Wees gereed vir Jehovah se dag
“Julle [moet] gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie.”—MATTEUS 24:44.
1. Waarom moet ons Jehovah se dag goed in gedagte hou?
DIT sal ’n dag van oorlog en grimmigheid wees, van angs en benoudheid, van duisternis en verwoesting. Jehovah se “groot en vreesinboesemende dag” sal gewis oor hierdie goddelose stelsel van dinge kom, net soos die goddelose wêreld in Noag se dag deur die Vloed vernietig is. Niemand sal dit vryspring nie. Maar “elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal veilig wegkom” (Joël 2:30-32; Amos 5:18-20). God sal sy vyande vernietig en sy volk red. Die profeet Sefanja sê met ’n gevoel van dringendheid: “Die groot dag van Jehovah is naby. Dit is naby en kom baie vinnig nader” (Sefanja 1:14). Maar wanneer sal hierdie goddelike oordeel voltrek word?
2, 3. Waarom is dit noodsaaklik dat ons ons voorberei op die dag van Jehovah?
2 “Van daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader”, het Jesus gesê (Matteus 24:36). Aangesien ons nie die presiese tyd weet nie, is dit noodsaaklik dat ons die woorde van ons jaarteks vir 2004 ter harte neem: ‘Hou aan waak. Wees gereed.’—Matteus 24:42, 44.
3 Jesus het aangedui hoe skielik diegene wat gereed is, na veiligheid gebring sal word terwyl ander agtergelaat sal word, toe hy gesê het: “Twee manne [sal] op die land wees: die een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word; twee vroue sal by die handmeul maal: die een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word” (Matteus 24:40, 41). Wat sal ons persoonlike situasie op daardie kritieke stadium wees? Sal ons gereed wees of sal daardie dag ons onverhoeds betrap? Baie hang af van die stappe wat ons nou neem. Om gereed te wees vir Jehovah se dag, vereis dat ons ’n sekere gesindheid vermy wat vandag algemeen is, dat ons hard stry om nie in ’n sekere geestelike toestand te verval nie en dat ons sekere lewenstyle vermy.
Vermy ’n oorgeruste gesindheid
4. Watter gesindheid het die mense van Noag se dag gehad?
4 Dink aan die dae van Noag. “Deur geloof het Noag, nadat hy ’n goddelike waarskuwing gegee is oor dinge wat nog nie gesien is nie, godvrugtige vrees aan die dag gelê en ’n ark gebou tot redding van sy huisgesin”, sê die Bybel (Hebreërs 11:7). Die ark was ’n buitengewone struktuur wat nie maklik misgekyk kon word nie. Ook was Noag “’n prediker van regverdigheid” (2 Petrus 2:5). Nóg Noag se bouprojek nóg sy predikingswerk het die mense van sy dag tot optrede aangespoor. Waarom nie? Want hulle het “geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee”. Diegene vir wie Noag gepreek het, was so betrokke by persoonlike sake en plesier dat hulle “geen ag daarop geslaan [het] totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie”.—Matteus 24:38, 39.
5. Watter beskouing het die inwoners van Sodom in Lot se dag gehad?
5 Dit was ook so in die dae van Lot. Die Skrif sê vir ons: “Hulle het geëet, hulle het gedrink, hulle het gekoop, hulle het verkoop, hulle het geplant, hulle het gebou. Maar op die dag dat Lot uit Sodom uitgekom het, het dit vuur en swael uit die hemel gereën en hulle almal vernietig” (Lukas 17:28, 29). Nadat engele Lot oor die naderende vernietiging gewaarsku het, het hy met sy skoonseuns gepraat oor wat voorlê. Maar in hulle oë was “hy soos iemand wat ’n grap maak”.—Genesis 19:14.
6. Watter gesindheid moet ons vermy?
6 Soos dit in die dae van Noag en Lot was, “so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees”, het Jesus gesê (Matteus 24:39; Lukas 17:30). Ja, vandag het baie mense ’n oorgeruste gesindheid. Ons moet op ons hoede wees dat ons nie deur hierdie beskouing beïnvloed word nie. Daar is niks mee verkeerd om lekker kos en drank in matigheid te geniet nie. Die huwelik is eweneens ’n reëling wat deur God ingestel is. Maar is ons persoonlik gereed vir die vreesinboesemende dag van Jehovah as hierdie dinge die eerste plek in ons lewe begin beklee het en ons geestelike belange op die agtergrond geskuif het?
7. Watter belangrike vraag moet ons vra voordat ons by enige strewe betrokke raak, en waarom?
7 “Die oorblywende tyd is kort”, het die apostel Paulus gesê. “Laat dié wat vrouens het, van nou af wees asof hulle nie het nie” (1 Korintiërs 7:29-31). Die tyd waarin ons ons godgegewe Koninkrykspredikingswerk kan voltooi, is beperk (Matteus 24:14). Paulus vermaan selfs diegene wat getroud is, om nie so betrokke by hulle maat te wees dat Koninkryksbelange ’n ondergeskikte plek in hulle lewe inneem nie. Dit is duidelik dat die geestesgesindheid wat Paulus aanbeveel het, die teenoorgestelde van oorgerustheid is. Jesus het gesê: “Hou dan aan om eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek” (Matteus 6:33). Voordat ’n mens ’n besluit neem of by enige strewe betrokke raak, is dit belangrik om te vra: ‘Watter uitwerking sal dit hê op my besluit om Koninkryksbelange altyd eerste in my lewe te stel?’
8. Wat moet ons doen as die daaglikse bedrywighede vir ons die hoofsaak geword het?
8 Sê nou ons besef dat ons reeds so betrokke is by die daaglikse bedrywighede dat dit geestelike belange verdring? Is daar min verskil tussen ons lewenswyse en dié van ons bure wat nie juiste kennis van die Skrif het en nie Koninkryksverkondigers is nie? As dit die geval is, moet ons dit ’n saak van gebed maak. Jehovah kan dit vir ons moontlik maak om die regte geestesgesindheid te hê (Romeine 15:5; Filippense 3:15). Hy kan ons help om aan te hou om Koninkryksbelange eerste te stel, om te doen wat reg is en om ons verpligting teenoor hom na te kom.—Romeine 12:2; 2 Korintiërs 13:7.
Stry hard teen geestelike lomerigheid
9. Waarom is dit volgens Openbaring 16:14-16 belangrik om hard te stry teen geestelike lomerigheid?
9 Dieselfde profesie wat van die komende “oorlog van die groot dag van God die Almagtige” by Armageddon praat, waarsku dat party dalk nie wakker sal bly nie. “Kyk! Ek kom soos ’n dief”, sê die Here Jesus Christus. “Gelukkig is die een wat wakker bly en sy boklere bewaar, sodat hy nie naak sal loop en mense sy skande sien nie” (Openbaring 16:14-16). Die boklere wat hier genoem word, verwys na dit wat ons as Christengetuies van Jehovah identifiseer. Dit sluit ons werk as Koninkryksverkondigers en ons Christelike gedrag in. As ons wegsink in ’n toestand van onbedrywigheid, soos iemand wat slaap, kan ons ons Christelike identiteit verloor. Dit is skandelik en gevaarlik. Ons moet dus hard stry sodat ons nie geestelik lomerig of traag word nie. Hoe kan ons so ’n neiging weerstaan?
10. Waarom help daaglikse Bybellees ons om geestelik wakker te bly?
10 Die Bybel beklemtoon herhaaldelik dat ons wakker en nugter van verstand moet bly. Die Evangelieverslae herinner ons byvoorbeeld: “Hou . . . aan waak” (Matteus 24:42; 25:13; Markus 13:35, 37); ‘wees gereed’ (Matteus 24:44); “bly op die uitkyk, bly wakker” (Markus 13:33); ‘hou julle gereed’ (Lukas 12:40). Nadat die apostel Paulus noem dat die dag van Jehovah onverwags oor hierdie wêreld gaan kom, spoor hy medegelowiges aan: “Laat ons dan nie voortslaap soos die res nie, maar laat ons wakker en nugter van verstand bly” (1 Tessalonisense 5:6). In die laaste boek van die Bybel beklemtoon die verheerlikte Christus Jesus dat hy skielik gaan kom en sê: “Ek kom gou” (Openbaring 3:11; 22:7, 12, 20). Baie van die Hebreeuse profete het ook die groot dag van Jehovah se oordeel beskryf en daaroor gewaarsku (Jesaja 2:12, 17; Jeremia 30:7; Joël 2:11; Sefanja 3:8). As ons God se Woord, die Bybel, daagliks lees en peins oor wat ons lees, sal dit ons grootliks help om geestelik wakker te bly.
11. Waarom is persoonlike Bybelstudie onontbeerlik vir geestelike waaksaamheid?
11 Ja, ywerige persoonlike studie van die Skrif met behulp van Bybelpublikasies wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word, verskerp beslis ons geestelike waaksaamheid! (Matteus 24:45-47). Persoonlike studie sal egter slegs voordele inhou as dit progressief en getrou gedoen word (Hebreërs 5:14–6:3). Ons moet gereeld vaste geestelike voedsel inneem. Dit is dalk ’n uitdaging om deesdae tyd daarvoor te vind (Efesiërs 5:15, 16). Nogtans is dit nie voldoende om die Bybel en Bybelpublikasies net te lees wanneer dit vir ons gerieflik is nie. Gereelde persoonlike studie is onontbeerlik as ons “gesond in die geloof” en wakker wil bly.—Titus 1:13.
12. Hoe help Christelike vergaderinge en byeenkomste ons om te stry teen geestelike lomerigheid?
12 Christelike vergaderinge en byeenkomste help ons ook om teen geestelike lomerigheid te stry. Hoe? Deur middel van die onderrigting wat ons ontvang. Word ons nie by hierdie samekomste gereeld herinner aan hoe naby die dag van Jehovah is nie? Weeklikse Christelike vergaderinge bied ook geleenthede om ‘mekaar tot liefde en goeie werke aan te spoor’. Deur mekaar so aan te spoor, of op te wek, bevorder dit geestelike waaksaamheid. Dit is dus nie verbasend nie dat ons beveel word om gereeld te vergader namate ons “die dag sien nader kom”.—Hebreërs 10:24, 25.
13. Hoe help die Christelike bediening ons om geestelik wakker te bly?
13 Heelhartige deelname aan die Christelike bediening help ons ook om wakker te bly. Watter beter manier is daar om die tekens van die tye en die betekenis daarvan goed in gedagte te hou as om met ander daaroor te praat? En wanneer ons sien hoe diegene met wie ons die Bybel studeer, vorder en begin toepas wat hulle leer, verskerp dit ons eie gevoel van dringendheid. “Versterk . . . julle verstand vir bedrywigheid”, het die apostel Petrus gesê, “bly volkome nugter van verstand” (1 Petrus 1:13). ’n Uitstekende middel teen geestelike traagheid is om “altyd baie [te hê] om in die werk van die Here te doen”.—1 Korintiërs 15:58.
Vermy skadelike lewenstyle
14. Teen watter lewenstyle het Jesus ons in Lukas 21:34-36 gewaarsku?
14 In sy betekenisvolle profesie oor die teken van sy teenwoordigheid het Jesus nog ’n waarskuwing gegee. Hy het gesê: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie. Want dit sal oor almal kom wat op die oppervlak van die hele aarde woon. Bly dus wakker en doen te alle tye smeekbedes dat julle daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur en om voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:34-36). Jesus het die lewenstyle wat mense oor die algemeen volg, akkuraat beskryf: oormatige etery, dronkenskap en ’n lewenswyse wat sorge meebring.
15. Waarom moet ons oormatige etery en drinkery vermy?
15 Oormatige etery en strawwe drinkery is in stryd met Bybelbeginsels en moet vermy word. “Moenie onder die wynsuipers wees, onder die vraatsugtige vleiseters nie”, sê die Bybel (Spreuke 23:20). Maar etery en drinkery hoef nie daardie vlak te bereik om gevaarlik te wees nie. Lank voordat dit daardie stadium bereik, kan dit ’n mens alreeds lomerig en lui maak. “Die luiaard toon dat hy begerig is”, sê ’n Bybelspreuk, “maar sy siel het niks” (Spreuke 13:4). So ’n persoon wil dalk God se wil doen, maar omdat hy versuim om op te tree, word sy begeerte nie vervul nie.
16. Hoe kan ons voorkom dat sorge met betrekking tot ons gesin ’n swaar las word?
16 Wat is die sorge van die lewe waarteen Jesus gewaarsku het? Dit behels persoonlike bekommernisse, die verantwoordelikheid om vir ’n gesin te sorg en dies meer. Hoe onwys sal dit tog wees om toe te laat dat hierdie dinge ’n swaar las word! “Wie van julle kan deur hom te kwel een el by sy lewensduur voeg?” het Jesus gevra. Hy het sy toehoorders vermaan: “Moet julle . . . nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge jaag die nasies gretig na. Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.” As ons Koninkryksbelange eerste in ons lewe stel en die vertroue het dat Jehovah vir ons sal voorsien, sal dit onnodige sorge uitskakel en ons help om wakker te bly.—Matteus 6:25-34.
17. Hoe kan materialistiese strewes sorge veroorsaak?
17 Sorge kan ook veroorsaak word deur materialistiese strewes. Party kompliseer hulle lewe byvoorbeeld deur bo hulle inkomste te lewe. Ander is verlok deur kitsrykwordskemas en hoëriskobeleggings. Vir ander word sekulêre opvoeding ’n strik as dit nagestreef word om finansiële sukses te verkry. ’n Sekere vlak van opvoeding kan weliswaar nuttig wees om ’n betrekking te kry. Maar party het in werklikheid geestelik skade gely as gevolg van ’n tydrowende strewe na verdere opleiding. Wat ’n gevaarlike situasie om in te wees terwyl die dag van Jehovah nader kom! Die Bybel waarsku: “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort.”—1 Timoteus 6:9.
18. Watter vermoë moet ons aankweek om te voorkom dat ons in ’n materialistiese lewenstyl vasgevang word?
18 Om te voorkom dat ons in ’n materialistiese lewenstyl vasgevang word, is dit noodsaaklik dat ons die vermoë aankweek om tussen reg en verkeerd te onderskei wanneer ons besluite maak. Hierdie vermoë word ontwikkel deur gereeld ‘vaste geestelike voedsel wat vir volwasse mense is’, in te neem en ‘ons waarnemingsvermoëns deur gebruik te oefen’ (Hebreërs 5:13, 14). As ons seker maak “van die belangriker dinge” wanneer ons prioriteite stel, sal dit ook verhoed dat ons verkeerde keuses maak.—Filippense 1:10.
19. Wat moet ons doen as ons agterkom dat ons baie min tyd vir geestelike strewes het?
19 ’n Materialistiese lewenstyl kan ons verblind en min of geen tyd laat vir geestelike strewes. Hoe kan ons onsself ondersoek en voorkom dat ons deur so ’n lewenstyl verstrik raak? Ons moet biddend oorweeg hoe en in watter mate ons ons lewe kan vereenvoudig. Koning Salomo van eertydse Israel het gesê: “Soet is die slaap van die een wat dien, of hy nou min of baie eet; maar die oorvloed wat aan die ryke behoort, laat hom nie toe om te slaap nie” (Prediker 5:12). Neem dit baie van ons tyd en energie in beslag om na onnodige materiële besittings om te sien? Hoe meer ons besit, hoe meer dinge moet ons in stand hou, verseker en beskerm. Sal dit miskien tot ons voordeel wees om ons lewe te vereenvoudig deur van sekere besittings ontslae te raak?
Doen jou uiterste bes om gereed te wees
20, 21. (a) Watter versekering gee die apostel Petrus ons oor Jehovah se dag? (b) Met watter gedrag en dade moet ons volhou as ons gereed wil wees vir Jehovah se dag?
20 Die uurglas het leeggeloop vir die wêreld van Noag se dag, en dit sal ook leegloop vir die huidige stelsel van dinge. Die apostel Petrus verseker ons: “Jehovah se dag [sal] soos ’n dief kom, waarop die hemele met ’n sissende gedruis sal verbygaan, die elemente, wat intens warm sal wees, tot niet gemaak sal word, en die aarde en die werke daarin ontdek sal word.” Nie die simboliese hemele—goddelose regerings—of die simboliese aarde—die mensdom wat van God vervreem is—sal staande bly onder die felheid van God se brandende toorn nie. Petrus toon hoe ons gereed kan wees vir daardie dag en roep uit: “Aangesien al hierdie dinge so tot niet gemaak gaan word, watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl julle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou!”—2 Petrus 3:10-12.
21 Die gereelde bywoning van Christelike vergaderinge en ’n deelname aan die verkondiging van die goeie nuus is deel van hierdie gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid. Mag ons met hartgrondige toegewydheid aan God hieraan deelneem terwyl ons geduldig wag op Jehovah se groot dag. Laat ons ons “uiterste bes doen om uiteindelik deur [God] vlekkeloos en smetloos en in vrede bevind te word”.—2 Petrus 3:14.
Onthou jy?
• Waarom moet ons gereed wees vir Jehovah se dag?
• Wat moet ons doen as die daaglikse bedrywighede vir ons die hoofsaak geword het?
• Wat sal ons help om te stry teen geestelike lomerigheid?
• Watter skadelike lewenstyle moet ons vermy, en hoe?
[Prente op bladsy 20, 21]
Mense in Noag se dag het geen ag geslaan op die naderende oordeel nie—wat van jou?
[Prent op bladsy 23]
Kan jy jou lewe vereenvoudig sodat jy meer tyd vir geestelike strewes kan hê?