“’n Getuienis vir al die nasies”
“Julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde.”—HANDELINGE 1:8.
1. Wanneer en waar het die dissipels die profesie in Matteus 24:14 die eerste keer gehoor?
JESUS se woorde wat in Matteus 24:14 opgeteken staan, is so bekend dat baie van ons dit uit die kop ken. En wat ’n merkwaardige profesie is dit tog! Stel jou voor wat die dissipels gedink het toe hulle dit die eerste keer gehoor het! Dit was die jaar 33 G.J. Die dissipels was reeds omtrent drie jaar lank by Jesus, en nou het hulle saam met hom na Jerusalem gekom. Hulle het sy wonderwerke gesien en na sy leringe geluister. Hoewel hulle verheug was oor die kosbare waarhede wat Jesus hulle geleer het, het hulle alte goed geweet dat nie almal soos hulle gevoel het nie. Jesus het magtige en invloedryke vyande gehad.
2. Voor watter gevare en uitdagings sou die dissipels te staan kom?
2 Op die Olyfberg het vier dissipels saam met Jesus gesit en aandagtig geluister terwyl hy gepraat het oor die komende gevare en uitdagings waarvoor hulle te staan sou kom. Vroeër het Jesus vir hulle gesê dat hy doodgemaak sou word (Matteus 16:21). Nou het hy hulle duidelik laat verstaan dat hulle ook wrede teenstand sou ondervind. “Mense [sal] julle aan verdrukking oorlewer en julle doodmaak”, het hy gesê. “En julle sal weens my naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees.” Dit was nie al nie. Valse profete sou baie mislei. Ander sou tot struikeling gebring word en sou mekaar verraai en haat. Nog ander, in werklikheid “die meeste”, sou toelaat dat hulle liefde vir God en sy Woord verkoel.—Matteus 24:9-12.
3. Waarom is Jesus se woorde wat in Matteus 24:14 opgeteken staan, werklik aangrypend?
3 Dit was nadat Jesus al hierdie negatiewe aspekte genoem het, dat hy iets gesê het wat die dissipels ongetwyfeld verbaas het. Hy het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Ja, die werk waarmee Jesus in Israel begin het—om “van die waarheid te getuig”—sou voortgaan en oor die hele aarde uitbrei (Johannes 18:37). Wat ’n aangrypende profesie! Om daardie werk uit te brei sodat dit “al die nasies” bereik, sou ’n uitdaging wees; om dit boonop te doen ondanks ‘die haat van al die nasies’, sou eenvoudig ’n wonderwerk wees. Die suksesvolle uitvoering van hierdie ontsaglike taak sou nie net Jehovah se oppergesag en mag verheerlik nie, maar ook sy liefde, barmhartigheid en geduld. Daarbenewens sou dit sy knegte ’n geleentheid gee om hulle geloof en toegewydheid te toon.
4. Wie is aangesê om die getuieniswerk te doen, en hoe het Jesus hulle bemoedig?
4 Jesus het sy dissipels in geen twyfel gelaat dat dit ’n reusetaak sou wees nie. Voordat hy na die hemel opgevaar het, het Jesus aan hulle verskyn en gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8). Ander sou natuurlik spoedig by hulle aansluit. Nogtans was die dissipels maar min. Hoe bemoedigend moes dit tog vir hulle gewees het om te weet dat God se kragtige heilige gees hulle sou versterk om hierdie goddelike toewysing uit te voer!
5. Wat het die dissipels nie geweet omtrent die getuieniswerk nie?
5 Die dissipels het geweet dat hulle die goeie nuus moet verkondig en “dissipels van mense van al die nasies” moet maak (Matteus 28:19, 20). Maar hulle het nie geweet hoe deeglik die getuienis sou wees wat gegee sou word nie, en hulle het nie geweet wanneer die einde sou kom nie. Ons weet dit ook nie. Net Jehovah kan dit bepaal (Matteus 24:36). Wanneer die getuienis gegee is na die mate wat Jehovah goeddink, sal hy hierdie goddelose stelsel van dinge tot ’n einde bring. Eers dan sal Christene onderskei dat die predikingswerk gedoen is na die mate wat Jehovah bepaal het. Daardie vroeë dissipels kon hulle nouliks die omvang voorgestel het van die getuienis wat in hierdie tyd van die einde gegee sou word.
Die getuienis wat in die eerste eeu gegee is
6. Wat het op Pinkster 33 G.J. en kort daarna gebeur?
6 In die eerste eeu het die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk verstommende resultate opgelewer. Op Pinksterdag 33 G.J. het omtrent 120 dissipels in ’n bovertrek in Jerusalem vergader. God se heilige gees is op hulle uitgestort en die apostel Petrus het in ’n besielende toespraak die betekenis van hierdie wonderwerk verduidelik, waarna ongeveer 3 000 gelowiges geword het en gedoop is. Dit was net die begin. Ondanks verbete pogings deur godsdiensleiers om die verkondiging van die goeie nuus stop te sit, “het Jehovah voortgegaan om daagliks dié wat gered word, by [die dissipels] te voeg”. Kort voor lank het “die getal van die manne . . . omtrent vyfduisend geword”. Daarna is “gelowiges in die Here . . . voortdurend bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue”.—Handelinge 2:1-4, 8, 14, 41, 47; 4:4; 5:14.
7. Waarom was die bekering van Kornelius ’n merkwaardige verwikkeling?
7 In die jaar 36 G.J. was daar nog ’n merkwaardige verwikkeling—die bekering en doop van Kornelius, ’n nie-Jood. Deur die apostel Petrus na hierdie godvresende man te stuur, het Jehovah aangedui dat Jesus se opdrag om “dissipels van mense van al die nasies” te maak, nie net beperk was tot Jode in verskillende lande nie (Handelinge 10:44, 45). Wat was die reaksie van dié wat die leiding geneem het? Toe die apostels en ouer manne in Judea besef dat die goeie nuus ook aan mense van die nasies—nie-Jode—verkondig moes word, het hulle God verheerlik (Handelinge 11:1, 18). Intussen het die predikingswerk onder die Jode aanhou vrug dra. Jare later, moontlik omstreeks 58 G.J., was daar benewens nie-Joodse gelowiges “duisende [Joodse] gelowiges”.—Handelinge 21:20.
8. Watter uitwerking het die goeie nuus op individue?
8 Hoewel die vermeerdering in getalle onder eerste-eeuse Christene indrukwekkend is, moet ons nooit vergeet van die individue wat deur daardie syfers verteenwoordig word nie. Die Bybelse boodskap wat hulle gehoor het, was kragtig (Hebreërs 4:12). Dit het die lewe van dié wat dit aangeneem het, dramaties verander. Individue het hulle lewe in orde gebring, hulle met die nuwe persoonlikheid beklee en met God versoen geraak (Efesiërs 4:22, 23). Dieselfde gebeur vandag. En almal wat die goeie nuus aanneem, het die wonderlike vooruitsig om vir ewig te lewe.—Johannes 3:16.
Medewerkers met God
9. Van watter voorreg en verantwoordelikheid was die vroeë Christene bewus?
9 Die vroeë Christene het hulle nie die eer toegeëien vir wat bereik is nie. Hulle het besef dat hulle werk as bedienaars deur “die krag van die heilige gees” gesteun word (Romeine 15:13, 19). Jehovah was verantwoordelik vir die geestelike groei. Terselfdertyd het daardie Christene geweet dat hulle die voorreg en verantwoordelikheid het om “God se medewerkers” te wees (1 Korintiërs 3:6-9). Gevolglik het hulle, in ooreenstemming met Jesus se vermaning, hulle kragtig ingespan in die werk wat hulle gegee is om te doen.—Lukas 13:24.
10. Watter pogings het party vroeë Christene aangewend om ’n getuienis vir al die nasies te gee?
10 As “’n apostel vir die nasies” het Paulus duisende kilometers oor land en see gereis en baie gemeentes in die Romeinse provinsie Asië en in Griekeland gestig (Romeine 11:13). Hy het ook na Rome en moontlik selfs na Spanje gereis. Intussen het die apostel Petrus, wat met “die goeie nuus . . . vir die besnedenes” toevertrou is, in die teenoorgestelde rigting gereis en in Babilon gaan dien, wat destyds ’n vername sentrum van Judaïsme was (Galasiërs 2:7-9; 1 Petrus 5:13). Onder die baie ander wat in die Here se werk gearbei het, was daar vroue soos Trifena en Trifosa. Van nog ’n vrou, met die naam Persis, is daar gesê dat sy “baie in die Here gearbei” het.—Romeine 16:12.
11. Hoe het Jehovah die pogings van die dissipels geseën?
11 Jehovah het die pogings van hierdie en ander ywerige werkers ryklik geseën. Minder as 30 jaar nadat Jesus voorspel het dat ’n getuienis vir al die nasies gegee sou word, het Paulus geskryf dat die “goeie nuus . . . verkondig is in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kolossense 1:23). Het die einde op daardie stadium gekom? In sekere sin het dit. Dit het in die jaar 70 G.J. oor die Joodse stelsel van dinge gekom toe Romeinse leërs Jerusalem sowel as die tempel vernietig het. Nietemin het Jehovah bepaal dat ’n baie groter getuienis gegee sou word voordat hy Satan se wêreldwye stelsel van dinge tot ’n einde bring.
Die getuienis wat vandag gegee word
12. Hoe het die vroeë Bybelstudente die opdrag om te getuig, verstaan?
12 Gedurende die laaste deel van die 19de eeu, ná ’n lang tydperk waartydens godsdiensafvalligheid geheers het, is ware aanbidding herstel. Die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, het die opdrag om dissipels in die hele aarde te maak, goed verstaan (Matteus 28:19, 20). Teen die jaar 1914 was daar omtrent 5 100 wat aan die predikingswerk deelgeneem het, en die goeie nuus het sowat 68 lande bereik. Maar daardie vroeë Bybelstudente het nie die volle betekenis van Matteus 24:14 begryp nie. Teen die einde van die 19de eeu is die Bybel, waarin die goeie nuus, of evangelie, opgeteken staan, reeds in baie tale deur Bybelgenootskappe vertaal en gedruk en oor die wêreld versprei. Gevolglik het die Bybelstudente ’n paar dekades lank geredeneer dat ’n getuienis alreeds aan die nasies gegee is.
13, 14. Watter duideliker begrip van God se wil en voorneme is in 1928 in die Wagtoring uiteengesit?
13 Geleidelik het Jehovah sy knegte ’n duideliker begrip van sy wil en voorneme gegee (Spreuke 4:18). The Watch Tower van 1 Desember 1928 het gesê: “Kan ons sê dat [die] verspreiding van die Bybel die voorspelde verkondiging van die evangelie van die koninkryk is? Beslis nie! Ten spyte van hierdie Bybelverspreiding moet God se klein groepie getuies op die aarde steeds lektuur druk wat God se [voorneme] verduidelik, en teruggaan na die huise waar hierdie Bybels gelaat is. Anders sal die mense in onkunde gelaat word oor die oprigting van die Messiaanse regering in ons tyd.”
14 Daardie nommer van die Wagtoring het verder gesê: “In 1920 . . . het Bybelstudente tot ’n juiste begrip gekom van ons Here se profesie in Matteus 24:14. Hulle het toe besef dat ‘hierdie evangelie’ wat in die hele wêreld verkondig moes word tot ’n getuienis vir die nie-Jode, of al die nasies, nie ’n evangelie was van ’n koninkryk wat nog moes kom nie, maar ’n evangelie wat sê dat die Messiaanse Koning reeds oor die aarde begin heers het.”
15. Hoe het die getuieniswerk sedert die 1920’s uitgebrei?
15 Daardie “klein groepie getuies” in die 1920’s het nie klein gebly nie. In daaropvolgende dekades is “’n groot menigte” “ander skape” geïdentifiseer en is daar begin om hulle in te samel (Openbaring 7:9; Johannes 10:16). Vandag is daar 6 613 829 verkondigers van die goeie nuus in 235 lande van die wêreld. Wat ’n wonderlike vervulling van profesie! Nog nooit tevore is “hierdie goeie nuus van die koninkryk” op so ’n groot skaal verkondig nie. Nog nooit tevore was daar soveel getroue knegte van Jehovah op die aarde nie.
16. Wat is gedurende die afgelope diensjaar bereik? (Sien tabel op bladsye 27-30.)
16 Gedurende die 2005-diensjaar was hierdie groot skare Getuies baie bedrywig. Meer as eenmiljard uur is bestee aan die verkondiging van die goeie nuus in 235 lande. Miljoene herbesoeke is gedoen en miljoene Bybelstudies is gehou. Hierdie werk is deur Jehovah se Getuies verrig, wat vryelik van hulle tyd en middele gegee het om God se Woord aan ander mee te deel (Matteus 10:8). Deur middel van sy kragtige heilige gees hou Jehovah aan om sy knegte te versterk om sy wil te volbring.—Sagaria 4:6.
Hulle werk hard om ’n getuienis te gee
17. Hoe reageer Jehovah se knegte op Jesus se woorde oor die verkondiging van die goeie nuus?
17 Hoewel bykans 2 000 jaar verloop het sedert Jesus gesê het dat die goeie nuus verkondig sal word, het die ywer wat God se knegte vir die werk het, nie afgeneem nie. Ons weet dat ons deur ons volharding in wat goed is, Jehovah se liefde, barmhartigheid en geduld weerspieël. Soos hy, wil ons nie hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar dat mense tot berou kom en met Jehovah versoen raak (2 Korintiërs 5:18-20; 2 Petrus 3:9). Jehovah se Getuies gloei van God se gees terwyl hulle ywerig aanhou om die goeie nuus tot aan die eindes van die aarde te verkondig (Romeine 12:11). Gevolglik neem mense in alle wêrelddele die waarheid aan en skik hulle hulle na Jehovah se liefdevolle vereistes. Kyk na ’n paar voorbeelde.
18, 19. Watter ondervindinge kan jy vertel van mense wat gunstig gereageer het op die goeie nuus?
18 Charles was ’n plaasboer in Wes-Kenia. In 1998 het hy meer as 8 000 kilogram tabak verkoop en het hy ’n sertifikaat as die Beste Tabakboer ontvang. Omtrent daardie tyd het hy die Bybel begin studeer. Hy het kort voor lank besef dat iemand wat betrokke is by tabakverbouing, nie Jesus se bevel gehoorsaam om sy naaste lief te hê nie (Matteus 22:39). Nadat hy tot die slotsom gekom het dat ‘die beste tabakboer’ in werklikheid ‘die beste moordenaar’ is, het Charles sy tabakplante met gif bespuit. Hy het tot toewyding en doop gevorder en dien nou as ’n gewone pionier en ’n bedieningskneg.
19 Daar bestaan geen twyfel nie dat Jehovah die nasies skud deur middel van die aardwye getuienis wat gegee word, en die begeerlike dinge—mense—kom in (Haggai 2:7). Pedro, van Portugal, het op 13-jarige ouderdom na ’n kweekskool gegaan. Sy doelwit was om ’n sendeling te word en mense van die Bybel te leer. Maar ná ’n kort tydjie het hy die kweekskool verlaat omdat daar in sy klasse so min aandag aan die Bybel geskenk is. Ses jaar later was hy besig om sielkunde aan ’n universiteit in Lissabon te studeer. Hy het by sy tante gebly, wat een van Jehovah se Getuies was en hom aangespoor het om die Bybel te bestudeer. Op daardie stadium was Pedro nie seker of God bestaan nie, en hy kon nie besluit of hy ’n Bybelstudie moet aanvaar nie. Hy het met sy sielkundeprofessor oor sy besluiteloosheid gepraat. Die professor het gesê dat mense wat nie besluite kan maak nie, volgens die sielkunde, selfvernietigend is. Pedro het toe besluit om ’n Bybelstudie te aanvaar. Hy is onlangs gedoop en hou nou Bybelstudies met ander.
20. Waarom kan ons verheug wees dat ’n getuienis vir al die nasies op so ’n groot skaal gegee word?
20 Ons weet nog steeds nie tot watter mate ’n getuienis vir die nasies gegee sal word nie, en ons weet ook nie op watter dag en uur die einde sal kom nie. Ons weet net dat dit binnekort sal wees. Ons is verheug dat die verkondiging van die goeie nuus op so ’n groot skaal maar net een van die talle aanduidings is dat die tyd vir God se Koninkryk om menseregerings te vervang, op hande is (Daniël 2:44). Met elke jaar wat verbygaan, word miljoene die geleentheid gegee om op die goeie nuus te reageer, en dit verheerlik ons God, Jehovah. Mag ons vasbeslote wees om getrou te bly en om saam met ons broers regoor die wêreld besig te bly in die werk om ’n getuienis vir al die nasies te gee. Deur dit te doen, sal ons onsself red sowel as dié wat na ons luister.—1 Timoteus 4:16.
Onthou jy?
• Waarom is Matteus 24:14 so ’n merkwaardige profesie?
• Watter pogings het vroeë Christene in die predikingswerk aangewend, en met watter resultate?
• Hoe het die Bybelstudente tot die besef gekom dat ’n getuienis vir al die nasies nog gegee moet word?
• Wat omtrent die werk van Jehovah se knegte gedurende die afgelope diensjaar het jou beïndruk?
[Tabel op bladsy 27-30]
WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 2005-DIENSJAAR
(See bound volume)
[Kaart/Prente op bladsy 25]
Paulus het duisende kilometers oor land en see gereis om die goeie nuus te verkondig
[Prent op bladsy 24]
Jehovah het Petrus gestuur om vir Kornelius en sy huisgenote te getuig