hom liefgehad het. Jehovah het ook diegene onder die volk liefgehad wat Jakob se gesindheid teenoor Hom geopenbaar het.—Maleagi 1:1, 2.
6 As ons Jehovah liefhet en lojaal by sy volk bly, kan ons vertroos word deur die woorde in 1 Samuel 12:22: “Jehovah sal sy volk ter wille van sy groot naam nie verstoot nie.” Jehovah het sy knegte lief en beloon hulle, uiteindelik met ewige lewe. Ons lees dus: “Vertrou op Jehovah en doen wat goed is; bewoon die aarde en handel met getrouheid. Verlustig jou ook in Jehovah, en hy sal jou die versoeke van jou hart gee” (Psalm 37:3, 4). Liefde vir Jehovah sluit ook ’n tweede punt in wat in Maleagi hoofstuk 1 onder ons aandag gebring word.
Toon waardering vir heilige dinge
7. Waarom het Jehovah Esau gehaat?
7 Soos ons in Maleagi 1:2, 3 lees, het Jehovah, nadat hy gesê het: “Ek het Jakob liefgehad”, verklaar: “Esau het ek gehaat.” Waarom die verskil? Jakob het Jehovah verheerlik, maar sy tweelingbroer, Esau, het nie. Esau is ook Edom genoem. In Maleagi 1:4 word die land Edom die gebied van goddeloosheid genoem, en die inwoners daarvan word veroordeel. Die naam Edom (wat “Rooi” beteken) is aan Esau gegee nadat hy sy kosbare geboortereg aan Jakob verkoop het vir ’n rooikleurige gereg. “Esau [het] die geboortereg verag”, sê Genesis 25:34. Die apostel Paulus het medegelowiges aangespoor om seker te maak dat “daar geen hoereerder is of enigeen wat heilige dinge nie waardeer nie, soos Esau, wat in ruil vir een maaltyd sy regte as eersgeborene weggegee het”.—Hebreërs 12:14-16.
8. Waarom het Paulus Esau met ’n hoereerder vergelyk?
8 Waarom het Paulus Esau se optrede met hoerery verbind? Omdat ’n gesindheid soos dié van Esau kan veroorsaak dat ’n mens geen waardering vir heilige dinge het nie. Dit kan dan weer tot ernstige sondes, soos hoerery, lei. Elkeen van ons kan ons dus afvra: ‘Kom ek soms in die versoeking om my Christelike erfenis—die ewige lewe—te verruil vir iets wat so tydelik is soos ’n bord lensies? Verag ek dalk geestelike dinge sonder dat ek dit besef?’ Esau was ongeduldig en wou ’n fisiese begeerte onmiddellik bevredig. Hy het vir Jakob gesê: “Gee my asseblief gou ’n sluk van die rooi goed” (Genesis 25:30). Ongelukkig het party van God se knegte as ’t ware gesê: “Gou! Waarom moet ons wag vir ’n eerbare huwelik?” ’n Begeerte na seksuele bevrediging, ongeag wat dit kos, het hulle bord lensies geword.
9. Hoe kan ons ’n eerbiedige vrees vir Jehovah behou?
9 Laat ons nooit heilige dinge verag deur kuisheid, onkreukbaarheid en ons geestelike erfenis te minag nie. Laat ons nie soos Esau wees nie, maar eerder soos die getroue Jakob en ’n eerbiedige vrees vir God behou deur diepe waardering vir heilige dinge te toon. Hoe kan ons dit doen? Deur te sorg dat ons Jehovah se vereistes nakom. Dit lei ons logieserwys na die derde punt wat in Maleagi hoofstuk 1 na vore kom. Wat is dit?
Ons moet Jehovah ons beste gee
10. In watter opsig het die priesters Jehovah se tafel verag?
10 Juda se priesters wat gedurende Maleagi se tyd by die tempel in Jerusalem gedien het, het nie die beste offerandes aan Jehovah gebring nie. Maleagi 1:6-8 sê: “‘’n Seun eer ’n vader, en ’n kneg sy grootse heer. As ek dan ’n vader is, waar is my eer? En as ek ’n Grootse Heer is, waar is die vrees vir my?’ het Jehovah van die leërs vir julle gesê, o priesters wat my naam verag.” “In watter opsig het ons u naam verag?” het die priesters gevra. “Deur op my altaar verontreinigde brood aan te bied”, het Jehovah geantwoord. “In watter opsig het ons u verontreinig?” het die priesters gevra. En Jehovah het vir hulle gesê: “Deurdat julle sê: ‘Die tafel van Jehovah is iets veragteliks.’” Daardie priesters het getoon dat hulle Jehovah se tafel verag elke keer wanneer hulle ’n gebreklike offerande gebring en gesê het: “Dit is niks slegs nie.”
11. (a) Wat het Jehovah oor onaanvaarbare offerandes gesê? (b) In watter opsig was die volk oor die algemeen skuldig?
11 Jehovah het toe oor sulke onaanvaarbare offerandes geredeneer: “Bring dit asseblief na jou goewerneur toe. Sal hy behae in jou hê of sal hy jou vriendelik ontvang?” Nee, hulle goewerneur sou geen behae in so ’n gawe hê nie. Hoeveel minder sal die Universele Soewerein dan gebreklike offerandes aanvaar! En dit was nie net die priesters wat skuldig was nie. Hulle het wel getoon dat hulle Jehovah verag deur hierdie offerandes te offer. Maar was die volk oor die algemeen sonder skuld? Beslis nie! Hulle het immers daardie blinde, kreupel en siek diere uitgekies en na die priesters gebring om geoffer te word. Hoe goddeloos tog!
12. Hoe word ons gehelp om Jehovah ons beste te gee?
12 As ons Jehovah ons beste gee, toon dit dat ons hom werklik liefhet (Matteus 22:37, 38). In teenstelling met die afvallige priesters van Maleagi se tyd voorsien Jehovah se organisasie vandag ’n oorvloed van uitstekende skriftuurlike onderrigting wat ons help om Jehovah met danksegging te verheerlik deur Goddelike vereistes na te kom. Die vierde belangrike punt wat ons uit Maleagi hoofstuk 1 kan leer, hou hiermee verband.
Die dryfveer van ware aanbidding is onselfsugtige liefde, nie gierigheid nie
13. Wat het die priesters gedoen wat getoon het dat hulle dryfveer gierigheid was?
13 Die priesters van Maleagi se dag was selfsugtig, liefdeloos en geldgierig. Hoe weet ons dit? Maleagi 1:10 sê: “‘Wie is daar ook onder julle wat die deure sal sluit? En julle sal nie my altaar aansteek nie—nie verniet nie. Ek het geen behae in julle nie’, het Jehovah van die leërs gesê, ‘en in die offergawe uit julle hand het ek geen welgevalle nie.’” Ja, daardie gierige priesters het selfs vir die eenvoudigste tempeldiens vergoeding gevra; hulle het geëis dat hulle betaal word om die deure te sluit en die altaarvure aan te steek! Geen wonder dat Jehovah geen welgevalle in die offerandes uit hulle hand gehad het nie!
14. Waarom kan ons sê dat liefde die dryfveer van Jehovah se Getuies is?
14 Die gierigheid en selfsug van die sondige priesters in eertydse Jerusalem herinner ons moontlik aan die feit dat gierigaards, volgens God se Woord, nie God se Koninkryk sal beërf nie (1 Korintiërs 6:9, 10). As ons nadink oor die selfsug van daardie priesters, vergroot dit ons waardering vir die wêreldwye predikingswerk wat Jehovah se Getuies doen. Dit is vrywillig; ons vra nooit vergoeding vir enige faset van ons bediening nie. Nee, “ons is nie smouse van die woord van God . . . nie” (2 Korintiërs 2:17). Soos Paulus kan elkeen van ons waarlik sê: “Ek [het] die goeie nuus van God met genoeë kosteloos aan julle bekend gemaak” (2 Korintiërs 11:7). Let op dat Paulus ‘die goeie nuus met genoeë bekend gemaak het’. Dit dui op ’n vyfde punt wat in Maleagi hoofstuk 1 onder ons aandag gebring word.
Diens aan God—nie ’n moeisame formaliteit nie
15, 16. (a) Watter gesindheid het die priesters teenoor offerandes gehad? (b) Hoe bring Jehovah se Getuies hulle offerandes?
15 Die ontroue priesters in eertydse Jerusalem het dit as ’n vermoeiende plig beskou om offerandes te offer. Dit was vir hulle ’n las. Volgens Maleagi 1:13 het God vir hulle gesê: “Julle het gesê: ‘Kyk! Wat ’n vermoeienis!’ en julle het julle neus daarvoor opgetrek.” Daardie priesters het hulle neus opgetrek vir God se heilige dinge, dit wil sê, hulle het dit verag. Laat ons bid dat ons nooit soos hulle word nie. Mag ons eerder altyd die gees openbaar wat duidelik is in die woorde van 1 Johannes 5:3: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie.”
16 Laat ons behae daarin skep om geestelike offerandes aan God te bring en dit nooit as ’n moeisame las beskou nie. Laat ons ag slaan op die profetiese woorde: “Sê vir [Jehovah], julle almal: ‘Mag u oortreding vergewe; en neem aan wat goed is, en dan sal ons die jong bulle van ons lippe aanbied’” (Hosea 14:2). Die uitdrukking “jong bulle van ons lippe” dui op geestelike offerandes, die woorde wat ons tot lof van Jehovah en sy voornemens spreek. Hebreërs 13:15 sê: “Laat ons deur [Jesus Christus] altyd aan God ’n lofoffer bring, dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak.” Hoe bly is ons tog dat ons geestelike offerandes nie blote formaliteite is nie, maar heelhartige blyke van ons liefde vir God! Dit lei tot ’n sesde punt wat ons uit Maleagi hoofstuk 1 kan leer.
Elkeen moet rekenskap gee
17, 18. (a) Waarom het Jehovah die een vervloek “wat listig optree”? (b) Waarmee het diegene wat listig opgetree het, nie rekening gehou nie?
17 Die mense wat in Maleagi se dag gelewe het, was elkeen verantwoordelik vir sy eie dade, en ons is ook (Romeine 14:12; Galasiërs 6:5). Gevolglik sê Maleagi 1:14: “Vervloek is hy wat listig optree wanneer daar ’n manlike dier [sonder gebrek] in sy kudde is en hy ’n gelofte doen en ’n gebreklike dier aan Jehovah offer.” ’n Man met ’n kudde het nie net een dier—byvoorbeeld net een skaap—besit sodat hy geen keuse gehad het nie. Wanneer hy ’n dier gekies het om te offer, was dit nie nodig om een te kies wat blind, kreupel of siek was nie. As hy wel so ’n gebreklike dier gekies het, sou dit getoon het dat hy Jehovah se reëling van offerandes verag het, want ’n man wat ’n kudde diere gehad het, kon tog sekerlik een sonder sulke gebreke vind!
18 Jehovah het dus tereg die een vervloek wat listig opgetree het, die een wat ’n geskikte manlike dier gehad het, maar wat ’n blinde, kreupel of siek dier as ’n offerande na die priester gebring—of dalk moes gesleep—het. Tog is daar nie eens die geringste aanduiding dat enige van die priesters God se wet aangehaal het wat sê dat gebreklike diere onaanvaarbaar was nie (Levitikus 22:17-20). Redelike persone het geweet dat dit met hulle sleg sou gaan as hulle so ’n gawe aan hulle goewerneur probeer afsmeer het. Maar hulle het in werklikheid met die Universele Soewerein, Jehovah, te doen gehad, wat baie, baie groter as enige mensegoewerneur is. Maleagi 1:14 stel sake só: “‘Ek is ’n groot Koning’, het Jehovah van die leërs gesê, ‘en my naam sal vreesinboesemend onder die nasies wees.’”
19. Waarna smag ons, en wat behoort ons te doen?
19 As lojale knegte van God smag ons na die dag wanneer die Groot Koning, Jehovah, deur die hele mensdom vereer sal word. Dan sal “die aarde . . . beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek” (Jesaja 11:9). Laat ons intussen probeer om Jehovah se vereistes na te kom deur die psalmis na te volg wat gesê het: “Ek sal hom met danksegging groot maak” (Psalm 69:30). Met dié doel voor oë gee Maleagi verdere raad wat vir ons tot groot nut kan wees. Laat ons dus in die volgende twee artikels ander dele van die boek Maleagi noukeurig ondersoek.
Onthou jy?
• Waarom moet ons Jehovah verheerlik?
• Waarom was die priesters se offerandes in Maleagi se dag onaanvaarbaar vir Jehovah?
• Hoe bring ons ’n lofoffer aan Jehovah?
• Wat behoort die dryfveer van ware aanbidding te wees?
[Prent op bladsy 9]
Maleagi se profesie het gewys na ons dag
[Prent op bladsy 10]
Esau het nie heilige dinge waardeer nie
[Prent op bladsy 11]
Die priesters en die volk het onaanvaarbare offerandes gebring
[Prent op bladsy 12]
Regoor die wêreld bring Jehovah se Getuies vrywillig lofoffers