Behou jou vreugde in Jehovah se diens
“Verheug julle altyd in die Here. Weer eens sal ek sê: Verheug julle!”—FILIPPENSE 4:4.
1, 2. Wat het ’n broer en sy gesin in staat gestel om hulle vreugde te behou al het hulle al hulle besittings verloor?
JAMES, ’n 70-jarige Christen wat in Sierra Leone woon, het sy hele lewe lank hard gewerk. Stel jou sy vreugde voor toe hy uiteindelik genoeg geld gespaar het om ’n beskeie huis met vier vertrekke te koop! Maar ’n ruk ná James en sy gesin ingetrek het, het burgeroorlog in daardie land uitgebreek, en hulle huis is afgebrand. Hulle het hulle huis verloor, maar hulle het nie hulle vreugde verloor nie. Waarom nie?
2 James en sy gesin het nie bly dink aan wat hulle verloor het nie, maar gekonsentreer op wat hulle nog gehad het. James verduidelik: “Selfs gedurende daardie verskriklike tyd het ons vergaderinge gehou, die Bybel gelees, saam gebid en die bietjie wat ons gehad het, met ander gedeel. Ons het ons vreugde behou omdat ons op ons wonderlike verhouding met Jehovah gekonsentreer het.” Deur hulle seëninge te tel, waarvan die grootste is om ’n hegte persoonlike verhouding met Jehovah te hê, kon hierdie getroue Christene ‘aanhou om hulle te verheug’ (2 Korintiërs 13:11). Hulle angswekkende omstandighede was natuurlik nie maklik om te verduur nie. Maar hulle het nie opgehou om hulle in Jehovah te verheug nie.
3. Hoe het party vroeë Christene hulle vreugde behou?
3 Die vroeë Christene het beproewinge teëgekom wat vergelyk kan word met dié wat James en sy gesin ondervind het. En tog het die apostel Paulus hierdie woorde aan Hebreeuse Christene geskryf: “[Julle het] die plundering van julle besittings met vreugde aanvaar.” Paulus het toe die bron van hulle vreugde verduidelik: “In die wete dat julle self ’n beter en ’n blywende besitting het” (Hebreërs 10:34). Ja, daardie eerste-eeuse Christene het ’n kragtige hoop gehad. Hulle het met vertroue daarna uitgesien om iets te ontvang wat nie geplunder kon word nie—die onverwelklike “kroon van die lewe” in God se hemelse Koninkryk (Openbaring 2:10). Vandag kan ons Christelike hoop—hetsy dit ’n hemelse of aardse hoop is—ons help om ons vreugde te behou selfs wanneer ons teëspoed ondervind.
“Verheug julle in die hoop”
4, 5. (a) Waarom was Paulus se raad om ‘hulle in die hoop te verheug’ so tydig vir die Romeine? (b) Wat kan daartoe lei dat ’n Christen sy hoop uit die oog verloor?
4 Die apostel Paulus het medegelowiges in Rome aangespoor om ‘hulle te verheug in die hoop’ op die ewige lewe (Romeine 12:12). Dit was tydige raad vir die Romeine. Minder as ’n dekade nadat Paulus aan hulle geskryf het, is hulle hewig vervolg, en sommige is op bevel van keiser Nero tot die dood gemartel. Hulle geloof dat God hulle die beloofde kroon van die lewe sou gee, het hulle ongetwyfeld in hulle lyding onderskraag. Wat van ons wat vandag leef?
5 As Christene verwag ons ook om vervolg te word (2 Timoteus 3:12). Verder besef ons dat “tyd en lotgeval” ons almal tref (Prediker 9:11). ’n Geliefde kan sy lewe in ’n ongeluk verloor. ’n Dodelike siekte kan ’n ouer of ’n goeie vriend se lewe eis. Tensy ons ons Koninkrykshoop helder voor oë hou, kan ons in geestelike gevaar wees wanneer ons sulke beproewinge teëkom. Gevolglik is dit goed as ons ons afvra: ‘Verheug ek my in die hoop? Hoe dikwels neem ek tyd om daaroor te peins? Is die komende Paradys ’n werklikheid vir my? Sien ek myself daar? Is ek nou nog net so gretig dat die einde van die huidige stelsel van dinge moet kom as wat ek was toe ek aanvanklik die waarheid geleer het?’ Ons moet ernstig nadink oor hierdie laaste vraag. Waarom? Want as ons gesond is, ’n gemaklike bestaan voer en in ’n deel van die aarde woon wat nie werklik deur oorlog, voedseltekorte of natuurrampe geteister word nie, kan ons—al is dit net tydelik—uit die oog verloor hoe dringend ons God se nuwe wêreld nodig het.
6. (a) Waarop het Paulus en Silas gekonsentreer toe hulle verdrukking gely het? (b) Hoe kan die voorbeeld van Paulus en Silas ons vandag bemoedig?
6 Paulus het die Romeine verder vermaan om ‘onder verdrukking te volhard’ (Romeine 12:12). Paulus het geweet wat dit beteken om verdrukking te verduur. Hy het eenkeer ’n man in ’n visioen gesien wat hom genooi het om ‘oor te kom na Masedonië’ om mense daar te help om van Jehovah te leer (Handelinge 16:9). Paulus het toe saam met Lukas, Silas en Timoteus na Europa geseil. Wat het op daardie ywerige sendelinge gewag? Verdrukking! Nadat hulle in die Masedoniese stad Filippi getuig het, is Paulus en Silas geslaan en in die tronk gegooi. Dit is duidelik dat sommige inwoners van Filippi nie net onverskillig teenoor die Koninkryksboodskap was nie—hulle was hewig gekant daarteen. Het hierdie wending van sake die ywerige sendelinge hulle vreugde laat verloor? Nee. “Omstreeks middernag”, nadat hulle geslaan en in die tronk gegooi is, “was Paulus en Silas besig om te bid en God met sang te loof” (Handelinge 16:25, 26). Paulus en Silas het natuurlik geen vreugde geput uit die pyn wat hulle weens die slae moes verduur nie, maar dit is nie waarop die twee sendelinge gekonsentreer het nie. Hulle gedagtes was toegespits op Jehovah en op die maniere waarop hy hulle geseën het. Deur vreugdevol ‘onder verdrukking te volhard’, het Paulus en Silas as goeie voorbeelde vir hulle broers in Filippi en elders gedien.
7. Waarom moet ons gebede danksegging insluit?
7 Paulus het geskryf: “Hou vol met gebed” (Romeine 12:12). Bid jy wanneer jy angstig voel? Waaroor bid jy? Jy meld waarskynlik jou spesifieke probleem en vra Jehovah se hulp. Maar jy kan ook dankseggings insluit vir die seëninge wat jy geniet. Wanneer probleme ontstaan en ons nadink oor Jehovah se goedheid in sy handelinge met ons, help dit ons om ‘ons in die hoop te verheug’. Dawid, wat glad nie ’n probleemvrye lewe gehad het nie, het geskryf: “Groot dinge het U gedoen, HERE my God—u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel” (Psalm 40:6). As ons, soos Dawid, gereeld nadink oor die seëninge wat ons van Jehovah ontvang, sal ons dit onmoontlik vind om nie vreugdevol te wees nie.
Behou ’n positiewe gesindheid
8. Wat help ’n Christen om gelukkig te bly wanneer hy vervolg word?
8 Jesus spoor sy volgelinge aan om ’n positiewe gesindheid te behou wanneer hulle verskillende beproewinge teëkom. Hy sê: “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my” (Matteus 5:11). Watter rede het ons om onder sulke omstandighede gelukkig te wees? Ons vermoë om teenstand die hoof te bied, is ’n bewys dat Jehovah se gees op ons is. Die apostel Petrus het vir mede-Christene in sy dag gesê: “As julle vir die naam van Christus gesmaad word, is julle gelukkig, omdat die gees van heerlikheid, ja, die gees van God, op julle rus” (1 Petrus 4:13, 14). Deur middel van sy gees sal Jehovah ons ook help om te volhard en gevolglik om ons vreugde te behou.
9. Wat het party broers gehelp om redes vir vreugde te vind toe hulle weens hulle geloof in die tronk was?
9 Selfs wanneer ons ons in uiters moeilike omstandighede bevind, kan ons redes vind om ons te verheug. ’n Christen met die naam Adolf het gevind dat dit so is. Hy woon in ’n land waar die werk van Jehovah se Getuies baie jare lank verbied was. Adolf en etlike van sy metgeselle is in hegtenis geneem en lang tronkstrawwe opgelê omdat hulle geweier het om hulle Bybelse oortuigings te verloën. Die lewe in die tronk was moeilik, maar soos Paulus en Silas, het Adolf en sy metgeselle redes gevind om God te dank. Hulle ondervinding in die tronk, het hulle gesê, het hulle gehelp om hulle geloof te versterk en om waardevolle Christelike eienskappe, soos vrygewigheid, empatie en broederlike geneentheid, aan te kweek. Wanneer ’n gevangene byvoorbeeld ’n pakkie van die huis af ontvang het, het hy die inhoud daarvan met medegelowiges gedeel, wat hierdie ekstra voorsienings as gawes beskou het van Jehovah, die eintlike Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk”. Sulke dade van goedhartigheid het die gewer en die ontvangers vreugde verskaf. Die einste ondervinding wat bedoel was om hulle geloof af te breek, het hulle dus in werklikheid geestelik sterker gemaak!—Jakobus 1:17; Handelinge 20:35.
10, 11. Hoe het ’n suster genadelose ondervraging wat deur ’n lang tronkstraf gevolg is, die hoof gebied?
10 Ella, wat ook in ’n land woon waar die Koninkrykswerk lank verbied was, is in hegtenis geneem omdat sy haar Christelike hoop aan ander bekend gemaak het. Oor ’n tydperk van agt maande is sy genadeloos ondervra. Toe sy uiteindelik verhoor is, is sy ’n vonnis van tien jaar opgelê in ’n tronk waar daar geen aanbidders van Jehovah was nie. Ella was destyds net 24 jaar oud.
11 Ella het natuurlik nie daarna uitgesien om die grootste deel van haar lewe as ’n jong volwassene in ’n tronksel deur te bring nie. Maar aangesien sy nie haar situasie kon verander nie, het sy besluit om haar beskouing te verander. Gevolglik het sy die tronk as haar eie persoonlike getuienisgebied begin beskou. “Daar was soveel getuieniswerk om te doen”, sê sy, “dat die jare baie vinnig verbygegaan het.” Ná meer as vyf jaar is Ella weer ondervra. Omdat haar ondervraers besef het dat die tronk nie haar geloof vernietig het nie, het hulle vir haar gesê: “Ons kan jou nie vrylaat nie; jy het nie verander nie.” “Maar ek het verander!” was Ella se ferm antwoord. “Ek het nou ’n beter gesindheid as toe ek eers tronk toe gegaan het, en my geloof is baie sterker as voorheen!” En sy het bygevoeg: “As julle my nie wil vrylaat nie, sal ek bly totdat Jehovah dit goeddink om my te bevry.” Vyf en ’n half jaar van opsluiting het Ella nie van haar vreugde beroof nie! Sy het geleer om tevrede te wees ongeag die omstandighede waarin sy haar bevind het. Kan jy iets uit haar voorbeeld leer?—Hebreërs 13:5.
12. Wat kan ’n Christen wat in moeilike omstandighede verkeer, gemoedsrus gee?
12 Moenie dink dat Ella ’n buitengewone gawe het wat haar in staat stel om sulke uitdagings die hoof te bied nie. Met verwysing na die tyd waarin sy ondervra is in die maande voor sy gevonnis is, erken Ella: “Ek onthou hoe my tande teen mekaar geklap het, en ek het soos ’n vreesbevange mossie gevoel.” Maar Ella het sterk geloof in Jehovah. Sy het geleer om op hom te vertrou (Spreuke 3:5-7). Gevolglik is God werkliker vir haar as voorheen. Sy verduidelik: “Elke keer wanneer ek in die vertrek ingeloop het waar ek ondervra is, het ek gevoel hoe ’n kalmte oor my kom. . . . Hoe skrikwekkender die situasie was, hoe kalmer het ek geword.” Jehovah was die bron van daardie kalmte. Die apostel Paulus verduidelik: “Moet oor niks besorg wees nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.”—Filippense 4:6, 7.
13. Wat gee ons die versekering dat ons die krag sal hê om te volhard as ons verdruk word?
13 Ella, wat sedertdien vrygelaat is, het haar vreugde behou ondanks die ontberinge wat sy verduur het. Sy het dit nie in haar eie krag gedoen nie, maar in die krag wat Jehovah haar gegee het. Dieselfde was waar van die apostel Paulus, wat geskryf het: “Met die grootste genoeë sal ek dus liewer in verband met my swakhede roem, sodat die krag van die Christus soos ’n tent oor my kan bly. . . . Want wanneer ek swak is, dan is ek kragtig.”—2 Korintiërs 12:9, 10.
14. Lig toe hoe ’n Christen ’n positiewe beskouing van ’n beproewende situasie kan aankweek en wat die resultaat kan wees.
14 Die druk waarvoor jy vandag te staan kom, is dalk ietwat verskillend van dit wat ons hier bespreek het. Maar ongeag watter vorm dit aanneem, dit is moeilik om druk die hoof te bied. Byvoorbeeld, jou werkgewer is dalk baie krities oor jou werk—baie meer krities oor jou werk as dié van werknemers wat aan ander godsdienste behoort. Dit is dalk nie vir jou moontlik om ander werk te soek nie. Hoe kan jy jou vreugde behou? Dink terug aan Adolf en sy metgeselle, wie se ondervinding in die tronk hulle geleer het om noodsaaklike eienskappe aan te kweek. As jy hard probeer om jou werkgewer tevrede te stel—selfs een wat “moeilik is om te behaag”—sal jy Christelike eienskappe soos volharding en lankmoedigheid aankweek (1 Petrus 2:18). Verder kan jy heel moontlik ’n waardevoller werker word, wat jou ’n beter kans kan gee om eendag bevredigender werk te vind. Laat ons nou ’n paar ander maniere bespreek waarop ons ons vreugde in Jehovah se diens kan behou.
’n Eenvoudiger lewenswyse bring vreugde mee
15-17. Wat het ’n egpaar geleer kan hulle spanning verlig, al kon die bron daarvan nie heeltemal uit die weg geruim word nie?
15 Jy het dalk nie veel van ’n keuse oor die soort sekulêre werk wat jy doen of oor waar jy werk nie, maar daar is dalk ander aspekte van jou lewe waaroor jy wel ’n mate van beheer kan uitoefen. Beskou die volgende ondervinding.
16 ’n Christenegpaar het ’n ouer man oorgenooi vir ’n maaltyd. In die loop van die aand het die broer en sy vrou vir hom gesê dat hulle in die laaste tyd oorweldig voel deur die druk van die lewe. Hoewel hulle albei veeleisende voltydse betrekkings het, was hulle nie in ’n posisie om ander werk te soek nie. Hulle het gewonder hoe lank hulle sou kon uithou.
17 Toe hulle raad vra, het die ouer man geantwoord: “Vereenvoudig.” Hoe? Dit het die man en sy vrou elke dag tot drie uur geneem om werk toe en terug te ry. Die ouer man, wat die egpaar goed ken, het voorgestel dat hulle oorweeg om nader aan hulle werksplek te verhuis, sodat hulle minder tyd daaraan sou bestee om elke dag werk toe en terug te ry. Die tyd wat hulle spaar, kan vir ander belangrike dinge gebruik word—of om net te rus. As jy van jou vreugde verloor het weens die druk van die lewe, kan jy gerus kyk of jy verligting kan vind deur ’n paar aanpassings te maak.
18. Waarom is dit belangrik om goed na te dink voordat ons besluite neem?
18 Nog ’n manier om druk te verlig, is om goed na te dink voordat jy besluite neem. Een Christen het byvoorbeeld besluit om ’n huis te bou. Hy het ’n baie moeilike ontwerp gekies, al het hy nog nooit ’n huis gebou nie. Hy besef nou dat hy onnodige probleme kon vermy het as hy ‘op sy voetstappe gelet’ het voordat hy die ontwerp vir sy huis gekies het (Spreuke 14:15). ’n Ander Christen het ingestem om borg te staan vir ’n medegelowige wat ’n lening aangegaan het. Volgens die ooreenkoms sou die borg die lening moes terugbetaal as die lener dit nie kon doen nie. Aan die begin het alles goed gegaan, maar mettertyd het die lener nie meer sy verpligting nagekom nie. Die persoon by wie die geld geleen is, het bekommerd geraak en geëis dat die borg die hele lening terugbetaal. Dit het groot druk op die borg geplaas. Kon dit vermy gewees het as hy alle faktore beter oorweeg het voordat hy ingestem het om aanspreeklikheid vir die skuld te aanvaar?—Spreuke 17:18.
19. Wat is sommige maniere waarop ons spanning in ons lewe kan verminder?
19 Wanneer ons moeg word, moet ons nooit dink dat ons die druk op ons kan verlig en ons vreugde kan herwin deur minder persoonlike Bybelstudie en velddiens te doen of deur vergaderinge oor te slaan nie. Dit is immers belangrike maniere waarop ons Jehovah se heilige gees kan ontvang, waarvan vreugde ’n produk is (Galasiërs 5:22). Christelike bedrywighede is altyd verkwikkend en gewoonlik nie baie uitputtend nie (Matteus 11:28-30). Dit is baie waarskynliker dat sekulêre werk en dinge wat ons vir ontspanning doen, nie geestelike dinge nie, tot ons moegheid bydra. As ons leer om teen ’n redelike tyd te gaan slaap, kan dit ons help om ons krag te herwin. ’n Bietjie ekstra rus kan baie nuttig wees. N. H. Knorr, wat tot sy dood as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gedien het, het altyd vir sendelinge gesê: “Wanneer jy mismoedig raak, moet jy eers ’n bietjie rus. Jy sal verbaas wees hoeveel beter amper enige probleem lyk nadat jy ’n goeie nagrus gehad het!”
20. (a) Gee ’n opsomming van party van die maniere waarop ons ons vreugde kan behou. (b) Aan watter redes kan jy dink om vreugdevol te wees? (Sien venster op bladsy 17.)
20 Christene is bevoorreg om “die gelukkige God” te dien (1 Timoteus 1:11). Soos ons gesien het, kan ons ons vreugde behou selfs wanneer ons ernstige probleme ondervind. Laat ons die Koninkrykshoop voor ons hou, ons beskouing aanpas wanneer dit nodig is en ons lewe eenvoudig hou. Ons sal dan, ongeag in watter situasie ons ons bevind, gehoor gee aan die apostel Paulus se woorde: “Verheug julle altyd in die Here. Weer eens sal ek sê: Verheug julle!”—Filippense 4:4.
Dink goed na oor hierdie vrae:
• Waarom moet Christene die Koninkrykshoop helder voor oë hou?
• Wat kan ons help om ons vreugde in moeilike omstandighede te behou?
• Waarom moet ons ons lewe probeer vereenvoudig?
• Op watter maniere het party hulle lewe vereenvoudig?
[Venster/Prente op bladsy 17]
Nog redes om vreugdevol te wees
As Christene het ons baie redes om vreugdevol te wees. Kyk na die volgende:
1. Ons ken Jehovah.
2. Ons het die waarheid van God se Woord geleer.
3. Ons sondes kan deur geloof in Jesus se offerande vergewe word.
4. God se Koninkryk regeer—die nuwe wêreld sal binnekort kom!
5. Jehovah het ons in ’n geestelike paradys ingebring.
6. Ons geniet heilsame Christenassosiasie.
7. Ons het die voorreg om aan die predikingswerk deel te neem.
8. Ons lewe, en ons het ’n mate van krag.
Hoeveel ander redes vir vreugde kan jy opnoem?
[Prent op bladsy 13]
Paulus en Silas was selfs in die tronk vreugdevol
[Prente op bladsy 15]
Is jou oog gevestig op die vreugdevolle vooruitsig op God se nuwe wêreld?