Jehovah weet hoe om sy volk te verlos
“Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos.”—2 PET. 2:9.
WAAROM KAN ONS DIE VERTROUE HÊ DAT JEHOVAH:
Weet wat die tydsberekening van gebeure ter verwesenliking van sy voorneme is?
Sy krag sal gebruik om vir sy volk tussenbeide te tree?
Weet hoe gebeure gedurende die groot verdrukking sal ontvou?
1. Watter toestande sal met die “groot verdrukking” gepaardgaan?
DIE voltrekking van God se oordeel aan Satan se wêreld sal baie skielik kom (1 Tess. 5:2, 3). Wanneer “die groot dag van Jehovah” ontvou, sal die aardse gemeenskap in chaos gedompel word (Sef. 1:14-17). Teëspoed en ontberinge sal aan die orde van die dag wees. Dit sal ’n tyd van benoudheid wees “soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie”.—Lees Matteus 24:21, 22.
2, 3. (a) Wat sal God se volk gedurende die “groot verdrukking” in die gesig staar? (b) Wat kan ons versterk vir wat voorlê?
2 Wanneer die “groot verdrukking” sy klimaks nader, sal God se volk die teiken wees van ’n volskaalse aanval deur “Gog van die land Magog”. Gedurende hierdie aanval sal “’n talryke krygsmag” teen God se volk kom “soos wolke om die land te bedek” (Eseg. 38:2, 14-16). Geen menslike instansie sal Jehovah se volk verdedig nie. Hulle oorlewing sal van God alleen afhang. Hoe sal hulle reageer wanneer uitwissing hulle in die gesig staar?
3 Het jy, as jy ’n kneg van Jehovah is, geloof dat Jehovah sy volk lewend deur die groot verdrukking kan en sal bewaar? Die apostel Petrus het geskryf: “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos, maar om onregverdige mense te bewaar vir die dag van die oordeel om uitgeroei te word” (2 Pet. 2:9). As ons oor Jehovah se reddingsdade van die verlede peins, kan dit ons versterk vir wat voorlê. Kom ons bespreek drie voorbeelde wat by ons vertroue sal inboesem in Jehovah se vermoë om sy volk te verlos.
HULLE HET ’N WÊRELDVLOED OORLEEF
4. Waarom was tydsberekening belangrik in verband met die Vloed?
4 Beskou eerstens die verslag van die Vloed van Noag se dag. Tydsberekening was ’n belangrike faktor by die verwesenliking van Jehovah se voorneme. Voordat die vloedwater begin val het, moes die ontsaglike taak om die ark te bou, voltooi word en moes die diere veilig in die ark ingebring word. Die Genesisverslag toon dat Jehovah nie eers die ark laat bou het en toe besluit het wanneer om die Vloed te bring nie, asof hy die tyd vir die begin van die Vloed moes kon aanpas ingeval die bouprojek agtergeraak het. God het eerder lank voordat hy enigiets vir Noag oor die bou van ’n ark gesê het, die tyd vir die begin van die Vloed vasgestel. Hoe weet ons dit?
5. Wat het Jehovah verklaar in die woorde wat in Genesis 6:3 opgeteken is, en wanneer is hierdie besluit aangekondig?
5 Die Bybel sê vir ons dat Jehovah ’n besluit in die hemel aangekondig het. Volgens Genesis 6:3 het hy gesê: “My gees sal nie vir ’n onbepaalde tyd teenoor die mens optree nie, aangesien hy ook vlees is. Gevolglik sal sy dae honderd-en-twintig jaar wees.” Dit was nie ’n verklaring aangaande die mens se gemiddelde lewensduur nie. Dit was ’n regterlike besluit waarvolgens Jehovah verklaar het wanneer hy sou optree om die aarde van goddeloosheid te reinig.a Aangesien die Vloed in 2370 VHJ begin het, lei ons af dat God hierdie verklaring in 2490 VHJ gedoen het. Noag was toe 480 jaar oud (Gen. 7:6). Ongeveer 20 jaar later, in 2470 VHJ, is Noag se eerste seun gebore (Gen. 5:32). Dit was omtrent honderd jaar voordat die Vloed sou begin, maar Jehovah het nog steeds nie aan Noag die spesiale rol geopenbaar wat hy in die behoud van die mensegesin sou speel nie. Hoe lank sou God wag voordat hy Noag daarvan vertel?
6. Wanneer het Jehovah Noag beveel om die ark te bou?
6 Jehovah het blykbaar dekades gewag voordat hy aan Noag geopenbaar het wat Hy gaan doen. Op grond waarvan kom ons tot hierdie gevolgtrekking? Die geïnspireerde verslag dui aan dat Noag se seuns al volwasse en getroud was toe God Noag beveel het om die ark te bou. Jehovah het vir hom gesê: “Ek bring my verbond met jou tot stand; en jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou seuns se vrouens saam met jou” (Gen. 6:9-18). Toe Noag die opdrag ontvang het om die ark te bou, was daar dus moontlik net 40 of 50 jaar oor voordat die Vloed sou begin.
7. (a) Hoe het Noag en sy gesin geloof geopenbaar? (b) Wanneer het God uiteindelik vir Noag gesê presies wanneer die Vloed sou begin?
7 Terwyl die bouwerk aan die ark gevorder het, moes Noag en sy gesin sekerlik gewonder het hoe God sy voorneme sou verwesenlik en wanneer die Vloed sou begin. Maar die feit dat hulle nie hierdie besonderhede geweet het nie, het hulle nie verhinder om die ark te bou nie. Die Bybelverslag sê: “Noag het gedoen volgens alles wat God hom beveel het. Hy het net so gedoen” (Gen. 6:22). Sewe dae voordat die vloedwater begin val het—net genoeg tyd vir Noag en sy gesin om die diere in die ark in te bring—het Jehovah uiteindelik vir Noag gesê presies wanneer die Vloed sou begin. Toe die sluise van die hemel “in die seshonderdste jaar van Noag se lewe, in die tweede maand, op die sewentiende dag van die maand,” geopen is, was alles dus gereed.—Gen. 7:1-5, 11.
8. Hoe boesem die verslag van die Vloed vertroue in dat Jehovah weet wanneer om sy volk te verlos?
8 Die verslag van die Vloed getuig van Jehovah se wonderlike vermoë, nie net as ’n Tydhouer nie, maar ook as ’n Verlosser. Terwyl Jehovah die tyd tot die einde van die huidige stelsel van dinge aftel, kan ons seker wees dat alles wat hy hom voorgeneem het, op sy vasgestelde tyd, tot op die “dag en uur”, sal plaasvind.—Matt. 24:36; lees Habakuk 2:3.
HULLE IS BY DIE ROOISEE VERLOS
9, 10. Hoe het Jehovah sy volk gebruik om die krygsmag van Egipte in ’n lokval te lei?
9 Tot dusver het ons gesien dat Jehovah in volle beheer is van die tydsberekening van gebeure ter verwesenliking van sy voorneme. Die tweede voorbeeld wat ons sal bespreek, vestig die aandag op nog ’n rede waarom ons op Jehovah kan vertrou om sy volk te verlos: Hy sal die onbeperkte krag waaroor hy beskik, gebruik om seker te maak dat sy wil geskied. Jehovah se vermoë om sy knegte te verlos, is so seker dat hy hulle soms gebruik het om sy vyande in ’n lokval te lei. Dit was die geval toe hy die Israeliete uit slawerny in Egipte bevry het.
10 Die Israeliete wat Egipte verlaat het, het moontlik sowat driemiljoen getel. Jehovah het Moses hulle op so ’n wyse laat lei dat Farao gedink het dat hulle verward ronddwaal. (Lees Eksodus 14:1-4.) Farao kon die lokaas nie weerstaan nie en het die voormalige slawe met sy krygsmag agternagesit en hulle by die Rooisee vasgekeer. Dit het gelyk of daar geen uitkoms is nie (Eks. 14:5-10). Maar die Israeliete het in werklikheid glad nie in gevaar verkeer nie. Waarom nie? Omdat Jehovah vir hulle tussenbeide sou tree.
11, 12. (a) Hoe het Jehovah vir sy volk tussenbeide getree? (b) Wat was die uiteinde van God se ingryping, en wat leer ons uit hierdie verslag omtrent Jehovah?
11 “Die wolkkolom” wat die Israeliete gelei het, het na hulle agterhoede beweeg sodat dit Farao se leër verhinder het om hulle te bereik en die leër in duisternis gehul het. Maar vir die Israeliete het dit die nag wonderdadig verlig. (Lees Eksodus 14:19, 20.) Jehovah het toe die see deur middel van ’n sterk oostewind gekloof “en die seebodem in droë grond verander”. Dit het ongetwyfeld ’n hele ruk geneem, want die verslag sê: “Eindelik het die kinders van Israel op droë grond deur die see getrek.” In vergelyking met Farao se krygsmag in hulle strydwaens het die Israeliete baie stadig beweeg. Maar daar het geen moontlikheid bestaan dat die Egiptenaars hulle sou inhaal nie, want Jehovah het vir Israel geveg. “Hy het die kamp van die Egiptenaars in verwarring gebring. En hy het die wiele van hulle strydwaens aanhoudend laat uitval sodat hulle dit met moeite gestuur het.”—Eks. 14:21-25.
12 Toe die hele Israel veilig aan die ander kant was, het Jehovah Moses beveel: “Steek jou hand oor die see uit, sodat die waters oor die Egiptenaars, hulle strydwaens en hulle ruiters kan terugvloei.” Toe die soldate van die terugvloeiende water probeer vlug het, het “Jehovah . . . die Egiptenaars in die see afgeskud”. Daar was geen wegkomkans nie. “Nie eers een onder hulle het oorgebly nie” (Eks. 14:26-28). So het Jehovah getoon dat hy die krag het om sy volk uit enige situasie te verlos.
HULLE HET AAN JERUSALEM SE VERNIETIGING ONTKOM
13. Watter instruksies het Jesus gegee, en waaroor het sy volgelinge moontlik gewonder?
13 Jehovah weet presies hoe gebeure sal ontvou om sy voorneme te vervul. Die belangrikheid hiervan word beklemtoon in die derde voorbeeld wat ons sal bespreek: die eerste-eeuse beleëring van Jerusalem. Deur middel van sy Seun het Jehovah instruksies vir oorlewing voorsien aan Christene wat voor Jerusalem se vernietiging in 70 HJ in die stad en in Judea gewoon het. Jesus het gesê: “Wanneer julle dan die walglike ding wat verwoesting veroorsaak, waarvan daar deur middel van die profeet Daniël gespreek is, in ’n heilige plek sien staan . . . , laat dié wat in Judea is, dan na die berge begin vlug” (Matt. 24:15, 16). Maar hoe sou Jesus se volgelinge weet wanneer hierdie profesie vervul word?
14. Hoe het die ontvouing van gebeure die betekenis van Jesus se instruksies duidelik gemaak?
14 Namate gebeure ontvou het, het die betekenis van Jesus se woorde duidelik geword. In 66 HJ het Romeinse leërs onder Cestius Gallus in Jerusalem aangekom om ’n Joodse opstand te onderdruk. Toe die Joodse opstandelinge, wat as die Selote bekend gestaan het, skuiling in die tempelvesting gesoek het, het Romeinse soldate die tempelmuur begin ondergrawe. Vir waaksame Christene was die betekenis duidelik: ’n Heidense leër met sy afgodiese vaandels (“die walglike ding”) het tot by die tempelmuur (“’n heilige plek”) gevorder. Dit was tyd vir Jesus se volgelinge om “na die berge [te] begin vlug”. Maar hoe sou hulle uit ’n beleërde stad kom? Gebeure sou weldra ’n onverwagte wending neem.
15, 16. (a) Watter spesifieke bevel het Jesus gegee, en waarom was dit lewensbelangrik dat sy volgelinge dit gehoorsaam? (b) Waarvan sal ons verlossing afhang?
15 Cestius Gallus en sy troepe het hulle oënskynlik sonder rede aan Jerusalem onttrek en begin terugval. Die Selote het hulle agternagesit. In die afwesigheid van die strydende partye het Jesus se volgelinge skielik ’n geleentheid gehad om te vlug. Jesus het hulle spesifiek beveel om hulle materiële besittings agter te laat en sonder versuim pad te gee. (Lees Matteus 24:17, 18.) Was onmiddellike optrede werklik nodig? Die antwoord het gou duidelik geword. Binne dae het die Selote teruggekeer en die inwoners van Jerusalem en Judea begin dwing om by die opstand aan te sluit. Toestande in die stad het vinnig agteruitgegaan terwyl strydende Joodse faksies om beheer geveg het. Dit het al hoe moeiliker geword om te vlug. Toe die Romeine in 70 HJ teruggekeer het, het dit onmoontlik geword om te vlug (Luk. 19:43). Enigiemand wat getalm het, was vasgekeer! Die Christene wat na die berge gevlug het, het hulle lewe behou danksy gehoorsaamheid aan Jesus se instruksies. Hulle het persoonlik gesien dat Jehovah weet hoe om sy volk te verlos. Watter les kan ons uit hierdie verslag leer?
16 Wanneer gebeure gedurende die groot verdrukking ontvou, sal Christene instruksies in God se Woord en van sy organisasie moet gehoorsaam. Byvoorbeeld, Jesus se opdrag om “na die berge [te] begin vlug”, het ’n hedendaagse toepassing. Presies watter vorm ons vlug sal aanneem, sal ons maar moet wag en sien.b Ons kan egter seker wees dat Jehovah duidelik sal maak wat hierdie instruksies beteken wanneer die tyd aanbreek vir ons om dit te volg. Aangesien ons verlossing van gehoorsaamheid sal afhang, kan ons ons gerus afvra: ‘Hoe reageer ek op instruksies wat Jehovah nou aan sy volk voorsien? Reageer ek dadelik, of huiwer ek om gehoorsaam te wees?’—Jak. 3:17.
ONS WORD VERSTERK VIR WAT VOORLÊ
17. Wat openbaar Habakuk se profesie oor die komende aanval op God se volk?
17 Kom ons gaan nou terug na die volskaalse aanval deur Gog wat aan die begin gemeld is. In ’n verwante profesie het Habakuk gesê: “Ek het gehoor, en my buik was in beroering; by die geluid het my lippe gebewe; verrotting het in my gebeente gekom; en in my toestand was ek in beroering, sodat ek rustig moes wag op die dag van benoudheid, wanneer hy [God] optrek teen die volk [die dreigende leërs], om hulle te oorval” (Hab. 3:16). Die blote berig van die komende aanval op God se volk het die profeet se maag laat draai, sy lippe laat bewe en sy liggaam swak laat voel. Habakuk se reaksie dui aan hoe haglik ons situasie sal lyk wanneer Gog se hordes teen ons opruk. Maar die profeet was bereid om rustig te wag op Jehovah se groot dag, in die vertroue dat Jehovah sy volk sal verlos. Ons kan dieselfde vertroue hê.—Hab. 3:18, 19.
18. (a) Waarom hoef ons nie die komende aanval te vrees nie? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
18 Die drie voorbeelde wat ons bespreek het, toon sonder twyfel dat Jehovah weet hoe om sy volk te verlos. Sy voorneme kan nie misluk nie; dit sal beslis seëvier. Maar om te deel in hierdie glorieryke oorwinning, moet ons tot die einde toe getrou bly. Hoe help Jehovah ons om nou ons onkreukbaarheid te handhaaf? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
[Prent op bladsy 24]
Was die Israeliete ooit in enige gevaar weens Farao se leër?