Hoe Jesus se woorde geluk bevorder
“[Jesus het] teen die berg opgegaan; en . . . sy dissipels [het] na hom toe gekom; en hy het . . . hulle begin leer.”—MATT. 5:1, 2.
1, 2. (a) Onder watter omstandighede het Jesus sy Bergpredikasie gehou? (b) Hoe het Jesus sy toespraak begin?
DIT is die jaar 31 G.J. Jesus onderbreek kortliks sy predikingsreis in Galilea om die Pasga in Jerusalem te vier (Joh. 5:1). Wanneer hy na Galilea terugkeer, bid hy heelnag vir God se leiding om 12 apostels te kies. Die volgende dag kom ’n skare bymekaar terwyl Jesus die siekes genees. Hy gaan sit op ’n berghelling en begin sy dissipels en ander wat daar is, onderrig.—Matt. 4:23–5:2; Luk. 6:12-19.
2 Jesus begin sy toespraak—die Bergpredikasie—deur te toon dat geluk voortspruit uit ’n goeie verhouding met God. (Lees Matteus 5:1-12.) Geluk is ‘’n toestand van welsyn wat wissel van tevredenheid tot intense vreugde’. Die nege geluksprekinge wat Jesus bespreek het, beklemtoon waarom Christene gelukkig is, en dit is vandag net so nuttig as wat dit byna 2 000 jaar gelede was. Kom ons bespreek nou elkeen van hierdie geluksprekinge.
“Dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte”
3. Wat beteken dit om bewus te wees van ons geestelike behoefte?
3 “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle” (Matt. 5:3). “Dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte”, besef dat hulle geestelik arm is en God se barmhartigheid nodig het.
4, 5. (a) Waarom is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, gelukkig? (b) Hoe kan ons geestelike behoefte bevredig word?
4 Dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, is gelukkig, “want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle”. Die feit dat Jesus se vroeë dissipels hom as die Messias aangeneem het, het hulle die geleentheid gebied om saam met hom in God se hemelse Koninkryk te regeer (Luk. 22:28-30). Hetsy ons hoop om ’n mede-erfgenaam saam met Christus in die hemel te wees of uitsien na die ewige lewe in ’n aardse paradys onder Koninkryksheerskappy, ons kan gelukkig wees as ons ten volle bewus is van ons geestelike behoefte en van ons afhanklikheid van God.
5 Nie almal is bewus van hulle geestelike behoefte nie, want baie het ’n gebrek aan geloof en geen waardering vir heilige dinge nie (2 Tess. 3:1, 2; Heb. 12:16). Ons kan ons geestelike behoefte bevredig onder andere deur ’n geesdriftige studie van die Bybel, ywerige deelname aan die dissipelmaakwerk en gereelde bywoning van Christelike vergaderinge.—Matt. 28:19, 20; Heb. 10:23-25.
Treurendes wat “gelukkig” is
6. Wie is “dié wat treur”, en waarom is hulle “gelukkig”?
6 “Gelukkig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word” (Matt. 5:4). “Dié wat treur”, is dieselfde soort mense as “dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte”. Hulle treur nie in die sin dat hulle kla oor hulle lot in die lewe nie. Hulle treur in die sin dat hulle bedroef is oor hulle eie sondige toestand en die toestande wat weens menslike onvolmaaktheid bestaan. Waarom is sulke treurendes “gelukkig”? Omdat hulle geloof in God en Christus beoefen en vertroos word deurdat hulle ’n goeie verhouding met Jehovah het.—Joh. 3:36.
7. Hoe moet ons oor Satan se wêreld voel?
7 Treur ons persoonlik weens die onregverdigheid wat in Satan se wêreld hoogty vier? Hoe voel ons werklik oor wat hierdie wêreld aanbied? Die apostel Johannes het geskryf: “Alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—het nie hulle oorsprong by die Vader nie” (1 Joh. 2:16). Maar sê nou ons kom agter dat ons eie geestelikheid ondermyn word deur “die gees van die wêreld”, die dryfkrag wat die mensegemeenskap wat van God vervreemd is, oorheers? Laat ons dan vurig bid, God se Woord bestudeer en die ouer manne om hulp vra. Namate ons nader aan Jehovah kom, sal ons ‘vertroosting vind’, ongeag wat die oorsaak van ons benoudheid is.—1 Kor. 2:12; Ps. 119:52; Jak. 5:14, 15.
Hoe gelukkig is “die saggeaardes” tog!
8, 9. Wat beteken dit om saggeaard te wees, en waarom is die saggeaardes gelukkig?
8 “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matt. 5:5). Saggeaardheid, of “sagmoedigheid”, dui nie op swakheid of huigelagtige sagtheid nie (1 Tim. 6:11). As ons saggeaard is, sal ons sagmoedigheid aan die dag lê deur Jehovah se wil te doen en sy leiding te aanvaar. Saggeaardheid sal ook blyk uit die manier waarop ons medegelowiges en ander behandel. Sulke sagmoedigheid strook met die apostel Paulus se raad.—Lees Romeine 12:17-19.
9 Waarom is die saggeaardes gelukkig? “Want hulle sal die aarde beërf”, het die saggeaarde Jesus gesê. Hy is die Hooferfgenaam van die aarde (Ps. 2:8; Matt. 11:29; Heb. 2:8, 9). Maar saggeaarde “mede-erfgename met Christus” beërf die aarde saam met hom (Rom. 8:16, 17). Baie ander sagmoediges sal die ewige lewe in die aardse gebied van Jesus se Koninkryk geniet.—Ps. 37:10, 11.
10. Hoe kan ’n gebrek aan sagmoedigheid ons diensvoorregte en ons verhouding met ander raak?
10 Soos Jesus, moet ons saggeaard wees. Maar sê nou ons is daarvoor bekend dat ons strydlustig is? So ’n aggressiewe en vyandige houding kan veroorsaak dat mense ons vermy. As ons broers is wat verantwoordelikhede in die gemeente wil hê, diskwalifiseer hierdie eienskap ons (1 Tim. 3:1, 3). Paulus het vir Titus gesê om aan te hou om Christene in Kreta daaraan te herinner “om nie strydlustig te wees nie, om redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê” (Tit. 3:1, 2). Wat ’n seën is sulke sagmoedigheid tog vir ander!
Hulle honger na “regverdigheid”
11-13. (a) Wat beteken dit om te honger en te dors na regverdigheid? (b) Hoe word dié wat honger en dors na regverdigheid, “versadig”?
11 “Gelukkig is dié wat honger en dors na regverdigheid, want hulle sal versadig word” (Matt. 5:6). Die “regverdigheid” wat Jesus in gedagte gehad het, is die eienskap om te doen wat reg is deur volgens God se wil en gebooie te lewe. Die psalmis het gesê dat hy “verbryseld van verlange” is na God se regverdige regterlike beslissings (Ps. 119:20). Stel ons regverdigheid so hoog op prys dat ons daarna honger en dors?
12 Jesus het gesê dat dié wat honger en dors na regverdigheid, gelukkig sal wees omdat hulle “versadig” sal word. Dit het ná Pinkster 33 G.J. moontlik geword, want Jehovah se heilige gees het toe “aan die wêreld oortuigende bewys [begin] lewer . . . aangaande regverdigheid” (Joh. 16:8). Deur middel van die heilige gees het God manne geïnspireer om die Christelike Griekse Geskrifte saam te stel, wat baie nuttig is “om in regverdigheid te dissiplineer” (2 Tim. 3:16). God se gees stel ons ook in staat om ons “met die nuwe persoonlikheid [te] beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid . . . geskep is” (Ef. 4:24). Is dit nie vertroostend om te weet dat dié wat op grond van Jesus se losprysoffer berouvol om vergifnis van hulle sondes vra, ’n regverdige posisie voor God kan verkry nie?—Lees Romeine 3:23, 24.
13 As ons ’n aardse hoop het, sal ons honger en dors na regverdigheid volkome versadig word wanneer ons die ewige lewe onder regverdige toestande op die aarde geniet. Laat ons intussen vasbeslote wees om in ooreenstemming met Jehovah se standaarde te lewe. Jesus het gesê: “Hou . . . aan om eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek” (Matt. 6:33). As ons dit doen, sal ons hande met godvrugtige werk en ons hart met ware geluk gevul word.—1 Kor. 15:58.
Waarom “die barmhartiges” gelukkig is
14, 15. Hoe kan ons barmhartigheid bewys, en waarom is “die barmhartiges” gelukkig?
14 “Gelukkig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (Matt. 5:7). “Die barmhartiges” word deur medelye en innige jammerte vir ander beweeg. Jesus het die lyding van baie mense wonderdadig verlig omdat hy vir hulle innig jammer gevoel het (Matt. 14:14). Barmhartigheid word in regterlike sin geopenbaar wanneer mense diegene vergewe wat teen hulle oortree, net soos Jehovah berouvolles op barmhartige wyse vergewe (Eks. 34:6, 7; Ps. 103:10). Ons kan barmhartigheid op hierdie manier bewys, asook deur ons vriendelike woorde en dade wat verligting vir minderbevoorregte persone bring. ’n Goeie manier om barmhartigheid te bewys, is om Bybelwaarhede aan ander bekend te maak. Jesus is ontroer deur innige jammerte vir ’n skare en het “hulle baie dinge begin leer”.—Mark. 6:34.
15 Ons het rede om saam te stem met Jesus se verklaring: “Gelukkig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” As ons ander barmhartig behandel, sal hulle ons waarskynlik op dieselfde wyse behandel. Ons sal moontlik vind dat die barmhartigheid wat ons aan ander bewys het, sal triomfeer oor enige ongunstige oordeel wat God dalk andersins oor ons sou gebring het wanneer ons geoordeel word (Jak. 2:13). Slegs die barmhartiges sal vergifnis van sondes en die ewige lewe ontvang.—Matt. 6:15.
Waarom “dié wat suiwer van hart is”, gelukkig is
16. Wat beteken dit om “suiwer van hart” te wees, en hoe “sien” dié met hierdie eienskap God?
16 “Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien” (Matt. 5:8). As ons “suiwer van hart” is, sal suiwerheid in ons geneenthede, begeertes en beweegredes gesien kan word. Ons sal “liefde uit ’n rein hart” openbaar (1 Tim. 1:5). Omdat ons innerlik rein is, sal ons “God sien”. Dit beteken nie noodwendig dat ons Jehovah letterlik sien nie, want “geen mens kan [God] sien en nogtans lewe nie” (Eks. 33:20). Aangesien Jesus God se persoonlikheid volmaak weerspieël het, kon hy egter sê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Joh. 14:7-9). As Jehovah se aanbidders op die aarde kan ons “God sien” deur hom ten behoewe van ons te sien optree (Job 42:5). Vir gesalfde Christene bereik die voorreg om God te sien, ’n hoogtepunt wanneer hulle tot geeslewe opgewek word en hulle hemelse Vader werklik sien.—1 Joh. 3:2.
17. Watter uitwerking sal dit op ons hê as ons suiwer van hart is?
17 Omdat ’n suiwer hart sedelik en geestelik rein is, bedink dit nie dinge wat onrein is in Jehovah se oë nie (1 Kron. 28:9; Jes. 52:11). As ons suiwer van hart is, sal ons woorde en dade deur suiwerheid gekenmerk word, en ons diens aan Jehovah sal in geen opsig huigelagtig wees nie.
“Die vredeliewendes” word kinders van God
18, 19. Hoe gedra “die vredeliewendes” hulle?
18 “Gelukkig is die vredeliewendes, want hulle sal ‘kinders van God’ genoem word” (Matt. 5:9). “Die vredeliewendes” word uitgeken aan wat hulle sal doen en nie sal doen nie. As ons die soort mense is wat Jesus in gedagte gehad het, is ons vredeliewend en ‘vergeld ons niemand kwaad vir kwaad nie’. Inteendeel, ons ‘streef altyd na wat goed is teenoor ander’.—1 Tess. 5:15.
19 Die Griekse woord wat in Matteus 5:9 met “vredeliewendes” weergegee word, beteken letterlik “vredemakers”. Om onder die vredeliewendes getel te word, moet ons vrede daadwerklik bevorder. Vredemakers doen niks wat ‘dié skei wat vertroulik met mekaar omgaan’ nie (Spr. 16:28). As die vredeliewendes doen ons positiewe stappe om ‘vrede met alle mense na te streef’.—Heb. 12:14.
20. Wie is nou “kinders van God”, en wie anders sal uiteindelik God se kinders word?
20 Die vredeliewendes is gelukkig, “want hulle sal ‘kinders van God’ genoem word”. Getroue gesalfde Christene is deur Jehovah aangeneem en is “kinders van God”. Hulle het reeds ’n intieme verhouding met Jehovah as sy kinders omdat hulle geloof in Christus beoefen en “die God van liefde en van vrede” heelhartig aanbid (2 Kor. 13:11; Joh. 1:12). Wat van Jesus se vredeliewende “ander skape”? Hulle sal Jesus gedurende sy Duisendjarige Heerskappy as hulle “Ewige Vader” hê, maar aan die einde daarvan sal hy hom aan Jehovah onderwerp, en hulle sal in die volle sin van die woord kinders van God word.—Joh. 10:16; Jes. 9:6; Rom. 8:21; 1 Kor. 15:27, 28.
21. Hoe sal ons optree as ons “deur gees lewe”?
21 As ons “deur gees lewe”, sal vredeliewendheid een van ons eienskappe wees wat geredelik deur ander gesien word. Ons sal nie “wedywering met mekaar aanwakker” of “mekaar uittart” nie (Gal. 5:22-26; Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Ons sal eerder “vreedsaam teenoor alle mense” probeer wees.—Rom. 12:18.
Gelukkig ondanks vervolging!
22-24. (a) Waarom is dié wat ter wille van regverdigheid vervolg word, gelukkig? (b) Wat sal ons in die volgende twee studieartikels bespreek?
22 “Gelukkig is dié wat ter wille van regverdigheid vervolg is, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle” (Matt. 5:10). Jesus het hieroor uitgewei en bygevoeg: “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my. Wees bly en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele; want so het hulle die profete voor julle vervolg.”—Matt. 5:11, 12.
23 Soos God se profete van ouds, verwag Christene dat hulle gesmaad en vervolg sal word en dat daar valslik dinge teen hulle gesê sal word—alles “ter wille van regverdigheid”. Maar as ons sulke toetse getrou verduur, bied dit ons die bevrediging dat ons Jehovah behaag en eer (1 Pet. 2:19-21). Ons lyding kan nie ons vreugde om Jehovah te dien, nou of in die toekoms laat afneem nie. Dit kan nie die vreugde om saam met Christus in die hemelse Koninkryk te regeer of om die ewige lewe as een van die aardse onderdane van daardie regering te ontvang, verminder nie. Hierdie seëninge lewer bewys van God se guns, welwillendheid en vrygewigheid.
24 Daar is nog baie wat ons uit die Bergpredikasie kan leer. Verskeie lesse word in die volgende twee studieartikels bespreek. Kom ons kyk hoe ons daardie woorde van Jesus Christus kan toepas.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom is “dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte”, gelukkig?
• Waarom is “die saggeaardes” gelukkig?
• Waarom is Christene gelukkig al word hulle vervolg?
• Watter een van die geluksprekinge wat Jesus bespreek het, beïndruk jou in die besonder?
[Prent op bladsy 7]
Die nege geluksprekinge wat Jesus beklemtoon het, is vandag net so nuttig as wat dit destyds was
[Prent op bladsy 8]
’n Goeie manier om barmhartigheid te bewys, is om Bybelwaarhede aan ander bekend te maak