Gelukkige knegte van Jehovah
“Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”—MATTEUS 5:3.
1. Wat is ware geluk, en wat weerspieël dit?
GELUK is ’n kosbare besitting van Jehovah se knegte. Die psalmis Dawid het uitgeroep: “Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!” (Psalm 144:15). Geluk is ’n gevoel van welstand. Die grootste geluk—wat ons diepste wese raak—spruit voort uit die besef dat ons Jehovah se seën geniet (Spreuke 10:22). Hierdie geluk weerspieël ’n hegte verhouding met ons hemelse Vader en die wete dat ons sy wil doen (Psalm 112:1; 119:1, 2). Interessant genoeg, Jesus het nege redes opgenoem waarom ons gelukkig geag kan word. ’n Bespreking van hierdie sogenoemde geluksprekinge, of saligsprekinge, in hierdie en die volgende artikel sal ons help besef hoe gelukkig ons kan wees as ons “die gelukkige God”, Jehovah, getrou dien.—1 Timoteus 1:11.
Bewus van ons geestelike behoefte
2. By watter geleentheid het Jesus oor geluk gepraat, en wat was sy openingswoorde?
2 In 31 G.J. het Jesus een van die beroemdste toesprake van alle tye gehou. Dit word die Bergpredikasie genoem omdat Jesus dit gehou het teen ’n berghelling wat oor die See van Galilea uitkyk. Die Evangelie van Matteus sê: “Toe [Jesus] die menigte mense sien, het hy teen die berg opgegaan; en nadat hy gaan sit het, het sy dissipels na hom toe gekom; en hy het sy mond oopgemaak en hulle begin leer en gesê: ‘Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle.’” ’n Letterlike vertaling van Jesus se openingswoorde lui: “Gelukkig is die armes (met betrekking) tot die gees” of “Gelukkig is dié wat bedelaars om die gees is” (Matteus 5:1-3; Kingdom Interlinear; voetnoot in NW). Today’s English Version sê: “Gelukkig is dié wat weet dat hulle geestelik arm is.”
3. Hoe dra ’n nederige gesindheid tot ons geluk by?
3 In sy Bergpredikasie het Jesus daarop gewys dat ’n mens baie gelukkiger is as jy daarvan bewus is dat jy ’n geestelike behoefte het. Nederige Christene is ten volle bewus van hulle sondige toestand en smeek Jehovah om vergifnis op grond van Christus se losprysoffer (1 Johannes 1:9). Sodoende vind hulle gemoedsrus en ware geluk. “Gelukkig is hy wie se opstandigheid vergewe word, wie se sonde bedek word.”—Psalm 32:1; 119:165.
4. (a) Op watter maniere kan ons toon dat ons bewus is van ons en ander se geestelike behoefte? (b) Wat dra tot ons geluk by wanneer ons bewus is van ons geestelike behoefte?
4 As ons bewus is van ons geestelike behoefte, beweeg dit ons om die Bybel elke dag te lees, om geestelike voedsel in te neem wat “op die regte tyd” deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word en om Christelike vergaderinge gereeld by te woon (Matteus 24:45; Psalm 1:1, 2; 119:111; Hebreërs 10:25). Naasteliefde maak ons bewus van die geestelike behoefte van ander en spoor ons aan om die goeie nuus van die Koninkryk ywerig te verkondig en aan ander te leer (Markus 13:10; Romeine 1:14-16). Dit maak ons gelukkig as ons Bybelwaarhede aan ander bekend maak (Handelinge 20:20, 35). Ons geluk word verder vergroot wanneer ons peins oor die wonderlike Koninkrykshoop en die seëninge wat daardie Koninkryk sal meebring. Vir die “klein kuddetjie” gesalfde Christene beteken die Koninkrykshoop onsterflike lewe in die hemel as deel van Christus se Koninkryksregering (Lukas 12:32; 1 Korintiërs 15:50, 54). Vir die “ander skape” beteken dit ewige lewe op ’n paradysaarde onder daardie Koninkryksregering.—Johannes 10:16; Psalm 37:11; Matteus 25:34, 46.
Hoe treurendes gelukkig kan wees
5. (a) Wat word bedoel met die uitdrukking “dié wat treur”? (b) Hoe word sulke treurendes vertroos?
5 Die woorde van die volgende gelukspreking wat Jesus genoem het, klink na ’n teenstrydigheid. Hy het gesê: “Gelukkig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word” (Matteus 5:4). Hoe kan iemand treur en terselfdertyd gelukkig wees? Om die betekenis van Jesus se woorde te verstaan, moet ons kyk na watter soort droefheid hy van praat. Die dissipel Jakobus verduidelik dat ons eie sondige toestand ons moet laat treur. Hy het geskryf: “Reinig julle hande, julle sondaars, en suiwer julle harte, julle besluiteloses. Gee toe aan ellende en treur en huil. Laat julle gelag in verdriet verander word en julle vreugde in terneergedruktheid. Verneder julle in die oë van Jehovah, en hy sal julle verhef” (Jakobus 4:8-10). Diegene wat waarlik bedroef is oor hulle sondige toestand, word vertroos wanneer hulle leer dat hulle sondes vergewe kan word as hulle geloof beoefen in Christus se losprysoffer en ware berou toon deur Jehovah se wil te doen (Johannes 3:16; 2 Korintiërs 7:9, 10). Hulle kan dus ’n kosbare verhouding met Jehovah geniet en die hoop koester om vir ewig te lewe sodat hulle hom kan dien en loof. Dit verskaf hulle groot innerlike geluk.—Romeine 4:7, 8.
6. In watter sin treur party, en hoe word hulle vertroos?
6 Jesus se woorde sluit ook dié in wat treur weens die verfoeilike toestande wat op die aarde heers. Jesus het die profesie in Jesaja 61:1, 2 op homself toegepas, wat sê: “Die gees van die Soewereine Heer Jehovah is op my, omdat Jehovah my gesalf het om goeie nuus aan die sagmoediges te verkondig. Hy het my gestuur om die gebrokenes van hart te verbind, . . . om al die treurendes te vertroos.” Hierdie opdrag is ook van toepassing op gesalfde Christene wat nog op aarde is en wat dit met die hulp van hulle metgeselle, die “ander skape”, uitvoer. Almal neem deel aan die werk om in simboliese sin ’n merk te maak op die voorkoppe van “die mense wat sug en steun oor al die verfoeilike dinge wat daarin [in afvallige Jerusalem, wat die Christendom voorstel] gedoen word” (Esegiël 9:4). Sulke treurendes word deur die “goeie nuus van die koninkryk” vertroos (Matteus 24:14). Dit maak hulle gelukkig wanneer hulle leer dat Satan se goddelose stelsel van dinge binnekort vervang sal word met Jehovah se regverdige nuwe wêreld.
Gelukkig is die saggeaardes
7. Wat word nie met die woord ‘saggeaard’ bedoel nie?
7 Jesus het sy Bergpredikasie voortgesit deur te sê: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matteus 5:5). Daar word soms gemeen dat saggeaardheid op swakheid van karakter dui. Maar dit is nie die geval nie. ’n Bybelgeleerde het die betekenis van die woord wat met ‘saggeaard’ vertaal word, verduidelik en geskryf: “Die vernaamste eienskap van die mens wat [saggeaard] is, is dat hy hom volmaak beheers. Dit is nie ’n ruggraatlose sagtheid, ’n sentimentele teerheid, ’n passiewe berusting nie. Dit is ’n beheerste krag.” Jesus het van homself gesê: “Ek is saggeaard en nederig van hart” (Matteus 11:29). Nietemin het Jesus regverdige beginsels moedig verdedig.—Matteus 21:12, 13; 23:13-33.
8. Waarmee hou saggeaardheid ten nouste verband, en waarom het ons hierdie eienskap in ons verhoudings met ander nodig?
8 Saggeaardheid, of sagmoedigheid, hou dus ten nouste verband met selfbeheersing. Trouens, die apostel Paulus het sagmoedigheid en selfbeheersing saam gemeld toe hy “die vrugte van die gees” opgenoem het (Galasiërs 5:22, 23). Sagmoedigheid moet met die hulp van die heilige gees aangekweek word. Dit is ’n Christelike eienskap wat vrede met buitestanders en met diegene in die gemeente bevorder. Paulus het geskryf: “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe.”—Kolossense 3:12, 13.
9. (a) Waarom is saggeaardheid nie beperk tot ons verhouding met ander mense nie? (b) Hoe sal die saggeaardes “die aarde beërf”?
9 Saggeaardheid is egter nie tot ons verhouding met ander mense beperk nie. As ons ons gewillig aan Jehovah se soewereiniteit onderwerp, toon ons dat ons saggeaard is. Die vernaamste voorbeeld in hierdie verband is Jesus Christus, wat saggeaardheid aan die dag gelê het en hom volkome aan sy Vader se wil onderwerp het terwyl hy hier op aarde was (Johannes 5:19, 30). Jesus beërf die aarde in die eerste plek omdat hy die aangestelde Heerser daarvan is (Psalm 2:6-8; Daniël 7:13, 14). Hy deel hierdie erfenis met 144 000 “mede-erfgename” wat “uit die mensdom” gekies is om “as konings oor die aarde [te] heers” (Romeine 8:17; Openbaring 5:9, 10; 14:1, 3, 4; Daniël 7:27). Christus en sy medeheersers sal oor miljoene skaapgeaarde manne en vroue regeer wat die geluk sal smaak wat meegebring word deur die vervulling van die profetiese psalm: “Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:11; Matteus 25:33, 34, 46.
Gelukkig is dié wat honger na regverdigheid
10. Wat is een manier waarop dié wat “honger en dors na regverdigheid”, versadig kan word?
10 Die volgende gelukspreking van Jesus teen daardie berghelling in Galilea was: “Gelukkig is dié wat honger en dors na regverdigheid, want hulle sal versadig word” (Matteus 5:6). Vir Christene stel Jehovah die standaard vir regverdigheid. Diegene wat honger en dors na regverdigheid, honger en dors dus in werklikheid na goddelike leiding. Hulle is deeglik bewus van hulle sonde en onvolmaaktheid en wil graag in Jehovah se oë aanneemlik wees. Hoe gelukkig maak dit hulle tog wanneer hulle in God se Woord leer dat hulle ’n regverdige posisie voor God kan verkry as hulle berou toon en op grond van Christus se losprysoffer vergifnis vra!—Handelinge 2:38; 10:43; 13:38, 39; Romeine 5:19.
11, 12. (a) Hoe verkry gesalfde Christene ’n regverdige posisie? (b) Hoe word die metgeselle van die gesalfdes se dors na regverdigheid bevredig?
11 Jesus het gesê dat sulke mense gelukkig sal wees omdat hulle “bevredig [sal] word” (Matteus 5:6, Kingdom Interlinear). Gesalfde Christene, wat geroep is om in die hemel saam met Christus “as konings [te] heers”, word ‘regverdig verklaar vir die lewe’ (Romeine 5:1, 9, 16-18). Jehovah verwek hulle en neem hulle sodoende as geestelike kinders aan. Hulle word mede-erfgename met Christus en is geroep om konings en priesters in sy hemelse Koninkryksregering te word.—Johannes 3:3; 1 Petrus 2:9.
12 Die metgeselle van die gesalfdes is nog nie regverdig verklaar vir die lewe nie. Maar weens hulle geloof in Christus se vergote bloed skryf Jehovah ’n mate van regverdigheid aan hulle toe (Jakobus 2:22-25; Openbaring 7:9, 10). Hulle word regverdig geag as Jehovah se vriende met die vooruitsig op verlossing tydens “die groot verdrukking” (Openbaring 7:14). Hulle dors na regverdigheid sal verder bevredig word wanneer hulle, onder die “nuwe hemele”, deel word van die nuwe aarde waarin “regverdigheid [sal] woon”.—2 Petrus 3:13; Psalm 37:29.
Gelukkig is die barmhartiges
13, 14. Op watter praktiese maniere moet ons toon dat ons barmhartig is, en watter voordele hou dit vir ons in?
13 Jesus het verder in sy Bergpredikasie gesê: “Gelukkig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (Matteus 5:7). In geregtelike sin verwys barmhartigheid na die genade wat ’n regter betoon as hy ’n oortreder nie die volle straf oplê wat volgens die wet toelaatbaar is nie. Maar soos dit in die Bybel gebruik word, verwys die oorspronklike woorde wat met “barmhartigheid” vertaal word, meestal na ’n blyk van goedhartige bedagsaamheid of innige jammerte wat verligting bring vir dié wat veronreg is. Diegene wat barmhartig is, toon dus daadwerklik medelye. Jesus se illustrasie van die barmhartige Samaritaan voorsien ’n goeie voorbeeld van iemand wat ‘barmhartig opgetree het’ teenoor iemand anders wat hulp nodig gehad het.—Lukas 10:29-37.
14 As ons die geluk wil smaak wat die betoning van barmhartigheid meebring, moet ons positiewe, goedhartige dade verrig teenoor diegene wat hulp nodig het (Galasiërs 6:10). Jesus het medelye gevoel vir die mense wat hy gesien het. “Hy is ontroer deur innige jammerte vir hulle, want hulle was soos skape sonder ’n herder. En hy het hulle baie dinge begin leer” (Markus 6:34). Jesus het besef dat die mensdom se grootste behoefte geestelik was. Ons kan ook toon dat ons medelydend en barmhartig is deur aan ander bekend te maak wat hulle die nodigste het—die “goeie nuus van die koninkryk” (Matteus 24:14). Ons kan ook praktiese hulp aan ouer mede-Christene, weduwees en wese verleen en “vertroostend met die terneergedrukte siele” praat (1 Tessalonisense 5:14; Spreuke 12:25; Jakobus 1:27). Dit sal ons nie net geluk verskaf nie, maar sal ook meebring dat Jehovah barmhartigheid aan ons bewys.—Handelinge 20:35; Jakobus 2:13.
Suiwer van hart en vredeliewend
15. Hoe kan ons suiwer van hart en vredeliewend wees?
15 Jesus se sesde en sewende geluksprekinge was: “Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien. Gelukkig is die vredeliewendes, want hulle sal ‘kinders van God’ genoem word” (Matteus 5:8, 9). ’n Suiwer hart is nie net sedelik rein nie, maar ook geestelik onbesmet en verenig wat sy toegewydheid aan Jehovah betref (1 Kronieke 28:9; Psalm 86:11). Die woord in die oorspronklike taal wat met “vredeliewendes” vertaal word, beteken letterlik “vredemakers”. Die vredeliewendes lewe in vrede met hulle Christenbroers en, sover dit van hulle afhang, met hulle naaste (Romeine 12:17-21). Hulle ‘soek vrede en streef dit na’.—1 Petrus 3:11.
16, 17. (a) Waarom word die gesalfdes “kinders van God” genoem, en hoe ‘sien hulle God’? (b) Hoe kan die “ander skape” “God sien”? (c) Hoe en wanneer sal die “ander skape” in die volle sin van die woord “kinders van God” word?
16 Aan die vredeliewendes wat suiwer van hart is, word die belofte gemaak dat hulle “‘kinders van God’ genoem [sal] word” en “God [sal] sien”. Gesalfde Christene word deur die gees verwek en deur Jehovah as “kinders” aangeneem terwyl hulle nog op aarde is (Romeine 8:14-17). Wanneer hulle opgewek word om saam met Christus in die hemel te wees, dien hulle in Jehovah se teenwoordigheid en sien hulle Hom werklik.—1 Johannes 3:1, 2; Openbaring 4:9-11.
17 Die vredeliewende “ander skape” dien Jehovah onder die Goeie Herder, Christus Jesus, wat hulle “Ewige Vader” word (Johannes 10:14, 16; Jesaja 9:6). Diegene wat ná die Duisendjarige Heerskappy van Christus die finale toets slaag, sal as Jehovah se aardse kinders aangeneem word en “die glorieryke vryheid van die kinders van God . . . hê” (Romeine 8:21; Openbaring 20:7, 9). In afwagting hiervan spreek hulle Jehovah as hulle Vader aan, aangesien hulle hulle lewe aan hom toewy en hom as hulle Lewegewer erken (Jesaja 64:8). Soos Job en Moses van die ou tyd, kan hulle “God sien” met die oë van geloof (Job 42:5; Hebreërs 11:27). Met ‘die oë van hulle hart’ en deur middel van juiste kennis van God sien hulle Jehovah se wonderlike eienskappe en probeer hulle hom navolg deur sy wil te doen.—Efesiërs 1:18; Romeine 1:19, 20; 3 Johannes 11.
18. Wie vind vandag ware geluk in ooreenstemming met die eerste sewe geluksprekinge van Jesus?
18 Ons het gesien dat dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, dié wat treur, die saggeaardes, dié wat honger en dors na regverdigheid, die barmhartiges, dié wat suiwer van hart is en die vredeliewendes ware geluk smaak in hulle diens aan Jehovah. Maar hulle het nog altyd teenstand, selfs vervolging, ondervind. Plaas dit ’n demper op hulle geluk? Hierdie vraag sal in die volgende artikel bespreek word.
Ter hersiening
• Watter geluk ondervind dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte?
• Op watter maniere word dié wat treur, vertroos?
• Hoe lê ons saggeaardheid aan die dag?
• Waarom moet ons barmhartig, suiwer van hart en vredeliewend wees?
[Prent op bladsy 10]
“Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte”
[Prente op bladsy 10]
“Gelukkig is die barmhartiges”
[Prent op bladsy 10]
“Gelukkig is dié wat honger en dors na regverdigheid”