Jehovah haat verraderlikheid
‘Moenie verraderlik met mekaar handel nie.’—MALEAGI 2:10.
1. Wat vereis God van ons as ons die ewige lewe wil ontvang?
WIL jy graag vir ewig lewe? As jy aan die hoop op ewige lewe glo wat in die Bybel belowe word, sal jy waarskynlik sê: ‘Natuurlik.’ Maar as jy wil hê dat God jou met eindelose lewe in sy nuwe wêreld moet seën, sal jy sy vereistes moet nakom (Prediker 12:13; Johannes 17:3). Is dit onredelik om dít van onvolmaakte mense te verwag? Nee, want Jehovah spreek hierdie bemoedigende woorde: “In liefderyke goedhartigheid het ek behae geskep, en nie in offerande nie; en in die kennis van God eerder as in heelbrandoffers” (Hosea 6:6). Selfs feilbare mense kan dus aan God se vereistes voldoen.
2. Hoe het baie Israeliete verraderlik met Jehovah gehandel?
2 Maar nie almal wil Jehovah se wil doen nie. Hosea toon dat selfs baie Israeliete dit nie wou doen nie. As ’n nasie het hulle ingestem om ’n verbond, ’n ooreenkoms, te sluit om God se wette te gehoorsaam (Eksodus 24:1-8). En tog het hulle kort voor lank “die verbond oortree” deur sy wette te verbreek. Daarom het Jehovah gesê dat daardie Israeliete ‘verraderlik met hom gehandel het’ (Hosea 6:7). En baie mense het dit ook sedertdien gedoen. Maar Jehovah haat verraderlike optrede, hetsy teenoor hom of teenoor diegene wat hom liefhet en dien.
3. Wat gaan ons in hierdie studie ontleed?
3 Hosea was nie die enigste profeet wat die aandag gevestig het op God se beskouing van verraderlikheid nie, ’n beskouing wat ons ook moet huldig as ons ’n gelukkige lewe wil geniet. In die vorige artikel het ons met ’n ontleding van ’n groot deel van Maleagi se profetiese boodskap begin, vanaf die eerste hoofstuk van sy boek. Kom ons kyk nou na die tweede hoofstuk van daardie boek en sien hoe God se beskouing van verraderlikheid verdere aandag ontvang. Hoewel Maleagi die situasie bespreek het wat onder God se volk geheers het dekades nadat hulle uit gevangenskap in Babilon teruggekeer het, het hierdie tweede hoofstuk groot betekenis vir ons wat vandag lewe.
Laakbare priesters
4. Watter waarskuwing het Jehovah vir die priesters gegee?
4 Hoofstuk 2 open met Jehovah se bestrawwing van die Joodse priesters omdat hulle van sy regverdige weë afgewyk het. As hulle nie sy raad ter harte neem en hulle weë regstel nie, is ernstige gevolge onvermydelik. Let op die eerste twee verse: “‘Hierdie gebod is nou vir julle, o priesters. As julle nie luister nie, en as julle dit nie ter harte neem om aan my naam eer te gee nie’, het Jehovah van die leërs gesê, ‘dan sal ek beslis die vloek oor julle stuur, en ek sal julle seëninge vervloek.’” As die priesters God se wette aan die volk geleer het en dit onderhou het, sou hy hulle geseën het. Maar omdat hulle God se wil verontagsaam het, sou ’n vloek eerder oor hulle kom. Selfs die seëninge wat die priesters uitgespreek het, sou ’n vloek word.
5, 6. (a) Waarom was die priesters veral laakbaar? (b) Hoe het Jehovah sy veragting vir die priesters uitgespreek?
5 Waarom was die priesters veral laakbaar? Vers 7 maak dit duidelik: “Die lippe van ’n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond moet mense die wet soek; want hy is die boodskapper van Jehovah van die leërs.” Meer as duisend jaar vroeër het God se wette wat deur Moses aan Israel gegee is, gesê dat dit die plig van die priesters was “om die kinders van Israel al die voorskrifte te leer wat Jehovah . . . gespreek het” (Levitikus 10:11). Die skrywer van 2 Kronieke 15:3 moes ongelukkig later berig: “Israel was baie dae sonder ’n ware God en sonder ’n priester wat onderrig gee en sonder Wet.”
6 In die tyd van Maleagi, in die vyfde eeu v.G.J., was die situasie met die priesterdom dieselfde. Hulle het versuim om die volk God se Wet te leer. Daarom het daardie priesters verdien om tot verantwoording geroep te word. Let op die kragtige woorde wat Jehovah aan hulle rig. Maleagi 2:3 sê: “Ek sal mis op julle gesig strooi, die mis van julle feeste.” Wat ’n bestrawwing! Die mis van offerdiere was veronderstel om uit die kamp geneem en verbrand te word (Levitikus 16:27). Maar wanneer Jehovah vir hulle sê dat die mis eerder op hulle gesig gestrooi sou word, toon dit duidelik dat hy hulle offerandes en dié wat dit geoffer het, verag en verwerp het.
7. Waarom was Jehovah vertoornd op die onderrigters van die Wet?
7 Eeue voor Maleagi se tyd het Jehovah aan die Leviete die taak opgedra om na die tabernakel en later na die tempel en die heilige bediening om te sien. Hulle was die onderrigters in die nasie Israel. As hulle hulle toewysing vervul het, sou dit lewe en vrede vir hulle en die nasie beteken het (Numeri 3:5-8). Maar die Leviete het hulle aanvanklike vrees vir God verloor. Gevolglik het Jehovah vir hulle gesê: “Julle het van die weg afgewyk. Julle het baie in die wet laat struikel. Julle het die verbond van Levi te gronde gerig . . . Julle [het] my weë nie gehou . . . nie” (Maleagi 2:8, 9). Omdat hulle nie die waarheid aan die nasie geleer het nie en vir hulle ’n slegte voorbeeld gestel het, het die priesters baie Israeliete mislei. Jehovah was dus tereg vertoornd op hulle.
Handhaaf God se standaarde
8. Is dit te veel gevra om van mense te verwag om God se standaarde te handhaaf? Verduidelik.
8 Ons moenie dink dat daardie priesters simpatie verdien en verskoon moet word omdat hulle maar onvolmaakte mense was en daar nie van hulle verwag kon word om God se standaarde te handhaaf nie. Feit is dat mense God se gebooie kan onderhou, want Jehovah verwag nie van hulle wat hulle nie kan doen nie. Enkele priesters het heel moontlik destyds God se standaarde gehandhaaf, en daar is beslis een wat dit later gedoen het—Jesus, die groot “hoëpriester” (Hebreërs 3:1). Van hom kon daar tereg gesê word: “Die wet van waarheid was in sy mond, en geen onregverdigheid is op sy lippe gevind nie. In vrede en in regskapenheid het hy met my gewandel, en baie mense het hy van oortreding teruggebring.”—Maleagi 2:6.
9. Wie het die waarheid in ons tyd getrou bekend gemaak?
9 Die gesalfde broers van Christus, wat die hemelse hoop het, dien eweneens nou al meer as ’n eeu as ‘’n heilige priesterdom, om geestelike offerandes te bring wat vir God aanneemlik is’ (1 Petrus 2:5). Hulle het die leiding daarin geneem om Bybelwaarhede aan ander bekend te maak. Het jy, namate jy waarhede geleer het wat hulle bekend maak, nie uit ondervinding geleer dat die wet van waarheid in hulle mond is nie? Hulle het baie mense gehelp om hulle van godsdiensdwaling af te keer, sodat daar nou miljoene regoor die wêreld is wat Bybelwaarhede geleer het en die hoop op ewige lewe koester. Hierdie persone het dan weer die voorreg om die wet van waarheid aan nog miljoene ander te leer.—Johannes 10:16; Openbaring 7:9.
Belangrik om versigtig te wees
10. Waarom moet ons versigtig wees?
10 Maar ons moet versigtig wees. Ons kan die lesse miskyk wat in Maleagi 2:1-9 opgesluit is. Is elkeen van ons op ons hoede sodat geen onregverdigheid op ons lippe gevind word nie? Byvoorbeeld, kan ons gesinslede werklik vertrou wat ons sê? Kan ons geestelike broers en susters in die gemeente? ’n Mens kan maklik die gewoonte aankweek om jou woorde so te kies dat dit tegnies korrek en tog misleidend is. Of jy oordryf of verberg dalk besonderhede in ’n sakeaangeleentheid. Sal Jehovah dit nie sien nie? En sal hy die lofoffers van ons lippe aanvaar as ons sulke dinge doen?
11. Wie in die besonder moet versigtig wees?
11 Maleagi 2:7 moet as ’n waarskuwing dien vir diegene wat vandag die voorreg het om God se Woord in die gemeentes aan ander te leer. Dit sê dat hulle lippe ‘kennis moet bewaar, en dat mense die wet uit hulle mond moet soek’. Daar rus ’n swaar verantwoordelikheid op hierdie onderrigters, want Jakobus 3:1 toon dat hulle “’n swaarder oordeel sal ontvang”. Terwyl hulle met ywer en geesdrif moet onderrig, moet hulle onderrigting stewig gegrond wees op God se geskrewe Woord en die riglyne wat deur Jehovah se organisasie voorsien word. Sodoende sal hulle ‘voldoende bekwaam wees om ander te leer’. Hulle word dus aangespoor: “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer.”—2 Timoteus 2:2, 15.
12. Waarvoor moet onderrigters versigtig wees?
12 As ons nie versigtig is nie, kan ons in die versoeking kom om persoonlike voorkeure of menings in ons onderrigting in te weef. Dit kan veral ’n gevaar wees vir iemand wat gewoonlik seker is van sy eie gevolgtrekkings, selfs wanneer dit bots met wat Jehovah se organisasie leer. Maar Maleagi hoofstuk 2 toon dat ons van onderrigters in die gemeente kan verwag om by die kennis van God te bly en nie aan persoonlike idees vas te klou wat die skape kan laat struikel nie. Jesus het gesê: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat geloof in my stel, laat struikel, dit is vir hom voordeliger dat ’n meulsteen, soos wat deur ’n esel gedraai word, om sy nek gehang en hy in die wye, oop see gesink word.”—Matteus 18:6.
Huwelike met ongelowiges
13, 14. Wat was een van die verraderlike weë waarop Maleagi die aandag gevestig het?
13 Van vers 10 af bring Maleagi hoofstuk 2 verraderlikheid selfs sterker na vore. Maleagi vestig die aandag op twee verwante handelswyses, in verband waarmee hy herhaaldelik die woord “verraderlik” gebruik. Let eerstens op dat Maleagi sy raad met hierdie vrae inlei: “Het ons nie almal een vader nie? Het een God ons nie geskep nie? Waarom handel ons dan verraderlik met mekaar, deur die verbond van ons voorvaders te ontheilig?” Dan voeg vers 11 by dat Israel se verraderlikheid daarop neerkom dat “die heiligheid van Jehovah” ontheilig word. Wat het hulle gedoen wat so ernstig was? Daardie vers identifiseer een van die verkeerde dade: Hulle “het die dogter van ’n vreemde god as bruid in besit geneem”.
14 Met ander woorde, party Israeliete, wat deel was van ’n nasie wat aan Jehovah toegewy was, het met persone getrou wat hom nie aanbid het nie. Die konteks help ons om te sien waarom dit so ernstig was. Vers 10 sê dat hulle een gemeenskaplike vader gehad het. Dit het nie verwys na Jakob (wie se naam na Israel verander is) of Abraham of selfs Adam nie. Maleagi 1:6 toon dat Jehovah die “een vader” was. Die nasie Israel was in ’n verhouding met hom, deelgenote van die verbond wat met hulle voorvaders gesluit is. Een van die wette in daardie verbond was: “Jy mag geen huweliksverbintenis met hulle aangaan nie. Jou dogter mag jy nie aan sy seun gee nie, en sy dogter mag jy nie vir jou seun neem nie.”—Deuteronomium 7:3.
15. (a) Hoe probeer party dalk ’n huwelik met ’n ongelowige goedpraat? (b) Hoe spreek Jehovah hom oor die kwessie van die huwelik uit?
15 Party redeneer vandag dalk: ‘Die persoon tot wie ek aangetrokke voel, is baie gaaf. Hy (of sy) sal waarskynlik mettertyd ’n ware aanbidder word.’ Sulke denke bevestig die geïnspireerde waarskuwing: “Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat” (Jeremia 17:9). God se beskouing oor huweliksverbintenisse met ongelowiges word duidelik gestel in Maleagi 2:12: “Jehovah sal elkeen wat dit doen, . . . uitroei.” Christene word dus aangespoor om “net in die Here” te trou (1 Korintiërs 7:39). Onder die Christelike stelsel van dinge word ’n gelowige wat met ’n ongelowige trou, nie ‘uitgeroei’ nie. Maar wat sal met die ongelowige gebeur wanneer God binnekort hierdie stelsel van dinge tot ’n einde bring, as hy of sy ongelowig bly?—Psalm 37:37, 38.
Slegte behandeling van ’n huweliksmaat
16, 17. Watter verraderlike weg het party ingeslaan?
16 Maleagi bespreek dan ’n tweede verraderlike daad: slegte behandeling van ’n huweliksmaat, veral deur ’n ongegronde egskeiding. Vers 14 van hoofstuk 2 sê: “Jehovah [is] getuie . . . tussen jou en die vrou van jou jeug, met wie jy verraderlik gehandel het, hoewel sy jou metgesel en die vrou van jou verbond is.” Deur verraderlik met hulle vrouens te handel, het Joodse mans veroorsaak dat Jehovah se altaar “met trane bedek” is (Maleagi 2:13). Daardie mans het ongegronde egskeidings verkry en die vrouens van hulle jeug ten onregte verlaat, moontlik om met jonger of met heidense vroue te trou. En die verdorwe priesters het dit toegelaat! Tog sê Maleagi 2:16: “‘Hy het egskeiding gehaat’, het Jehovah, die God van Israel, gesê.” Jesus het later getoon dat onsedelikheid die enigste grond vir ’n egskeiding is waarna die onskuldige maat weer mag trou.—Matteus 19:9.
17 Dink na oor Maleagi se woorde en sien hoe dit tot die hart en tot fundamentele goedhartigheid spreek. Hy verwys na “jou metgesel en die vrou van jou verbond”. Elkeen van hierdie mans het met ’n medeaanbidder, ’n Israelitiese vrou, getrou en haar as ’n geliefde metgesel, ’n lewensmaat, gekies. Hulle is waarskynlik getroud toe hy en sy nog jonk was, maar die verloop van tyd en die feit dat hulle nou veel ouer is, het nie die verbond wat hulle aangegaan het, dit wil sê die huwelikskontrak, nietig verklaar nie.
18. Hoe is Maleagi se raad in verband met verraderlikheid vandag van toepassing?
18 Die raad in verband met hierdie kwessies is vandag nog net soveel van toepassing. Dit is jammer dat party God se bevel ignoreer om net in die Here te trou. En dit is ook betreurenswaardig dat party nie aanhou om hulle daarop toe te lê om hulle huwelik sterk te hou nie. In plaas daarvan maak hulle verskonings en volg hulle ’n weg wat God haat deur ’n onskriftuurlike egskeiding te verkry sodat hulle met iemand anders kan trou. Deur dít te doen, het hulle “Jehovah vermoei”. In Maleagi se tyd was dié wat Goddelike raad geïgnoreer het, selfs so vermetel om te dink dat Jehovah se beskouings ongeregverdig was. Hulle het in werklikheid gesê: “Waar is die God van geregtigheid?” Watter verdorwe denke tog! Laat ons nie in daardie strik gevang word nie.—Maleagi 2:17.
19. Hoe kan mans en vrouens God se gees ontvang?
19 Aan die positiewe kant toon Maleagi dat party mans nie verraderlik met hulle vrouens gehandel het nie. Hulle het gehad “wat oorgebly het van die gees” (Vers 15). Gelukkig is daar vandag baie van hierdie soort mans in God se organisasie wat ‘eer aan hulle vrouens toeken’ (1 Petrus 3:7). Hulle mishandel nie hulle vrou fisies of deur beledigings nie, dring nie aan op verdorwe seksgebruike nie en doen nie hulle vrou oneer aan deur met ander vroue te flankeer of deur na pornografie te kyk nie. Jehovah se organisasie is ook geseën met tallose getroue Christenvrouens wat lojaal aan God en sy wette is. Al hierdie mans en vrouens weet wat God haat, en hulle dink en handel in ooreenstemming daarmee. Hou aan om soos hulle te wees, naamlik om ‘aan God as heerser gehoorsaam te wees’ en deur sy heilige gees geseën te word.—Handelinge 5:29.
20. Watter tyd is op hande vir die hele mensdom?
20 Jehovah sal binnekort sy oordeel oor hierdie hele wêreld voltrek. Elke individu sal aan hom verantwoording moet doen van sy of haar oortuigings en dade. “Elkeen van ons [sal] vir homself aan God rekenskap gee” (Romeine 14:12). ’n Gedagteprikkelende vraag op hierdie stadium is dus: Wie sal die dag van Jehovah oorleef? Die derde en laaste artikel in hierdie reeks sal dié onderwerp bespreek.
Kan jy verduidelik?
• Om watter basiese rede het Jehovah die priesters in Israel bestraf?
• Waarom is God se standaarde nie te hoog vir mense om te handhaaf nie?
• Waarom moet ons vandag versigtig wees wanneer ons ander onderrig?
• Watter twee handelswyses is veral deur Jehovah veroordeel?
[Prent op bladsy 15]
In Maleagi se tyd is die priesters bestraf omdat hulle van Jehovah se weë afgewyk het
[Prent op bladsy 16]
Ons moet seker maak dat ons Jehovah se weë vir ander leer en nie persoonlike voorkeure bevorder nie
[Prente op bladsy 18]
Jehovah het Israeliete veroordeel wat om onbenullige redes van hulle vrouens geskei en met heidense vroue getrou het
[Prent op bladsy 18]
Christene van vandag bly getrou aan hulle huweliksverbond