Hoofstuk 112
Jesus se laaste Pasga is ophande
TOE Dinsdag, 11 Nisan, ten einde begin loop, sluit Jesus die onderrigting van sy apostels op die Olyfberg af. Dit was vir jou ’n besige, vermoeiende dag! Nou, moontlik terwyl hulle op pad terug is na Betanië om daar te gaan vernag, sê hy vir sy apostels: “Julle weet dat oor twee dae die pasga kom, dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig [“aan ’n paal gehang”, NW] te word.”
Jesus bring blykbaar die volgende dag, Woensdag, 12 Nisan, in rustige afsondering saam met sy apostels deur. Die vorige dag het hy die godsdiensleiers in die openbaar geroskam, en hy besef dat hulle hom om die lewe wil bring. Daarom verskyn hy nie Woensdag in die openbaar nie, want hy wil nie hê dat enigiets moet keer dat hy die volgende aand die Pasga saam met sy apostels vier nie.
Intussen het die owerpriesters en die ouderlinge van die volk op die binneplaas van die hoëpriester, Kajafas, bymekaargekom. Hulle is nog ontsteld oor Jesus se aanval die vorige dag, en hulle beraam planne om hom met lis gevange te neem en om die lewe te laat bring. Maar hulle bly sê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.” Hulle is bang vir die volk, wat Jesus goedgesind is.
Terwyl die godsdiensleiers boosaardig saamsweer om Jesus om die lewe te bring, kry hulle ’n besoeker. Dit is, tot hulle verbasing, een van Jesus se apostels, Judas Iskariot, die een by wie Satan die bose gedagte laat posvat het om sy Meester te verraai! Hoe ingenome is hulle tog wanneer Judas vra: “Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer?” Hulle stem met genoeë in om hom 30 silwerstukke, die prys van ’n slaaf volgens die Mosaïese Wetsverbond, te betaal. En van nou af soek Judas ’n goeie geleentheid om Jesus aan hulle oor te lewer wanneer daar nie ’n skare is nie.
Wanneer die son Woensdag ondergaan, breek 13 Nisan aan. Jesus het Vrydag van Jerigo af aangekom; dit is dus die sesde en laaste nag wat hy in Betanië deurbring. Die volgende dag, Donderdag, sal hulle die finale voorbereidings vir die Pasga moet tref, wat teen sononder sal begin. Dan moet die Paaslam geslag en heel gebraai word. Waar sal hulle die fees vier, en wie sal dit vir hulle berei?
Jesus het nie hierdie besonderhede aan hulle verstrek nie, moontlik om te voorkom dat Judas die owerpriesters in kennis stel sodat hulle Jesus gedurende die Pasgaviering in hegtenis kan neem. Maar nou, waarskynlik vroeg Donderdagmiddag, stuur Jesus Petrus en Johannes van Betanië af en sê: “Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet.”
“Waar wil U hê moet ons dit berei?” vra hulle.
Jesus verduidelik: “As julle in die stad ingaan, sal ’n man julle ontmoet wat ’n kruik water dra; volg hom na die huis waar hy ingaan. En julle moet vir die eienaar van die huis sê: Die Meester vra u—waar is die kamer waar Ek die pasga met my dissipels kan eet? En hy sal julle ’n groot bovertrek wys wat reggemaak is; daar moet julle dit berei.”
Die huiseienaar is ongetwyfeld ’n dissipel van Jesus wat moontlik verwag dat Jesus hom sal vra om sy huis vir hierdie spesiale geleentheid te gebruik. In alle geval, toe Petrus en Johannes in Jerusalem aankom, vind hulle alles presies soos Jesus voorspel het. Hulle twee sorg dus dat die lam gereed is en dat al die ander reëlings getref is vir die 13 Pasgavierders, Jesus en sy 12 apostels. Mattheüs 26:1-5, 14-19; Markus 14:1, 2, 10-16; Lukas 22:1-13; Exodus 21:32.
▪ Wat doen Jesus blykbaar Woensdag, en waarom?
▪ Watter vergadering word by die hoëpriester se huis gehou, en met watter doel besoek Judas die godsdiens-leiers?
▪ Vir wie stuur Jesus Donderdag in Jerusalem in, en met watter doel?
▪ Wat tref hierdie twee wat Jesus gestuur het daar aan wat weer eens sy wonderkragte toon?