Verkry ’n hart waarin Jehovah behae het
“Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees.”—PSALM 51:12.
1, 2. Waarom behoort ons in ons hart belang te stel?
HY WAS ’n lang, aantreklike man. Toe die profeet Samuel hom sien, was hy so beïndruk dat hy tot die slotsom gekom het dat hierdie oudste seun van Isai die een is wat God as koning in die plek van Saul gekies het. Maar Jehovah het gesê: “Kyk nie na [hierdie seun se] voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. . . . Want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.” Jehovah se keuse was Isai se jongste seun, Dawid—“’n man na sy hart”.—1 Samuel 13:14; 16:7.
2 God kan die mensehart lees, soos hy dit later duidelik gestel het: “Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge” (Jeremia 17:10). Ja, “Jehovah is die ondersoeker van harte” (Spreuke 17:3, NW). Maar wat is die hart in ’n mens wat deur Jehovah ondersoek word? En wat kan ons doen om ’n hart te verkry waarin hy behae het?
“Die geheime persoon van die hart”
3, 4. In watter sin word die woord “hart” hoofsaaklik in die Bybel gebruik? Gee voorbeelde.
3 Die woord “hart” kom ongeveer duisend keer in die Heilige Skrif voor. In die meeste gevalle word dit in figuurlike sin gebruik. Jehovah het byvoorbeeld vir die profeet Moses gesê: “Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ’n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring.” En dié wat bydraes gegee het, het gekom, “elkeen wie se hart hom opgewek” het (Exodus 25:2; 35:21). Dit is duidelik dat motivering—die innerlike krag wat ons aanspoor om op te tree—een aspek van die figuurlike hart is. Ons figuurlike hart weerspieël ook ons emosies en gevoelens, ons begeertes en geneenthede. ’n Hart kan verteer word deur woede of vervul wees met vrees, oorweldig word deur smart of oorstelp wees van vreugde (Psalm 27:3; 39:4; Johannes 16:22; Romeine 9:2). Dit kan hoogmoedig of nederig, liefdevol of haatdraend wees.—Spreuke 16:5; Matteus 11:29; 1 Petrus 1:22.
4 Gevolglik word die “hart” dikwels geassosieer met motivering en emosies, terwyl die “verstand” veral te doen het met intellek. Dit is hoe ons hierdie woorde moet verstaan wanneer dit in dieselfde konteks in die Bybel verskyn (Matteus 22:37; Filippense 4:7). Maar die hart en die verstand is nie onverenigbaar nie. Moses het byvoorbeeld die Israeliete aangespoor: “Jy moet dit in jou hart terugroep [of “met jou verstand herroep”, voetnoot], dat Jehovah die ware God is” (Deuteronomium 4:39, NW). Vir die skrifgeleerdes wat planne teen hom beraam het, het Jesus gesê: “Waarom dink julle goddelose dinge in julle harte?” (Matteus 9:4). “Begrip”, “kennis” en ‘redenering’ kan ook met die hart verbind word (1 Konings 3:12, NW; Spreuke 15:14; Markus 2:6). Die figuurlike hart kan dus ook ons intellek insluit—ons denke of ons begrip.
5. Waarvoor staan die figuurlike hart?
5 Volgens een naslaanwerk staan die figuurlike hart “oor die algemeen [vir] die sentrale deel, die binneste, en daarom vir die innerlike mens soos hy hom openbaar in al sy verskillende bedrywighede, in sy begeertes, geneenthede, emosies, hartstogte, doelwitte, sy gedagtes, waarnemings, voorstellings, sy wysheid, kennis, vaardigheid, sy opvattings en sy redenasies, sy geheue en sy bewustheid”. Dit verteenwoordig wat ons werklik innerlik is, “die geheime persoon van die hart” (1 Petrus 3:4). Dít is wat Jehovah sien en ondersoek. Daarom kon Dawid bid: “Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees” (Psalm 51:12). Hoe kan ons ’n rein hart verkry?
“Rig julle hart” op God se Woord
6. Watter vermaning het Moses aan Israel in die vlaktes van Moab gegee?
6 Toe Moses die kinders van Israel, wat in die vlaktes van Moab byeen was, vermaan het voordat hulle die Beloofde Land ingegaan het, het hy gesê: “Rig julle hart op al die woorde wat ek vandag as waarskuwing tot julle spreek, sodat julle julle kinders kan beveel om al die woorde van hierdie wet sorgvuldig uit te voer” (Deuteronomium 32:46, NW). Die Israeliete moes “noukeurig ag slaan” (Knox). Slegs as hulle deeglik vertroud was met God se gebooie, kon hulle dit by hulle kinders inskerp.—Deuteronomium 6:6-8.
7. Wat behels dit om ‘ons hart te rig’ op God se Woord?
7 ’n Belangrike vereiste om ’n rein hart te verkry, is om juiste kennis van God se wil en voornemens op te doen. Daar is net een bron van daardie kennis, die geïnspireerde Woord van God (2 Timoteus 3:16, 17). Blote kopkennis gaan ons egter nie help om ’n hart te verkry waarin Jehovah behae het nie. Kennis kan slegs ’n invloed hê op wat ons werklik innerlik is as ons ‘ons hart rig’ op wat ons leer, of dit ‘ter harte neem’ (Deuteronomium 32:46, NAV). Hoe doen ons dit? Die psalmis Dawid verduidelik: “Ek dink aan die dae uit die voortyd; ek peins oor al u dade; ek dink ná oor die werk van u hande.”—Psalm 143:5.
8. Oor watter vrae kan ons nadink wanneer ons studeer?
8 Ons moet ook met waardering peins oor Jehovah se dade. Wanneer ons die Bybel of Bybelpublikasies lees, moet ons nadink oor vrae soos: ‘Wat leer dit my omtrent Jehovah? Watter eienskappe van Jehovah is hier duidelik? Wat leer hierdie verslag my oor dinge waarvan Jehovah hou en nie hou nie? Wat is die gevolge as ’n mens ’n weg volg wat Jehovah goedkeur teenoor ’n weg wat hy haat? Hoe hou hierdie inligting verband met wat ek reeds weet?’
9. Hoe waardevol is persoonlike studie en bepeinsing?
9 Twee-en-dertigjarige Lisaa verduidelik hoe sy die waarde van betekenisvolle studie en bepeinsing besef het: “Nadat ek in 1994 gedoop is, was ek omtrent twee jaar lank baie bedrywig in die waarheid. Ek het al die Christelike vergaderinge bygewoon, van 30 tot 40 uur per maand in die veldbediening deurgebring en met mede-Christene omgegaan. Toe het ek begin wegdryf. Ek het so diep gesink dat ek selfs God se wet oortree het. Maar ek het tot besinning gekom en besluit om my lewe in orde te bring. Hoe verheug is ek tog dat Jehovah my berou gesien en my teruggeneem het! Ek het al baie maal gedink: ‘Hoekom het ek afgedwaal?’ Die antwoord waarby ek elke keer uitkom, is dat ek betekenisvolle studie en bepeinsing nagelaat het. Bybelwaarhede het eenvoudig nie my hart bereik nie. Van nou af sal persoonlike studie en bepeinsing altyd ’n belangrike deel van my lewe uitmaak.” Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons tyd inruim vir betekenisvolle bepeinsing terwyl ons al hoe meer kennis inneem van Jehovah, sy Seun en sy Woord!
10. Waarom is dit dringend dat ons tyd inruim vir persoonlike studie en bepeinsing?
10 In hierdie besige wêreld is dit beslis ’n uitdaging om tyd te vind vir studie en bepeinsing. Maar Christene wat vandag lewe, staan op die drumpel van ’n wonderlike Beloofde Land—God se regverdige nuwe wêreld (2 Petrus 3:13). Verbasende gebeure, soos die vernietiging van “Babilon die Grote” en die aanval deur “Gog, in die land Magog,” op Jehovah se volk, is op hande (Openbaring 17:1, 2, 5, 15-17; Esegiël 38:1-4, 14-16; 39:2). Wat nog voorlê, kan ons liefde vir Jehovah op die proef stel. Dit is dringend dat ons nou die geleë tyd uitkoop en ons hart op God se Woord rig!—Efesiërs 5:15, 16.
‘Berei jou hart voor om God se Woord te raadpleeg’
11. Hoe kan ons hart met grond vergelyk word?
11 Die figuurlike hart kan vergelyk word met grond waarop die saad van die waarheid geplant kan word (Matteus 13:18-23). Letterlike grond word gewoonlik bewerk om te verseker dat die gewasse goed groei. Net so ook moet die hart eers voorberei, of gereedgemaak, word sodat dit ontvankliker vir die Woord van God kan wees. Die priester Esra “het sy hart voorberei om die wet van Jehovah te raadpleeg en om dit na te kom” (Esra 7:10, NW). Hoe kan ons ons hart voorberei?
12. Wat sal help om ons hart vir studie voor te berei?
12 ’n Uitstekende manier om ons hart voor te berei wanneer ons God se Woord raadpleeg, is deur hartgrondige gebed. Christelike vergaderinge van ware aanbidders word met gebed geopen en afgesluit. Hoe gepas is dit tog dat ons elke persoonlike Bybelstudiesessie met ’n opregte gebed begin en dan ’n biddende gesindheid tydens ons studie handhaaf!
13. Wat moet ons doen as ons ’n hart wil verkry waarin Jehovah behae het?
13 Die figuurlike hart moet voorberei word om vooropgesette menings te laat vaar. Die godsdiensleiers van Jesus se dag was nie bereid om dit te doen nie (Matteus 13:15). Daarenteen het Jesus se moeder, Maria, gevolgtrekkings “in haar hart” gemaak, wat gegrond was op waarhede wat sy gehoor het (Lukas 2:19, 51). Sy het ’n getroue dissipel van Jesus geword. Lidia van Tiatira het na Paulus geluister, “en Jehovah het haar hart wyd oopgemaak om aandag te skenk”. Sy het ook ’n gelowige geword (Handelinge 16:14, 15). Laat ons nooit verbete vasklou aan persoonlike menings of geliefkoosde leerstellige beskouings nie. Laat ons eerder toon dat ons bereid is dat “God waaragtig bevind word, al word elke mens ’n leuenaar bevind”.—Romeine 3:4.
14. Hoe kan ons ons hart voorberei om by Christelike vergaderinge te luister?
14 Dit is veral belangrik dat ons ons hart voorberei om by Christelike vergaderinge te luister. Daar is dinge wat ons aandag kan aftrek van wat gesê word. Gesproke woorde kan min invloed op ons hê as ons gedagtes by dinge is wat gedurende die dag gebeur het of as ons bekommerd is oor wat môre op ons wag. Ons moet vasbeslote wees om te luister en te leer as ons baat wil vind by wat gesê word. Watter groot voordele kan ons tog ontvang as ons vasbeslote is om die tekste wat uitgelê word en die betekenis wat daaraan gegee word, te verstaan!—Nehemia 8:5-8, 12, NW.
15. Hoe help nederigheid ons om ontvankliker te wees vir onderrigting?
15 Net soos die natuurlike grond verbeter word as ’n mens die regte voedingstowwe byvoeg, kan dit ook ons figuurlike hart verryk as ons nederigheid, ’n honger na geestelike dinge, vertroue, godvrugtige vrees en liefde vir God aankweek. Nederigheid maak die hart sag en help ons om ontvankliker te word vir onderrigting. Jehovah het vir die Judese koning Josia gesê: “Omdat jou hart week is en jy jou voor die aangesig van die HERE verneder het toe jy hoor wat Ek . . . gespreek het, . . . en omdat jy voor my aangesig geween het, daarom het Ék ook verhoor” (2 Konings 22:19). Josia se hart was nederig en ontvanklik. Nederigheid het Jesus se “ongeleerde en gewone” dissipels gehelp om geestelike waarhede te verstaan en toe te pas wat ‘wyse en intellektuele’ mense nie kon verstaan nie (Handelinge 4:13; Lukas 10:21). Laat ons ons ‘voor ons God verneder’ terwyl ons probeer om ’n hart te verkry waarin Jehovah behae het.—Esra 8:21, NW.
16. Waarom is inspanning nodig om ’n honger na geestelike voedsel te ontwikkel?
16 Jesus het gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Hoewel ons geskep is met ’n vermoë om geestelikheid te ontwikkel, kan druk van hierdie goddelose wêreld of eienskappe soos luiheid ons minder bewus maak van ons behoefte (Matteus 4:4). Ons moet ’n sterk begeerte na geestelike voedsel ontwikkel. Selfs al geniet ons dit aanvanklik nie om die Bybel te lees en persoonlike studie te doen nie, sal ons met volharding vind dat kennis ‘vir ons siel aangenaam word’ sodat ons gretig uitsien na ons studiesessies.—Spreuke 2:10, 11, NW.
17. (a) Waarom verdien Jehovah ons volkome vertroue? (b) Hoe kan ons vertroue in God opbou?
17 “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie”, het koning Salomo gemaan (Spreuke 3:5). ’n Hart wat op Jehovah vertrou, weet dat wat Hy ook al deur sy Woord vra of vereis, altyd reg is (Jesaja 48:17). Jehovah verdien beslis ons volkome vertroue. Hy is in staat om al sy voornemens te vervul (Jesaja 40:26, 29). Selfs sy naam beteken letterlik “Hy laat word”, wat vertroue opbou in sy vermoë om sy beloftes na te kom! Hy is “regverdig in al sy weë en lojaal in al sy werke” (Psalm 145:17, NW). As ons natuurlik vertroue in hom wil opbou, moet ons ‘smaak en sien dat Jehovah goed is’ deur in ons persoonlike lewe toe te pas wat ons uit die Bybel leer en deur na te dink oor die goeie resultate wat dit meebring.—Psalm 34:9.
18. Hoe help godvrugtige vrees ons om ontvanklik te wees vir God se leiding?
18 Salomo het na nog ’n eienskap verwys wat ons hart ontvanklik maak vir God se leiding en gesê: “Vrees die HERE, en wyk af van die kwaad” (Spreuke 3:7). Jehovah het aangaande eertydse Israel gesê: “Ag, as hulle maar so ’n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan” (Deuteronomium 5:29). Ja, diegene wat God vrees, gehoorsaam hom. Jehovah het die mag “om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” en om diegene te straf wat nie aan hom gehoorsaam is nie (2 Kronieke 16:9). Laat eerbiedige vrees om God te mishaag al ons dade, denke en emosies rig.
‘Jy moet Jehovah liefhê met jou hele hart’
19. Watter rol speel liefde daarin om ons hart ontvanklik te maak vir Jehovah se leiding?
19 Liefde, meer as enige ander eienskap, maak ons hart werklik ontvanklik vir Jehovah se leiding. ’n Hart vol liefde vir God maak ’n mens gretig om uit te vind wat God behaag en wat hom mishaag (1 Johannes 5:3). Jesus het gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matteus 22:37). Laat ons ons liefde vir God versterk deur ’n gewoonte daarvan te maak om oor sy goedheid na te dink, deur gereeld met hom te praat soos met ’n intieme vriend en deur ywerig vir ander van hom te vertel.
20. Hoe kan ons ’n hart verkry waarin Jehovah behae het?
20 Ter opsomming: Om ’n hart te verkry waarin Jehovah behae het, moet ons toelaat dat God se Woord ’n invloed het op wat ons innerlik is, die geheime persoon van die hart. Betekenisvolle persoonlike studie van die Skrif en bepeinsing met waardering is noodsaaklik. Dit word die beste met ’n voorbereide hart gedoen—’n hart vry van vooropgesette menings, een wat gevul is met eienskappe wat ons ontvanklik maak vir onderrigting! Ja, met Jehovah se hulp kan ons wel ’n goeie hart verkry. Maar wat kan ons doen om ons hart te bewaak?
[Voetnoot]
a Naam is verander.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat is die figuurlike hart wat deur Jehovah ondersoek word?
• Hoe kan ons ‘ons hart rig’ op God se Woord?
• Hoe moet ons ons hart voorberei om God se Woord te raadpleeg?
• Hoe het hierdie materiaal jou gemotiveer?
[Prent op bladsy 17]
Dawid het met waardering oor geestelike dinge gepeins. Doen jy dit?
[Prente op bladsy 18]
Berei jou hart voor voordat jy God se Woord bestudeer