Wat werklik nodig is om gelukkig te wees
JEHOVAH, “die gelukkige God”, en Jesus Christus, “die gelukkige en enigste Maghebber”, weet die heel beste wat nodig is om gelukkig te wees (1 Timoteus 1:11; 6:15). Dit is dus nie verbasend dat die sleutel tot geluk in God se Woord, die Bybel, gevind word nie.—Openbaring 1:3; 22:7.
In sy beroemde Bergpredikasie beskryf Jesus wat nodig is om gelukkig te wees. Hy sê: “Gelukkig is dié” wat (1) bewus is van hulle geestelike behoefte, (2) treur, (3) saggeaard is, (4) honger en dors na regverdigheid, (5) barmhartig is, (6) suiwer van hart is, (7) vredeliewend is, (8) ter wille van regverdigheid vervolg word en (9) ter wille van hom gesmaad en vervolg word.—Matteus 5:3-11.a
Is Jesus se woorde juis?
Die juistheid van party van Jesus se stellings het min verduideliking nodig. Wie sal dit ontken dat iemand wat saggeaard, barmhartig en vredeliewend is en deur ’n suiwer hart beweeg word, gelukkiger sal wees as iemand wat kwaai, aggressief en onbarmhartig is?
Maar ons wonder dalk hoe mense wat honger en dors na regverdigheid of wat treur, gelukkig genoem kan word. Hierdie mense het ’n realistiese beskouing van wêreldtoestande. Hulle “sug en steun oor al die verfoeilike dinge wat [in ons tyd] gedoen word” (Esegiël 9:4). Dit op sigself maak hulle nie gelukkig nie. Maar wanneer hulle leer dat dit God se voorneme is om regverdige toestande op die aarde en geregtigheid vir die verdruktes teweeg te bring, ken hulle vreugde geen perke nie.—Jesaja 11:4.
Liefde vir regverdigheid laat party mense ook treur omdat hulle dikwels nie daarin slaag om te doen wat reg is nie. Hulle is dus bewus van hulle geestelike behoefte. Hierdie mense is bereid om God se leiding te vra omdat hulle besef dat hy die enigste een is wat mense kan help om hulle swakhede te oorkom.—Spreuke 16:3, 9; 20:24.
Mense wat treur, wat honger en dors na regverdigheid en wat bewus is van hulle geestelike behoefte, besef hoe belangrik dit is om ’n goeie verhouding met die Skepper te hê. ’n Goeie verhouding met mense dra by tot geluk, maar ’n goeie verhouding met God dra selfs meer daartoe by. Ja, opregte liefhebbers van wat reg is, wat bereid is om goddelike leiding te aanvaar, kan waarlik gelukkig genoem word.
Maar dit is dalk vir jou moeilik om te glo dat iemand wat vervolg en gesmaad word, gelukkig kan wees. Tog moet dit waar wees, want Jesus self het dit gesê. Hoe moet sy woorde dan verstaan word?
Vervolg maar gelukkig—Hoe kan dit wees?
Let op dat Jesus nie gesê het dat smaad en vervolging op sigself geluk meebring nie. Hy het ’n voorwaarde gestel: “Gelukkig is dié wat ter wille van regverdigheid vervolg is, . . . wanneer mense julle smaad en julle vervolg . . . ter wille van my” (Matteus 5:10, 11). Dit bring dus slegs geluk mee as ’n mens smaad verduur omdat jy ’n volgeling van Christus is en omdat jy jou lewe lei volgens die regverdige beginsels wat Jesus mense geleer het.
Dit word toegelig deur wat met die vroeë Christene gebeur het. Lede van die Sanhedrin, die Joodse Hoë Raad, “het die apostels ontbied, hulle geslaan en hulle beveel om op te hou om in Jesus se naam te spreek en hulle laat gaan”. Hoe het die apostels gereageer? “Hulle het toe van die Sanhedrin af weggegaan, bly omdat hulle waardig geag is om ter wille van sy naam oneer te ly. En hulle het elke dag in die tempel en van huis tot huis sonder ophou voortgegaan om te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak.”—Handelinge 5:40-42; 13:50-52.
Die apostel Petrus het verdere lig op die verband tussen smaad en geluk gewerp. Hy het geskryf: “As julle vir die naam van Christus gesmaad word, is julle gelukkig, omdat die gees van heerlikheid, ja, die gees van God, op julle rus” (1 Petrus 4:14). Ja, wanneer ’n mens as ’n Christen ly omdat jy doen wat reg is, bring dit die geluk mee wat voortspruit uit die wete dat jy God se heilige gees ontvang, al is die lyding onaangenaam. Hoe hou God se gees met geluk verband?
Werke van die vlees of vrugte van die gees?
God se heilige gees rus net op diegene wat God as heerser gehoorsaam (Handelinge 5:32). Jehovah gee sy gees nie aan diegene wat “die werke van die vlees” beoefen nie. Hierdie werke is “hoerery, onreinheid, losbandige gedrag, afgodediens, die beoefening van spiritisme, vyandskappe, twis, jaloesie, vlae van toorn, rusies, verdeeldhede, sektes, afgunstighede, dronkenskap, swelgerye en soortgelyke dinge” (Galasiërs 5:19-21). “Die werke van die vlees” is weliswaar baie algemeen in vandag se wêreld. Maar diegene wat dit beoefen, geniet nie ware en blywende geluk nie. Inteendeel, hierdie dinge bederf ’n mens se goeie verhouding met familielede, vriende en kennisse. Wat meer is, God se Woord sê dat diegene wat “sulke dinge beoefen, God se koninkryk nie sal beërf nie”.
In teenstelling hiermee gee God sy gees aan diegene wat “die vrugte van die gees” aankweek. Hierdie vrugte is “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Galasiërs 5:22, 23). Wanneer ons hierdie eienskappe aan die dag lê, is dit vir ons moontlik om ’n vreedsame verhouding met ander en met God te geniet, wat ware geluk meebring. (Sien venster.) Nog belangriker, as ons liefde, goedhartigheid, goedheid en ander goddelike eienskappe aan die dag lê, behaag ons Jehovah en het ons die gelukkige hoop op die ewige lewe in God se nuwe wêreld van regverdigheid.
Geluk is ’n keuse
Toe Wolfgang en Brigitte, ’n egpaar wat in Duitsland woon, die Bybel in alle erns begin bestudeer het, het hulle baie van die materiële dinge besit wat mense meen nodig is om gelukkig te wees. Hulle was jonk en gesond. Hulle het duur klere gedra, in ’n mooi versierde huis gewoon en ’n suksesvolle sakeonderneming gehad. Baie van hulle tyd is aan die najaging van meer materiële dinge bestee, maar dit het hulle nie ware geluk verskaf nie. Na verloop van tyd het Wolfgang en Brigitte egter ’n lewensbelangrike keuse gemaak. Hulle het meer tyd en moeite daaraan begin bestee om geestelike waardes na te streef en het na maniere gesoek om nader aan Jehovah te kom. Hulle keuse het gou tot ’n veranderde gesindheid gelei, wat hulle beweeg het om hulle lewe te vereenvoudig en as pioniers, of voltydse Koninkryksverkondigers, te dien. Vandag dien hulle as vrywilligers by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Duitsland. Hulle leer ook ’n Asiatiese taal sodat hulle buitelanders kan help om die waarheid in God se Woord, die Bybel, te leer.
Het hierdie egpaar ware geluk gevind? Wolfgang sê: “Vandat ons meer by die nastrewing van geestelike dinge betrokke geraak het, is ons gelukkiger en geniet ons meer bevrediging. Die feit dat ons Jehovah heelhartig dien, het ook ons huwelik versterk. Ons het vroeër ’n gelukkige huwelik gehad, maar ons het verpligtinge en belangstellings gehad wat ons in verskillende rigtings getrek het. Nou streef ons dieselfde doel eendragtig na.”
Wat is nodig om gelukkig te wees?
In ’n neutedop: Vermy “die werke van die vlees” en kweek “die vrugte van [God se] gees” aan. Om gelukkig te wees, moet ’n mens daarna hunker om ’n hegte verhouding met God te hê. Iemand wat daarna streef om dit te verkry, sal aan Jesus se beskrywing van ’n gelukkige mens voldoen.
Moet dus nie die fout maak om te dink dat geluk buite jou bereik is nie. Dit is weliswaar moontlik dat jy op die oomblik nie goeie gesondheid geniet nie of dalk selfs huweliksprobleme het. Miskien het jy nie die vreugdes van ouerskap ervaar nie, of dalk sukkel jy om ’n suksesvolle loopbaan te vind. Jou beursie is moontlik nie so vol soos dit vroeër was nie. Maar skep moed; jy het geen rede om wanhopig te wees nie! God se Koninkryksheerskappy sal hierdie en honderde ander probleme oplos. Ja, Jehovah God sal binnekort sy belofte vervul wat deur die psalmis uitgespreek is: “U koningskap is ’n koningskap vir alle onbepaalde tye . . . U maak u hand oop en bevredig die begeerte van alles wat lewe” (Psalm 145:13, 16). Soos miljoene knegte van Jehovah oral in die wêreld kan getuig, sal dit vandag baie tot jou geluk bydra as jy hierdie gerusstellende belofte van Jehovah in gedagte hou.—Openbaring 21:3.
[Voetnoot]
a Elkeen van hierdie nege saligsprekinge, soos dit gewoonlik genoem word, begin met die Griekse woord ma·kaʹri·oi. Die Nuwe Wêreld-vertaling en party ander vertalings, soos The Jerusalem Bible en Today’s English Version, gee hierdie woord nie weer met “geseënd” soos party vertalings nie, maar gebruik die juister woord “gelukkig”.
[Venster op bladsy 6]
Faktore wat tot geluk bydra
Liefde beweeg ander om jou ook lief te hê.
Vreugde gee jou die krag om uitdagings die hoof te bied.
Vrede help jou om jou verhoudings vry van onenigheid te hou.
Lankmoedigheid stel jou in staat om gelukkig te bly al verduur jy beproewinge.
Goedhartigheid trek ander na jou toe aan.
Goedheid van jou kant af beweeg ander om jou te help wanneer jy dit nodig het.
Geloof sal jou van God se liefdevolle leiding verseker.
Sagmoedigheid sal jou kalmte van gemoed, verstand en liggaam gee.
Selfbeheersing beteken dat jy minder foute sal maak.
[Prente op bladsy 7]
Om geluk te verkry, moet jy jou geestelike behoeftes bevredig