Wie is die belangrikste persoon in jou lewe?
“U alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde.”—PS. 83:18.
1, 2. Waarom is dit nie genoeg om net Jehovah se naam te ken wanneer dit by ons persoonlike redding kom nie?
MISKIEN het jy Jehovah se naam die eerste keer gesien toe dit vir jou in Psalm 83:18 gewys is. Jy was dalk verbaas om hierdie woorde te lees: “Sodat mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.” Sedertdien het jy ongetwyfeld dieselfde teks gebruik om ander te help om ons liefdevolle God, Jehovah, te leer ken.—Rom. 10:12, 13.
2 Hoewel dit vir mense belangrik is om Jehovah se naam te ken, is hierdie kennis op sigself nie genoeg nie. Let op hoe die psalmis die aandag vestig op nog ’n waarheid wat noodsaaklik is vir ons redding wanneer hy sê: “U alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde.” Ja, Jehovah is die belangrikste Persoon in die ganse heelal. As die Skepper van alles het hy die reg om algehele onderdanigheid van al sy skepsele te verwag (Op. 4:11). Met goeie rede moet ons ons dan afvra: ‘Wie is die belangrikste persoon in my lewe?’ Dit is noodsaaklik dat ons ons antwoord op hierdie vraag noukeurig ontleed!
Die geskil in die tuin van Eden
3, 4. Hoe het Satan dit reggekry om Eva te bedrieg, en met watter gevolg?
3 Die erns van hierdie vraag blyk duidelik uit die gebeure wat in die tuin van Eden ontvou het. Daar het die opstandige engel wat later Satan die Duiwel genoem is, die eerste vrou, Eva, verlok om haar eie begeertes bo Jehovah se bevel te stel om nie van die vrugte van ’n sekere boom te eet nie (Gen. 2:17; 2 Kor. 11:3). Sy het voor hierdie versoeking geswig en sodoende ’n gebrek aan respek vir Jehovah se soewereiniteit getoon. Eva het Jehovah nie as die belangrikste Persoon in haar lewe erken nie. Maar hoe het Satan dit reggekry om Eva te bedrieg?
4 Satan het verskeie subtiele metodes in sy gesprek met Eva gebruik. (Lees Genesis 3:1-5.) Eerstens, Satan het nie Jehovah se persoonlike naam gebruik nie. Hy het eenvoudig van “God” gepraat. In teenstelling hiermee het die skrywer van Genesis Jehovah se persoonlike naam in die eerste vers van hierdie hoofstuk gebruik. Tweedens, in plaas daarvan om van God se “bevel” te praat, het Satan bloot gevra oor wat God “gesê” het (Gen. 2:16). Op hierdie subtiele wyse het Satan moontlik hierdie bevel as onbelangrik probeer afmaak. Derdens, al het hy net met Eva gepraat, het hy die meervoudsvorm “julle” gebruik. Hierdeur het hy dalk ’n beroep op haar trots probeer doen in ’n poging om haar belangrik te laat voel—asof sy die woordvoerder vir haar en haar man is. Die gevolg? Eva het dit blykbaar op haar geneem om namens hulle albei te praat deur vir die slang te sê: “Van die vrugte van die bome van die tuin mag ons eet.”
5. (a) Waarop het Satan Eva laat fokus? (b) Wat het Eva getoon deur van die verbode vrugte te eet?
5 Satan het ook die feite verdraai. Hy het te kenne gegee dat God onregverdig is omdat hy gesê het dat Adam en Eva “nie van al die bome van die tuin mag eet nie”. Vervolgens het Satan Eva so ver gekry om aan haarself te dink en aan hoe sy kwansuis haar lot in die lewe kan verbeter en “soos God” kan word. Uiteindelik het hy haar gekry om eerder op die boom en sy vrugte te fokus as op haar verhouding met die Een wat haar alles gegee het. (Lees Genesis 3:6.) Deur van die vrugte te eet, het Eva ongelukkig getoon dat Jehovah nie die belangrikste Persoon in haar lewe is nie.
Die geskil in Job se dag
6. Hoe het Satan Job se rekord van onkreukbaarheid bevraagteken, en watter geleentheid het dit Job gebied?
6 Eeue later het die getroue man Job die geleentheid gehad om te toon wie die belangrikste Persoon in sy lewe is. Toe Jehovah Satan met Job se rekord van onkreukbaarheid gekonfronteer het, het Satan geantwoord: “Is dit verniet dat Job God gevrees het?” (Lees Job 1:7-10.) Satan het nie ontken dat Job gehoorsaam is aan God nie. Hy het eerder Job se beweegredes bevraagteken. Hy het Job op slinkse wyse daarvan beskuldig dat hy Jehovah nie uit liefde dien nie, maar om selfsugtige redes. Net Job kon hierdie aantyging beantwoord, en hy is die geleentheid gebied om dit te doen.
7, 8. Met watter beproewinge het Job te kampe gehad, en wat het hy deur sy getroue volharding getoon?
7 Jehovah het Satan toegelaat om ’n klomp rampe oor Job te bring, die een ná die ander (Job 1:12-19). Hoe het Job op hierdie ommekeer in sy omstandighede gereageer? Daar word vir ons gesê dat hy “nie gesondig of enigiets ongepas aan God toegeskryf [het] nie” (Job 1:22). Maar dit het Satan nog steeds nie die swye opgelê nie. Hy het verder gekla: “Vel vir vel, en alles wat ’n mens het, sal hy gee vir sy siel” (Job 2:4).a Satan het beweer dat Job, as hy persoonlik sou ly, sou besluit dat Jehovah nie die belangrikste Persoon in sy lewe is nie.
8 Job se voorkoms is deur ’n walglike siekte geskend, en toe het sy vrou druk op hom uitgeoefen om God te vervloek en te sterf. Later het drie valse vertroosters hom van wangedrag beskuldig (Job 2:11-13; 8:2-6; 22:2, 3). Maar deur al hierdie lyding heen het Job geweier om sy onkreukbaarheid prys te gee. (Lees Job 2:9, 10.) Deur sy getroue volharding het hy getoon dat Jehovah die belangrikste Persoon in sy lewe is. Job het ook getoon dat dit vir ’n onvolmaakte mens moontlik is om, hoewel in beperkte mate, ’n antwoord op die valse aantygings van die Duiwel te voorsien.—Vergelyk Spreuke 27:11.
Jesus se volmaakte antwoord
9. (a) Hoe het Satan Jesus probeer versoek met betrekking tot persoonlike begeertes? (b) Hoe het Jesus op hierdie versoeking gereageer?
9 Kort ná Jesus se doop het Satan Jesus probeer verlok om selfsugtige begeertes na te streef in plaas daarvan om Jehovah die belangrikste Persoon in sy lewe te laat bly. Die Duiwel het Jesus aan drie versoekings onderwerp. Eers het hy ’n beroep op vleeslike begeertes gedoen en Jesus versoek om klippe in brode te verander (Matt. 4:2, 3). Jesus het pas tevore 40 dae lank gevas en was baie honger. Die Duiwel het hom dus aangespoor om sy wonderdadige kragte te misbruik om sy honger te stil. Hoe het Jesus gereageer? In teenstelling met Eva het Jesus op Jehovah se Woord gefokus en die versoeking onmiddellik verwerp.—Lees Matteus 4:4.
10. Waarom het Satan Jesus uitgedaag om van die muur van die tempel af te spring?
10 Satan het Jesus ook probeer aanpor om selfsugtig te reageer. Hy het Jesus uitgedaag om van die muur van die tempel af te spring (Matt. 4:5, 6). Wat het Satan probeer bereik? Satan het beweer dat dit sou bewys dat Jesus “’n seun van God” is as hy nie deur die val beseer word nie. Dit is duidelik dat die Duiwel wou hê dat Jesus uitermate besorg oor sy reputasie moet wees sodat hy selfs iets opspraakwekkends sou doen. Satan het geweet dat ’n persoon moontlik ’n gevaarlike uitdaging sal aanvaar uit trots en weens ’n begeerte om nie aansien te verloor nie. Satan het ’n teks verkeerd toegepas, maar Jesus het getoon dat Hy ’n volledige begrip van Jehovah se Woord het. (Lees Matteus 4:7.) Deur hierdie uitdaging te verwerp, het Jesus weer bewys dat Jehovah die belangrikste Persoon in sy lewe is.
11. Waarom het Jesus die Duiwel se aanbod van al die koninkryke van die wêreld verwerp?
11 In ’n laaste wanhopige poging het Satan vir Jesus al die koninkryke van die wêreld aangebied (Matt. 4:8, 9). Jesus het die aanbod onmiddellik verwerp. Hy het besef dat hy, as hy dit sou aanvaar, as ’t ware Jehovah se soewereiniteit—God se reg om die Allerhoogste te wees—sou verwerp. (Lees Matteus 4:10.) Jesus het Satan elke keer geantwoord deur tekste aan te haal wat Jehovah se persoonlike naam bevat.
12. Voor watter moeilike besluit het Jesus naby die einde van sy aardse loopbaan te staan gekom, en wat leer ons uit die manier waarop hy op hierdie besluit gereageer het?
12 Naby die einde van sy aardse loopbaan het Jesus voor ’n baie moeilike besluit te staan gekom. Gedurende sy hele bediening het hy sy bereidwilligheid uitgespreek om sy lewe as ’n offerande te gee (Matt. 20:17-19, 28; Luk. 12:50; Joh. 16:28). Maar Jesus het besef dat hy ook valslik daarvan beskuldig sou word dat hy ’n lasteraar is en onder die Joodse regstelsel as sodanig skuldig bevind en tereggestel sou word. Hierdie aspek van sy dood het hom diep verontrus. Hy het gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by my verbygaan.” Maar hy het verder gesê: “Nogtans nie soos ek wil nie, maar soos u wil” (Matt. 26:39). Ja, Jesus se getrouheid tot sy dood het sonder twyfel bewys wie die belangrikste Persoon in sy lewe is!
Ons antwoord op die vraag
13. Watter lesse het ons tot dusver uit Eva, Job en Jesus Christus se voorbeeld geleer?
13 Wat het ons tot dusver geleer? Eva se geval leer ons dat diegene wat voor selfsugtige begeertes of verwaandheid swig, toon dat Jehovah nie die belangrikste Persoon in hulle lewe is nie. Daarenteen leer ons uit Job se weg van onkreukbaarheid dat selfs onvolmaakte mense kan toon dat hulle Jehovah eerste stel deur teëspoed getrou te verduur—selfs wanneer hulle nie die oorsaak daarvan ten volle verstaan nie (Jak. 5:11). Laastens leer Jesus se voorbeeld ons dat ons bereid moet wees om skande te verduur en om nie te veel waarde aan ons persoonlike reputasie te heg nie (Heb. 12:2). Maar hoe kan ons hierdie lesse toepas?
14, 15. Hoe het Jesus se reaksie op versoekings verskil van dié van Eva, en hoe kan ons Jesus navolg? (Lewer kommentaar oor die prent op bladsy 18.)
14 Moet nooit toelaat dat versoekings jou van Jehovah laat vergeet nie. Eva het toegelaat dat haar aandag gevestig word op die versoeking wat reg voor haar was. Sy het gesien dat die vrugte “goed is vir voedsel en dat dit ’n lus vir die oë is, ja, die boom was begeerlik om na te kyk” (Gen. 3:6). Hoe verskil dit tog van Jesus se reaksie op die drie versoekings! Hy het elke keer verder as die versoeking reg voor hom gekyk en oor die gevolge van sy dade gedink. Hy het op God se Woord vertrou en ook Jehovah se naam gebruik.
15 Waarop vestig ons ons aandag wanneer ons in die versoeking kom om iets te doen wat Jehovah mishaag? Hoe meer ons op die versoeking fokus, hoe sterker sal die verkeerde begeerte wees (Jak. 1:14, 15). Ons moet gou optree om van die begeerte ontslae te raak, al lyk die handeling so drasties soos om ’n liggaamsdeel te verwyder (Matt. 5:29, 30). Soos Jesus, moet ons fokus op die gevolge van ons dade—hoe dit ons verhouding met Jehovah sal raak. Ons moet dink aan wat sy Woord, die Bybel, sê. Slegs op hierdie wyse kan ons bewys dat Jehovah die belangrikste Persoon in ons lewe is.
16-18. (a) Wat kan ons hart beswaar laat word? (b) Wat sal ons help om ondanks angswekkende omstandighede voort te gaan?
16 Moet nooit toelaat dat persoonlike tragedies jou teen Jehovah verbitterd laat raak nie (Spr. 19:3). Terwyl die einde van hierdie goddelose wêreld al hoe nader kom, word al hoe meer van Jehovah se knegte deur rampe en tragedies geraak. Ons verwag nie nou wonderdadige beskerming nie. Nietemin vind ons dalk, soos Job, dat ons hart beswaar is wanneer ons geliefdes aan die dood afstaan of persoonlike probleme ondervind.
17 Job het nie verstaan waarom Jehovah sekere dinge laat gebeur het nie, en soms verstaan ons moontlik nie waarom slegte dinge gebeur nie. Ons hoor dalk van getroue broers wat dood is in ’n aardbewing, soos dié in Haïti, of in ’n ander natuurramp. Of ons weet miskien van ’n handhawer van onkreukbaarheid wat ’n slagoffer van ’n gewelddaad geword het of in ’n verskriklike ongeluk omgekom het. Of ons word moontlik self deur angswekkende omstandighede of vermeende onregte geteister. Ons beangste hart roep dalk uit: ‘Waarom, Jehovah. Waarom ek? Wat het ek verkeerd gedoen?’ (Hab. 1:2, 3). Wat sal ons in sulke tye help om voort te gaan?
18 Ons moet oppas om nie aan te neem dat sulke gebeure ’n aanduiding van Jehovah se misnoeë is nie. Jesus het hierdie feit beklemtoon toe hy na twee tragedies in sy dag verwys het. (Lees Lukas 13:1-5.) Baie rampspoede is die gevolg van “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” (Pred. 9:11). Maar ongeag die oorsaak van ons angs, ons kan voortgaan as ons ons aandag op “die God van alle vertroosting” gevestig hou. Hy sal ons die nodige krag gee om getrou voort te gaan.—2 Kor. 1:3-6.
19, 20. Wat het Jesus gehelp om vernederende situasies te verduur, en wat kan ons help om dit ook te doen?
19 Moet nooit toelaat dat trots of vrees vir skande vir jou die hoofsaak word nie. Jesus se nederigheid het hom in staat gestel om ‘homself te ontledig en ’n slaaf se gedaante aan te neem’ (Fil. 2:5-8). Hy kon talle vernederende situasies verduur danksy sy vertroue op Jehovah (1 Pet. 2:23, 24). Sodoende het Jesus Jehovah se wil eerste gestel, en dit het daartoe gelei dat hy tot ’n hoër posisie verhef is (Fil. 2:9). Jesus het aanbeveel dat sy dissipels dieselfde lewensweg volg.—Matt. 23:11, 12; Luk. 9:26.
20 Sekere toetse van ons geloof kan ons soms in die verleentheid bring. Ons moet nietemin dieselfde vertroue hê as die apostel Paulus, wat gesê het: “Juis om hierdie rede ly ek ook hierdie dinge, maar ek skaam my nie. Want ek ken die een in wie ek geglo het, en ek het die vaste vertroue dat hy die pand wat ek aan hom toevertrou het, tot daardie dag toe kan bewaar.”—2 Tim. 1:12.
21. Wat is jy vasbeslote om te doen ondanks die wêreld se selfsugtige gesindheid?
21 Die Bybel het voorspel dat mense in ons tyd “liefhebbers van hulleself” sal wees (2 Tim. 3:2). Dit is dus geen wonder dat ons deur ’n egoïstiese geslag omring word nie. Mag ons nooit deur hierdie selfsugtige gesindheid besmet word nie! Laat elkeen van ons, hetsy ons voor versoekings te staan kom, deur tragedies geteister word of te kampe het met pogings om ons beskaamd te maak, eerder vasbeslote wees om te bewys dat Jehovah inderdaad die belangrikste Persoon in ons lewe is!
[Voetnoot]
a Sommige Bybelgeleerdes meen dat die uitdrukking “vel vir vel” moontlik te kenne gee dat Job uit selfsug bereid sou wees om sy kinders en diere hulle vel, of lewe, te laat verloor solank hy sy eie vel, of lewe, kon behou. Ander meen dat die uitdrukking dit beklemtoon dat ’n persoon bereid sal wees om van sy vel te verloor as dit beteken dat sy lewe gespaar word. ’n Persoon sal byvoorbeeld sy arm oplig om te keer dat sy kop raak geslaan word en sodoende van sy vel verloor om sy vel te red. Wat die idioom ook al beteken het, dit het klaarblyklik te kenne gegee dat Job met graagte alles sou prysgee solank hy sy lewe kon behou.
Wat kan ons leer uit . . .
• die manier waarop Satan Eva bedrieg het?
• Job se reaksie op persoonlike tragedies?
• wat vir Jesus van die grootste belang was?
[Prent op bladsy 17]
Eva het nie op haar verhouding met Jehovah gefokus nie
[Prent op bladsy 18]
Jesus het Satan se versoekings verwerp en daarop gefokus om Jehovah se wil te doen
[Prente op bladsy 20]
Getuieniswerk van tent tot tent ná die aardbewing in Haïti
Gedurende angswekkende tye kan ons op “die God van alle vertroosting” fokus