Hoofstuk 105
Die begin van ’n kritieke dag
TOE Jesus Jerusalem Maandagaand verlaat, keer hy terug na Betanië wat teen die oostelike hang van die Olyfberg geleë is. Twee dae van die laaste deel van sy bediening in Jerusalem is voltooi. Jesus bring ongetwyfeld weer die nag by sy vriend Lasarus deur. Dit is die vierde nag wat hy in Betanië deurbring sedert hy Vrydag uit Jerigo aangekom het.
Hy en sy dissipels is nou, vroeg Dinsdagoggend, 11 Nisan, weer op pad. Dit is ’n kritieke dag in Jesus se bediening, die bedrywigste tot dusver. Dit is die laaste dag wat hy in die tempel verskyn. En dit is die laaste dag van sy openbare bediening voor sy verhoor en teregstelling.
Jesus en sy dissipels volg dieselfde roete oor die Olyfberg na Jerusalem. Langs die pad van Betanië af sien Petrus die boom wat Jesus die vorige oggend vervloek het. “Rabbi, kyk”, roep hy uit, “die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.”
Maar waarom het Jesus die boom laat doodgaan? Hy dui die rede aan wanneer hy verder sê: “Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg [die Olyfberg waarop hulle staan]: Hef jou op en werp jou in die see—sal dit gebeur. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.”
Jesus het die boom dus laat verdroog om vir sy dissipels ’n aanskouingsles te gee oor hoe belangrik dit is dat hulle geloof in God moet beoefen. Soos hy sê: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.” Wat ’n belangrike les is dit tog wat hulle moet leer, veral met die oog op die verskriklike toetse wat binnekort sou kom! Maar daar is ’n ander verband tussen die verdroging van die vyeboom en geloof.
Die nasie Israel het, net soos hierdie vyeboom, ’n bedrieglike voorkoms. Hoewel die nasie in ’n verbondsverhouding met God is en op die oog af sy verordeninge hou, is hulle sonder geloof, sonder goeie vrugte. As gevolg van gebrek aan geloof is hulle selfs besig om God se Seun te verwerp! Deur die onvrugbare vyeboom te laat verdroog toon Jesus derhalwe op aanskoulike wyse wat die uiteinde vir hierdie vrugtelose, ontroue nasie sal wees.
Kort daarna gaan Jesus en sy dissipels Jerusalem binne, en soos gewoonlik gaan hulle na die tempel waar Jesus begin onderrig. Die owerpriesters en ouderlinge van die volk, ongetwyfeld gedagtig aan Jesus se optrede van die vorige dag teen die geldwisselaars, daag hom uit: “Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U hierdie gesag gegee?”
Jesus antwoord: “Ek sal julle ook een ding vra, en as julle dit vir My sê, sal Ek julle ook vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, waar was dit vandaan, uit die hemel of uit mense?”
Die priesters en ouderlinge redeneer onder mekaar oor hoe hulle sal antwoord. “As ons sê: Uit die hemel—dan sal Hy ons vra: Waarom het julle hom dan nie geglo nie? En as ons sê: Uit mense—dan moet ons oppas vir die menigte, want almal hou Johannes vir ’n profeet.”
Die owerstes weet nie wat om te antwoord nie. Daarom sê hulle vir Jesus: “Ons weet nie.”
Toe sê Jesus: “Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” Mattheüs 21:19-27; Markus 11:19-33; Lukas 20:1-8.
▪ Wat is so belangrik omtrent Dinsdag, 11 Nisan?
▪ Watter lesse leer Jesus sy dissipels wanneer hy die vyeboom laat verdroog?
▪ Hoe antwoord Jesus diegene wat hom vra deur watter gesag hy dinge doen?