Bewaak jou hart
“Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.”—SPREUKE 4:23.
1, 2. Waarom moet ons ons hart bewaak?
’N BEJAARDE man op ’n Karibiese eiland kom uit sy skuilplek ná ’n orkaan. Terwyl hy om hom kyk na die skade wat aangerig is, besef hy dat ’n enorme boom wat dekades lank voor sy hek gestaan het, ontwortel is. ‘Hoe kan dit wees’, wonder hy, ‘as kleiner bome in die omgewing nog staan?’ ’n Kykie na die stam van die ontwortelde boom verstrek die antwoord. Die binnekant van die oënskynlik stewige boom het verrot, en die storm het bloot daardie onsigbare agteruitgang sigbaar gemaak.
2 Wat ’n tragedie is dit tog wanneer ’n ware aanbidder wat skynbaar stewig gegrond is in die Christelike lewensweg, nie ’n toets van geloof deurstaan nie. Die Bybel sê tereg dat ‘die versinsels van die mens se hart van sy jeug af sleg is’ (Genesis 8:21). Dit beteken dat selfs die opregste hart verlok kan word om verkeerd te doen as ’n mens nie voortdurend waaksaam is nie. Aangesien geen mensehart bestand is teen verderwing nie, moet ons hierdie raad ernstig opneem: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23). Hoe kan ons dan ons figuurlike hart bewaak?
Gereelde selfondersoek—’n moet
3, 4. (a) Watter vrae kan oor ’n letterlike hart gevra word? (b) Wat sal ons help om ons figuurlike hart te ondersoek?
3 As jy dokter toe gaan vir ’n mediese ondersoek, sal hy heel moontlik jou hart ondersoek. Dui jou gesondheid oor die algemeen, insluitende jou hart, daarop dat jy genoeg voedingstowwe inneem? Hoe is jou bloeddruk? Is jou hartklop egalig en sterk? Kry jy genoeg oefening? Word jou hart aan oormatige spanning onderwerp?
4 As jou letterlike hart gereelde ondersoeke nodig het, wat dan van jou figuurlike hart? Jehovah ondersoek dit (1 Kronieke 29:17). En ons moet ook. Hoe? Deur ons vrae soos die volgende af te vra: Kry my hart genoeg geestelike voedsel deur middel van gereelde persoonlike studie en vergaderingbywoning? (Psalm 1:1, 2; Hebreërs 10:24, 25). Is Jehovah se boodskap iets wat my na aan die hart lê soos “’n brandende vuur, opgesluit in my gebeente”, wat my beweeg om aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk deel te neem? (Jeremia 20:9; Matteus 28:19, 20; Romeine 1:15, 16). Word ek beweeg om my kragtig in te span en aan ’n faset van die voltydse bediening deel te neem wanneer ek kan? (Lukas 13:24). Aan watter soort milieu stel ek my figuurlike hart bloot? Probeer ek assosieer met ander wie se harte in ware aanbidding verenig is? (Spreuke 13:20; 1 Korintiërs 15:33). Laat ons wakker wees om te sien waar ons te kort skiet en onmiddellik stappe doen om dit reg te stel.
5. Watter nuttige doel kan toetse van geloof hê?
5 Ons kom dikwels te staan voor toetse van ons geloof. Dit gee ons die geleentheid om uit te vind wat die toestand van ons hart is. Moses het aan die Israeliete, wat op die punt gestaan het om die Beloofde Land in te gaan, gesê: “Die HERE jou God [het] jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei . . . tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie” (Deuteronomium 8:2). Is ons nie baie maal verbaas wanneer ons sien watter gevoelens, begeertes of reaksies tydens onverwagte situasies of versoekings na vore kom nie? Die beproewinge wat Jehovah toelaat om oor ons te kom, kan ons beslis bewus maak van ons tekortkominge en ons ’n geleentheid gee om te verbeter (Jakobus 1:2-4). Laat ons nooit versuim om biddend na te dink oor ons reaksie op beproewinge nie!
Wat openbaar ons woorde?
6. Wat kan die onderwerpe waaroor ons graag gesels, omtrent ons hart openbaar?
6 Hoe kan ons bepaal wat ons in ons hart as skat weggelê het? Jesus het gesê: “’n Goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is, maar ’n goddelose mens bring uit sy goddelose skat te voorskyn wat goddeloos is; want uit die oorvloed van die hart praat sy mond” (Lukas 6:45). Die dinge waaroor ons gewoonlik praat, is ’n goeie aanduiding van wat ons hart begeer. Praat ons dikwels oor materiële dinge en sekulêre prestasies? Of draai ons gesprekke dikwels om geestelike dinge en teokratiese doelwitte? Beweeg liefde ons om eerder ander se foute te bedek as om dit bekend te maak? (Spreuke 10:11, 12). Is ons geneig om baie te praat oor mense en wat in hulle lewe gebeur, maar min oor beginsels en idees? Kan dit ’n teken wees dat ons te veel in ander mense se persoonlike sake belangstel?—1 Petrus 4:15.
7. Watter les oor die belangrikheid daarvan om ons hart te bewaak, kan ons leer uit die verslag van Josef se tien broers?
7 Dink aan wat in een groot gesin gebeur het. Jakob se tien oudste seuns kon nie met hulle jonger broer Josef ‘vriendelik praat’ nie. Waarom nie? Hulle was jaloers omdat hy hulle vader se gunsteling was. Later, toe Josef met drome van God af geseën is, ’n bewys dat hy Jehovah se guns geniet het, het hulle “hom nog meer gehaat” (Genesis 37:4, 5, 11). Hulle het wreed opgetree en hulle broer as ’n slaaf verkoop. En om hulle verkeerde daad te bedek, het hulle hulle vader toe onder die indruk gebring dat Josef deur ’n wilde dier doodgemaak is. Tien van Josef se broers het by daardie geleentheid nie hulle hart bewaak nie. Is dit dalk ’n teken van afguns of jaloesie in ons hart as ons gou is om ander te kritiseer? Ons moet wakker wees om te ondersoek wat uit ons mond kom en moet verkeerde neigings vinnig onderdruk.
8. Wat sal ons help om ons hart te ondersoek as ons ooit ’n leuen sou vertel?
8 Hoewel “dit onmoontlik is vir God om te lieg”, vertel onvolmaakte mense maklik leuens (Hebreërs 6:18). “Alle mense is leuenaars”, het die psalmis gesê (Psalm 116:11). Selfs die apostel Petrus het Jesus deur leuens drie keer verloën (Matteus 26:69-75). Ons moet beslis leuens vermy, want Jehovah haat “’n leuenagtige tong” (Spreuke 6:16-19). As ons ooit ’n leuen sou vertel, sal dit goed wees om te probeer bepaal wat die oorsaak was. Was dit weens mensevrees? Was vrees vir straf die rede? Was die oorsaak van die probleem dalk dat ons ons aansien probeer red het of was dit uit blote selfsug? Wat ook al die geval, hoe gepas is dit tog dat ons oor die saak nadink, nederig ons tekortkoming erken, Jehovah om vergifnis smeek en sy hulp vra om die swakheid te oorkom! “Die ouer manne van die gemeente” is dalk in die beste posisie om hierdie hulp te verleen.—Jakobus 5:14.
9. Wat kan ons gebede omtrent ons hart openbaar?
9 Toe die jong koning Salomo vir wysheid en kennis gebid het, het Jehovah gesê: “Omdat dít in jou hart gewees het, en jy nie rykdom, skatte en eer . . . begeer het nie, . . . daarom word dié wysheid en dié kennis aan jou gegee. Ek sal jou ook rykdom en skatte en eer gee” (2 Kronieke 1:11, 12). Uit wat Salomo gevra en nie gevra het nie, het Jehovah geweet wat Salomo na aan die hart gelê het. Wat openbaar ons gebede tot God omtrent ons hart? Gee ons gebede blyk van ons dors na kennis, wysheid en onderskeidingsvermoë? (Spreuke 2:1-6, NW; Matteus 5:3). Lê Koninkryksbelange ons na aan die hart? (Matteus 6:9, 10). As ons gebede werktuiglik en oppervlakkig geword het, kan dit ’n aanduiding wees dat ons tyd moet inruim om oor Jehovah se dade te peins (Psalm 103:2). Alle Christene moet daarop ingestel wees om te onderskei wat hulle gebede openbaar.
Wat toon ons dade?
10, 11. (a) Waar het egbreuk en hoerery hulle oorsprong? (b) Wat sal ons help om nie ‘in ons hart egbreuk te pleeg’ nie?
10 Daar is ’n gesegde dat dade meer tel as woorde. Ons dade spreek inderdaad boekdele oor wat ons innerlik is. Om ons hart te bewaak wanneer dit byvoorbeeld by sedelikheid kom, beteken nie net dat ons ’n daad van hoerery of egbreuk vermy nie. Jesus het in sy Bergpredikasie gesê: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê[, het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg” (Matteus 5:28). Hoe kan ons dit vermy om selfs in ons hart egbreuk te pleeg?
11 Die getroue aartsvader Job het ’n voorbeeld vir getroude Christenmans en -vroue gestel. Job het ongetwyfeld in sy alledaagse lewe handelinge met jonger vroue gehad en hulle selfs goedgunstig gehelp as hulle hulp nodig gehad het. Maar om romantiese belangstelling in hulle te hê, was ondenkbaar vir hierdie man van onkreukbaarheid. Waarom? Omdat hy hom vas voorgeneem het om nie met begerige oë na vroue te kyk nie. “Ek het ’n verbond gesluit met my oë”, het hy gesê. “Hoe sou ek dan ag gegee het op ’n jonkvrou?” (Job 31:1). Laat ons ’n soortgelyke verbond met ons oë sluit en ons hart bewaak.
12. Hoe sal jy Lukas 16:10 toepas wanneer dit by die bewaking van jou hart kom?
12 “Hy wat in die geringste getrou is, is ook in baie getrou”, het die Seun van God gesê, “en hy wat in die geringste onregverdig is, is ook in baie onregverdig” (Lukas 16:10). Ja, ons moet ons gedrag in die oënskynlik nietige sake in die alledaagse lewe ondersoek, selfs dié wat in die privaatheid van ons huis plaasvind (Psalm 101:2). Slaan ons ag op die volgende skriftuurlike vermaning terwyl ons in ons huis sit en televisie kyk of die Internet gebruik: “Laat hoerery en elke soort onreinheid of gierigheid onder julle selfs nie genoem word nie, net soos dit heilige mense betaam; ook nie skandelike gedrag of dwase praatjies of onwelvoeglike skertsery nie, dinge wat nie betaamlik is nie”? (Efesiërs 5:3, 4). En wat van die geweld op televisie of in videospeletjies? “Die HERE toets die regverdige”, het die psalmis gesê, “maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.”—Psalm 11:5.
13. Watter gegronde waarskuwing moet ons in gedagte hou wanneer ons nadink oor wat uit ons hart kom?
13 “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit”, het Jeremia gewaarsku (Jeremia 17:9). Hierdie bedrieglikheid van die hart kan na vore kom wanneer ons verskoning maak vir ons foute, ons tekortkominge verklein, ernstige persoonlikheidsgebreke rasionaliseer of ons prestasies vergroot. ’n Verdorwe hart kan ook dubbelhartig wees—vleiende lippe wat een ding sê en dade wat iets anders toon (Psalm 12:3; Spreuke 23:7). Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons eerlik moet wees wanneer ons ondersoek wat uit die hart kom!
Is ons oog eenvoudig?
14, 15. (a) Wat is ’n ‘eenvoudige’ oog? (b) Hoe help dit ons om ons hart te bewaak as ons ons oog eenvoudig hou?
14 “Die lamp van die liggaam is die oog”, het Jesus gesê. Hy het bygevoeg: “As jou oog dan eenvoudig is, sal jou hele liggaam lig wees” (Matteus 6:22). Die oog wat eenvoudig is, is skerp ingestel op ’n bepaalde doel, sonder om afgelei te word. Ja, ons oog moet daarop ingestel wees om “eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek” (Matteus 6:33). Wat kan met ons figuurlike hart gebeur as ons nie ons oog eenvoudig hou nie?
15 Dink byvoorbeeld aan die kwessie om ’n bestaan te maak. Dit is ’n Christelike vereiste om in die behoeftes van ons gesin te voorsien (1 Timoteus 5:8). Maar sê nou ons ontwikkel die begeerte om die nuutste, die beste en die gesogste te hê wat kos, klere, behuising en ander dinge betref? Kan dit nie van die hart en verstand slawe maak en daartoe lei dat ons halfhartig in ons aanbidding word nie? (Psalm 119:113, NW; Romeine 16:18). Waarom moet ons so behep daarmee raak om in fisiese behoeftes te voorsien dat ons lewe net om ons gesin, besigheid en materiële dinge draai? Onthou die geïnspireerde raad: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie. Want dit sal oor almal kom wat op die oppervlak van die hele aarde woon.”—Lukas 21:34, 35.
16. Watter raad het Jesus aangaande die oog gegee, en waarom?
16 Die oog is ’n belangrike kommunikasiekanaal met die verstand en die hart. Waarop dit ingestel is, kan ’n groot invloed op ons denke, emosies en dade hê. Jesus het in figuurlike taal na die krag van visuele versoeking verwys en gesê: “As daardie regteroog van jou jou dan nou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg. Want dit is vir jou voordeliger dat een van jou lede verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna gewerp word” (Matteus 5:29). Die oog moet nie toegelaat word om op ongepaste beelde te konsentreer nie. Dit moet byvoorbeeld nie toegelaat word om te kyk na materiaal wat ongeoorloofde hartstogte en begeertes opwek nie.
17. Hoe help die toepassing van Kolossense 3:5 ons om ons hart te bewaak?
17 Sig is natuurlik nie ons enigste sintuig vir kommunikasie met die buitewêreld nie. Ander sintuie, soos gevoel en gehoor, speel elkeen sy rol, en ons moet ook voorsorgmaatreëls ten opsigte van die ooreenstemmende liggaamsdele tref. Die apostel Paulus het ons vermaan: “Maak dus julle liggaamsdele wat op die aarde is dood wat betref hoerery, onreinheid, geslagslus, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodery is.”—Kolossense 3:5.
18. Watter stappe moet ons doen met betrekking tot verkeerde gedagtes?
18 ’n Verkeerde begeerte kan in die diepste skuilhoeke van ons verstand ontstaan. As ’n mens oor die verkeerde begeerte bly dink, raak dit gewoonlik sterker, wat ’n invloed op die hart het. “Dan baar die begeerte, wanneer dit vrugbaar geword het, sonde” (Jakobus 1:14, 15). Baie erken dat dit dikwels is hoe selfbevlekking begin. Hoe belangrik is dit tog dat ons aanhou om ons verstand met geestelike dinge te vul! (Filippense 4:8). En as ’n verkeerde gedagte wel by ons opkom, moet ons dit uit ons gedagtes verdryf.
‘Dien Jehovah met ’n volkome hart’
19, 20. Hoe kan ons daarin slaag om Jehovah met ’n volkome hart te dien?
19 Toe koning Dawid oud was, het hy vir sy seun gesê: “En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes” (1 Kronieke 28:9). Salomo het self gebid vir “’n gehoorsame hart” (1 Konings 3:9, NW). Maar hy het voor die uitdaging te staan gekom om so ’n hart deur sy hele lewe heen te behou.
20 As ons in hierdie opsig sukses wil behaal, moet ons nie net ’n hart verkry waarin Jehovah behae het nie, maar ons moet dit ook bewaak. Om dít te doen, moet ons die herinneringe van God se Woord na aan ons hart hou—‘binne-in die hart’ (Spreuke 4:20-22). Ons moet ook ’n gewoonte daarvan maak om ons hart te ondersoek deur biddend na te dink oor wat ons woorde en dade openbaar. Van watter nut is sulke bepeinsing as ons nie opreg Jehovah se hulp vra om enige swakheid wat ons bespeur, reg te stel nie? En hoe noodsaaklik is dit tog dat ons noukeurig let op wat ons deur middel van ons sintuie inneem! As ons dit doen, het ons die versekering dat ‘die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, ons harte en ons verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus sal bewaak’ (Filippense 4:6, 7). Ja, laat ons vasbeslote wees om ons hart te bewaak meer as alles wat bewaar moet word en om Jehovah met ’n volkome hart te dien.
Onthou jy?
• Waarom is dit belangrik om die hart te bewaak?
• Hoe help dit ons om ons hart te bewaak as ons ontleed wat ons sê?
• Waarom moet ons ons oog “eenvoudig” hou?
[Prente op bladsy 23]
Waaroor praat ons gewoonlik in die veldbediening, by die vergaderinge en by die huis?
[Prente op bladsy 25]
Die oog wat eenvoudig is, word nie afgelei nie