Voorskoue van God se Koninkryk word ’n werklikheid
“Julle doen goed deur aandag [aan die profetiese woord] te skenk soos aan ’n lamp wat in ’n donker plek skyn.”—2 PETRUS 1:19.
1. Watter kontras vind ons vandag in die wêreld?
DIE een krisis op die ander—dit is ’n terugkerende tema in vandag se wêreld. Dit lyk of die mensdom se probleme, van ekologiese rampe tot wêreldwye terrorisme, heeltemal buite beheer is. Selfs die wêreld se godsdienste kon nie help nie. Trouens, hulle vererger sake dikwels deur die vooroordeel, haat en nasionalisme wat mense verdeel, aan te blaas. Ja, soos voorspel is, het “dik donkerheid die volksgroepe” oordek (Jesaja 60:2). Maar terselfdertyd gaan miljoene die toekoms met vertroue tegemoet. Waarom? Omdat hulle aandag skenk aan God se profetiese woord “soos aan ’n lamp wat in ’n donker plek skyn”. Hulle laat toe dat God se “woord”, of boodskap, wat nou in die Bybel gevind word, hulle voetstappe rig.—2 Petrus 1:19.
2. Alleenlik wie sal geestelike insig ontvang volgens Daniël se profesie oor “die tyd van die einde”?
2 Die profeet Daniël het aangaande “die tyd van die einde” geskryf: “Baie sal rondswerf, en die ware kennis sal oorvloedig word. Baie sal hulle reinig en hulle wit maak en sal gelouter word. En die goddeloses sal beslis goddeloos handel, en geeneen van die goddeloses sal verstaan nie; maar dié wat insig het, sal verstaan” (Daniël 12:4, 10). Geestelike insig is slegs beskikbaar vir diegene wat opreg “rondswerf” in God se Woord, of dit ywerig bestudeer, hulle aan sy standaarde onderwerp en daarna streef om sy wil te doen.—Matteus 13:11-15; 1 Johannes 5:20.
3. Watter belangrike waarheid het vroeë Bybelstudente gedurende die 1870’s onderskei?
3 Reeds in die 1870’s, voordat “die laaste dae” begin het, het Jehovah God meer lig op “die heilige geheime van die koninkryk van die hemele” begin werp (2 Timoteus 3:1-5; Matteus 13:11). Destyds het ’n groep Bybelstudente onderskei dat Christus se terugkeer—in teenstelling met wat die meeste mense gedink het—onsigbaar sou wees. Nadat Jesus in die hemel op die troon geplaas is, sou hy terugkeer in die sin dat hy sy koninklike aandag op die aarde sou toespits. ’n Sigbare, saamgestelde teken sou sy dissipels daarvan bewus maak dat sy onsigbare teenwoordigheid begin het.—Matteus 24:3-14.
Wanneer ’n voorskou ’n werklikheid word
4. Hoe het Jehovah die geloof van sy hedendaagse knegte versterk?
4 Die visioen van die gedaanteverandering was ’n luisterryke voorskou van Christus in Koninkryksheerlikheid (Matteus 17:1-9). Daardie visioen het die geloof van Petrus, Jakobus en Johannes versterk op ’n stadium toe baie opgehou het om Jesus te volg omdat hy nie aan hulle onskriftuurlike verwagtinge voldoen het nie. In hierdie tyd van die einde het Jehovah eweneens die geloof van sy hedendaagse knegte versterk deur meer lig te werp op die vervulling van daardie ontsagwekkende visioen en baie profesieë wat daarmee verband hou. Kom ons ondersoek nou ’n paar van hierdie geloofversterkende geestelike werklikhede.
5. Wie is die Dagster, en wanneer en hoe het hy ‘opgegaan’?
5 Met verwysing na die gedaanteverandering het die apostel Petrus geskryf: “Gevolglik is die profetiese woord vir ons vaster gemaak; en julle doen goed deur aandag daaraan te skenk soos aan ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en ’n dagster opgaan, in julle harte” (2 Petrus 1:19). Hierdie figuurlike Dagster, of “helder môrester”, is die verheerlikte Jesus Christus (Openbaring 22:16). Hy het in 1914 ‘opgegaan’ toe God se Koninkryk in die hemel gebore is, wat die begin van ’n nuwe era ingelui het (Openbaring 11:15). In die visioen van die gedaanteverandering het Moses en Elia by Jesus verskyn en ’n gesprek met hom gevoer. Wie is deur hulle voorafgeskadu?
6, 7. Wie word in die gedaanteverandering deur Moses en Elia afgebeeld, en watter belangrike besonderhede openbaar die Skrif oor dié wat deur hulle afgebeeld word?
6 Aangesien Moses en Elia deelgenote was in Christus se heerlikheid, moet hierdie twee getroue getuies diegene afbeeld wat saam met Jesus in sy Koninkryk regeer. Die begrip dat Jesus medeheersers het, stem ooreen met ’n voorskou wat die profeet Daniël in ’n visioen van die gekroonde Messias gegee is. Daniël het “iemand soos ’n seun van die mens” gesien wat “’n heerskappy van onbepaalde duur” ontvang van “die Oue van Dae”, Jehovah God. Maar let op wat Daniël kort daarna gesien het. Hy skryf: “Die koninkryk en die heerskappy en die grootsheid van die koninkryke onder die ganse hemel is gegee aan die volk wat die heiliges van die Opperwese is” (Daniël 7:13, 14, 27). Ja, meer as vyf eeue voor die gedaanteverandering het God geopenbaar dat sekere “heiliges” deelgenote sou wees in Christus se koninklike grootsheid.
7 Wie is die heiliges in Daniël se visioen? Met verwysing na hierdie persone sê Paulus: “Die gees self getuig met ons gees dat ons God se kinders is. As ons dan kinders is, is ons ook erfgename: ja, erfgename van God, maar mede-erfgename met Christus, mits ons saam ly, sodat ons ook saam verheerlik kan word” (Romeine 8:16, 17). Die heiliges is niemand anders as Jesus se geesgesalfde dissipels nie. In die Openbaring sê Jesus: “Aan die een wat oorwin, sal ek gee om saam met my op my troon te sit, net soos ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.” Hierdie verrese ‘oorwinnaars’, waarvan daar 144 000 is, sal saam met Jesus oor die hele aarde regeer.—Openbaring 3:21; 5:9, 10; 14:1, 3, 4; 1 Korintiërs 15:53.
8. Hoe het Jesus se gesalfde dissipels se diens ooreengekom met dié van Moses en Elia, en met watter resultate?
8 Maar waarom word gesalfde Christene deur Moses en Elia afgebeeld? Omdat hierdie Christene, terwyl hulle nog in die vlees is, ’n werk doen wat soortgelyk is aan dié wat Moses en Elia gedoen het. Hulle dien byvoorbeeld as getuies van Jehovah, selfs wanneer hulle vervolging in die gesig staar (Jesaja 43:10; Handelinge 8:1-8; Openbaring 11:2-12). Soos Moses en Elia ontmasker hulle valse godsdiens op moedige wyse terwyl hulle opregte mense aanspoor om uitsluitlike toegewydheid aan God te gee (Eksodus 32:19, 20; Deuteronomium 4:22-24; 1 Konings 18:18-40). Het hulle werk vrugte afgewerp? Beslis! Buiten dat hulle die volle getal gesalfdes help insamel het, het hulle miljoene “ander skape” gehelp om gewillige onderdanigheid aan Jesus Christus te betoon.—Johannes 10:16; Openbaring 7:4.
Christus voltooi sy oorwinning
9. Hoe beskryf Openbaring 6:2 Jesus soos hy vandag is?
9 Jesus is nie meer ’n blote mens wat op die hingsvul van ’n esel ry nie, hy is nou ’n magtige Koning. Hy word uitgebeeld as iemand wat op ’n perd ry—’n Bybelse simbool van oorlogvoering (Spreuke 21:31). “Kyk! ’n wit perd”, sê Openbaring 6:2, “en die een wat daarop sit, het ’n boog gehad; en ’n kroon is vir hom gegee, en hy het uitgegaan om te oorwin en om sy oorwinning te voltooi.” Ook het die psalmis Dawid oor Jesus geskryf: “Die staf van u sterkte sal Jehovah uit Sion stuur en sê: ‘Gaan oorwin te midde van jou vyande.’”—Psalm 110:2.
10. (a) Hoe het Jesus se oorwinningstog ’n glorieryke begin gehad? (b) Hoe het Christus se eerste oorwinning die wêreld oor die algemeen geraak?
10 Jesus se eerste oorwinning was oor sy kragtigste vyande—Satan en die demone. Hy het hulle uit die hemel verdryf en na die aarde neergewerp. Omdat hulle weet dat hulle tyd kort is, het hierdie goddelose geeste hulle gewelddadige woede op die mensdom uitgestort en groot weë veroorsaak. Hierdie weë word in Openbaring deur die rit van nog drie perderuiters gesimboliseer (Openbaring 6:3-8; 12:7-12). In ooreenstemming met Jesus se profesie oor “die teken van [sy] teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge”, het hulle rit oorlog, hongersnood en dodelike plae tot gevolg gehad (Matteus 24:3, 7; Lukas 21:7-11). Soos letterlike geboortepyne, sal hierdie “weë van benoudheid” ongetwyfeld al hoe erger word totdat Christus ‘sy oorwinning voltooi’ deur elke spoor van Satan se sigbare organisasie te vernietig.—Matteus 24:8.a
11. Hoe getuig die geskiedenis van die Christengemeente van Christus se koninklike gesag?
11 Jesus se koninklike gesag blyk ook duidelik uit die feit dat hy die Christengemeente bewaar het sodat dit die opdrag kan uitvoer om die Koninkryksboodskap wêreldwyd te verkondig. Ten spyte van wrede teenstand van Babilon die Grote—die wêreldryk van valse godsdiens—en van vyandiggesinde regerings het die predikingswerk nie net voortgegaan nie, maar word dit ook op ’n groter skaal as ooit tevore in die geskiedenis van die wêreld gedoen (Openbaring 17:5, 6). Watter kragtige getuienis dat Christus Koning is!—Psalm 110:3.
12. Waarom onderskei die meeste mense nie Christus se onsigbare teenwoordigheid nie?
12 Maar ongelukkig kan die meeste mense, insluitende miljoene wat sê dat hulle Christene is, nie die onsigbare werklikhede agter die betekenisvolle gebeure wat vandag op aarde plaasvind, onderskei nie. Hulle spot selfs met diegene wat God se Koninkryk aankondig (2 Petrus 3:3, 4). Waarom? Omdat Satan hulle verstande verblind het (2 Korintiërs 4:3, 4). Trouens, hy het reeds eeue gelede die sluier van geestelike duisternis oor verklaarde Christene begin werp en hulle selfs die kosbare Koninkrykshoop die rug laat toekeer.
Die Koninkrykshoop word die rug toegekeer
13. Waartoe het geestelike duisternis aanleiding gegee?
13 Jesus het voorspel dat afvalliges, soos onkruid wat tussen koring gesaai is, die Christengemeente sou binnedring en baie op ’n dwaalspoor sou bring (Matteus 13:24-30, 36-43; Handelinge 20:29-31; Judas 4). Mettertyd het hierdie sogenaamde Christene heidense feeste, gebruike en leringe aangeneem en dit selfs “Christelik” genoem. Kersfees het byvoorbeeld sy oorsprong in ritusse wat verband hou met die aanbidding van die heidense gode Mitra en Saturnus. Maar wat het verklaarde Christene hierdie onchristelike vierings laat aanneem? The New Encyclopædia Britannica (1974) sê: “Kersfees, die fees van die geboorte van Jesus Christus, is ingestel toe die verwagting van Christus se naderende wederkoms begin verflou het.”
14. Hoe het die leringe van Origines en Augustinus Koninkrykswaarheid verkeerd voorgestel?
14 Beskou ook hoe die betekenis van die woord “koninkryk” verdraai is. Die boek The Kingdom of God in 20th-Century Interpretation sê: “Met Origines [’n derde-eeuse teoloog] het die manier waarop Christene die woord ‘koninkryk’ gebruik het, verander na die innerlike betekenis van God se heerskappy in die hart.” Waarop het Origines sy lering gegrond? Nie op die Skrif nie, maar op “die raamwerk van ’n filosofie en wêreldbeskouing wat grootliks verskil het van die gedagtewêreld van Jesus en die vroegste kerk”. In sy werk De Civitate Dei (Die Stad van God) het Augustinus van Hippo (354-430 G.J.) gesê dat die kerk self die Koninkryk van God is. Hierdie onskriftuurlike denke het die kerke van die Christendom ’n teologiese grondslag gegee om politieke mag te aanvaar. En hulle het hierdie mag eeue lank uitgeoefen, dikwels met wreedheid.—Openbaring 17:5, 18.
15. Hoe is Galasiërs 6:7 vervul ten opsigte van baie van die kerke van die Christendom?
15 Vandag maai die kerke egter wat hulle gesaai het (Galasiërs 6:7). Dit lyk of baie hulle mag sowel as hulle lidmate verloor. In Europa is hierdie tendens redelik opvallend. Volgens die tydskrif Christianity Today dien “die groot katedrale van Europa tans nie as huise van aanbidding nie, maar as museums, wat leeg sou gewees het as dit nie vir die toeriste was nie”. Dieselfde tendens kan in ander wêrelddele gesien word. Wat voorspel dit vir valse godsdiens? Sal dit maar net te gronde gaan weens ’n gebrek aan ondersteuning? En hoe sal ware aanbidding geraak word?
Wees voorbereid op God se groot dag
16. Waarom is die toenemende vyandigheid teenoor Babilon die Grote betekenisvol?
16 Net soos rook en as wat by ’n eens rustende vulkaan uitkom, op ’n naderende uitbarsting kan dui, is die broeiende vyandigheid teenoor godsdiens in baie wêrelddele ’n aanduiding dat valse godsdiens se dae getel is. Jehovah sal die wêreld se politieke elemente binnekort beweeg om saam te span in hulle pogings om die geestelike hoer, Babilon die Grote, te ontmasker en te verwoes (Openbaring 17:15-17; 18:21). Moet ware Christene bang wees vir daardie gebeurtenis en die ander aspekte van die “groot verdrukking” wat daarop sal volg? (Matteus 24:21). Glad nie! Hulle sal in werklikheid rede hê om vreugdevol te wees wanneer God teen die goddeloses optree (Openbaring 18:20; 19:1, 2). Beskou die voorbeeld van eerste-eeuse Jerusalem en die Christene wat daar gewoon het.
17. Waarom kan Jehovah se getroue knegte die einde van hierdie stelsel met vertroue tegemoetgaan?
17 Toe die Romeinse troepe Jerusalem in 66 G.J. beleër het, was Christene wat geestelik wakker was, nie geskok of bevrees nie. Aangesien hulle goeie studente van God se Woord was, het hulle geweet “dat [die stad se] verwoesting naby gekom het” (Lukas 21:20). Hulle het ook geweet dat God dit vir hulle moontlik sou maak om na veiligheid te vlug. Toe dit gebeur het, het die Christene gevlug (Daniël 9:26; Matteus 24:15-19; Lukas 21:21). Vandag kan diegene wat God ken en wat sy Seun gehoorsaam, eweneens die einde van hierdie stelsel met vertroue tegemoetgaan (2 Tessalonisense 1:6-9). Trouens, wanneer die groot verdrukking losbreek, sal hulle vreugdevol ‘regop staan en hulle kop oplig, want hulle weet dat hulle verlossing naby is’.—Lukas 21:28.
18. Wat sal die gevolg wees van Gog se volskaalse aanval teen Jehovah se knegte?
18 Ná die vernietiging van Babilon die Grote sal Satan, in sy rol as Gog van Magog, ’n volskaalse aanval loods teen Jehovah se vreedsame Getuies. Gog se hordes sal optrek “soos wolke om die land te bedek” en sal ’n maklike oorwinning verwag. Wat ’n skok wag op hulle! (Esegiël 38:14-16, 18-23). Die apostel Johannes skryf: “Ek het die hemel geopend gesien, en kyk! ’n wit perd. En die een wat daarop sit, word Getrou en Waaragtig genoem . . . Uit sy mond kom ’n skerp lang swaard om die nasies mee te slaan.” Hierdie onoorwinlike “Koning van die konings” sal Jehovah se lojale aanbidders verlos en al hulle vyande uitwis (Openbaring 19:11-21). Wat ’n hoogtepunt sal dit tog wees in die vervulling van die visioen van die gedaanteverandering!
19. Hoe sal Christus se algehele oorwinning sy lojale dissipels raak, en wat moet hulle nou probeer doen?
19 Jesus sal “in daardie dag met verwondering beskou . . . word in verband met almal wat geloof beoefen het” (2 Tessalonisense 1:10). Wil jy onder diegene wees wat ontsag sal voel vir die seëvierende Seun van God? Dan moet jy voortgaan om jou geloof te voed en om ‘gereed te wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan jy dit nie dink nie’.—Matteus 24:43, 44.
Bly nugter van verstand
20. (a) Hoe kan ons ons waardering toon vir God se voorsiening van “die getroue en verstandige slaaf”? (b) Watter vrae moet ons ons afvra?
20 “Die getroue en verstandige slaaf” vermaan God se volk gereeld om geestelik wakker en nugter van verstand te bly (Matteus 24:45, 46; 1 Tessalonisense 5:6). Waardeer jy hierdie tydige herinneringe? Gebruik jy dit om prioriteite in die lewe te bepaal? Vra jou gerus af: ‘Is my geestelike visie so helder dat ek die Seun van God in die hemel kan sien regeer? Sien ek dat hy gereed is om goddelike oordeel teen Babilon die Grote en die res van Satan se stelsel te voltrek?’
21. Waarom het party dalk toegelaat dat hulle geestelike visie verdof, en wat moet hulle dringend doen?
21 Party wat tans met Jehovah se volk assosieer, het toegelaat dat hulle geestelike visie verdof. Het hulle miskien, soos party van Jesus se vroeë dissipels, ’n gebrek aan geduld of volharding? Het die sorge van die lewe, materialisme of vervolging hulle beïnvloed? (Matteus 13:3-8, 18-23; Lukas 21:34-36). Dalk was van die materiaal wat deur “die getroue en verstandige slaaf” uitgegee is, vir sommige moeilik om te begryp. As enige van hierdie dinge met jou gebeur het, spoor ons jou aan om God se Woord met hernieude ywer te bestudeer en om Jehovah te smeek sodat jy weer ’n sterk, hegte verhouding met hom kan geniet.—2 Petrus 3:11-15.
22. Hoe het die bespreking van die visioen van die gedaanteverandering en verwante profesieë jou geraak?
22 Die visioen van die gedaanteverandering is aan Jesus se dissipels gegee toe hulle aanmoediging nodig gehad het. Vandag het ons iets veel groter om ons te versterk—die vervulling van daardie skouspelagtige voorskou en talle verwante profesieë. Mag ons, terwyl ons peins oor hierdie glorieryke werklikhede en wat dit vir die toekoms beteken, die woorde van die apostel Johannes heelhartig beaam: “Amen! Kom, Here Jesus.”—Openbaring 22:20.
[Voetnoot]
a In die oorspronklike Grieks beteken die woord wat met “weë van benoudheid” vertaal word, letterlik “geboortepyne” (Matteus 24:8, Kingdom Interlinear). Dit gee te kenne dat die wêreld se probleme, net soos geboortepyne, vinniger op mekaar sal volg, ernstiger sal word en al hoe langer sal duur totdat dit met die groot verdrukking ’n klimaks bereik.
Onthou jy?
• Tot watter begrip oor Christus se terugkeer het ’n klein groepie Bybelstudente in die 1870’s gekom?
• Hoe is die visioen van die gedaanteverandering vervul?
• Watter uitwerking het Jesus se oorwinningstog op die wêreld en op die Christengemeente?
• Wat moet ons doen om onder diegene te wees wat behoue sal bly wanneer Jesus sy oorwinning voltooi?
[Prente op bladsy 16, 17]
’n Voorskou word ’n werklikheid
[Prente op bladsy 18]
Weet jy wat gebeur het toe Christus met sy oorwinning begin het?