Watter invloed het Jesus Christus op jou?
KAN daar, in die lig van wat ons in die vorige artikel bespreek het, enige twyfel bestaan dat Jesus se leringe ’n wêreldwye impak gehad het? Die belangrike vraag is egter: “Watter invloed het Jesus se leringe op my as persoon?”
Jesus se leringe het ’n groot verskeidenheid onderwerpe gedek. Die waardevolle lesse wat dit oordra, kan elke aspek van jou lewe raak. Kom ons kyk na wat Jesus geleer het oor hoe om prioriteite in die lewe te stel, vriendskap met God aan te kweek, goeie verhoudings met ander op te bou, probleme op te los en gewelddade te vermy.
Stel prioriteite in die lewe
Vandag se wêreld met sy vinnige pas stel soveel eise aan ons tyd en energie dat geestelike dinge dikwels verdring word. Kyk na die geval van ’n man in sy 20’s wat ons Jerry sal noem. Hoewel Jerry dit geniet om oor geestelike onderwerpe te praat en waardeer wat hy daaruit leer, sê hy: “Ek het net nie die tyd om dit gereeld te doen nie. Ek werk ses dae per week. Sondag is die enigste dag dat ek vry is. En nadat ek alles gedoen het wat ek moet doen, is ek te moeg.” As jy jou in ’n soortgelyke dilemma bevind, kan jy baat vind by wat Jesus in die Bergpredikasie geleer het.
Jesus het vir die skare wat bymekaargekom het om na hom te luister, gesê: “Hou op om julle te kwel oor julle siel, oor wat julle sal eet of wat julle sal drink, of oor julle liggaam, oor wat julle sal dra. Beteken die siel nie meer as voedsel en die liggaam meer as klere nie? Hou die voëls van die hemel noukeurig dop, want hulle saai nie saad nie en hulle oes nie en hulle maak nie in voorraadskure bymekaar nie; nogtans voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie? . . . Moet julle dus nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge jaag die nasies gretig na. Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:25-33). Wat leer ons hieruit?
Jesus het nie bedoel dat ons nie na ons fisiese behoeftes en dié van ons gesinslede moet omsien nie. “As iemand vir sy eie mense, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie”, sê die Bybel, “het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige” (1 Timoteus 5:8). Jesus het eerder belowe dat God seker sal maak dat daar in ons ander behoeftes voorsien word as ons belangrike dinge eerste stel en voorrang aan geestelike sake verleen. Die les hier is dat ons prioriteite moet stel. As ons hierdie raad volg, bring dit geluk mee, want “gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte”.—Matteus 5:3.
Kweek vriendskap met God aan
Dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, besef hoe noodsaaklik dit is om ’n goeie verhouding met God op te bou. Hoe bou ons ’n goeie verhouding met enigiemand op? Probeer ons nie om daardie persoon beter te leer ken nie? Ons moet tyd neem om te leer wat sy beskouings, gesindhede en vermoëns is, wat hy al bereik het en van watter dinge hy hou en nie hou nie. Dieselfde geld wanneer ons ’n vriendskap met God wil aankweek. Ons moet juiste kennis van hom opdoen. Toe Jesus tot God gebid het oor sy dissipels, het hy gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Ja, as ons ’n intieme verhouding met God wil opbou, moet ons hom leer ken. Die enigste bron van daardie kennis is God se geïnspireerde Woord, die Bybel (2 Timoteus 3:16). Ons moet tyd opsysit om die Skrif te bestudeer.
Maar kennis op sigself is nie genoeg nie. Jesus het in dieselfde gebed gesê: “Hulle [sy dissipels] het u woord bewaar” (Johannes 17:6). Ons moenie net kennis van God inneem nie, maar moet ook in ooreenstemming met daardie kennis optree. Hoe anders kan ons God se vriend word? Kan ons werklik verwag dat ons vriendskap met iemand sal groei as ons opsetlik in stryd met daardie persoon se idees en beginsels optree? God se beskouings en beginsels behoort derhalwe al ons voetstappe in die lewe te rig. Kyk hoe twee van sy beginsels van toepassing is op ons verhoudings met ander mense.
Bou goeie verhoudings met ander op
By een geleentheid het Jesus ’n kort storie vertel om ons ’n waardevolle les oor menseverhoudings te leer. Hy het gepraat van ’n koning wat met sy slawe afrekening wou hou. Een van hulle het egter ’n groot skuld gehad en kon dit nie terugbetaal nie. Sy heer het beveel dat die man, sy vrou en sy kinders verkoop moet word sodat die skuld betaal kon word. Die skuldenaar het neergeval en gesmeek: “Wees geduldig met my en ek sal u alles terugbetaal.” Die heer het vir hom innig jammer gevoel en hom sy skuld kwytgeskeld. Maar daardie slaaf het weggegaan, ’n medeslaaf gevind wat hom ’n klein bedraggie geskuld het en geëis dat hy hom terugbetaal. Hoewel hierdie medeslaaf hom om genade gesmeek het, het die eerste slaaf hom in die gevangenis laat gooi totdat hy alles afbetaal het wat hy geskuld het. Toe die koning hiervan hoor, het hy kwaad geword. “Moes jy nie . . . jou medeslaaf barmhartig gewees het soos ek jou ook barmhartig was nie?” het hy gevra. Hy het die hardvogtige slaaf in die gevangenis laat gooi totdat hy alles terugbetaal het wat hy geskuld het. Jesus leer ons ’n les uit die storie en sê: “Net so sal my hemelse Vader ook met julle handel as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”—Matteus 18:23-35.
As onvolmaakte mense het ons baie foute. Ons kan nooit aan God die groot skuld terugbetaal wat ons opgeloop het omdat ons teen hom sondig nie. Al wat ons kan doen, is om hom om vergifnis te vra. En Jehovah God is bereid om al ons tekortkominge te vergewe mits ons ons broers vergewe vir die sondes wat hulle teen ons begaan het. Wat ’n kragtige les is dit tog! Jesus het sy volgelinge leer bid: “Vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe het.”—Matteus 6:12.
Dring deur tot die kern van die probleem
Jesus het die menslike natuur baie goed verstaan. Sy raad oor hoe om probleme op te los, het tot by die kern van die probleme deurgedring. Beskou die volgende twee voorbeelde.
“Julle het gehoor dat daar vir dié van die ou tyd gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; maar elkeen wat ’n moord pleeg, sal aan die geregshof rekenskap moet gee’”, het Jesus gesê. “Ek sê egter vir julle dat elkeen wat toornig bly op sy broer, aan die geregshof rekenskap sal moet gee” (Matteus 5:21, 22). Jesus het hier getoon dat die kernoorsaak van moord dieper lê as die gewelddaad self. Dit lê by die gesindheid wat in die moordenaar se hart groei. As mense nie toegelaat het dat gegriefdheid of woede in hulle opbou nie, sou opsetlike geweld verdwyn. Hoeveel bloedvergieting sou tog vermy kon word as mense hierdie lering toegepas het!
Kyk hoe Jesus tot die oorsaak deurdring van nog ’n probleem wat baie hartseer veroorsaak. Hy het vir die skare gesê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar ek sê vir julle dat elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. As daardie regteroog van jou jou dan nou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg” (Matteus 5:27-29). Jesus het ons geleer dat die probleem dieper lê as die onsedelike gedrag self. Dit lê by wat dit voorafgaan—onsedelike begeertes. As ’n persoon weier om onsedelike begeertes te koester en dit uit sy verstand ‘uitruk’, sal hy die potensiële probleem van onsedelike gedrag oorkom.
“Sit jou swaard terug in sy plek”
Op die aand toe Jesus verraai en in hegtenis geneem is, het een van sy dissipels sy swaard getrek om hom te verdedig. Jesus het hom beveel: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:52). Die volgende oggend het Jesus vir Pontius Pilatus gesê: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie. As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie” (Johannes 18:36). Is hierdie lering onprakties?
Wat was die gesindheid van die vroeë Christene teenoor Jesus se lering om nie geweld te gebruik nie? Die boek The Early Christian Attitude to War sê: “Aangesien dit [Jesus se leringe] getoon het dat dit heeltemal ongeoorloof is om iemand anders enigsins geweld of skade aan te doen, het dit duidelik geïmpliseer dat dit verbode is om aan oorlog deel te neem . . . Die vroeë Christene het geglo wat Jesus gesê het, en hulle het sy leringe van saggeaardheid en nieverset letterlik opgeneem. Hulle het hulle geloof ten nouste met vrede verbind; hulle het oorlog sterk veroordeel weens die bloedvergieting wat daarmee gepaardgaan.” Hoe anders sou die loop van die geskiedenis tog gewees het as almal wat beweer het dat hulle Christene is, werklik hierdie lering gevolg het!
Jy kan by al Jesus se leringe baat vind
Die leringe van Jesus wat ons bespreek het, is pragtig, eenvoudig en kragtig. Die mensdom kan daarby baat vind as hulle met sy leringe vertroud raak en dit toepas.a
Jehovah se Getuies in jou omgewing sal jou met graagte help om te sien hoe jy kan baat vind by die wysste leringe wat al ooit deur ’n mens geuiter is. Jy word hartlik uitgenooi om met hulle in aanraking te kom of na die adres op bladsy 2 van hierdie tydskrif te skryf.
[Voetnoot]
a Vir ’n uitvoerige bespreking van al Jesus se leringe, sien Die grootste mens wat nog geleef het, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 5]
‘Julle hemelse Vader voed hulle’
[Prent op bladsy 7]
Jesus se leringe kan ’n goeie invloed op jou lewe hê