VOORBLADONDERWERP | HOE OM JOU WERK TE GENIET
Hoe om harde werk te geniet
“Elke mens [moet] eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk. Dit is die gawe van God” (Prediker 3:13). As God wou hê dat ons ons werk moet geniet, sou hy ons tog sekerlik wys hoe om dit te doen (Jesaja 48:17). En gelukkig doen hy dit wel—deur middel van sy Woord, die Bybel. Die volgende Bybelse raad sal jou help om tevredenheid uit jou werk te put.
VERKRY ’N POSITIEWE BESKOUING VAN WERK
Hetsy jou werk meestal verstandelik, meestal fisies of ’n bietjie van albei is, jy moet besef dat daar “deur elke soort moeisame arbeid [voordeel] kom” (Spreuke 14:23). Watter soort voordeel? Om maar een ding te noem, harde werk kan ons help om in ons materiële behoeftes te voorsien. God belowe wel dat hy in die behoeftes sal voorsien van diegene wat hom opreg aanbid (Matteus 6:31, 32). Maar hy verwag ook dat ons ons deel moet doen deur hard te probeer om ’n eerlike bestaan te maak.—2 Tessalonisense 3:10.
Ons kan ons werk dus as ’n middel tot ’n doel beskou. Werk is ’n eerbare manier om ons verantwoordelikhede na te kom. “As jy vir jouself kan sorg, is dit iets waarop jy trots kan wees”, sê die 25-jarige Joshua. “As jy kan betaal vir die dinge wat jy nodig het, dien jou werk die regte doel.”
Wat meer is, harde werk dra tot ons selfrespek by. Harde werk is immers net dit—hard. Wanneer ons selfdissipline openbaar deur nie uit ons werk te bedank nie—selfs al is dit vervelig of moeilik—kan ons tevrede voel in die wete dat ons die stryd gewen het teen die neiging om die maklike uitweg te kies (Spreuke 26:14). Dan kan werk vir ons uiters bevredigend wees. “Ek hou van hoe ek ná ’n lang dag se werk voel”, sê Aaron, wat in die vorige artikel aangehaal is. “Soms is ek doodmoeg—en ander het dalk nie eers die werk wat ek gedoen het, raakgesien nie—maar ek weet dat ek iets bereik het.”
LÊ JOU OP JOU WERK TOE
Die Bybel praat goed van ’n man wat “vaardig is in sy werk” en ’n vrou wat “werk aan alles waarin haar hande behae het” (Spreuke 22:29; 31:13). Maar ’n persoon word natuurlik nie outomaties vaardig nie. En min van ons geniet dit om dinge te doen wat ons nie goed kan doen nie. Miskien is dit waarom baie mense nie hulle werk geniet nie; hulle het hulle eenvoudig nie genoeg daarop toegelê om vaardig daarin te word nie.
’n Persoon kan leer om byna enige soort werk te geniet as hy dit met die regte gesindheid benader—dit wil sê as hy hom daarop toelê om te leer hoe om goeie werk te doen. “Wanneer jy jou bes doen en die resultate sien, is dit baie bevredigend”, sê die 24-jarige William. “Jy kry nooit daardie gevoel as jy kortpad kies of net die minimum doen nie.”
FOKUS OP HOE ANDER BY JOU WERK BAAT VIND
Moenie in die strik trap om net te dink aan hoeveel geld jy verdien nie. Vra jou eerder vrae soos die volgende af: ‘Waarom is hierdie werk nodig? Wat sal gebeur as dit nie gedoen word nie—of as dit nie reg gedoen word nie? Hoe vind ander by my werk baat?’
Dit is veral goed om na te dink oor die laaste vraag, want ons put die meeste bevrediging uit ons werk wanneer ons sien hoe ander daarby baat vind. Jesus self het gesê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Benewens diegene wat direk by ons dienste baat vind—soos kliënte en werkgewers—is daar ander wat by ons harde werk baat vind. Dit sluit lede van ons huisgesin asook behoeftiges in.
Lede van ons huisgesin. Wanneer ’n gesinshoof hard werk om vir die lede van sy huisgesin te sorg, vind hulle op ten minste twee maniere daarby baat. Eerstens, hy maak seker dat hulle die lewensbenodigdhede het—kos, klere en onderdak. Sodoende vervul hy sy godgegewe verantwoordelikheid om “vir sy eie mense [te] sorg” (1 Timoteus 5:8). Tweedens, ’n hardwerkende broodwinner leer ander deur sy voorbeeld hoe belangrik dit is om hard te werk. “My pa is ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat ’n goeie werketiek het”, sê Shane, wat in die vorige artikel aangehaal is. “Hy is ’n eerlike man wat sy hele lewe lank hard gewerk het, merendeels as ’n skrynwerker. Sy voorbeeld het my die waarde daarvan geleer om met jou hande te werk en dinge te maak wat vir ander mense van nut is.”
Behoeftiges. Die apostel Paulus het Christene aangeraai om “hard [te] werk . . . sodat [hulle] iets kan hê om uit te deel aan iemand wat gebrek het” (Efesiërs 4:28). Ja, wanneer ons hard werk om vir onsself en ons gesin te sorg, sal ons moontlik ook dié wat swaarkry, kan help (Spreuke 3:27). Harde werk kan ons dus in staat stel om die groter geluk te ondervind wat dit meebring om te gee.
DOEN MEER AS WAT VAN JOU VERWAG WORD
In sy bekende Bergpredikasie het Jesus gesê: “As iemand met gesag jou vir een myl kommandeer, gaan twee myl saam met hom” (Matteus 5:41). Hoe kan jy die beginsel agter hierdie woorde op jou eie werk toepas? Eerder as om net die minimum te doen, kan jy soek na maniere om meer te doen as wat van jou vereis word. Stel persoonlike doelwitte, soos om jou werk beter of vinniger te doen as wat verwag word. Doen selfs die klein takies met trots.
Dit is waarskynliker dat jy jou werk sal geniet as jy meer doen. Waarom? Omdat jy in beheer is van jou dade. Jy gee meer omdat jy wil, nie omdat iemand jou dwing nie (Filemon 14). In hierdie verband kan ons dink aan die beginsel in Spreuke 12:24 wat sê: “Die hand van die vlytiges sal heers, maar die trae hand sal tot dwangarbeid lei.” Min van ons sal ooit as ’n slaaf moet werk of dwangarbeid moet doen. Maar ’n persoon wat altyd net die minimum doen, sal dalk soos ’n slaaf voel omdat dit vir hom voel asof ander hom dwing om te werk. Die persoon wat egter meer doen as wat van hom verwag word—omdat hy kies om dit te doen—voel dat hy in beheer is van sy lewe. Hy bly die meester oor sy dade.
HOU WERK OP SY PLEK
Hoewel harde werk prysenswaardig is, moet ons onthou dat ons lewe nie net om werk moet draai nie. Die Bybel spoor ons wel aan om vlytig te wees (Spreuke 13:4). Maar dit spoor ons nie aan om werkslawe te word nie. “’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk en ’n gejaag na die wind”, sê Prediker 4:6. Wat is die punt? ’n Werkslaaf sal moontlik nooit die vrug van sy arbeid geniet as sy werk al sy tyd en energie in beslag neem nie. Trouens, dan is sy werk so nutteloos soos “’n gejaag na die wind”.
Die Bybel kan ons help om ’n gebalanseerde beskouing van werk aan te kweek. Hoewel dit sê dat ons ons op ons werk moet toelê, raai dit ons ook aan om “seker [te] maak van die belangriker dinge” (Filippense 1:10). Wat is die belangriker dinge? Dit sluit in dat ons tyd met ons familie en vriende deurbring. En selfs belangriker is geestelike bedrywighede, soos om God se Woord te lees en daaroor te peins.
Iemand wat ’n balans in sy lewe handhaaf, sal sy werk heel moontlik nog meer geniet. “Een van my vorige werkgewers is ’n goeie voorbeeld van iemand met ’n gebalanseerde werketiek”, sê William, wat vroeër aangehaal is. “Hy werk hard, en weens die gehalte van sy werk het hy ’n goeie verhouding met sy kliënte. Maar aan die einde van die dag, wanneer die werk gedoen is, weet hy hoe om werk opsy te skuif en op sy gesin en aanbidding te fokus. En weet jy wat? Hy is een van die gelukkigste mense wat ek ken!”