Elkeen sal sit onder sy vyeboom
SKADUWEE is uiters gesog gedurende die warm somers in Midde-Oosterse lande. Enige boom wat ’n mens teen die son se strale kan beskerm, is welkom, veral wanneer dit naby jou huis groei. Die vyeboom met sy groot, breë blare en uitgespreide takke gee beter skaduwee as feitlik enige ander boom in daardie gebied.
Volgens die boek Plants of the Bible is ’n vyeboom se “skaduwee blykbaar aangenamer en koeler as dié van ’n tent”. Vyebome wat in eertydse Israel aan die kant van wingerde gegroei het, was die ideale plek vir werkers om ’n bietjie te rus.
Ná ’n lang, warm dag kon ’n gesin onder hulle vyeboom sit en aangename omgang geniet. Daarbenewens beloon die vyeboom sy eienaar met voedsame vrugte in oorvloed. Om onder jou eie vyeboom te sit, is dus al van koning Salomo se tyd af geassosieer met vrede, voorspoed en oorvloed.—1 Konings 4:24, 25.
Eeue vroeër het die profeet Moses die Beloofde Land as ‘’n land van vye’ beskryf (Deuteronomium 8:8). Twaalf verkenners het bewyse van die land se vrugbaarheid voorsien deur vye en ander vrugte na die kamp van Israel terug te bring (Numeri 13:21-23). In die 19de eeu het iemand wat deur die Bybellande gereis het, berig dat die vyeboom een van die algemeenste bome daar is. Geen wonder dat die Skrif dikwels melding maak van vye en vyebome nie!
’n Boom wat twee keer dra
Die vyeboom aard in die meeste soorte grond, en sy uitgebreide wortelstelsel maak dat dit die lang, droë somers van die Midde-Ooste kan deurstaan. Die boom is ongewoon in die sin dat dit vroeë vye in Junie dra sowel as ’n hoofoes gewoonlik van Augustus af (Jesaja 28:4). Die Israeliete het gewoonlik die vroeë vye as vars vrugte geëet. Hulle het die latere oes gedroog sodat hulle dit regdeur die jaar kon gebruik. Gedroogde vye kon in ronde koeke saamgepers word, en soms is amandels bygevoeg. Hierdie vyekoeke het altyd goed te pas gekom, en dit was voedsaam en heerlik.
Die verstandige vrou Abigail het vir Dawid 200 koeke van saamgeperste vye gegee, ongetwyfeld omdat sy gemeen het dat dit ideale kos vir voortvlugtiges sou wees (1 Samuel 25:18, 27). Saamgeperste vye het ook geneeskundige waarde gehad. ’n Sagte mengsel van saamgeperste droë vye is op ’n sweer gesit wat koning Hiskia se lewe bedreig het, hoewel sy gevolglike herstel hoofsaaklik te danke was aan Goddelike ingryping.a—2 Konings 20:4-7.
In die ou tyd is daar in die hele Mediterreense streek groot waarde aan droë vye geheg. Die staatsman Kato het ’n vy gebruik om die Romeinse Senaat daarvan te oortuig om die Derde Puniese Oorlog teen Kartago te voer. Die beste gedroogde vye in Rome het gekom van Karië, in Klein-Asië. Gevolglik het carica die Latynse naam vir gedroogde vye geword. Dieselfde streek in hedendaagse Turkye produseer nog steeds gedroogde vye van uitstaande gehalte.
Israelitiese landbouers het dikwels vyebome in wingerde geplant, maar hulle het onvrugbare bome afgekap. Goeie grond was te skaars om dit op onvrugbare bome te vermors. In Jesus se illustrasie van die onvrugbare vyeboom het die landbouer vir die wingerdarbeider gesê: “Dit is nou al drie jaar dat ek vrugte aan hierdie vyeboom kom soek, maar niks vind nie. Kap dit af! Waarom moet dit die grond dan nutteloos hou?” (Lukas 13:6, 7). Aangesien daar in Jesus se tyd belasting op vrugtebome gehef is, sou enige onvrugbare boom ook ’n ekonomiese las wees.
Vye was ’n belangrike deel van die Israeliete se dieet. Gevolglik sou ’n swak vyeoes—moontlik weens Jehovah se ongunstige oordeel—rampspoedig wees (Hosea 2:12; Amos 4:9). Die profeet Habakuk het gesê: “Al bloei die vyeboom nie en is daar geen opbrengs aan die wingerdstokke nie, al loop die werk van die olyfboom op ’n mislukking uit en bring die terrasse geen voedsel voort nie . . . Nogtans sal ek my in Jehovah verheug; ek sal bly wees in die God van my redding.”—Habakuk 3:17, 18.
Simbool van ’n ontroue nasie
Die Skrif gebruik vye of vyebome soms simbolies. Jeremia het die getroue ballinge van Juda byvoorbeeld met ’n mandjie goeie vye vergelyk, die vroeë vye wat gewoonlik vars geëet is. Maar die ontroue ballinge is met slegte vye vergelyk, wat nie geëet kon word nie en weggegooi sou moes word.—Jeremia 24:2, 5, 8, 10.
In sy illustrasie van die onvrugbare vyeboom het Jesus God se geduld met die Joodse nasie toegelig. Soos vroeër gemeld is, het hy van ’n sekere man gepraat wat ’n vyeboom in sy wingerd gehad het. Die boom was al drie jaar lank onvrugbaar en die eienaar wou dit afkap. Maar die wingerdarbeider het gesê: “Heer, laat staan dit ook hierdie jaar, totdat ek daarom spit en mis gooi; en as dit dan in die toekoms vrugte voortbring, goed en wel; maar so nie, moet u dit afkap.”—Lukas 13:8, 9.
Toe Jesus hierdie illustrasie gebruik het, het hy alreeds drie jaar lank gepreek en lede van die Joodse nasie se geloof probeer opbou. Jesus het sy bedrywighede verskerp, die simboliese vyeboom—die Joodse nasie—as ’t ware bemes, en dit die geleentheid gegee om vrugte voort te bring. Die week voor Jesus se dood het dit egter duidelik geword dat die nasie oor die algemeen die Messias verwerp het.—Matteus 23:37, 38.
Jesus het weer eens die vyeboom gebruik om die swak geestelike toestand van die nasie toe te lig. Toe hy vier dae voor sy dood van Betanië na Jerusalem gereis het, het hy ’n vyeboom gesien wat baie blare gehad het, maar nie ’n enkele vrug nie. Aangesien die vroeë vye saam met die blare verskyn—en soms selfs voor die blare—het die feit dat daar geen vrugte aan die boom was nie, getoon dat dit nutteloos was.—Markus 11:13, 14.b
Soos die onvrugbare vyeboom wat gesond gelyk het, het die Joodse nasie ’n bedrieglike uiterlike gehad. Maar hulle het nie godvrugtige vrugte voortgebring nie en uiteindelik Jehovah se eie Seun verwerp. Jesus het die onvrugbare vyeboom vervloek, en die volgende dag het die dissipels opgelet dat dit reeds verdroog het. Daardie verdroogde boom het gepas afgebeeld dat God binnekort die Jode as sy uitverkore volk sou verwerp.—Markus 11:20, 21.
‘Leer van die vyeboom’
Jesus het die vyeboom ook gebruik om ’n belangrike les oor sy teenwoordigheid te leer. Hy het gesê: “Leer dít van die vyeboom as ’n illustrasie: Sodra sy jong tak sag word en hy blare kry, weet julle dat die somer naby is. Net so moet julle, wanneer julle al hierdie dinge sien, ook weet dat hy naby is, voor die deur” (Matteus 24:32, 33). Die vyeboom se heldergroen blare is ’n opmerklike en onmiskenbare aanduiding dat die somer op hande is. Net so voorsien Jesus se groot profesie in Matteus hoofstuk 24, Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21 duidelike bewyse van sy huidige teenwoordigheid in hemelse Koninkryksmag.—Lukas 21:29-31.
Aangesien ons in so ’n kritieke tyd van die geskiedenis lewe, wil ons sekerlik graag van die vyeboom leer. As ons dit doen en geestelik wakker bly, kan ons hoop om die vervulling van hierdie wonderlike belofte te ervaar: “Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie; want die mond van Jehovah van die leërs het dit gespreek.”—Miga 4:4.
[Voetnote]
a H. B. Tristram, ’n natuurkenner wat die Bybellande in die middel van die 19de eeu besoek het, het opgelet dat die plaaslike inwoners nog steeds ’n sagte vyemengsel gebruik het om swere te behandel.
b Hierdie voorval het naby die dorpie Betfage plaasgevind. Die naam van die dorpie beteken “Tuiste van die vroeë vye”. Dit kan aandui dat die gebied daarvoor bekend was dat hulle vroeë vye goeie oeste gelewer het.