Jehovah is ’n waarderende God
“God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie.”—HEBREËRS 6:10.
1. Hoe het Jehovah sy waardering vir die Moabitiese vrou Rut getoon?
JEHOVAH het diepe waardering vir die pogings van diegene wat opreg probeer om sy wil te doen, en hy beloon hulle ryklik (Hebreërs 11:6). Die getroue man Boas was vertroud met hierdie pragtige faset van God se persoonlikheid, want hy het vir die Moabitiese vrou Rut, wat liefdevol vir haar weduwee-skoonmoeder gesorg het, gesê: “Mag Jehovah jou handelswyse beloon, en mag daar vir jou ’n volmaakte loon wees van Jehovah” (Rut 2:12). Is Rut deur God geseën? Beslis! Haar verhaal is selfs in die Bybel opgeteken! Daarbenewens het sy met Boas getrou en ’n voorouer van koning Dawid sowel as Jesus Christus geword (Rut 4:13, 17; Matteus 1:5, 6, 16). Dit is maar een van baie voorbeelde in die Bybel wat Jehovah se waardering vir sy knegte toon.
2, 3. (a) Wat maak Jehovah se betuigings van waardering merkwaardig? (b) Waarom kan Jehovah opregte waardering betuig? Lig toe.
2 Jehovah sou dit as onregverdig van hom beskou as hy ’n gebrek aan waardering sou toon. Hebreërs 6:10 sê: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het deurdat julle die heiliges gedien het en nog dien nie.” Wat hierdie verklaring merkwaardig maak, is die feit dat God waardering toon vir toegewyde mense al is hulle sondaars en al skiet hulle te kort aan sy heerlikheid.—Romeine 3:23.
3 As gevolg van ons onvolmaaktheid voel ons dalk dat ons dade van godvrugtige toegewydheid onbelangrik is en nie God se seën werd is nie. Maar Jehovah verstaan ons beweegredes en omstandighede ten volle, en hy stel ons heelhartige diens werklik op prys (Matteus 22:37). Ter toeligting: ’n Ma vind ’n geskenk—’n goedkoop halssnoer—op haar tafel. Sy kan dink dat die geskenk nie veel werd is nie en dit eenkant toe gooi. Maar die kaartjie daarby toon dat die geskenk van haar dogtertjie af kom, wat al haar spaargeld gebruik het om dit te koop. Die ma beskou die geskenk nou in ’n nuwe lig. Sy omhels haar kind, moontlik met trane in haar oë, en spreek haar opregte waardering uit.
4, 5. Hoe het Jesus Jehovah nagevolg in die betoning van waardering?
4 Aangesien Jehovah ten volle bewus is van ons beweegredes en beperkings, waardeer hy dit wanneer ons hom ons beste gee, hetsy dit min of baie is. In hierdie opsig was Jesus ’n volmaakte weerspieëling van sy Vader. Dink aan die Bybelverslag oor die weduwee se penning. “Toe [Jesus] opkyk, het hy die rykes hulle gawes in die skatkiste sien gooi. Toe het hy ’n sekere behoeftige weduwee twee muntstukkies van baie min waarde daar sien ingooi, en hy het gesê: ‘Ek sê vir julle die waarheid: Hierdie weduwee het, hoewel sy arm is, meer as hulle almal ingegooi. Want hulle almal het uit hulle oorvloed gawes ingegooi, maar hierdie vrou het in haar gebrek al die middele vir lewensonderhoud ingegooi wat sy gehad het.’”—Lukas 21:1-4.
5 Ja, omdat Jesus geweet het wat die vrou se omstandighede was—dat sy ’n weduwee en arm was—het hy die werklike waarde van haar gawe besef, en hy het dit opreg waardeer. Dieselfde kan van Jehovah gesê word (Johannes 14:9). Is dit nie aanmoedigend om te weet dat jy, ongeag wat jou omstandighede is, guns kan vind in die oë van ons waarderende God en sy Seun nie?
Jehovah beloon ’n godvresende Etiopiër
6, 7. Waarom en hoe het Jehovah sy waardering teenoor Ebed-Meleg getoon?
6 Die Skrif toon herhaaldelik dat Jehovah sy waardering toon vir diegene wat sy wil doen. Dink aan sy handelinge met die godvresende Etiopiër Ebed-Meleg, ’n tydgenoot van Jeremia en ’n kneg in die huis van ontroue koning Sedekia van Juda. Ebed-Meleg het uitgevind dat die vorste van Juda die profeet Jeremia ten onregte van sedisie aangekla het en hom in ’n reënput gegooi het, om daar van die honger dood te gaan (Jeremia 38:1-7). In die wete dat Jeremia intens gehaat word as gevolg van die boodskap wat hy verkondig het, het Ebed-Meleg sy eie lewe gewaag en ’n beroep op die koning gedoen. Die Etiopiër het moedig gesê: “O my heer die koning, hierdie manne het sleg gehandel in alles wat hulle die profeet Jeremia aangedoen het, wat hulle in die reënput gegooi het, sodat hy weens die hongersnood sal sterf waar hy is.” Op die koning se bevel het Ebed-Meleg 30 manne geneem en God se profeet gered.—Jeremia 38:8-13.
7 Jehovah het gesien dat Ebed-Meleg opgetree het in geloof, wat hom gehelp het om enige vrees wat hy dalk ervaar het, te bowe te kom. Daarom het Jehovah sy waardering getoon en deur Jeremia vir Ebed-Meleg gesê: “Kyk, ek laat my woorde oor hierdie stad waar word ten kwade en nie ten goede nie . . . En ek sal jou in dié dag verlos . . . en jy sal nie in die hand van die manne vir wie jy bang is, gegee word nie. Want ek sal vir seker aan jou ontkoming verskaf . . . ; en jou siel sal beslis vir jou ’n buit wees, omdat jy op my vertrou het” (Jeremia 39:16-18). Ja, Jehovah het Ebed-Meleg, sowel as Jeremia, verlos van die goddelose vorste van Juda en later van die Babiloniërs, wat Jerusalem totaal verwoes het. “[Jehovah] bewaar die siel van sy lojales; uit die hand van die goddeloses verlos hy hulle”, sê Psalm 97:10.
‘Jou Vader wat in die geheim toekyk, sal jou beloon’
8, 9. Watter soort gebede waardeer Jehovah, soos blyk uit Jesus se voorbeeld?
8 Nog ’n bewys dat Jehovah ons blyke van godvrugtige toegewydheid waardeer, kan gesien word in wat die Bybel oor gebed sê. “In die gebed van die regskapenes skep [God] behae”, het die wyse man gesê (Spreuke 15:8). In Jesus se dag het baie godsdiensleiers in die openbaar gebid, nie uit ware vroomheid nie, maar uit ’n begeerte om mense te beïndruk. “Hulle ontvang reeds hulle volle beloning”, het Jesus gesê. “Maar jy, wanneer jy bid”, het hy vir sy volgelinge gesê, “gaan in jou binnekamer in, en nadat jy jou deur toegemaak het, bid tot jou Vader wat in die geheim is; dan sal jou Vader wat in die geheim toekyk, jou beloon.”—Matteus 6:5, 6.
9 Jesus het natuurlik nie openbare gebed veroordeel nie, want hy het self by sekere geleenthede in die openbaar gebid (Lukas 9:16). Jehovah waardeer dit grootliks wanneer ons uit ’n opregte hart tot hom bid, sonder enige gedagte om ander te beïndruk. Ons private gebede is in werklikheid ’n goeie aanduiding van die innigheid van ons liefde vir God en ons vertroue op hom. Gevolglik is dit glad nie verbasend dat Jesus dikwels in private plekke gebid het nie. Eenkeer het hy dit “vroeg die oggend” gedoen, “terwyl dit nog donker was”. ’n Ander keer het hy “alleen teen die berg opgegaan om te bid”. En voordat hy sy 12 apostels gekies het, het Jesus die hele nag lank alleen gebid.—Markus 1:35; Matteus 14:23; Lukas 6:12, 13.
10. Waarvan kan ons seker wees as ons gebede opregtheid en intense gevoel weerspieël?
10 Dink net hoe aandagtig Jehovah tog na sy Seun se opregte gebede moes geluister het! Ja, Jesus het soms gebid “met sterk uitroepe en trane . . . , en hy is weens sy godvrugtige vrees verhoor” (Hebreërs 5:7; Lukas 22:41-44). Wanneer ons gebede sulke opregtheid en intense gevoel weerspieël, kan ons seker wees dat ons hemelse Vader aandagtig en met waardering luister. Ja, “Jehovah is naby almal . . . wat hom in waaragtigheid aanroep”.—Psalm 145:18.
11. Hoe voel Jehovah oor wat ons doen wanneer ons alleen is?
11 As Jehovah dit waardeer wanneer ons in die geheim tot hom bid, hoe moet hy dit tog nie waardeer as ons hom in die geheim gehoorsaam nie! Ja, Jehovah is bewus van wat ons doen wanneer ons alleen is (1 Petrus 3:12). As ons getrou en gehoorsaam is wanneer ons alleen is, is dit inderdaad ’n goeie aanduiding dat ons “’n volkome hart” teenoor Jehovah het, een wat suiwer beweegredes het en wat onwrikbaar bly by wat reg is (1 Kronieke 28:9). Hoe bly maak sulke gedrag Jehovah se hart tog!—Spreuke 27:11; 1 Johannes 3:22.
12, 13. Hoe kan ons ons verstand en hart bewaar en soos die getroue dissipel Natanael wees?
12 Getroue Christene waak dus teen geheime sondes wat die verstand en hart verderf, soos om na pornografie en geweld te kyk. Hoewel party sondes vir mense verberg kan word, besef ons dat “alles . . . naak en oop en bloot [lê] voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee” (Hebreërs 4:13; Lukas 8:17). Deur daarna te strewe om dinge te vermy wat Jehovah mishaag, behou ons ’n rein gewete en verheug ons ons daarin dat ons God se goedkeuring geniet. Ja, dit ly geen twyfel nie dat Jehovah werklik die persoon waardeer “wat onberispelik wandel en regverdigheid beoefen en in sy hart die waarheid spreek”.—Psalm 15:1, 2.
13 Maar hoe kan ons ons verstand en hart bewaar in ’n wêreld wat deurtrek is van slegtheid? (Spreuke 4:23; Efesiërs 2:2). Buiten dat ons alle geestelike voorsienings ten volle moet benut, moet ons ook alles in ons vermoë doen om te verwerp wat sleg is en te doen wat goed is en gou optree sodat ongepaste begeertes nie vrugbaar word en sonde baar nie (Jakobus 1:14, 15). Dink net hoe gelukkig jy sal wees as Jesus van jou sê wat hy van Natanael gesê het: “Kyk, [’n mens] in wie daar geen bedrog is nie” (Johannes 1:47). Natanael, wat ook Bartolomeus genoem is, het later die voorreg gehad om een van Jesus se 12 apostels te word.—Markus 3:16-19.
“’n Barmhartige en getroue hoëpriester”
14. Hoe het Jesus se reaksie op Maria se gebaar met dié van ander vergelyk?
14 As “die beeld van die onsigbare God”, Jehovah, volg Jesus altyd sy Vader volmaak na in die betoning van waardering vir diegene wat God uit ’n rein hart dien (Kolossense 1:15). Byvoorbeeld, vyf dae voordat hy sy lewe opgeoffer het, was Jesus en van sy dissipels gaste in die huis van Simon van Betanië. Gedurende die loop van die aand het Maria, die suster van Lasarus en Marta, “’n pond welriekende olie geneem, egte nardus, baie kosbaar” (ter waarde van omtrent ’n jaar se loon), en dit op Jesus se kop en voete uitgegooi (Johannes 12:3). “Waarom hierdie verkwisting?” het party gesê. Maar Jesus het Maria se gebaar in ’n heeltemal ander lig beskou. Hy het dit beskou as ’n daad van groot vrygewigheid en as iets baie betekenisvol met die oog op sy naderende dood en begrafnis. Gevolglik het Jesus Maria nie gekritiseer nie, maar haar eerder geëer. “Oral waar hierdie goeie nuus in die hele wêreld verkondig word”, het hy gesê, “sal wat hierdie vrou gedoen het, ook vertel word ter gedagtenis aan haar.”—Matteus 26:6-13.
15, 16. Hoe vind ons baat by die feit dat Jesus as ’n mens gelewe en God gedien het?
15 Hoe bevoorreg is ons tog om so ’n waarderende persoon soos Jesus as ons Leier te hê! Ja, Jesus se lewe as ’n mens het hom voorberei vir die werk wat Jehovah wou hê hy moes doen—om as Hoëpriester en Koning te dien, eers van die gemeente van die gesalfdes en dan van die wêreld.—Kolossense 1:13; Hebreërs 7:26; Openbaring 11:15.
16 Nog voordat Jesus aarde toe gekom het, het hy reeds intens in die mensdom belanggestel en spesiale liefde vir hulle gehad (Spreuke 8:31). Deur as ’n mens te lewe, het hy groter begrip verkry vir die beproewinge wat ons in ons diens aan God ondervind. “[Jesus was] verplig om in alle opsigte soos sy ‘broers’ te word”, het die apostel Paulus geskryf, “sodat hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester . . . kon word . . . Want deurdat hy self gely het toe hy op die proef gestel is, kan hy dié wat op die proef gestel word, te hulp kom.” Jesus kan “met ons swakhede . . . simpatiseer”, want hy is “in alle opsigte soos ons op die proef gestel . . . , maar sonder sonde”.—Hebreërs 2:17, 18; 4:15, 16.
17, 18. (a) Wat openbaar die briewe aan die sewe gemeentes in Klein-Asië oor die diepte van Jesus se waardering? (b) Waarvoor is daardie gesalfde Christene voorberei?
17 Die groter begrip wat Jesus vir sy volgelinge se beproewinge gehad het, kon gesien word nadat hy opgewek is. Dink aan sy briewe aan die sewe gemeentes in Klein-Asië, soos opgeteken deur die apostel Johannes. Aan die gemeente in Smirna het Jesus gesê: “Ek ken jou verdrukking en armoede.” Hier het Jesus in werklikheid gesê: ‘Ek verstaan jou probleme ten volle; ek weet werklik wat jy deurmaak.’ Daarna het Jesus bygevoeg, met die medelye sowel as die gesag wat hy verkry het as gevolg van sy eie lyding tot in die dood: “Wees selfs tot in die dood getrou, en ek sal jou die kroon van die lewe gee.”—Openbaring 2:8-10.
18 Die briewe aan die sewe gemeentes is vol uitdrukkings wat toon dat Jesus ten volle bewus was van sy dissipels se probleme en wat sy opregte waardering vir hulle lewe van onkreukbaarheid weerspieël (Openbaring 2:1–3:22). Hou in gedagte dat diegene met wie Jesus gepraat het, gesalfde Christene was wat die hoop gehad het om saam met hom in die hemel te regeer. Net soos hulle Heer, is hulle voorberei vir hulle verhewe rol om die voordele van Christus se losprysoffer met die grootste medelye ten behoewe van die siek mensdom aan te wend.—Openbaring 5:9, 10; 22:1-5.
19, 20. Hoe toon diegene wat die “groot menigte” uitmaak, hulle waardering teenoor Jehovah en sy Seun?
19 Jesus se liefde vir sy gesalfde volgelinge word natuurlik ook uitgebrei tot sy lojale “ander skape”, waarvan daar nou miljoene is wat die toekomstige “groot menigte . . . uit alle nasies” uitmaak, wat die komende “groot verdrukking” sal oorleef (Johannes 10:16; Openbaring 7:9, 14). Hierdie persone stroom na Jesus se sy uit waardering vir sy losprysoffer en hulle hoop op die ewige lewe. Hoe toon hulle hulle waardering? Hulle doen dit deur ‘dag en nag heilige diens aan God te verrig’.—Openbaring 7:15-17.
20 Die wêreldrapport vir die 2006-diensjaar, wat op bladsye 27 tot 30 verskyn, voorsien duidelike bewys dat hierdie getroue bedienaars werklik “dag en nag heilige diens” aan Jehovah verrig. Trouens, gedurende dié een jaar het hulle, saam met die betreklike klein oorblyfsel van gesalfde Christene, altesaam 1 333 966 199 uur aan die openbare bediening gewy—gelykstaande aan ver oor die 150 000 jaar!
Gaan voort om waardering te toon!
21, 22. (a) Waarom moet Christene veral vandag op hulle hoede wees met betrekking tot die betoning van waardering? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
21 In hulle handelinge met onvolmaakte mense het Jehovah en sy Seun sulke diep waardering getoon dat dit werklik oorweldigend is. Maar ongelukkig dink die meeste mense nie veel aan God nie en fokus hulle eerder op hulle eie belange. Paulus het in ’n beskrywing van mense wat in “die laaste dae” lewe, gesê: “Mense sal absoluut egosentries word, geldgierig . . . Hulle sal absoluut geen dankbaarheid toon nie” (2 Timoteus 3:1-5, Phillips). Hoe verskil sulke persone tog van ware Christene, wat deur middel van opregte gebed, gewillige gehoorsaamheid en heelhartige diens hulle waardering toon vir alles wat God vir hulle gedoen het!—Psalm 62:8; Markus 12:30; 1 Johannes 5:3.
22 In die volgende artikel sal ons party van die talle geestelike voorsienings hersien wat Jehovah liefdevol vir ons beskikbaar gemaak het. Mag ons waardering selfs groter word wanneer ons oor hierdie ‘goeie gawes’ nadink.—Jakobus 1:17.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe het Jehovah getoon dat hy ’n waarderende God is?
• Hoe kan ons Jehovah se hart bly maak wanneer ons alleen is?
• Op watter maniere het Jesus waardering getoon?
• Hoe het die feit dat Jesus as ’n mens gelewe het, hom gehelp om ’n medelydende en waarderende heerser te wees?
[Prent op bladsy 17]
Soos ’n ouer ’n eenvoudige geskenk van haar kind waardeer, waardeer Jehovah dit wanneer ons hom ons beste gee