Wie is ware Christene?
“DIE Christelike godsdiens bestaan slegs waar die herinnering aan Jesus Christus in teorie en praktyk werksaam is” (On Being a Christian). Met hierdie woorde het die Switserse teoloog Hans Küng ’n onmiskenbare waarheid gemeld: Die ware Christelike godsdiens bestaan slegs waar opregte individue Jesus se leringe toepas.
Maar sê nou individue of instellings beweer dat hulle volgelinge van Christus is, maar pas in werklikheid nie toe wat Jesus geleer het nie? Jesus het self gesê dat baie sou beweer dat hulle Christene is. Hulle sou verskeie bedrywighede noem om te bewys dat hulle hom gedien het en sê: “Het ons nie in u naam geprofeteer en in u naam demone uitgedryf en in u naam talle kragtige werke verrig nie?” Maar hoe sou Jesus reageer? Sy treffende woorde spel sy oordeel uit: “Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my af, julle werkers van wetteloosheid.”—Matteus 7:22, 23.
Wat ’n kragtige waarskuwing tog vir “werkers van wetteloosheid” wat beweer dat hulle Jesus volg! Kom ons kyk na twee basiese voorwaardes wat Jesus stel vir mense wat hy as ware Christene sal erken en nie as werkers van wetteloosheid sal verwerp nie.
“As julle liefde onder mekaar het”
Een voorwaarde wat Jesus stel, is: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:34, 35.
Jesus vereis dat sy volgelinge opregte liefde vir mekaar en vir die res van die mensdom moet hê. Gedurende die eeue sedert Jesus op die aarde was, het baie individuele Christene daardie voorwaarde nagekom. Maar wat van die meeste godsdiensorganisasies wat beweer het dat hulle Christus verteenwoordig? Is hulle geskiedenis deur liefde gekenmerk? Beslis nie. Hulle was eerder op die voorpunt van tallose oorloë en konflikte waarin onskuldige bloed vergiet is.—Openbaring 18:24.
Dit is tot vandag toe die geval. Nasies wat beweer dat hulle Christelik is, het die leiding geneem in die slagting wat die twee wêreldoorloë van die 20ste eeu gekenmerk het. In onlangser tye het lidmate van sogenaamde Christenkerke die voortou geneem in die wrede gruweldade en die poging tot volksmoord in 1994 in Rwanda. “Diegene wat op hierdie grusame wyse teen mekaar gedraai het”, skryf die voormalige Anglikaanse aartsbiskop Desmond Tutu, “het dieselfde geloof bely. Die meeste was Christene.”
“As julle in my woord bly”
’n Tweede basiese vereiste waaraan die ware Christelike godsdiens moet voldoen, is deur Jesus uitgespel toe hy gesê het: “As julle in my woord bly, is julle werklik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”—Johannes 8:31, 32.
Jesus verwag dat sy volgelinge in sy woord bly—dit wil sê aan sy leringe vashou. In plaas van dit te doen, het godsdiensleiers wat beweer dat hulle Christus volg, “in toenemende mate Griekse opvattings aangeneem”, sê die teoloog Küng. Hulle het Jesus se leringe vervang met idees soos die onsterflikheid van die siel, geloof in die vaevuur, Maria-aanbidding en ’n geestelikeklas—idees wat ontleen is aan heidense godsdienste en filosowe.—1 Korintiërs 1:19-21; 3:18-20.
Godsdiensonderrigters het ook die onbegryplike Drie-eenheidsleer ingebring, wat Jesus verhef tot ’n posisie wat hy nooit vir homself toegeëien het nie. Hierdeur het hulle mense daarvan afgelei om die een te aanbid op wie Jesus altyd die aandag gevestig het—sy Vader, Jehovah (Matteus 5:16; 6:9; Johannes 14:28; 20:17). “Wanneer Jesus van God praat”, skryf Hans Küng, “bedoel hy die eertydse God van die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob: Jahweh . . . Vir hom is dit die een en enigste God.” Hoeveel mense is daar vandag wat Jesus se God en Vader onmiddellik vereenselwig met Jahweh, of Jehovah, soos sy naam oor die algemeen in Afrikaans bekend is?
Godsdiensleiers het heeltemal afgewyk van Jesus se bevel om neutraal te bly in politieke aangeleenthede. In Jesus se dag was Galilea “die middelpunt van etniese nasionalisme”, sê die skrywer Trevor Morrow. Talle Joodse patriotte het die wapen opgeneem om politieke en godsdiensvryheid te verkry. Het Jesus vir sy dissipels gesê om by sulke strewes betrokke te raak? Nee. Hy het eerder vir hulle gesê: “Julle [is] geen deel van die wêreld . . . nie” (Johannes 15:19; 17:14). Pleks van neutraal te bly, het kerkleiers egter ’n gesindheid ontwikkel wat die Ierse skrywer Hubert Butler as “militante en politieke kerkisme” beskryf. “Politieke Christelikheid”, skryf hy, “is byna altyd ook militaristiese Christelikheid, en wanneer staatsmanne en geestelikes tot ’n vergelyk kom, gebeur dit altyd dat die Kerk, in ruil vir sekere voorregte, sy seën gee aan die militêre magte van die staat.”
Valse onderrigters verloën Jesus
Die apostel Paulus het gewaarsku dat party van die ware Christelike godsdiens afvallig sou word. Hy het gesê dat daar ná sy dood “onderdrukkende wolwe” onder verklaarde Christene sou wees wat “verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (Handelinge 20:29, 30). Hulle sou ‘in die openbaar verkondig dat hulle God ken’, maar in werklikheid sou hulle ‘hom deur hulle werke verloën’ (Titus 1:16). Die apostel Petrus het eweneens gewaarsku dat valse onderrigters ‘heimlik verderflike sektes sou invoer en selfs die eienaar sou verloën wat hulle gekoop het’. Hulle slegte gedrag, het hy gesê, sou veroorsaak dat mense “die weg van die waarheid [smaad]” (2 Petrus 2:1, 2). Om Christus op hierdie wyse te verloën, sê die Griekse geleerde W. E. Vine, beteken om “die Vader en die Seun te verloën, deur afvallig te word en deur verderflike leringe te versprei”.
Hoe sal Jesus reageer as verklaarde dissipels doelbewus versuim om ‘in sy woord te bly’ en ander vereistes na te kom wat hy uiteengesit het? Hy het gewaarsku: “Elkeen wat my voor die mense verloën, hom sal ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is” (Matteus 10:33). Jesus sal natuurlik niemand verloën wat ’n fout maak ten spyte van sy opregte begeerte om getrou te wees nie. Byvoorbeeld, hoewel die apostel Petrus Jesus drie keer verloën het, het Petrus berou gehad en is hy vergewe (Matteus 26:69-75). Jesus verloën egter individue of instellings wat in der waarheid wolwe in skaapsklere is—wat voorgee dat hulle Christus volg, maar wat sy leringe doelbewus en hardnekkig verwerp. Jesus het van sulke valse onderrigters gesê: “Julle [sal] daardie mense . . . aan hulle vrugte herken.”—Matteus 7:15-20.
Die apostels sterf, en afvalligheid ontwikkel
Wanneer het valse Christene Christus begin verloën? Kort ná Jesus se dood. Hy het self gewaarsku dat Satan die Duiwel gou “onkruid”, of valse Christene, sou saai tussen die “goeie saad”, of ware Christene, wat Jesus gedurende sy bediening geplant het (Matteus 13:24, 25, 37-39). Die apostel Paulus het gewaarsku dat bedrieglike onderrigters reeds in sy dag bedrywig was. Die vernaamste rede waarom hulle van die leringe van Jesus Christus afgewyk het, het hy gesê, was omdat hulle nie opregte “liefde vir die waarheid” gehad het nie.—2 Tessalonisense 2:10.
Die apostels van Jesus Christus het as ’n teëhouer teen hierdie afvalligheid gedien terwyl hulle nog gelewe het. Maar ná die dood van die apostels het godsdiensleiers wat “allerhande kragtige werke en leuenagtige tekens en voortekens en . . . allerhande onregverdige bedrog” gebruik het om baie te mislei, al hoe meer mense afgekeer van die waarhede wat deur Jesus en sy apostels geleer is (2 Tessalonisense 2:3, 6-12). Mettertyd, skryf die Engelse filosoof Bertrand Russell, is die oorspronklike Christengemeente verander in ’n godsdiensorganisasie wat “Jesus, en selfs Paulus, sou verstom het”.
Die ware Christelike godsdiens word herstel
Die getuienis is duidelik. Baie van die dinge wat sedert die dood van die apostels in die naam van die Christelike godsdiens plaasgevind het, kan nie met Christus verbind word nie. Maar dit beteken nie dat Jesus nie sy belofte nagekom het om “al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” met sy volgelinge te wees nie (Matteus 28:20). Ons kan seker wees dat daar, sedert hy daardie woorde geuiter het, wel getroue individue was onder wie “die herinnering aan Jesus Christus in teorie en praktyk werksaam” was. Jesus Christus het sy belofte nagekom om sulke persone te ondersteun in hulle strewe om die liefde te toon wat ware Christene kenmerk en om lojaal te bly aan die waarhede wat hy geleer het.
Wat meer is, Jesus het beloof om sy getroue dissipels gedurende die laaste dae van hierdie stelsel van dinge byeen te bring in ’n duidelik herkenbare Christengemeente wat hy sou gebruik om sy wil te volbring (Matteus 24:14, 45-47). Hy gebruik nou hierdie gemeente om “’n groot menigte” mans, vroue en kinders “uit alle nasies en stamme en volke en tale” te versamel, en hy verenig hulle onder sy hoofskap in “een kudde onder een herder”.—Openbaring 7:9, 14-17; Johannes 10:16; Efesiërs 4:11-16.
Keer jou derhalwe af van enige instelling of organisasie wat gedurende die afgelope tweeduisend jaar die naam van Christus beklad het en die Christelike godsdiens oneer aangedoen het. Anders sal jy dalk, soos Jesus Christus vir die apostel Johannes gesê het, “deel van [hulle] plae . . . ontvang” wanneer God in die nabye toekoms sy oordeel aan hulle voltrek (Openbaring 1:1; 18:4, 5). Neem jou voor om onder diegene te wees van wie die profeet Miga gepraat het toe hy gesê het dat ware aanbidders—lede van die ware Christelike godsdiens—“aan die einde van die dae” sal luister na God se onderrigting en “sal [wandel] in sy paaie” van herstelde rein aanbidding (Miga 4:1-4). Die uitgewers van hierdie tydskrif sal jou met graagte help om daardie ware aanbidders te identifiseer.
[Prente op bladsy 5]
Waarom neem ware Christene nie aan oorlogvoering deel nie?
[Erkennings]
Soldate, links: U.S. National Archives photo; vlamwerper, regs: U.S. Army Photo
[Prente op bladsy 7]
Basiese voorwaardes wat Jesus vir ware Christene stel, is om ‘liefde onder mekaar te hê’ en ‘in sy woord te bly’