Hoofstuk 131
Laaste verskynings, en Pinkster 33 G.J.
OP DIE een of ander tyd reël Jesus dat al 11 sy apostels hom by ’n berg in Galilea ontmoet. Ander dissipels word blykbaar van dié samekoms vertel, en meer as 500 mense kom daar bymekaar. Wat ’n vreugdevolle byeenkoms word dit tog wanneer Jesus verskyn en hy hulle begin leer!
Jesus verduidelik onder andere aan die groot menigte dat God hom alle mag in die hemel en op aarde gegee het. “Gaan dan heen”, spoor hy hulle aan, “maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
Dink net! Mans, vroue en kinders ontvang almal dieselfde opdrag om aan die dissipelmaakwerk deel te neem. Teenstanders sal probeer om hulle te keer om te preek en te onderrig, maar Jesus vertroos hulle: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Jesus bly deur die heilige gees by sy volgelinge om hulle te help sodat hulle hul bediening kan volbring.
Jesus verskyn oor ’n tydperk van 40 dae ná sy opstanding aan sy dissipels en toon aan hulle dat hy lewe. Tydens hierdie verskynings leer hy hulle van die Koninkryk van God en beklemtoon hy wat hulle verantwoordelikhede as sy dissipels is. By een geleentheid verskyn hy selfs aan sy halfbroer Jakobus en oortuig hy hierdie voormalige ongelowige dat Hy inderdaad die Christus is.
Terwyl die apostels nog in Galilea is, sê Jesus blykbaar dat hulle na Jerusalem moet terugkeer. Toe hy hulle daar ontmoet, sê hy vir hulle: ‘Moenie van Jerusalem weggaan nie, maar wag op die belofte van die Vader, wat julle van My gehoor het. Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.’
Later vergader Jesus weer met sy apostels en lei hy hulle uit die stad tot by Betanië, wat op die oostelike hang van die Olyfberg geleë is. Ten spyte van alles wat hy oor sy naderende vertrek na die hemel gesê het, glo hulle verbasend genoeg steeds dat sy Koninkryk op die aarde opgerig gaan word. Daarom vra hulle: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”
Jesus probeer hulle nie weer reghelp nie; hy antwoord liewer net: “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie.” Dan beklemtoon hy weer eens die werk wat hulle moet doen en sê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.”
Terwyl hulle nog na Jesus kyk, begin hy hemelwaarts opvaar en dan verberg ’n wolk hom. Nadat hy sy vleeslike liggaam afgelê het, vaar hy as ’n geespersoon na die hemel op. Terwyl die 11 nog na die hemel kyk, verskyn daar 2 mans in wit klere langs hulle. Hierdie gematerialiseerde engele vra: “Galilese manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.”
Die manier waarop Jesus die aarde pas verlaat het, is sonder ’n groot ophef en net sy getroue volgelinge het dit aanskou. Hy sal dus op soortgelyke wyse terugkeer—sonder ’n groot ophef en met net sy getroue volgelinge wat waarneem dat hy teruggekeer het en dat hy sy teenwoordigheid in Koninkryksmag begin het.
Die apostels klim nou van die Olyfberg af, steek die Kidronvallei oor en gaan Jerusalem weer eens binne. Hulle bly daar in gehoorsaamheid aan Jesus se bevel. Tien dae later, by die Joodse Pinksterfees van 33 G.J., terwyl omtrent 120 dissipels in ’n bovertrek in Jerusalem bymekaar is, vul ’n geluid soos van ’n geweldige rukwind die hele huis. Tonge soos van vuur word gesien en daar gaan sit een op elkeen wat daar teenwoordig is, en al die dissipels begin in verskillende tale praat. Dit is die uitstorting van die heilige gees wat Jesus beloof het! Mattheüs 28:16-20; Lukas 24:49-52; 1 Korinthiërs 15:5-7; Handelinge 1:3-15; 2:1-4.
▪ Vir wie gee Jesus afskeidsinstruksies by ’n berg in Galilea, en wat is hierdie instruksies?
▪ Watter vertroosting gee Jesus aan sy dissipels, en hoe sal hy by hulle bly?
▪ Hoe lank ná Jesus se opstanding verskyn hy nog aan sy dissipels, en wat leer hy hulle?
▪ Aan watter persoon, wat blykbaar nog nie ’n dissipel voor Jesus se dood was nie, verskyn Jesus?
▪ Watter twee laaste ontmoetings het Jesus met sy apostels, en wat gebeur by hierdie geleenthede?
▪ Hoe sal Jesus terugkeer net soos hy vertrek het?
▪ Wat gebeur op Pinkster 33 G.J.?