Hoofstuk 107
Die gelykenis van die bruilof
JESUS het deur middel van twee gelykenisse die skrifgeleerdes en die owerpriesters aan die kaak gestel, en hulle wil hom doodmaak. Maar Jesus is nog lank nie klaar met hulle nie. Hy vertel hulle weer eens ’n gelykenis, en sê:
“Die koninkryk van die hemele is soos ’n koning wat ’n bruilof vir sy seun berei het en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie.”
Jehovah God is die Koning wat ’n bruilof vir sy Seun, Jesus Christus, voorberei. Uiteindelik sal die bruid van 144 000 gesalfde volgelinge in die hemel met Jesus verenig wees. Die Koning se onderdane is die nasie Israel, wat, toe hulle in 1513 v.G.J. in die Wetsverbond ingebring is, die geleentheid gebied is om “’n koninkryk van priesters” te word. Hulle is dus oorspronklik met daardie gebeurtenis na die bruilof genooi.
Die eerste oproep aan die genooides het egter eers in die noordelike herfs van 29 G.J. uitgegaan, toe Jesus en sy dissipels (die koning se diensknegte) met hulle Koninkrykspredikingswerk begin het. Maar die natuurlike Israeliete wat hierdie oproep tussen 29 G.J. en 33 G.J. van die diensknegte ontvang het, wou nie kom nie. Daarom het God die nasie van genooides nog ’n geleentheid gegee, soos Jesus vertel:
“Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof.” Hierdie tweede en finale oproep aan die genooides het op Pinkster van 33 G.J. begin, toe heilige gees op Jesus se volgelinge uitgegiet is. Hierdie oproep het voortgeduur tot 36 G.J.
Die oorgrote meerderheid van die Israeliete het egter ook hierdie oproep veronagsaam. “Hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan”, sê Jesus, “een na sy eie stuk land en ’n ander na sy handelsaak. En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak.” Jesus gaan voort: “Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek.” Dit het in 70 G.J. gebeur toe die Romeine Jerusalem met die grond gelykgemaak het, en daardie moordenaars om die lewe gebring is.
Jesus verduidelik dan wat intussen gebeur het: “Daarop sê [die koning] vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof.” Die diensknegte het dit gedoen, en “die bruilofsaal het vol gaste geword”.
Hierdie werk om gaste van die kruispaaie buite die genooides se stad te versamel het in 36 G.J. begin. Cornelius, die Romeinse hoofman oor honderd, en sy gesin was die eerstes van die onbesnede nie-Jode wat versamel is. Die insameling van hierdie nie-Jode, wat almal plaasvervangers was vir diegene wat oorspronklik die oproep van die hand gewys het, het tot in hierdie 20ste eeu voortgeduur.
Dit is gedurende die 20ste eeu dat die bruilofsaal vol geword het. Jesus vertel wat dan gebeur, en sê: “En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ’n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ’n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.”
Die man sonder ’n bruilofskleed beeld voorgewende Christene van die Christendom af. God het sulke persone nooit erken as mense wat die regte identifikasie as geestelike Israeliete het nie. God het hulle nooit met heilige gees as Koninkrykserfgename gesalf nie. Hulle word gevolglik in die duisternis uitgewerp waar hulle vernietig sal word.
Jesus sluit sy gelykenis af deur te sê: “Want baie is geroep, maar min uitverkies.” Ja, baie is uit die nasie Israel genooi om lede van Christus se bruid te word, maar slegs ’n paar natuurlike Israeliete is gekies. Die meeste van die 144 000 gaste wat die hemelse beloning ontvang, is nie Israeliete nie. Mattheüs 22:1-14; Exodus 19:1-6; Openbaring 14:1-3.
▪ Wie is oorspronklik na die bruilof genooi, en wanneer is hulle uitgenooi?
▪ Wanneer word die oproep vir die eerste keer aan die genooides gerig, en wie is die diensknegte wat dit doen?
▪ Wanneer word die tweede oproep gedoen, en wie word daarná genooi?
▪ Wie word deur die man sonder ’n bruilofskleed afgebeeld?
▪ Wie is die baie wat geroep is, en die min wat uitverkies is?