Bly uit die gevaargebied!
DIT is die werk van vulkanoloë om waarnemings te doen en die bevindings op te weeg en mense dan teen komende vulkaniese uitbarstings te waarsku. (Toe die berg Foegen uitgebars het, moes die polisie mense uit die gevaargebied hou.) Op dieselfde manier sien Bybelstudente die teken van “die voleinding van die stelsel van dinge” en maak hulle ander bewus van die naderende gevaar.—Matteus 24:3.
In dieselfde hoofstuk van die Bybel wat ons oor ’n naderende wêreldwye katastrofe waarsku, kan ons hierdie beskrywing van voorafgaande verwikkelinge lees: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk, en daar sal voedseltekorte en aardbewings op die een plek na die ander wees. . . . Talle valse profete sal opstaan en baie mislei; en weens die toename in wetteloosheid sal die liefde van die meeste verkoel. . . . En hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:7-14.
Ons hoef nie nuusontleders te wees om te sien dat hierdie profesie tans vervul word nie. Dit word veral sedert 1914 vervul. In hierdie eeu was daar al twee wêreldoorloë, ’n groot aantal burgeroorloë, plaaslike gevegte en rasse- en godsdienskonflikte. Die mensdom het voedseltekorte gely as gevolg van hierdie oorloë, buiten die ontberinge wat deur natuurrampe veroorsaak is. Baie lewens is deur aardbewings verswelg. Kultusse met verdagte leiers en fanatiese volgelinge het oral te voorskyn gekom. “Die toename in wetteloosheid” het veroorsaak dat mense nie meer liefde betoon nie, en goeie buurmanskap is nie meer iets algemeens nie.
Die wêreldwye predikingswerk, nog ’n kenmerk van die teken, word beslis verrig. Kyk net weer na die voorblad van hierdie tydskrif, en jy sal die woorde “Kondig Jehovah se Koninkryk aan” as deel van die titel sien. Die Wagtoring, wat in 132 tale uitgegee word en ’n verspreidingsyfer van meer as 22 miljoen het, is ’n vername instrument vir diegene wat “hierdie goeie nuus van die koninkryk” in die hele bewoonde aarde verkondig. Daardie goeie nuus sluit die boodskap in dat die Skepper van die heelal, Jehovah God, die hemelse Koninkryk opgerig het wat die goddelose stelsel van dinge gaan vernietig en die aarde ’n paradys gaan maak. Trouens, die teken dat God binnekort gaan optree, is nou sigbaar, en dit toon dat die lewens van mense in hierdie stelsel van dinge in gevaar is.—Vergelyk 2 Timoteus 3:1-5; 2 Petrus 3:3, 4; Openbaring 6:1-8.
Die vreesinboesemende dag van Jehovah
Wat sal gebeur wanneer die tyd ryp is vir Jehovah om sy oordeel te voltrek? Luister na sy eie beeldende beskrywing van wat dan sal plaasvind: “Ek sal voortekens in die hemel en op die aarde gee: bloed en vuur en rookkolomme. Die son sal in duisternis verander word en die maan in bloed voor die koms van die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah.”—Joël 2:30, 31, NW.
Daardie dag, wat vreesaanjaender en vernietigender as enige plaaslike vulkaniese uitbarsting of aardbewing gaan wees, is op hande. Die profeet Sefanja sê: “Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig. . . . Deur die vuur van sy ywer sal die hele aarde verteer word; want Hy bring vernietiging, ja, ’n verskriklike, oor die inwoners van die aarde.” Hoewel “hulle silwer of hulle goud . . . nie in staat [sal] wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die HERE te red nie”, is daar ’n manier om daardie vreesinboesemende dag te oorleef.—Sefanja 1:14-18.
Sefanja toon hoe en sê: “Voordat daar oor julle kom die toorngloed van die HERE, voordat oor julle kom die dag van die toorn van die HERE. Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land . . . , soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE” (Sefanja 2:2, 3). Ons kan beskerming vind deur ‘Jehovah te soek, geregtigheid te soek en ootmoedigheid te soek’. Wie soek Jehovah vandag?
Jy verbind die woord “Jehovah” ongetwyfeld met Jehovah se Getuies as gevolg van hulle predikingswerk. Jy het dalk hierdie tydskrif by een van hulle gekry. Hulle is bekend as sedelike burgers wat regskape lewens lei. Hulle streef daarna om hulle met ’n “nuwe persoonlikheid” te beklee, wat insluit dat hulle ootmoedigheid aankweek (Kolossense 3:8-10). Dit, erken hulle, is as gevolg van die onderrigting wat hulle kry by Jehovah se sigbare organisasie, wat regoor die aarde deur plaaslike gemeentes van Jehovah se Getuies verteenwoordig word. Ja, jy kan beskerming vind saam met ‘die hele gemeenskap van broers’ onder Jehovah se Getuies regoor die wêreld.—1 Petrus 5:9.
Vind nou beskerming
As ons beskerming wil vind deur Jehovah te soek, moet ons sy vriende wees. Wat behels dit? Die Bybel antwoord: “Weet julle nie dat die vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie? Elkeen dan wat ’n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God” (Jakobus 4:4). Om God se vriende te wees, moet ons nie enige emosionele verbintenis hê met die huidige goddelose wêreld wat gekenmerk word deur ’n opstandige gesindheid teenoor God nie.
Die Bybel vermaan ons: “Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde vir die Vader nie in hom nie; want alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld. Wat meer is, die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:15-17). Vandag word die meeste mense deur vleeslike begeertes aangedryf—onbeheerste geslagslus, die hebsugtige najaging van geld en die misbruik van mag. Maar as ’n mens aan Jehovah se kant wil wees, moet jy sulke begeertes die hoof bied.—Kolossense 3:5-8.
Jy het moontlik hierdie tydskrif al van tyd tot tyd gelees, en jy stem dalk saam met die manier waarop dit Bybelprofesieë toepas. En tog huiwer jy dalk om die verdere stap te doen om met Jehovah se Getuies om te gaan. Maar as ons voor ’n ramp te staan kom, is dit dan genoeg om net die waarskuwing te hoor? Soos ons kan sien uit die geval van die uitbarsting van die berg Foegen, moet ons op die waarskuwing ag slaan. Onthou, ten minste 15 verslaggewers en kameramanne wat vasbeslote was om ’n nuustreffer te kry, het hulle lewe verloor. Trouens, een fotograaf is met sy vinger op die sluiterknoppie van sy kamera dood. ’n Vulkanoloog—wat gesê het: “As ek eendag moet sterf, wil ek hê dit moet op die rand van ’n vulkaan wees”—het sy lewe verloor presies soos hy dit wou gehad het. Hulle was almal toegewyd aan hulle werk en hulle belange. Maar hulle het met hulle lewe geboet—hoe duur het hulle tog betaal vir hulle versuim om na die waarskuwing te luister.
Baie hoor vandag die boodskap in verband met God se besluit om hierdie goddelose stelsel van dinge te vernietig en besef, in sekere mate, dat die waarskuwing geldig is. ‘Dit sal miskien uiteindelik kom’, redeneer hulle dalk, ‘maar nie vandag nie.’ Hulle stel die dag van Jehovah gerieflikheidshalwe tot later uit sodat hulle aandag nie afgelei kan word van wat op die oomblik in hulle oë belangriker lyk nie.
Barug het so ’n probleem gehad. Aangesien hy die sekretaris van die eertydse profeet Jeremia was, het Barug die Israeliete moedig teen Jerusalem se naderende ondergang gewaarsku. Maar hy het eenkeer moeg geword vir sy opdrag. Jehovah het hom toe tereggewys: “Wat jou betref, jy hou aan om vir jou groot dinge te soek. Moet dit nie aanhou soek nie.” Hetsy dit rykdom, vernaamheid of materiële sekuriteit was, Barug moes nie ‘groot dinge vir homself soek nie’. Hy moes in een ding belangstel: om God se wil te doen en mense te help om aan Sy kant te staan. Gevolglik sou hy ‘sy siel as buit’ ontvang (Jeremia 45:1-5, NW). Ons moet eweneens nie ‘groot dinge vir onsself soek’ nie, maar ons moet eerder Jehovah soek, wat daartoe kan lei dat ons eie lewe gered word.
By die berg Foegen was meer as ’n dosyn polisiemanne en vrywillige brandweermanne op diens toe die superverhitte vulkaniese stroom hulle getref het. Hulle het mense wat in gevaar was, probeer help en beskerm. Hulle was soos welmenende mans en vroue wat hulle heeltemal daarop toelê om hierdie wêreld te verbeter. Al is hulle beweegredes ook hoe edel, kan “wat krom is . . . nie reguit word nie” (Prediker 1:15). Hierdie krom stelsel van dinge kan nie reggemaak word nie. Is dit redelik om jouself “’n vriend van die wêreld” te maak deur ’n wêreldwye stelsel te probeer red wat God vasbeslote is om te vernietig?
Bly weg as jy eers gevlug het
Dit is een ding om uit die stelsel te vlug wat in gevaar is, maar dit is iets heeltemal anders om in die beskermende sorg van “die hele gemeenskap van broers” te bly (1 Petrus 2:17). Laat ons nie vergeet van die boere wat, nadat hulle die gebied ontruim het, teruggegaan het om te kyk hoe hulle landerye naby die berg Foegen lyk nie. Hulle wou waarskynlik baie graag terugkeer na die “normale” lewe wat hulle voorheen gehad het. Maar jy besef dat hulle besluit om terug te gaan nie wys was nie. Miskien was dit nie die eerste keer wat hulle in die gevaargebied ingegaan het nie. Hulle het dalk net ’n kort rukkie in die gevaargebied ingegaan en niks het gebeur nie. Die volgende keer het hulle moontlik ’n bietjie langer gebly, en daar het nog steeds niks gebeur nie. Hulle het waarskynlik gou daaraan gewoond geraak om in die gevaargebied in te gaan, en dit het hulle die moed gegee om in die gevaargebied te talm.
Jesus Christus het na ’n soortgelyke situasie verwys wat gedurende “die voleinding van die stelsel van dinge” sou plaasvind. Hy het gesê: “Soos hulle in daardie dae voor die vloed was—hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie—só sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees.”—Matteus 24:3, 38, 39.
Let daarop dat Jesus eet, drink en trou gemeld het. Nie een van hierdie dinge is op sigself in Jehovah se oë verkeerd nie. Wat was dan verkeerd? Die mense van Noag se dag “het geen ag daarop geslaan” nie deur ’n lewe te lei wat om hulle alledaagse roetine gedraai het. In ’n tyd van nood kan ’n mens nie ’n “normale” lewe lei nie. As jy eers gevlug het of jou afgesonder het van die huidige veroordeelde wêreld, moet jy stry teen enige drang om weer terug te gaan om voordeel te trek uit wat ook al daaruit gekry kan word (1 Korintiërs 7:31). Jy sal miskien uit die geestelik veilige gebied kan dwaal en weer ongeskonde terugkom sonder dat enigiemand dit selfs agterkom. Maar dit sal jou moontlik aanmoedig om weer na die wêreld toe terug te keer en ’n bietjie langer daarin te talm. Weldra kan jy die gesindheid ontwikkel: “Die einde sal nie vandag kom nie.”
Dink ook aan die drie huurmotorbestuurders wat hulle lewens verloor het terwyl hulle vir die verslaggewers en kameramanne gewag het toe die vulkaniese stroom teen die hang afgevloei het. Vandag gaan party dalk net saam met ander wat dit gewaag het om terug te gaan in die wêreld in. Ongeag wat die rede is, dit is duidelik dat dit nie die risiko werd is om na die gevaargebied teruggelok te word nie.
Al die slagoffers van die uitbarsting van die berg Foegen het die veiligheidslyn oorgesteek en in die gevaargebied ingegaan. Hoewel hulle verwag het dat die berg eendag sou uitbars, het niemand gedink dat dit op daardie dag sou gebeur nie. Baie sien die teken van die voleinding van die stelsel van dinge en verwag dus dat die dag van Jehovah die een of ander tyd sal kom, maar waarskynlik nie gou nie. Party meen selfs dat die dag nooit “vandag” kan wees nie. So ’n gesindheid is beslis gevaarlik.
“Jehovah se dag [sal] soos ’n dief kom”, het die apostel Petrus gewaarsku. Ons moet wakker wees, “terwyl [ons] die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou” en ons “uiterste bes doen om uiteindelik deur hom vlekkeloos en smetloos en in vrede bevind te word” (2 Petrus 3:10-14). Ná die vernietiging van die huidige goddelose stelsel van dinge gaan daar ’n paradysaarde onder die Koninkryk van God wees. Mag ons nooit in die versoeking kom om dit in die gevaargebied te waag nie, ongeag watter rede ons ook al kan uitdink, aangesien die dag wat ons daardie lyn oorsteek om terug te gaan in die wêreld in dalk die dag van Jehovah kan wees.
Vind beskerming saam met Jehovah se volk en bly by hulle.
[Prent op bladsy 7]
Vind beskerming saam met Jehovah se volk en bly by hulle
[Foto-erkenning op bladsy 4]
Iwasa/Sipa Press