Die Eucharistie—Die feite agter die ritueel
REGOOR die wêreld hou mense gereeld die seremonie—hetsy hulle dit etlike kere per jaar, weekliks of selfs daagliks doen. Nogtans word dit ’n geheim van die geloof genoem, en baie van dié wat dit beoefen, beweer nie dat hulle dit verstaan nie. Dit word as heilig beskou en is selfs veronderstel om ’n wonderwerk te wees.
Die seremonie is die Eucharistie—die deel van die Katolieke mis wanneer die priester ’n seën oor die brood en wyn uitspreek en die gemeente nooi om Christus in Heilige Gemeenskap te ontvang.a Pous Benediktus XVI het gesê dat hierdie seremonie vir Katolieke “die volheid sowel as die kern van ons geloof” is. Onlangs het die kerk die “Jaar van die Eucharistie” gevier as deel van ’n poging om “eucharistiese geloof opnuut aan te wakker en te laat toeneem”.
Selfs Katolieke wat twyfelgedagtes oor hulle geloof het, voel sterk oor hierdie ritueel. In ’n onlangse essay in die tydskrif Time het ’n vrou wat as ’n jong, progressiewe Katoliek beskryf word, byvoorbeeld geskryf: “Ongeag watter probleme ons het met die leerstellings van die Katolieke Kerk, ons klou nog steeds vas aan wat ons saambind in die Katolieke Geloof: ons lojaliteit aan die viering van die Eucharistie.”
Maar wat is die Eucharistie? Word daar van Christus se volgelinge verwag om dit te onderhou? Kom ons kyk eers hoe die tradisie van die Eucharistie ontwikkel het. Dan kan ons die aandag op ’n belangriker vraag vestig: Is die Eucharistie werklik soos die herdenking wat Jesus Christus byna 2 000 jaar gelede ingestel het?
Die Eucharistie en die Christendom
Dit is nie moeilik om te verstaan waarom die Eucharistie as ’n wonderwerk beskou word nie. Die belangrikste oomblik van die seremonie is tydens die eucharistiese gebed. Op daardie oomblik, sê die Catechism of the Catholic Church, laat “die krag van die woorde en die inwerking van Christus tesame met die krag van die Heilige Gees” Jesus se liggaam en bloed “sakramenteel teenwoordig” word. Nadat die priester van die brood geëet en van die wyn gedrink het, nooi hy die gelowiges om die Nagmaal te ontvang, gewoonlik deur net die brood, of die hostie, te eet.
Die Katolieke Kerk leer dat die brood en die wyn wonderbaarlik in die letterlike liggaam en bloed van Christus verander word—’n leerstelling wat transsubstansiasie genoem word. Hierdie lering het geleidelik ontstaan en die woord is eers in die 13de eeu vir die eerste keer gedefinieer en amptelik in gebruik geneem. In die dae van die Protestantse Hervorming is sekere aspekte van die Katolieke Eucharistie bevraagteken. Luther het die leerstelling van transsubstansiasie ten gunste van konsubstansiasie verwerp. Daar is ’n fyn onderskeid tussen die twee. Luther het geleer dat die vlees en bloed van Jesus aanwesig is in die brood en die wyn, eerder as dat dit daarin verander word.
Mettertyd het ander verskille met betrekking tot die betekenis van die Eucharistie sowel as die manier waarop en hoe dikwels dit gevier is, onder die kerke van die Christendom ontstaan. Nietemin word hierdie ritueel nou nog, ongeag die vorm daarvan, dwarsdeur die Christendom as uiters belangrik beskou. Maar watter vorm het die oorspronklike herdenking wat Jesus ingestel het, aangeneem?
Die instelling van “die Here se aandmaal”
Jesus self het “die Here se aandmaal”, of die Herdenking van sy dood, ingestel (1 Korintiërs 11:20, 24). Maar het hy ’n geheimsinnige ritus ingestel waartydens sy volgelinge werklik sy liggaam sou eet en sy bloed sou drink?
Jesus het pas die Joodse Pasga gevier en Judas Iskariot, die apostel wat hom sou verraai, uitgestuur. Matteus, een van die 11 apostels wat daar teenwoordig was, het geskryf: “Terwyl hulle verder geëet het, het Jesus ’n brood geneem, en nadat hy ’n seën gevra het, het hy dit gebreek en dit vir die dissipels gegee en gesê: ‘Neem, eet. Dit beteken my liggaam.’ Ook het hy ’n beker geneem, en nadat hy gedank het [Grieks, eu·kha·ri·ste΄sas], het hy dit vir hulle gegee en gesê: ‘Drink almal daaruit; want dit beteken my “bloed van die verbond”, wat vir baie uitgestort sal word tot vergifnis van sondes.’”—Matteus 26:26-28.
Dit was vir Jesus, soos vir alle knegte van God, doodnatuurlik om ’n seën te vra oor die kos (Deuteronomium 8:10; Matteus 6:11; 14:19; 15:36; Markus 6:41; 8:6; Johannes 6:11, 23; Handelinge 27:35; Romeine 14:6). Is daar enige rede om te glo dat Jesus deur hierdie dankgebed ook ’n wonderwerk verrig het, waardeur sy volgelinge letterlik sy vlees en bloed kon inneem?
“Dit beteken” of “dit is”?
Toegegee, party Bybelvertalings vertaal Jesus se woorde soos volg: “Neem, eet; dit is my liggaam”, en: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed.” (Matteus 26:26-28; Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling; Ou Afrikaanse Bybelvertaling; ons kursiveer.) Dit is ook waar dat die Griekse woord e·stin΄, ’n vorm van die Griekse werkwoord “om te wees”, eintlik “is” beteken. Maar dieselfde werkwoord kan ook “dui op” beteken. Interessant genoeg, hierdie werkwoord word in baie Bybelvertalings dikwels vertaal as “beteken” of “staan vir”.b Die konteks bepaal wat die akkuraatste vertaling is. Byvoorbeeld, in Matteus 12:7 word e·stin in baie Bybelvertalings as “beteken” vertaal: “As julle geweet het wat dit beteken [Grieks, e·stin]: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie.”—Ou Afrikaanse Bybelvertaling.
In hierdie verband stem baie gerespekteerde Bybelgeleerdes saam dat die woord “is” nie die gedagte wat Jesus hier oorgedra het, akkuraat weergee nie. Byvoorbeeld, met inagneming van die kultuur en gemeenskap waarin Jesus gelewe het, het Jacques Dupont tot die gevolgtrekking gekom dat “die natuurlikste” vertaling van die vers moet wees: “Dit beteken my liggaam” of: “Dit verteenwoordig my liggaam.”
In ieder geval, Jesus kon nie bedoel het dat sy volgelinge letterlik sy vlees moes eet en sy bloed moes drink nie. Waarom nie? Ná die Vloed van Noag se dag, toe God vir die mens toestemming gegee het om die vlees van diere te eet, het hy die mens uitdruklik verbied om bloed in te neem (Genesis 9:3, 4). Hierdie gebod is in die Mosaïese Wet herhaal, waaraan Jesus ten volle gehoorsaam was (Deuteronomium 12:23; 1 Petrus 2:22). En die apostels is deur die heilige gees geïnspireer om die verbod op die inneem van bloed te herhaal, sodat daardie wet vir alle Christene bindend sou wees (Handelinge 15:20, 29). Sou Jesus ’n herdenking instel wat van sy volgelinge sou vereis om ’n heilige bevel van God die Almagtige te skend? Onmoontlik!
Dit is dus duidelik dat Jesus die brood en wyn as simbole gebruik het. Die ongesuurde brood het sy sondelose liggaam wat geoffer sou word, beteken, of verteenwoordig. Die rooi wyn het sy bloed beteken wat “vir baie” uitgestort sou word “tot vergifnis van sondes”.—Matteus 26:28.
Die doel van die Here se Aandmaal
Jesus het die eerste herdenking van die Here se Aandmaal met hierdie woorde afgesluit: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen” (Lukas 22:19). Die herdenking help ons beslis om aan Jesus te dink, asook aan die wonderlike dinge wat deur sy dood tot stand gebring is. Dit herinner ons daaraan dat Jesus die soewereiniteit van sy Vader, Jehovah, ondersteun het. Dit herinner ons ook daaraan dat Jesus deur middel van sy dood as ’n volmaakte, sondelose mens “sy siel . . . as ’n losprys in ruil vir baie” gegee het. Die losprys maak dit moontlik dat enigiemand wat in sy offerande geloof beoefen, van sonde vrygemaak kan word en die ewige lewe kan verkry.—Matteus 20:28.
Maar die Here se Aandmaal is hoofsaaklik ’n gemeenskaplike maal. Die betrokkenes is (1) Jehovah God, wat gereël het dat die losprys betaal word, (2) Jesus Christus, “die Lam van God”, wat die losprys voorsien het en (3) Jesus se geestelike broers. Deur die brood te eet en die wyn te drink, toon laasgenoemdes dat hulle ten volle in eenheid met Christus is (Johannes 1:29; 1 Korintiërs 10:16, 17). Hulle toon ook dat hulle in “die nuwe verbond” is as geesgesalfde dissipels van Jesus. Dit is hulle wat saam met Christus in die hemel as konings en priesters sal regeer.—Lukas 22:20; Johannes 14:2, 3; Openbaring 5:9, 10.
Wanneer moet die Gedenkmaal gehou word? Die antwoord word duidelik wanneer ons onthou dat Jesus ’n spesifieke dag gekies het om hierdie herdenking in te stel—die Pasga. Meer as 1 500 jaar lank het God se volk daardie dag jaarliks gevier, op 14 Nisan op hulle kalender, ter herdenking van ’n merkwaardige reddingsdaad wat Jehovah vir sy volk verrig het. Jesus het klaarblyklik vir sy volgelinge opdrag gegee om die veel groter reddingsdaad wat God deur die dood van Christus moontlik gemaak het, op dieselfde dag te herdenk. Jesus se ware volgelinge woon die Here se Aandmaal dus elke jaar by op die dag wat ooreenstem met 14 Nisan op die Hebreeuse kalender.
Doen hulle dit omdat hulle van rituele hou? Om die waarheid te sê, dit is wat baie aantrek tot die viering van die Eucharistie. Die skryfster van die voormelde essay in die tydskrif Time het gesê: “Deelname aan ou rituele wat deur soveel ander beoefen word, bring groot innerlike kalmte mee.” Soos etlike Katolieke van vandag, verkies dié skryfster dat die seremonie soos in die verlede in Latyn gehou word. Waarom? Sy skryf: “Ek wil hoor hoe die Mis gesing word in ’n taal wat ek nie verstaan nie, want alte dikwels hou ek nie van wat ek in Engels hoor nie.”
Jehovah se Getuies, tesame met miljoene belangstellendes, geniet dit om die Here se Aandmaal in hulle eie taal te herdenk, ongeag waar hulle woon. Hulle geniet dit om die betekenis en waarde van Christus se dood beter te kan verstaan. Hierdie waarhede verdien om deur die hele jaar oordink en bespreek te word. Die Getuies vind dat die herdenking van die Gedenkmaal die beste manier is om aan te hou dink aan die groot liefde van Jehovah God en van sy Seun, Jesus Christus. Dit help hulle om aan te hou “om die dood van die Here te verkondig, totdat hy kom”.—1 Korintiërs 11:26.
[Voetnote]
a Die seremonie word ook die Here se Aandmaal genoem, sowel as die breek van die brood, die Eucharistiese vergadering, die Heilige Misoffer, die Heilige Sakrament van die Altaar, Nagmaal en die Heilige Mis. Die woord “Eucharistie” is afgelei van die Grieks eu·kha·ri·sti΄a, wat dankbaarheid of danksegging beteken.
b Sien byvoorbeeld Matteus 13:38; 27:46; Lukas 8:11; Galasiërs 4:24 soos dit in The New English Bible vertaal word.
[Lokteks op bladsy 27]
Watter vorm het die oorspronklike herdenking wat Jesus ingestel het, aangeneem?
[Prent op bladsy 28]
Jesus het die Herdenking van sy dood ingestel
[Prent op bladsy 29]
Die Herdenking van Jesus Christus se dood